Friday, May 23, 2008

Die Twee Wolwe


Die jong knapie kom by sy oupa aan met ‘n gemoed wat gevul is met woede vir sy maatjie wat hom so ‘n onreg aan gedoen het. Oupa het eers klaar na die mannetjie geluister terwyl hy stoom afblaas.
Oupa sê toe: “Laat ek jou ‘n storie vertel. Somtyds het ek ook ‘n groot woede en haat ervaar teenoor die wat my ‘n onreg aangedoen het. Maar haat maak jou baie moeg en terneergedruk en veroorsaak geen skade aan jou vyand nie. Dis soos om gif te drink en te wens sou vyand gaan dood daarvan. Ek het baie met die gevoelens geworstel.”

Oupa gaan aan: “Dit is asof daar twee wolwe binne my is; die een is goed en berokken geen skade nie. Hy leef in harmonie met almal om hom en neem nie aanstoot wanneer die bedoeling van die ander opreg was nie. Hy sal slegs baklei wanneer dit geregverdig en dan ook net op ‘n mooi manier.”

“Maar die ander wolf, Ahhh!! Hy is vol woede. Die kleinste dingetjie sal hom sommer nou brullend van woede maak. Hy baklei met almal, die heeltyd, sonder rede. Hy kan nie behoorlik dink nie want sy woede en haat is so groot dat dit alle rede oorweldig. Dit is baie moeilik om met die twee wolwe binne my te leef, want altwee van hulle probeer gedurig om my siel te domineer en beheer.”

Die knapie kyk nou baie intens in sy oupa se oë en vra, “Watter een wen, Oupa?”

Met ‘n diepe erns antwoord Oupa, “Die een wat ek voer.”

No comments: