Monday, May 24, 2010
Die Beer en die Bul
Eendag lank gelede het daar ’n beer gebly in ’n grot, diep in die woud. Daar naby was ’n weiveld waar die boer sy koeie laat wei het – en een enorme bul wat baie befoeterd gelyk het. Elke dag het die beer weggekruip aan die rand van die woud en die bul dop gehou. Die beer was bekend as die sterkste en mees vreesaanjaende dier in die omtrek. Geen ander dier in die woud het dit gewaag om met hom slaags te raak nie. Terwyl die beer die bul dophou wat besig is om vreedsaam te wei, wonder hy by homself wie van hulle twee sal die stryd wen om te sien wie is die sterkste. Vir vele dae het die vraag in sy gedagtes bly maal. Toe een oggend besluit hy om die bul uit te daag tot ’n geveg tot die dood toe.
Die bul het sopas ’n mond vol heerlike sappige grashalms afgebyt toe hy opkyk en die beer aangestorm sien kom oor die gras vlakte na hom. Hy hou op om te kou. Die rooi vlaggie van gevaar spring orent in sy gedagtes. Die beer kom al glyende tot ’n stop voor die bul terwyl die graspolle weerskante van sy pote trek. Die bul laat dreigend sy kop sak, sy skerp horings gerig direk op die beer se keel. Vir ’n lang tyd staan hulle twee en gluur vir mekaar – geeneen van hulle bereid om ’n sentimeter skiet te gee nie. Uiteindelik raak die bul redelik dik vir die aangluur kompetisie en vra aan die beer,
“Wat soek jy, Beer?”
“Ek wil met jou baklei,” grom die beer.
“Waarom?” vra die bul.
“Want, ek wil bewys dat ek sterker en ’n beter vegter as jy is.”
Die bul bars uit van die lag. “Ek dog jy wil regtig iets hê. Jy kan onmoontlik tog teen my wen. Ek het skerp horing wat vreeslike wonde kan toedien.”
“En my kloue is skerp en vinnig,” kap die beer vinnig terug. “Ek het menige vyand oorwin – enige iemand wat my welpies wil seermaak of my maat wil wegneem. Ek is die koning van die woud!”
“Nou gaan dan terug na die woud,” antwoord die bul kortaf. “Die is die weiveld.”
Die beer knip sy oë in ongeloof. “Askuus tog, wat sê jy daar....”
“Ek bedoel, wat is die punt daarvan dat ek met jou baklei?” vra die bul. “Wat sal dit bewys? Ons is nie vyande nie. Ek het nie jou welpies leed aangedoen of jou maat geneem nie.”
“Dit sal bewys dat ek die sterkste is.”
“Okay,” sê die bul met ’n glimlag. “Ek sal dit so aanvaar. Jy is die sterkste. Loop nou en laat my in rus dat ek verder kan wei.”
“Net so oomblik. Wat bedoel jy daarmee?” Die beer lig sy klou omhoog met sy naels ontbloot. “Ek sal jou aan flarde kap. Verdedig jouself.”
“Wat jy ook al doen, dis jou keuse,” antwoord die bul kalm. “Maar as jy dit doen, wat sal jou al jou vriende – die wat jou nou sekerlik dophou vanuit die woud – van jou dink?”
“Hulle sal dink ek is die sterkste,” gil die erg gefrustreerde beer.
“Ek dink nie so nie. Net omdat jy teen my wil veg is nie vir my genoegsame rede om teen jou te veg nie. Ek sal slegs baklei om een van die koeie wat in my sorg is te beskerm. Indien jy een van hulle aanval dan sal ek verplig wees om jou aan te val en ’n goeie loesing te gee.”
“Ek kan geeneen van hulle aanval nie,” maak die beer beswaar. “Hulle kan nie terug veg nie. Daar sal geen oorwinning daarin wees nie.”
“Presies,” antwoord die bul. “Maar wat as jy hulle sou aanval?
En wat as ek hulle sou probeer beskerm?
Wat as iets met my sou gebeur?
Wie sal hulle dan beskerm?
Jy?
Sal jy my vertrou om na jou welpies om te sien indien iets met jou gebeur?
Wat sal met jou familie gebeur indien jy die geveg verloor?”
“Ek het nog nie so daaraan gedink nie.” sê die beer.
“Gaan terug na die woud, Beer,” sê die bul en draai om en loop weg. “Bly in vrede daar in jou woud en ek sal dieselfde doen hier in my weiveld.”
Die beer draai terug na die woud. Hy het hier gekom, gereed vir ’n geveg – om te bewys wie is die sterkste. Maar hy het ’n belangrike les geleer van die wyse ou bul.
In vrede is daar geen verloorders nie.
SPR 17:14 : Die begin van 'n onenigheid is soos water wat jy laat deurbreek; daarom, laat die twis vaar voordat dit losbreek.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment