Friday, August 7, 2009

Oor Splinter en Balke


Mat 7:3 En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?
Of hoe sal jy vir jou broeder sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk!
Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal.

’n Jong paartjie het nuut ingetrek in die woonbuurt. Die volgende oggend terwyl hulle besig is om ontbyt te nuttig sien die jong vroutjie, deur die kombuisvenster, die buurvrou terwyl sy buite wasgoed op die draad ophang.

“Daardie wasgoed is nie baie skoon nie,” sê sy. “Sy weet nie hoe om behoorlik te was nie. Miskien moet sy ’n beter waspoeier gebruik,” Haar man het die petalje net dopgehou maar het nie ’n woord gesê nie.

Elke keer wat die buurvrou haar wasgoed ophang om te droog het die jong vroutjie dieselfde aanmerkings te maak oor die wasgoed.

Omtrent ’n maand later was die jong vroutjie uiters verbaas om te sien dat die wasgoed wat vandag op die draad is pragtig skoon vertoon. Sy sê toe aan haar man, so tussen die ontbyt deur, “Kyk, dit lyk my sy het geleer hoe om die wasgoed behoorlik te was. Ek wonder wie het haar dit geleer.”

Die man antwoord toe, “Ek weet nie maar ek het vanoggend vroeg opgestaan en ons vensters skoongemaak.”

Is dit nodig om nog iets verder te sê?

No comments: