Wednesday, May 7, 2008

Dagboek van ‘n Bybel



JANUARIE: ‘n Besige tyd vir my. Die meeste van die familie het ‘n Nuwejaars voorneme gemaak om my die jaar deur te lees. Hulle het my nogal besig gehou vir die eerste twee weke, maar hulle het my reeds klaar vergeet.

FEBRUARIE: Skoonmaak tyd vir my. Ek was gister afgestof en weer gebêre op my normale plek op die boekrak. My eienaar het my darem verlede week ‘n paar minute gebruik. Hy was in ‘n argument met die buurman en het ‘n paar verwysings gesoek om sy standpunt te staaf en te bewys dat hy reg is.

MAART: Het ‘n besige dag gehad die eerste dag van die maand. My eienaar is verkies tot voorsitter van die skool se beheerliggaam en het my gebruik om sy toespraak voor te berei.

APRIL: Oupa het ons die maand besoek. Hy het my op sy skoot gehou vir ‘n uur lank terwyl hy 1 Petrus 5 gelees het. Dit lyk of hy baie meer van my dink as die meeste van my eie huismense.

MEI: Ek het ‘n paar groen vlekke op my bladsye. Van die laaste herfs blommetjies is tussen my blaaie gepers.

JUNIE: Ek lyk soos ‘n plakboek. Hulle het my vol koerant uitknipsels geprop – een van die dogters het getrou.

JULIE: Hulle het my vandag in ‘n tas gepak. Ek vermoed ons is oppad met vakansie. Ek wens ek kon eerder by die huis gebly het want ek weet ek gaan twee weke in die bedompige tas bly.

AUGUSTUS: Nog steeds in die tas.

SEPTEMBER: Uiteindelik weer terug op my ou bekende plek op die boekrak. Ek het heelwat kuiergaste. Twee vroue tydskrifte en vier strokiesprent boeke is bo op my gestapel. Ek wens ek kon so baie soos hulle gelees word.

OKTOBER: Hulle het so stukkie uit my gelees vandag. Een van hulle is baie siek. Tans sit ek in die middel van die koffie tafel. Ek dink die predikant kom seker vandag huisbesoek doen.

NOVEMBER: Terug op my ou plek in die boekrak. Iemand het vandag gevra of ek ‘n plakboek is.

DESEMBER: Die familie is besig om reg te maak vir die vakansiedae wat voorlê. Ek vermoed ek sal weer toegegooi word onder geskenkpapier en pakkies….soos wat elke Kersfees gebeur.


No comments: