Thursday, March 5, 2009

Wie se Boodskapper is Jy.


Die boodskap gaan oor die afskud van die stof van die voete wanneer die mense van die huis of die stad nie die leer wil aanvaar wat jy bring nie, dan moet jy die stof van die voete afskud en nie meer in die huis of stad kom nie. Daar word self verder gegaan dat diesulkes as totale vyande beskou word van die Lewende God en dat hulle onder geen omstandighede selfs gegroet mag word nie.

Mat 10:14 En as iemand julle nie ontvang nie en na julle woorde nie luister nie, gaan uit daardie huis of daardie stad uit en skud die stof van julle voete af.

Baie keer verwerp ons die hele stad al was ons nog net by een huis of ons verwerp die hele huis al was ons nog net by een persoon in die huis. Is ons nie baie kere soos Jona wat op die heuwel bokant die stad gaan sit en wag dat die stad of huis vernietig moet word nie?, want “ons” het mos die mense gewaarsku – ons wil tog so graag altyd reg wees en kan sê – “I told you so!”
Die mense van Ninevé het God geglo en berou gehad en die koning het die bevel uitgereik dat die hele stad hulle moet verootmoedig en rou klere moet aantrek na die getuienis van Jona. Dit lyk dis of die werk van Jona nou baie gering blyk te wees in lig van die koning se bevel en dat hulle God geglo het en nie Jona nie – dit lyk nou of God en die koning alles gedoen het en Jona is ergerlik daaroor. Maar hy was maar net die boodskapper maar die “Koning” het die verandering in die hart bewerkstellig.

Die ander probleem waarna ons moet kyk, is die boodskap wat ons bring na die huis of die stad – is dit die volkome boodskap van die Ewige liefde van die Lewende God of is dit die boodskap van ons eie oortuiging en siening.
Want die waaragtige boodskap van Vader kom nooit leeg terug nie en die wat sy ore vir die ware boodskap sluit is nie beskore vir die boodskap nie en sal dit nooit aanvaar nie.

Die mense boodskap is gewoonlik een van “doom en gloom” maar die ware boodskap van Vader is een van onuitspreekbare liefde, geduld en genade en dié twee is baie maklik te onderskei van mekaar.

So maak seker wie se boodskap jy bring voordat jy die stof van die stad of die huis van jou voete afskud en maak seker dat Vader die opdrag in jou hart geplaas het om te spreek anders spreek jy vanuit jouself wat geen goeie vrugte kan oplewer nie.

No comments: