Thursday, December 2, 2010

Die Pottebakker se nederige klei.


My Elohim U is die Pottebakker en ek net die nederige klei.
So dikwels sou ek protesteer wanneer die lewe my wou brei.

My Elohim U is my Raadsman ewig altyd goed en toegewy.
So getrou, ja volmaak het U my ewigheidstoekoms toeberei.

My Elohim U is die Tuinier wat my grond vrugbaar voorberei.
Vir my- ʼn onvrugbare Vyeboom, wat geestesvrugte moet kry.

My Elohim U is my Verlosser, aan ʼn kruis het U vir my gely.
Sodat ek as swakke sondaar ook die ewige lewe kan verkry.

My Elohim U is My Lig waarmee ek die donkerte kan bestry.
U breek my bindende boeie- U maak my onvoorwaardelik vry.

My Elohim U is my Geneesheer; in my kwale staan U my by.
Van elke siektetoestand maak U my in gees en liggaam vry.

My Elohim U is my Koning en ek U kneg wat my in U verbly.
In U Heilige hofhouding- daar wil ek so graag vir ewig altyd bly.

My Elohim U is my Priester- in U tempel staan U Gees my by.
Ja, U tempel in my eie hart, waar ek altyd in kontak met U bly.

My Elohim U is my Leidsman wat my na my wedergeboorte lei.
Waar ek my altyd in U Liefdeswysheid en ook Vrede kan verbly.

My Elohim U is My Goeie Vader, wat my geduldig- sorgsaam ly.
Sodat ek my weg na U Huishouding, ja, die Vaderhuis kan kry.

My Elohim U is die groenweivelde waar U skape so rustig wei.
Waar geen boosheid, roofdier of wolf hul as prooi beet kan kry.

My Elohim U is die Pottebakker en ek is net die nederige klei.
Laat ek nooit weer protesteer, wanneer U riglyne, my sou brei.

Judith de Beer
Dinsdag 30 November 2010

No comments: