Wednesday, January 13, 2010

Tyd


’n Begrip waarom alles omtrent draai. “Tyd is kosbaar”, “Tyd is geld”, “Moenie my tyd mors nie”, “Tyd staan vir niemand stil nie”, so kan ons hulle maar opnoem, die een gesegde na die ander en daar is hordes van hulle.

Daar word vertel dat wetenskaplike navorsing bevind het dat tyd relatief tot mens se ouderdom is, met ander woorde hoe ouer jy word hoë vinniger gaan die tyd vir jou verby en hoe jonger hoe stadiger.
Daar is seker ’n mate van waarheid daarin, die van ons wat al so “bietjie ouer” is, sal daarvan kan getuig. Miskien is dit omdat meer as die helfte van ons verwagte leeftyd reeds verby is en daar is nog so baie wat mens graag wil doen.
Die probleem is dat ons seker al verby ons “best before” datum is ! ! !

Miskien is dit meer ’n sielkundige effek as enigiets anders, omdat elkeen wat oor vyftig is onbewustelik besef dat hoe ouer jy hierna word, jy op geleende tyd is. Dis bonus jare. Want wat is ons gemiddelde verwagting, sewentig ... tagtig jaar?
Die Woord antwoord vir ons hierdie vraag in Psalm 90:10 .....
“Die dae van ons jare—daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen.”
Van 0 tot 50 lyk nog baie vêr maar van 50 na 70 lyk baie kort en is verseker baie kort. Die vooruitsig van baie minder jare wat oorbly as die wat ons reeds geleef het, kan mens soms oorweldig en baie moeg en afgeleef laat voel. Sommige besluit dan ook sommer om maar die handdoek in te gooi en te leef soos hulle voel – oud en afgeleef.

In vandag se terme klink oor die vyftig glad nie so oud nie, veral vir die van ons wat daar is, gaan vra maar vir een van twintig is, hoe oud is vyftig ? Hmmm, moenie verbaas wees nie, die antwoord kan jou dalk bietjie vies maak. (Voel soms lus en wys hulle net hoe hard kan ’n ou toppie van in die vyftig nog klap – hehehe)

Maar soos met elke munt is daar twee kante aan die saak.

Gelukkig is daar ook die wonderlike kant, want vir die ware gelowige is dit nie ’n kwessie van verlore jare en afskeid van die aardse nie maar dis ’n weersiens na die wonderlike wat wag. Daar is ’n afwagting want die tyd raak min wanneer ons, ons “Geliefde” sal ontmoet.

Vir my is die lekkerste van alles .... die geestelike groei in die latere jare is fenominaal in vergeleke met die jonger jare. Daar is ’n dringendheid om ons Geliefde Vader intens te leer ken. Ek wil naby aan Hom wandel. Ek wil doen wat voor Hom welbehaaglik is. Daar is ’n besef dat my lot, my ewigheid, in Yahweh se Hand is en dat ek wil terugkeer na waar ek vandaan kom ....... na my Vader se Huis.

Die ander wonderlike moontlikheid is dat ons nog die koms van ons Geliefde kan sien op die wolke kom. Watter wedervaring sal dit nie wees vir die kind van die Almagtige nie. Ek is net bevrees dat die wat nie vir Vader ken nie sal dit nie ’n blye gesig wees nie.

So, as ek alles teen mekaar moet opweeg, ten spyte van tyd wat vinnig uitloop, is dit ’n baie goeie tyd in die mens se lewe.

Daar is net altyd een ding waaroor ek vandag baie spyt is en dit is dat die liefde en nabyheid wat ek vandag met Vader ervaar ek graag sou wou ervaar van kleintyd af, hoeveel groter sou my liefde en nabyheid aan Vader vandag nie gewees het. Geestelik sou ek al ’n baie groter wasdom bereik het.
Ja, tyd gaan vir my te vinnig verby, want daar is soveel wat ek van Vader wil leer en die tyd is te min om die grote Almag van Vader in hierdie korte aardse bestaan werklik te leer ken.

Ongeag die spyt wat altyd te laat is, is ek bly oor die tyd wat Vader my vergun om Hom te leer ken en elke dag te groei in Sy Liefde.
Hetsy tyd vinnig of stadig gaan vir jou, gebruik elke oomblik om jou te omvou in die liefde van ons Koning want wie van ons weet wanneer môre te laat is.

Thursday, January 7, 2010

Koekies


’n Jong seun wat vir die somervakansie op ’n jeugkamp was ontvang ’n groot pak koekies van sy ma deur die pos. Hy het ’n paar van die koekies geëet en die res onder sy bed gebêre. Die volgende dag, met middag koffie, gaan hy na sy tent om ’n paar van die koekies te kry om saam met sy koffie te eet. Maar die boks met koekies het spoorloos verdwyn.

Die middag het een van die kamp leiers, nadat hy gehoor het van die koekies wat gesteel is, ’n seun agter ’n boom sien sit wat van die gesteelde koekies eet. “Daardie jong man,” sê hy by homself, “moet geleer word om nie te steel nie.”

Die kamp leier keer terug na die groep en soek die seun wie se koekies gesteel is. “Willie,” sê hy, “ek weet wie het jou koekies gesteel. Sal jy my help om hom ’n les te leer ?”

“Ja, maar .... gaan jy hom nie straf omdat hy my koekies gesteel het nie ?” vra die seun effens verward.

“Nee, dit sal net maak dat hy jou verwerp en haat,” verduidelik die kamp leier. “Ek wil hê jy moet jou ma bel en vir haar vra of sy nie vir jou nog ’n boks koekies wil stuur nie.”

Die seun het gemaak soos die kamp leier versoek het en ’n paar dae later word nog ’n boks koekies afgelewer.

“Nou,” sê die kamp leier, “die seun wat jou koekies gesteel het is daar onder by die dam. Gaan soontoe en deel jou koekies met hom.”

“Maar,.....” protesteer die seun, “.....hy is die dief.”

“Ek weet. Maar probeer dit en kyk wat gebeur.”

Sowat ’n halfuur later sien die kamp leier die twee seun die heuwel opkom, arm aan arm. Die seun wat die koekies gesteel het probeer sy beste dat die ander een sy beste knipmes moet neem in ruil vir die koekies wat hy gesteel het. Hy kan nie ophou verskoning vra vir dit wat hy gedoen het nie. Die seun wie se koekies gesteel is weier om die knipmes te neem van sy nuwe vriend, sy argument, ’n paar ou koekies is in elk geval nie so belangrik nie.

Soms is ons so vinnig om ons naaste te oordeel en te veroordeel sonder dat ons oor al die feite beskik. Laat ons volgende keer eers so bietjie stilstaan en die feite versamel en die “skuldige” ’n kans gee om te verduidelik voordat ons hulle verdoem tot alles wat sleg is.

Monday, January 4, 2010

Kennisse en Vriende


Daar is ’n verskil om ’n kennis te wees en om ’n vriend te wees. ’n Kennis is iemand wie se naam jy ken, wie jy elke nou en dan sien, met wie jy heel moontlik iets in gemeen het en met wie jy gemaklik voel om by te wees.

Dit is ’n persoon wat jy kan oornooi na jou huis en sekere dinge met hulle deel. Maar hulle is mense met wie jy nie jou lewe deel nie, wie se aksies somtyds nie vir jou sin maak nie omdat jy nie genoeg van hulle af weet nie.

Die teendeel, ’n vriend is iemand vir wie jy lief is. Nie dat jy “verlief” is op hulle nie, maar jy gee om vir hulle, jy dink aan hulle wanneer hulle nie daar is nie. Die persoon aan wie jy herinner word wanneer jy iets spesiaals sien waarvan hulle sal hou. Jy weet dit omdat jy hulle so goed ken. Hulle is die mense wie se foto’s jy het en wie se gesigte gereeld in jou gedagtes opkom.

Vriende is die mense saam met wie jy veilig en beskut voel omdat jy weet hulle gee om vir jou. Hulle bel net om te hoor hoe gaan dit met jou, want ’n vriend het nie ’n verskoning nodig om te bel nie. Hulle vertel jou die waarheid, die eerste maal en jy doen dieselfde. Jy weet dat indien jy ’n probleem het, is hulle daar om te luister en te help waar hulle kan sonder enige verskonings, asse of mare.

Vriende is die mense wat nie vir jou sal lag of jou sal seermaak nie en indien hulle jou wel per abuis seergemaak het, sal hulle alles doen in hul vermoë om op te maak vir die seer wat hulle veroorsaak het. Hulle is die mense wat jy liefhet ongeag of jy dit wil weet of nie.

Hulle is die mense wat wanneer jy hulle ’n drukkie gee, jy nie dink hoe lank drukkie sal jy hulle gee of wie gaan die eerste wees om die drukkie te laat los nie.

Hulle is die mense wat jou sal stop wanneer jy ’n fout gaan maak en jou help wanneer jy reeds ’n fout gemaak het. Hulle is die mense wie se hand jy kan vashou, hulle druk of ’n soentjie gee sonder om ongemaklik te voel want hulle verstaan die dinge wat jy doen en hoekom jy dit doen en hulle het jou juis lief vir die rede.

Hulle bly heeltyd aan jou sy. Hulle hou jou hand deur dik en dun. Hulle sien jou lewe en jy sien hulle lewe en julle leer van mekaar soos wat julle groei en leef. Jou lewe is nie dieselfde sonder hulle nie.
Vriende is daar om die lewens ervaring te verryk en te deel in die genot en die hartseer sonder enige verwyte maar met volgehoue blymoedigheid.

Monday, December 14, 2009

Sirkel van Liefde


Vriende, net so min soos wat julle kan wegbly om te lees net so min kan ek te lank wegbly om 'n stukkie te plaas.


Hy het amper nie eens die ou dame raak gesien wat gestrand was langs die pad nie. Maar selfs in die flou lig van die aandskemering kon hy sien dat sy hulp nodig het. Hy trek van die pad af en stop voor haar Mercedes en klim uit. Sy ou Ford gee nog so ’n paar doods roggels terwyl hy aanstap na haar motor.

Afgesien van die glimlag op sy gesig, was sy steeds baie bekommerd. Niemand het die afgelope uur eens gestop om hulp aan te bied nie. Was hy van plan om haar seer te maak? Hy lyk nie baie veilig nie, hy lyk arm en honger. Hy kon sien dat sy beangs was terwyl sy daar in die koue staan. Hy het geweet hoe sy voel.

Dit was daardie koue rillings wat slegs vrees teweeg kan bring. Hy sê, “Ek is hier om jou te help mevrou. Waarom wag u nie maar solank in die motor, waar dit lekker warm is nie? Terloops, my naam is Bryan”

Wel, al wat fout was, was ’n pap wiel, maar vir ’n ou dame was dit erg genoeg. Bryan kruip onder die motor in om te sien waar hy die domkrag moet plaas en in die proses kap hy sy kneukels ’n paar kere nerf-af teen die onderstel van die motor. Gou was hy in staat om die pap wiel om te ruil, maar in die proses het hy maar bra vuil geword en sy hande het gepyn van die koue. Terwyl hy besig was om die laaste wielmoer vas te draai, draai die ou dame die ruit af en begin met Bryan te gesels. Sy vertel dat sy van familie op pad terug is huis toe en glad nie die gebied ken nie. Sy kon hom nie genoeg bedank dat hy haar gehelp het nie.

Bryan het net geglimlag terwyl hy die motor se kattebak toemaak. Sy vra hom hoeveel sy hom skuld. Enige bedrag sou reg gewees het met haar. Sy het alreeds in haar verbeelding gesien watse aaklige dinge met haar, vrou alleen, hier langs die pad kon gebeur indien hy nie gestop het om haar te help nie.

Bryan het nie eens aan geld gedink nie. Dit was nie ’n werk vir hom nie. Dit was hulp aan iemand in nood en slegs Vader weet hoeveel mense het hom die laaste paar jaar ’n helpende hand aangebied. Hy is nog sy hele lewe so, help waar hy kan sonder om vergoeding te verlang en dit het nog nooit eens by hom opgekom om anders te wees nie. Hy vertel toe aan haar dat as sy hom regtig wil vergoed, moet sy die volgende keer wanneer sy iemand teëkom wat hulp benodig, moet sy aan daardie persoon hulp verleen en Bryan voeg by “.... en dink dan aan my.”

Hy wag dat sy eers haar motor aanskakel en wegry. Dit was ’n koue en depressiewe dag vir Bryan, maar hy voel goed hier binne terwyl hy koers kry huis toe.

’n Paar kilometer in die pad af sien die ou dame ’n klein kafeetjie. Sy stop daar om gou iets te kry om te eet en bietjie van die koue ontslae te raak voordat sy die res van haar lang reis aandurf. Dit was maar ’n baie ou en afgeleefde restaurant met twee ou petrol pompe voor die kafee. Die kasregister en telefoon lyk of hulle dateer uit die vorige eeu.

Die kelnerin bring vir haar ’n skoon handdoek om haar nat hare bietjie af te droog. Sy het ’n pragtige glimlag, een wat nie eens uitgevee kan word deur ’n harde dag se werk op haar voete nie. Die ou dame bemerk dat die kelnerin ongeveer agt maande swanger moes wees, maar sy laat nie toe dat die pyne en ongemak haar heerlike, verfrissende geaardheid verander nie.

Die ou dame wonder hoe iemand wat so min het in staat is om so baie van haarself te gee aan ’n vreemdeling. Toe onthou sy weer vir Bryan.

Nadat die ou dame haar maaltyd genuttig het en die kelnerin vir haar gaan kleingeld kry het vir die R 200-00 noot, het die ou dame by die deur uitgeglip. Sy was reeds weg toe die kelnerin terugkeer met haar kleingeld. Terwyl sy wonder wat het van die ou dame geword, merk sy op dat daar iets geskryf is op die servet. Onder die servet was daar vyf R200-00 note gewees. Daar was trane in haar oë terwyl sy die briefie van die ou dame lees, “Jy skuld my niks nie, ek was ook al waar jy nou is. Iemand het my ook uitgehelp soos wat ek hoop die geldjies jou sal help. As jy my regtig wil terug betaal, doen dan die volgende, moenie dat die sirkel van liefde by jou eindig nie.” Daar was nog tafels om op te ruim en klante om te bedien, maar met ’n gemoed wat vol dankbaarheid is, het jy nog ’n dag se werk voltooi.

Die aand toe sy by die huis kom na werk en in die bed klim, lê sy en dink aan die geld en die briefie wat die ou dame geskryf het. Hoe kon die ou dame geweet het dat sy en haar man die geld so broodnodig gehad het? Met die baba wat volgende maand gebore moet word, gaan dit baie moeilik wees. Sy weet hoe bekommerd haar man is oor hul benarde posisie terwyl hy hier langs haar lê en slaap. Sy leun oor en gee hom ’n sagte soentjie en fluister saggies in sy oor, “Alles sal reg kom, ek is lief vir jou Bryan.”

Monday, December 7, 2009

Aan al my vriende

Aan die wat gereeld my blog lees, ek hoop dat julle 'n wonderlike jaar gehad het en die kere wat dit nie so lekker was nie dat julle dit ook gesien het as 'n geleentheid om te groei of om sekere sondes wat deel is van ons te ontgroei.

Dit is met dankbaarheid dat ons kan terugkyk op 'n jaar wat amper verby is, maar die heerlikheid is dat tyd ook naderkom wanneer ons Vader weer sal sien. Die heerlikheid is vir ons opgesluit in dit wat kom en nie in dit wat verby is nie.
Maar verseker sal ons ook beproef word in ons geloof want die suiwering moet plaasvind en ek bid Vader dat Hy ons die krag en genade sal gee om suiwer aan die anderkant uit te kom.

Ek sal vir die volgende drie weke nie stukkies plaas nie aangesien ek so bietjie gaan rondloop - ek loop darem nie die hele tyd rond nie, maar ons weet mos hoe gaan dit die tyd van die jaar. As jy jou oë knip is die dag verby.
Vir die wat so bietjie gaan uitspan, ek hoop julle geniet dit en die ander wat by die huis bly, geniet dit ook. Net om so bietjie uit die roetine te kom is al klaar soos 'n vakansie.

Mag Vader Yahweh Sy hand van seëninge en genade oor julle hou.

Groete

Friday, December 4, 2009

Hy Het My Nodig Gehad


Die verpleegster vergesel die senuweeagtige jong man na die bed van die bejaarde man. “Jou seun is hier,” fluister die verpleegster aan die pasiënt. Sy moes die woorde ’n paar maal herhaal voordat die pasiënt sy oë effens oopmaak. Hy was swaar verdoof vanweë die pyn waarin hy verkeer het as gevolg van die massiewe hartaanval wat hy gehad het. Vaagweg kon hy die jongman sien wat langs die suurstof tent staan.

Hy het sy hand uitgereik na die jongman wat sy hand geneem het en dit styf vasgehou het, terwyl hy die pasiënt se hand ’n bemoedigende drukkie gee. Die verpleegster het ’n stoel vir die jongman nader gebring. Reg deur die nag het die jongman langs die bejaarde man se bed gesit en sy hand vasgehou terwyl hy sagte woorde van hoop uitgespreek het om hom te bemoedig. Die sterwende man het nie ’n woord gesê terwyl hy vashou aan die hand van sy seun nie.

Met sons opkoms het die bejaarde man gesterf. Die jongman plaas die lewelose hand van die bejaarde man sagkens op sy bors en stap om die verpleegster te gaan roep.

Terwyl die verpleegster gedoen het wat nodig is, het die jongman geduldig gewag. Nadat die verpleegster klaar was, het sy woorde van simpatie gerig aan die jongman oor die afsterwe van sy vader.

Maar hy onderbreek haar. “Wie was daardie man ?” vra hy.

Die verskrikte verpleegster antwoord, “Ek het gedink dit is jou vader.”

“Nee, hy was nie my vader nie,” antwoord hy. “Ek het hom nog nooit van te vore gesien nie.”

“Nou hoekom het jy niks gesê toe ek jou na hom toe neem nie ?” vra die verpleegster.

Hy antwoord, “Ek het ook geweet dat hy sy seun nodig gehad het en sy seun was nie hier nie. Toe ek agterkom dat hy te siek is om te weet of ek sy seun is of nie, het ek besef hoe nodig hy my het.....”

Wednesday, December 2, 2009

Deur die Oë van ’n Kind


Die skrywer Leo Buscaglia vertel van die kompetisie wat hy moes beoordeel. Die doel van die kompetisie was om die mees sorgsaamste kind te vind. Die wenner was ’n seuntjie van vier jaar oud wie se buurman, ’n bejaarde man, onlangs sy vrou moes afstaan aan die dood. Die seuntjie het omgestap na die buurman, op sy skoot geklim en net daar gesit. Toe sy moeder hom vra wat het hy vir die buurman gesê, was sy antwoord. “Niks, ek het hom net ’n bietjie help huil.”

**********

’n Onderwyseres, Debbie Moon, se graad eentjies was besig om ’n familie portret te bespreek. Een seuntjie in die portret het ander kleur hare as die res van die gesin gehad. Een van die kinders maak toe die opmerking dat die seuntjie miskien aangeneem is en een van die meisies antwoord, “Ek weet alles van aanneming want ek was aangeneem deur my ma en pa.” “Wat beteken dit om aangeneem te wees?” wil een van die ander kinders nuuskierig weet. “Dit beteken” sê die meisietjie “dat jy in jou mamma se hart gegroei het in plaas van in haar maag.”

**********

’n Vier jarige meisietjie besoek die pediater vir ’n roetine ondersoek. Terwyl die dokter met die otoskoop in haar ore kyk vra hy, “Dink jy ek sal een van die Teletubbies hier binne aantref ?” Die meisietjie was doodstil en het nie ’n woord gesê nie.
Volgende neem die dokter die tong spatula en kyk in haar keel. Hy vra toe, “Dink jy ek sal die Koekie Monster daar binne kan sien ?” Weereens uiter die meisietjie nie ’n woord nie.
Die dokter neem sy stetoskoop en plaas dit op haar bors om na haar hart te luister. Terwyl hy na haar hartklop luister vra hy, “Dink jy ek sal vir Barney die beer daar binne hoor ?”
“Oooo, nee !” Antwoord die meisie. “Jesus is in my hart. Barney is op my broekie.”