Monday, March 30, 2009

Ek sal die Rots Skuif


Een nag terwyl ’n man rustig slaap in sy eenvoudige hout huisie op die berg word sy kamer skielik gevul met die mees helderste lig denkbaar en hy hoor die stem van die Almagtige Vader Yahweh wat met hom spreek. Vader deel hom mee dat Hy ’n werk het vir hom wat hy moet verrig en toon hom die massiewe rots voor die man se nederige huisie. Vader verduidelik aan hom dat die man elke dag teen die rots moet stoot met alle krag en mag tot sy beskikking.

Dit het die man gedoen, dag na dag, jaar na jaar. Vir baie jare het hy geswoeg met die taak van sonop tot sononder, sy skouers vierkantig teen die wand van die koue, massiewe onbeweegbare rotsblok. Elke aand keer die man terug na sy huisie, moeg en seer van die heeldag se arbeid met ’n gevoel van nutteloosheid omdat hy niks uitgerig kry teen die rotsblok nie.

Die satan merk op dat die man besig is om moedeloos en mismoedig te raak en neem sy kans waar om in die prentjie te kom en ander gedagtes in die man se kop te plaas en hom nog meer moedeloos te man want hy wil graag hê dat die man die stryd gewonne moet gee. Die satan vertel aan hom: “Jy is nou alreeds jare besig om teen die rots te stoot en dit het nog nie eens beweeg nie. Jy sal dit nooit regkry om dit te skuif nie en kan net sowel nou al handdoek ingooi en jouself baie moeite en verdriet spaar. Gaan doen eerder iets ander met jou kragte.”

Met die gedagtes wat die satan in die man se gemoed gesaai het, het hy begin voel soos ’n mislukking en dat hy in elk geval nooit die taak sal kan verrig nie. Die gedagtes het die man net nog meer neerslagtig gemaak en hy het by homself begin dink: “Hoekom sal ek myself doodmaak om iets te doen wat ek weet ek nooit sal regkry nie. Ek sal maar net my tyd insit en die minimum poging aanwend om die rots te skuif, dit behoort darem genoeg te wees.”

Vir ’n paar dae het hy gedoen soos wat hy homself voorgeneem het, maar hy het gevoel dat iets nie reg is nie en dat die manier van doen hom geweldig baie pla. Hy het besluit om dit ’n saak van gebed te maak en tot Vader te nader met sy kwellinge. “Vader,” het hy gebid, “ek het lank en hard in U diens gearbei. Ek het getrou elke dag al my kragte ingespan om te doen wat U my versoek het om te doen. Tog, na al die jare, kon ek nog nie eens die rots een millimeter verskuif nie. Wat is fout? Hoekom faal ek in my taak?

Met die antwoord Vader hom baie liefdevol, “My vriend, toe ek jou gevra het om my te dien en jy dit aanvaar het, het ek jou meegedeel dat jou taak was om die rots te stoot met al jou krag en mag, wat jy dan ook gedoen het. Nie een maal het ek aan jou gesê dat ek van jou verwag om die rots te skuif nie. Jou taak was om te stoot en nie te skuif nie. En nou kom jy na My toe, toe kragte getap en dink dat jy gefaal het in jou taak.
Maar is dit werklik so?
Kyk na jouself.
Jou arms is sterk en gespierd, jou rug breed en bruin, jou hande vol eelte van die voortdurende drukking teen die rots en jou bene is sterk en stewig.
Deur die weerstand van die rots het jy baie gegroei en jou kragte het baie vermeerder teenoor dit wat jy aanvanklik gehad het.
Steeds het jy nie die rots verskuif nie. Maar jou roeping was om gehoorsaam te wees, om jou geloof en vertroue in My wysheid verder te stoot en te oefen. Dit het jy gedoen.

“Ek, my vriend, sal nou die rots skuif.”

Wanneer ons soms die woord van Vader hoor wil ons ons eie intellek gebruik om te ontsyfer wat Hy verlang terwyl al wat Hy werklik verlang is slegs vertroue en geloof in Hom....

Vader Yahweh, U roep ons elke dag om gehoorsaam te wees. Soms wil ek verby die gehoorsaamheid kyk, ek wil weet hoekom, waarom en wanneer. Tog is dit gewoonlik eers lank na die gehoorsaamheid dat ek begin besef wat U plan toe reeds was. Help my asseblief vandag om gehoorsaam te wees sonder vrae en om nie mismoedig te word terwyl ek die taak volbring wat U my opgelê het nie. Vader, leer my om vandag gehoorsaam te wees sodat ek môre sterker kan wees in U diens.
Dit vra ek in die naam van my Verlosser Yahshua.
Amen

No comments: