Friday, October 12, 2012

Halwe Waarhede



In die tyd waarin ons vandag leef is halwe waarhede of ‘n wanvoorstelling van die waarheid aan die orde van die dag. Wanneer jy na die nuus kyk word feite sodanig verdraai dat dit ‘n ander prentjie skep van wat werklik besig is om te gebeur of om die persepsie van die kyker of luisteraar sodanig te beïnvloed dat hy ‘n ander prentjie vorm van die aanvanklike waarheid.

Hierdie metode word deesdae met groot sukses ook deur predikers in die kerke gebruik om verwarring en vertwyfeling by die lidmate te saai en dan word sekere waarhede bevraagteken soos die maagdelike geboorte van Yahshua Messiah, die wonderwerke wat Yahweh aan Israel gedoen het in die woestyn, Jona wat deur die vis ingesluk is en nog vele meer.

Deur hierdie metode van halwe waarhede of wanvoorstelling van die waarheid word die gelowige se geloofs basis stadig maar seker deur sommige van die predikers (wat eintlik niks anders as wolwe in skaaps klere is nie) weggekalwe. Die jong gelowige wat nog besig is om te groei en volwasse te word in die geloof word hierdeur mislei en die leuen word later sy geloofs basis .

Om hierdie halwe waarheid of wanvoorstelling van die waarheid te illustreer dien die volgende verhaal as ‘n uitstekende voorbeeld.

Daar was ‘n matroos wat reeds drie jaar op dieselfde skip gewerk het. Een aand het dit baie gesellig gegaan met die etery en het die matroos dronk geword. Dit was die eerste keer dat dit ooit met die matroos gebeur het.

Die kaptein het dit in die skeeps dagboek aangeteken,
“Die matroos was dronk vanaand.”

Die matroos het die inskrywing gelees en besef dat die inskrywing sy hele loopbaan in die toekoms sal affekteer. Hy is na die kaptein en vra plegtig om verskoning vir sy swakheid die aand en pleit by die kaptein om by die inskrywing in die dagboek by te voeg, “....maar dit is die eerste keer dat dit gebeur in die drie jaar wat die matroos op die skip werk.” wat die waarheid was.

Die kaptein het geweier om die inskrywing te verander en sê, “Wat ek in die dagboek geskryf het, is die absolute waarheid.”

Die volgende dag was die matroos op wag in die stuur kajuit en dit was sy verantwoordelikheid om die skeeps dagboek in te vul.

Hy skryf toe in die skeeps dagboek, “Die kaptein was sober vanaand.”

Die kaptein lees die inskrywing en vra die matroos om die inskrywing te verander of daarby by te voeg want die inskrywing laat dit voorkom asof die kaptein al die ander aande dronk is.

Die matroos antwoord die kaptein dat dit wat hy geskryf het in die skeeps dagboek is die waarheid.

Beide inskrywings in die skeeps dagboek was waar maar hulle het ‘n verkeerde boodskap oorgedra – ‘n wanvoorstelling van die waarheid.

No comments: