Tuesday, May 10, 2011

MOEDERSDAG


Teen die agtergrond van die feit dat vakansie- en spesiale dae soos Nuwejaarsdag, Valentynsdag, Paasfees, Halloween en Kersfees deurspek is met heidense elemente en mensgemaakte tradisies wat nie in die Skrif gerugsteun kan word nie, vermoed ‘n mens by voorbaat dat Moedersdag geen uitsondering op hierdie reël is nie. Waar kom die tradisie van Moedersdag vandaan en kan gelowiges wat Yahweh se Woord as hoogste gesag in hulle lewens erken, hierdie dag met vrymoedigheid hou?

Inligting wat deur ensiklopedieë oor die geskiedenis van Moedersdag verstrek word, dui daarop dat die viering van Moedersdag teruggaan na die lente-feesvierings in antieke Griekeland ter ere van Rhea, die Moeder van die gode. Later, teen 250 v.M. (voor Messias), is daar ook soortgelyke feesdae in Rome ter ere van Cybele, die Moedergodin, gehou. Hierdie fees het as Hilaria bekend gestaan en is gewoonlik van 15 Maart tot 18 Maart gehou.

Heelwat later, teen die sewentiende eeu, het die Katolieke kerk in Engeland begin om "Mothering Sunday" op die 4 de Sondag van die "Lent" seisoen te hou ("Lent" is die 40 dae periode van verootmoediging voor "Easter" elke jaar en die 4 de Sondag val gewoonlik in Maart of April). Hierdie 4 de Sondag van "Lent" (ook genoem: "Mid-lent Sunday") is spesifiek daaraan gewy om die moeders van Engeland te vereer. Die arm werkers wat in baie gevalle ver van hulle gesinne af by hulle base gewoon en gewerk het, het hierdie dag "af" gekry en is aangemoedig om na hulle gesinne te gaan en die dag saam met hulle moeders deur te bring. Hulle het gewoonlik ‘n spesiale koek, die sg. "mothering cake", saamgeneem huis toe, sodat daar behoorlik feesgevier kon word.

Met die verspreiding van die Christendom deur Europa het dit gebruiklik geraak om op "Mothering Sunday" na die plaaslike Rooms Katolieke kapel te gaan en spesiale offers te bring ter ere van die "Mother Church". So het hierdie dag die konnotasie verkry dat dit ‘n dag is om gawes aan die gewone moeders, sowel as die groter "Moeder" (d.w.s. die Katolieke Kerk) te bring. Historici meen dat die rede waarom die "Mother Church" ook op hierdie dag vereer is, is omdat die vroeë kerk (in die tyd van Konstantyn) meeste van die gebruike wat voorheen aan die moedergodin gekoppel is, effens aangepas het en dit toe in hierdie gewysigde vorm aan die "Mother Church" gekoppel het. Seremonies, gebruike en titels waarmee Moeder Cybele voorheen vereer is, is deur die kerk in diens geneem om Moerder Maria te vereer. Die bekendste voorbeeld hiervan is die benaming "theotokos" ("Mother of God") wat vandag nog vir Maria gebruik word en wat opvallend ooreenstem met die titel ("Mother of the gods" – soms ook "Mother of God") wat voorheen vir Rhea en Cybele gebruik is.

Met die aanvang van die Industriële Revolusie teen die einde van die 18 de eeu het "Mothering Sunday" sy prominensie in Engeland en die res van Europa verloor. Hierna het die toneel van moedersdagviering na Amerika verskuif. Anna M. Jarvis (1864-1948) het met die idee vorendag gekom om elke jaar ‘n dag af te sonder waarop daar erkenning gegee word vir die onontbeerlike rol van moeders in mense se lewens. Die goewerneur van Wes Virginia het die eerste Moedersdag Proklamasie in 1910 uitgevaardig. Teen 1911 was daar nie meer ‘n staat in Amerika waar Moedersdag nie op een of ander wyse gevier is nie. Hierdie gebruik het spoedig na ander lande oorgewaai en op 12 Desember 1912 is die "Mother's Day International Association" gestig met die doel om wêreldwyd die viering van Moedersdag te bevorder en aan te moedig. In 1914 het President Woodrow Wilson van Amerika Moedersdag as amptelike vakansiedag verklaar wat jaarliks op die 2 de Sondag van Mei gehou moes word. Dieselfde gebruik word vandag nog in meeste lande ter wêreld gevolg.

Wat beteken dit alles vir ons? As ons die Skrif as hoogste gesag in ons lewens aanvaar en erns maak met die verbod teen enige vorm van afgodediens, insluitende die duidelike waarskuwing van Sha’ul dat ons NIKS met afgodediens te make moet hê nie en daarvan moet wegvlug (1 Kor 10:14), moet ons onsself VOLLEDIG distansieer van die tradisionele "moedersdag" konsep met sy duidelike verbintenis met die verering van Cybele, die sg. "moeder van die gode", sowel as Maria, die sg, "moeder van God". Saam hiermee moet ons ons ook VOLLEDIG distansieer van die verering van enige kerk wat self as "moeder" bekendstaan of wat afstam van die Rooms Katolieke kerk wat haarself as "moeder" van die christene van hierdie wêreld voorhou.

In die tweede plek behoort ons ons steun te gee aan die beginsel dat moeders sowel as vaders erkenning en respek ontvang vir wie hulle is en wat hulle doen om gesinne te versorg en te vertroetel en te beskerm. Ten diepste is dit die beginsel van die vyfde gebod ("Eer jou vader en jou moeder") wat hier ter sprake kom. Die Skrif gee geen aanduiding dat ons een spesifieke dag per jaar hiervoor moet afsonder nie. Dit is tragies dat, ook in hierdie geval, baie "christene" veel sterker voel oor die "onderhouding" van Moedersdag as oor die onderhouding van die voorgeskrewe feeste van Yahweh, soos Pesag en Yom Kippur. Om werklik die vyfde gebod te gehoorsaam, vra baie beslis ‘n gesindheid en optrede wat verder strek as net een dag of een spesiale "gebaar" per jaar.

As ons egter sterk voel daaroor om ‘n dag per jaar uit te sonder waarop ons op simboliese wyse ons liefde en eerbied en waardering vir ons moeders wil betoon, bo en behalwe die feit dat ons hulle kragtens die vyfde gebod deurlopend eerbiedig en liefhet, kan daar seker nie fout mee gevind word nie. My voorstel sou wees dat hierdie dag liefs ‘n ander dag as die tweede Sondag van Mei moet wees, om die eenvoudige rede dat "Moedersdag", soos reeds aangetoon, nie sonder ‘n lang geskiedenis van onskriftuurlike en heidense gebruike aan ons oorgedra is nie. As almal in die familie egter nie dieselfde oortuigings oor hierdie saak huldig nie, behoort diegene wat wel besorgd is oor die heidense oorsprong van hierdie dag, op ‘n sensitiewe manier hulle besorgdheid aan die res van die familie oor te dra. Ter versagting kan darem gesê word dat die oorspronklike fees (ter ere van Cybele en Rhea) op ander dae van die jaar gehou is.
Die belangrike is egter dat ons dit duidelik teenoor ons families sal uitspel dat ons nie die "dag" (ook genoem "holiday", afkomstig van "holy day") van "Moedersdag" vier nie – nie omdat ons NIE ons moeders wil eer nie, maar omdat ons NIE ons Vader wil verloën nie.

Met erkenning aan www.elim.co.za

No comments: