Friday, November 29, 2013

Die Nutsman’s Filosofie




My werkswinkel is my tempel.
My gereedskap is soos hoofstukke in die Bybel.
Dit is hier waar waar ek iets wat oud en afgeleef  is kan herstel.
Dit is hier waar ek iets seldsaams kan skep.
Dit is hier waar ek vrede met myself kan ervaar.

Elke gereedskapstuk leer my om my karakter te verbeter.
Elke gereedskapstuk toon aan my ‘n riglyn vir die lewe.
Elke gereedskapstuk leer my hoe my interaksie met ander moet wees.
Elke gereedskapstuk het ‘n doel.

My gereedskaps rak bestaan uit die volgende stukke en elkeen van hul vorm my karakter:

My Beitel:
om harde kwaste in my gewoontes mee weg te kap en te sny. Die kettings van gewoontes is te swak om te voel totdat hulle te sterk is om te breek.

My Hammer:
leer my om die aanslae van die lewe met moedigheid  te verduur. Een man met moed vorm ‘n meerderheid.

My Saag:
om slegte gedagtes uit te saag en af te sny. Verandering van my denke kan my houding verander en my hele wêreld.

My Passer:
om my te herinner dat die lewe in sirkels loop. Wat ek uitstuur is dit wat later weer terugkom na my. Wees waaksaam oor wat jy in die sirkel doen want dit kom altyd terug na jou – tienvoudig – hetsy goed of sleg.

My Winkelhaak:
om regverdigheid aan die dag te lê wanneer ek die aksies van ander beoordeel. Die eerste plig van elke gemeenskap is regverdigheid.

My Liniaal:
om mense te meet aan dit wat hulle doen en nie aan wat hulle sê nie. Ek beoordeel ‘n boom nie aan sy blare nie maar aan sy vrugte wat hy voortbring.

My Merkers Potlood:
om duidelik my foute te merk. Die grootste fout wat ek kan maak is om nie te weet ek het ‘n fout gemaak nie.

My Boor:
om my slegte bedoelings tot in die wortel in uit te haal en te verwyder. Hulle spruit gewoonlik voort uit my onkunde.


My Bankskroef:
om die feite aan te gryp en die waarheid uit te pers want ek het geleer dat die waarheid meer belangrik is as die feite.

Die Slypsteen:
om my werk te doen sonder om te mor en te kla. Werk help my om iets te bereik en nie net te verkry nie.

Die Moersleutel:
om die “Ek gee nie om” houding skiet te gee en die “Ek is verantwoordelik” houding bietjie stywer te draai.

Die Skroewedraaier:
om die verkeerd ongedaan te maak en die reg te herstel. Die goeie is kennis en die bose is onkunde.

My Veiligheids Brille:
om pynlike geskinder af te weer en my oë oop te hou vir die waarheid.

My Vyl:
om die weg vir iemand anders gelyk te maak. Geduld en volharding oorwin alle probleme.

My Tang:
om my foute mee te gryp. Om my foute te erken is die wegspring tot oorwinning en bewys my wyser as voorheen.

My Skaaf:
om my splinters van nood leuentjies en wit leuentjies weg te skaaf. ‘n Halwe waarheid is hele leuen.

My Aambeeld:
om my te herinner om sterk te staan teen die lewens aanslae. Teenspoed openbaar wysheid, voorspoed verberg dit.

My Blikskêr:
om die behoefte om ‘n leuen te vertel af te sny. Die grootste leuen in die wêreld begin met die woorde, “Hulle sê ..............”

My Langbek Tangetjie:
om versigtig die geleentheid uit elke probleem uit te haal. ‘n Probleem wat goed gedefinieer is, is ‘n probleem wat al halfpad opgelos is.

My Sweismasjien:
om vriendskapsbande te smee wat ‘n leeftyd sal bestaan.


“Maak nie saak hoe groot jou pa was of is nie, jy moet steeds jou eie groeiwerk doen.”