My Geliefde, hoe lieflik is die terugblik aan ons heerlike ontmoeting.
Op die vlug vlerke van herinnering onthou ek ons ontmoeting soos gister.
U, my Bruidegom het lankal U oog op my gehad, gereeld het u lieflike vermanings woorde aan my gefluister wanneer my gewete my aanspreek.
Lieflike uitnodigings briefies het u aan my gestuur deur die getuienis van my vriende wat reeds aan u verbind was met die goue koord van liefde.
Maar hoe verblind was my gees nog deur die verlokkinge van die wereld.
My oë was traag om te sien die lieflikheid van U aangesig.
My ore te doof om te luister na die liefdes woorde wat U tot my rig.
My hande te besig met die vlegwerk van die aardse lewe.
My voete te haastig om te loop agter die kwaad.
My gees vasgevang in sy winter slaap sonder vooruitsig om gou te ontwaak.
My siel geknel in die web van my daaglikse oorlewing.
Maar nooit my geliefde het U opgehou om te klop aan die deur van my hart nie, altyddeur was U daar, as gevaar my bedreig, het U my uitgered soos ‘n ridder sy geliefde sou red. U versugtinge van verlange was voortdurend in my oor.
Tot die dag dat U die skille van my oë weggevee het, die verstoppings uit my ore gehaal het en die kliplaag om my hart stukkend geslaan het.
Toe eers kon ek U lieflike roepstem herken.
Met vreugde was ek vervul want eensaamheid en verlatenheid het gevlug voor die aangesig van my Geliefde.
Saggies het U U hand uitgestek na my om my uit te haal uit die moeras van sondigheid waarin ek verval het.
U het my genoem U kosbare bruid.
Hoe kon ek die woorde glo – watter bruidegom wil so ‘n bruid verkry wat vol is van die besoedeling, wat verwerp is deur al haar aardse minnaars.
In skaamte moes ek my oë laat sak voor U Glansryke aangesig, maar in U oë was geen afkeuring nie maar slegs suiwer liefde vir my.
U het my gewas en my geklee in wonderskone glansrykheid.
‘n Ring het U aan my vinger gesit en aan my plegtig belowe dat ek U verloofde is en dat U my nooit sal versaak of verlaat.
Styf het U my teen U vasgedruk en liefdes woorde in my oor gefluister.
My hart was verblyd in my en het rondgespring soos ‘n bokkie in die ope velde na die lente reëns.
My Geliefde met U hand het U my hoof gestreel, U vingers het my lippe aangeraak om hulle te salf sodat ek ook woorde van suiwer liefde teenoor U kan spreek.
Ag, my Bruidegom nooit sal ek U waardig kan wees nie maar ek sal myself voortdurend verbly in die volheid van U liefde.
Ek hoor reeds die klokke lui, binnekort sal ek in die eg verbind word met my Bruidegom. Die onthaal het HY met grootse sorg aangelê met net die beste lekkernye en slegs die beste Kana wyn.
In my bruidskamer wag ek vir U my bruidegom want binnekort sal U my kom haal.
Die tyd het byna tot volheid gekom.
Ek kan ek nie meer wag om die volheid van U prag te aanskou nie.
My asem sal weer deur U wegslaan word met die verruklikheid van U skoonheid.
My Bruidegom hoe verlang ek na die volheid van U nabyheid, om langs U sy te staan en my hand in U hand te plaas.
Hoe sal ek ooit die woorde kan vind om aan U te vertel hoe groot die liefde in my hart vir U is my Bruidegom.
Dankie my Bruidegom dat U alsiende oë tot binne my hart kan sien en dat U weet U is my een en enigste liefde.
Kom al Sy bruide laat ons vandag ‘n loflied aanhef tot ons Bruidegom, laat die lampe vol olie bly, ons Bruidegom is oppad.
Hy kom ons haal want ons huwelik word voltrek.
Monday, January 14, 2008
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment