Tuesday, June 14, 2011

Die Amalekiete, Hetiete, Jebusiete en Amoriete in ons lewens.


Ken ons nie almal daardie gevoel wanneer dit voel of alles jou eenvoudig net wil oorweldig nie ? Wanneer die wasmasjien stukkend is, die motor kort bande, daar is hoeveel ander gate wat toegestop moet word en dit voel eenvoudig of mens net nie kan voorkom nie. Sodra as die een ding reg is dan wag die volgende om sy kop uit te steek. Mens weet later nie meer waar om te keer of wat om te doen nie. Dit voel of jy dryf in hierdie moeras van probleme en dit is net jou mond wat nog so nou en dan bo die water uitsteek, soms moet jy asem ophou wanneer jy onder getrek word om na ‘n wyle net weer jou mond bokant die water uit te kry.

Die aanslae kan mens soms baie mismoedig stem en noodgedwonge begin mens soms die betekenis van dit alles te bevraagteken en wil mens bepaal wat is die doel daaragter.

Die verhaal in Numeri 13 het vandag weer wonderlike betekenis vir my gekry en het my laat verstaan wat behels hierdie stryd wat ons voer.

Moses het die verkenner uitgestuur om die land Kanaan te gaan verken en terug te rapporteer oor die vrugbaarheid daarvan, die ligging van die land, die stede en die mense wat daar woon.
Hulle het die groot druiwetros en ander vrugte saamgebring as bewys van hoe vrugbaar die land is maar die verslag rondom die bevolking was nie so rooskleurig soos die vrugbaarheid nie. Al die verkenners behalwe Kaleb was van mening dat hulle nie die beloofde land kan intrek en oorneem nie. Die verkenner was bevrees vir die inwoners en was oortuig dat die inwoners van Kanaan hulle sal verteer.

Maar Kaleb, hoekom het hy nie die probleem gesien wat die ander verkenners gesien het nie. Omrede hy nie na die inwoners gekyk het nie maar na die Een wat die belofte gegee het. Sy oë was op die hand van sy Meester YaHWeH, daarom kon hy sê, “Laat ons gerus optrek en haar in besit neem.”

Hierdie probleme en aardse dinge wat ons wil oorweldig is ons vyande van die beloofde land. Ons is geneig om ons so blind te staar teen die vyande, dat ons glad nie die verlossing en belofte van ons Geliefde sien of hoor nie.

Ons het vandag die keuse:

Is ons ‘n Kaleb wat glo in die belofte en oor al die gevare heenkyk na die Almagtige wat aan ons die uitkoms bied
of
Is ons soos die verkenners wat niks verder kon sien as die vreeslike inwoners van die beloofde land nie?

Het ons probleme ons Amalekiete, Hetiete, Jebusiete en Amoriete geraak wat ons verhoed om die “beloofde” land in besit te neem ?

Numeri 13

26 En hulle het weggegaan en by Moshè en Aäron en die hele vergadering van die kinders van JisraEl gekom in die wildernis Paran, in Kadesh, en aan hulle berig gebring, en aan die hele vergadering en hulle die vrugte van die Aarde laat sien.
27 En hulle het hom vertel en gesê: Ons het gekom in die Aarde waarheen u ons gestuur het; en waarlik, sy loop oor van melk en heuning, en dit is haar vrugte.
28 Maar die volk wat in die Aarde woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot; en ons het daar ook die kinders van die Enakiete (reuse) gesien.
29 Die Amalekiete woon in die Aarde van die Suide, maar die Hetiete en Jebusiete en Amoriete woon in die gebergte, en die Kanaäniete woon by die see en aan die kant van die Jordaan.
30 Toe het Kaleb die volk stil gemaak teenoor Moshè en gesê: Laat ons gerus optrek en haar in besit neem; want ons kan haar sekerlik oorweldig.
31 Maar die manne wat saam met hom opgetrek het, het gesê: Ons kan nie teen die volk optrek nie, want hulle is sterker as ons.
32 So het hulle dan slegte gerugte onder die kinders van JisraEl versprei oor die Aarde wat hulle verken het, deur te sê: Die Aarde wat ons deurgetrek het om haar te verken, is ’n Aarde wat haar inwoners verteer; en al die mense wat ons in haar midde gesien het, is groot manne.

No comments: