Monday, August 31, 2009

Die Beer en die Twee Reisigers


Twee mans was op reis deur die woud toe hulle hul vasloop teen ’n yslike beer in die voetpad. Die een reisiger druk vinnig die ander een uit die pad en klim in die naaste hoë boom en verberg hom tussen die takke. Die ander reisiger sien dat daar nie genoeg tyd sal wees vir hom om ook in die boom te klim nie omdat sy medereisiger hom uit die pad gedruk het.
Terwyl die beer op hom afstorm val hy plat op die grond, hou sy asem in en maak of hy dood is. Terwyl die beer hom met sy snoet bevoel en oraloor beruik, hoop en bid hy maar net dat die legende waar is dat bere nie dooie goed eet nie.

Nie lank nie of die beer los die reisiger en stap weg in die woud. Toe die beer vir ’n hele wyle al weg is kom die ander reisiger uit die boom uit en vra grappenderwys aan sy mede reisiger, wat het die beer in sy oor gefluister.

“Hy het my die advies gegee,” sê sy mede reisiger. “Moet nooit saam met ’n vriend reis wat jou in die steek laat wanneer die eerste teken van gevaar verskyn nie.”

No comments: