Friday, January 23, 2009

Die Lewende Bybel


Sy naam is Billy. Hy het woeste hare, dra ’n T-hemp met gate in, jeans en geen skoene. Dit was letterlik sy hele klerekas vir die hele vier jaar op kollege.

Hy is briljant en baie slim. Hy het ’n gelowige geword terwyl hy op kollege was.

Oorkant die straat van die kollege kampus was ’n baie netjiese en baie konserwatiewe kerk. Hulle wil ’n bediening begin vir die kollege studente maar weet nie regtig hoe om dit te begin en deur te voer nie.

Een dag besluit Billy om die diens in die kerk by te woon. Hy stap kaalvoet in die kerk met sy gewone T-hemp, jeans en wilde hare. Die diens het reeds begin en Billy het in die paadjie afgestap opsoek na sitplek in die kerk.

Die kerk was vol gepak en daar was nie ’n enkele sitplek beskikbaar nie. Van die gemeentelede lyk al redelik ongemaklik oor die student maar niemand sê ’n woord nie.

Billy kom al nader en nader en nader aan die preekstoel en toe hy besef dat daar geen sitplek beskikbaar is nie maak hy homself tuis op die mat voor die preekstoel.

Teen die tyd is die gemeentelede alreeds baie opgetrek oor die situasie en die atmosfeer is al so dik jy kan dit amper met ’n mes sny.

Op die stadium besef die prediker dat een van die ouderlinge ,van heel agter in die kerk, op pad is na Billy.

Die ouderling is reeds in sy tagtigs, het silwer-grys hare en ’n drie stuk pak aan. ’n Godvresende man, baie elegant, statig en hoflik. Hy stap met ’n kierie en terwyl hy sy weg baan na die jongman sê elkeen vir hulself dat hulle nie die ouderling kan kwalik neem vir dit wat hy van plan is om te doen nie.

Hoe kan jy verwag van ’n man van sy jare en agtergrond om ’n jong student wat op die mat sit te verstaan?

Dit neem die ouderling ’n lang ruk om uiteindelik die jongman te bereik.

Die kerk is doodstil behalwe die geklik van die ouderling se kierie op die vloer. Alle oë is vasgenael op hom en die gemeentelede haal skaars asem. Die prediker kan nie eens aangaan met die preek totdat die ouderling gedoen het wat hy moes doen nie.

Toe die ouderling by die jongman kom laat val hy sy kierie op die mat langs die jongman. Met groot moeite sak hy af en gaan sit langs Billy om te aanbid sodat die jongman nie alleen sal wees nie.

Die hele gemeente voel hoe die emosies in hul opwel.

Toe die prediker uiteindelik beheer oor sy eie emosies het, sê hy: “Wat ek vandag gaan preek, sal julle nooit onthou nie. Wat julle sopas gesien het, sal julle nooit vergeet nie.”
“Wees versigtig hoe jy leef. Jy mag dalk die enigste Bybels wees wat sommige mense ooit sal lees.”

No comments: