Wednesday, September 19, 2012

Die kerkbasaar



 In ‘n oorvol parkeerruimte staan ‘n hoopvolle bedelaar en hy wonder of een of
 meer kerklidmaat sy behoefte sal gewaar. Ja, eenmaal 'n jaar kom ‘n gemeente
 kleurvol bymekaar en fyngebak en vleis produkte staan georden maar ook
 deurmekaar en in die ritme van die hoer se hoofslagaar daar klink in dreunsang
 satans’ stem as die afslaer terwyl hy ook as beskermheer gierig die kerk se beurs
 bewaar.

 En terwyl die gemeentelede so uitspattig op hul kerk se bierfees baljaar- roep
 daar krom ou weduwees: kyk die pannekoek is nou gaar en so staan ook die
 kerrie en rys kant en klaar- met die nagereg vanjaar werklikwaar so ongeëwenaar.
 En terwyl die hoof ouderling se maag van al die bier in die kleedkamer nie wil
 bedaar met die predikant wat broederlik troostend verklaar- "byt net vas ou broer
 en begin bedaar want vanaand kom ons weer vir die een of ander sangpaar
 bymekaar en as die seremoniemeester moet jy die erns van die fondsinsameling
 uitklaar".

 En terwyl die bedelaar met tanende hoop na die oorvol kostafels staar- luister hy
 na die gemeente se kinders wat luidrugtig en onbeheers op die springkasteel
 baljaar en hy wonder of het die duiwel ook nou in hulle ingevaar. So sien hy ook
 ‘n vrou met `n onnatuurlike- uitspattige haarkleur wat in haar onsamehangende
 woordespel teenoor haar vriendinne net nie wil of kan bedaar en eenkant staan
 haar man fronsend daar en hy bereken; teen ‘n bees ‘n jaar raak die kerkbasaar
 vir hom nou ‘n bietjie swaar. Maar ‘n gemeentelid-broer staan nader en dié is ‘n
 groot vrymesselaar en of dit nou die gholfbaan of kerkbasaar is, hy bly nou
 eenmaal ‘n makelaar en in sy winsbejag- daar wil hy nou eenmaal net nie bedaar
 en dit kos die boer op die einde van die dag meer as net ‘n bees ‘n jaar.

 En so staan daar in die oorvol parkeerruimte die eensame bedelaar en hy voel
 oor dit wat hy sien skielik onverklaarbaar naar en hy wens daar kom ‘n Man met
 `n sweep en Hy slaan die hele kerkbasaar heeltemal uitmekaar- sodat die duiwel
 tog net ‘n bietjie kan bedaar en ‘n engel kom wat die kosbare gebed van die
 rondloper na die hemel toe dra- met woorde wat lui: ek dank U O' God, ek is nie
 ‘n gesiene kerklidmaat maar net ‘n eenvoudige, ja, ‘n honger bedelaar.

Openbaring 1749
 Woensdag 5 September 2012 06:00
 
http://www.openbaringe.co.za/
Judith de Beer

No comments: