Monday, February 18, 2013

Wanneer ons die Waarheid Weet




Die trein begin stadig in beweging kom. Die trein is gepak met mense van alle ouderdomme maar hoofsaaklik werkende mans en vrouens en jong universiteit studente. By die venster sit ‘n ou man met sy dertig jarige seun.

Soos wat die trein beweeg is die seun oorstelp van vreugde deur die pragtige landskap wat hy deur die trein venster waarneem.

“Sien pa, die prentjie van die rye bome wat in die vêrte wegraak soos wat ons al vinniger beweeg, dit is te mooi.”

Die optrede van die dertig jarige seun laat die ander passasiers op die trein effens kriewelrig voel. Al die passasiers is druk besig om saggies die optrede van die seun met mekaar te bespreek en spekuleer wat fout is met hom.

“Die mannetjie lyk of hy ‘n paar varkies kwyt is,” fluister die jong man aan sy vrou.

Skielik begin dit te reën. Reën druppels val op die passasiers deur die oop venster. Die dertig jarige seun is vreeslik opgewonde en sê, “Kyk pa hoe wonderlik is die reën ...”

Die vrou, van die jong man wat beweer het dat hy ‘n paar varkies kwyt is, begin baie geïrriteer te word deur die paar druppels wat op haar val. Sy het ‘n nuwe snyers pakkie aan en die reën druppels is besig om dit te ruïneer.

Sy snou die ou man toe, “Kan julle nie sien dit reën nie, maar die venster toe en as jou seun nie wel voel nie vat hom dokter toe dat hy kan kyk wat fout is met hom want hy het beslis ‘n skroef of twee los.”

Die ou man aarsel eers ‘n oomblik en toe in ‘n lae stemtoon antwoord hy, “ Ons kom nou net van die dokter af. My seun is vanoggend ontslaan uit die hospitaal. Hy was blind van geboorte af en het sy sig eers ‘n paar dae gelede teruggekry na die operasie. Reën en die natuur is nuut in sy oë. Vergewe ons asseblief indien ons u enige ongerief aangedoen het.”

Sekere dinge wat ons sien mag vir ons reg lyk, volgens ons perspektief, totdat ons die waarheid te wete kom. Wanneer ons die waarheid leer ken, kan ons reaksie op “ons waarheid” selfs ons seermaak.
Probeer eers die probleem te verstaan voordat jy oorhaastig optree.

Wednesday, February 13, 2013

Trots op Prestasies




Om trots te wees op mens se prestasies verteenwoordig nie hoogmoed nie. Dit verteenwoordig blydskap in nederigheid.
“Die kwaliteit van die werk en die kwaliteit van die werker is onlosmaaklik deel van mekaar.”
“Half-hartige pogings produseer nie halwe resultate nie; dit produseer geen resultate nie.”

Drie mense was besig om steen messelwerk te doen. ‘n Verbyganger vra aan hulle wat is hulle besig om te doen.

Die eerste een antwoord:
Kan jy nie sien ek is besig om geld te verdien om aan die lewe te bly nie?”

Die tweede een antwoord:
Kan jy nie sien ek is besig om steen messelwerk te doen nie?”

Die derde een antwoord:
“Ek is besig om ‘n pragtige monument te bou.”

Hier is drie mense wat presies dieselfde werk doen maar totaal verskillende perspektiewe handhaaf oor dit wat hulle doen. Hulle al drie het drie verskillende benaderings ten opsigte van die werk wat hulle doen.
En sal hul benadering tot hul werk hul prestasie beïnvloed?
Die antwoord is ‘n baie besliste – Ja.

Uitnemendheid word eers bereik wanneer die ondernemer trots is om slegs sy beste te lewer. Elke taak is ‘n self-beeld van die persoon wat die werk doen, ongeag wat die taak is, hetsy dit motor was is, om die vloer te vee of om die huis te verf.

Doen dit reg die eerste keer, elke keer. Die beste versekering vir môre is ‘n werk goed gedoen vandag.

Michelangelo het ‘n lang tyd aan ‘n standbeeld gewerk. Hy het geweldig baie tyd spandeer om elke klein detailtjie weer oor te gaan en te verseker dat dit is soos hy dit wil hê. ‘n Omstander het gedink die klein veranderinkies is onbenullig en het vir Michelangelo gevra hoekom hy sy tyd daarmee mors.
Michelangelo het geantwoord:
“Kleinigheid maak dit perfek en perfek is nie ‘n kleinigheid nie.”

Die meeste mense vergeet hoe vinnig jy ‘n taak verrig het, maar hulle onthou hoe goed jy die taak verrig het.

Friday, February 8, 2013

Ander se Wasgoed





‘n Jong getroude paartjie het in ‘n nuwe woonbuurt ingetrek. Die eerste oggend terwyl hulle ontbyt eet sien die jong vroutjie die buurvrou terwyl sy haar wasgoed buite ophang.

“Daardie wasgoed is nie baie skoon nie,” sê sy aan haar man. “Die buurvrou weet nie hoe om wasgoed behoorlik te was nie. Miskien moet sy oorskakel na ‘n ander waspoeier toe.”

Haar man het opgekyk na die buurvrou se wasgoed, maar het nie ‘n woord gesê nie.

Elke keer wanneer die buurvrou haar wasgoed op die draad hang het die jong vroutjie dieselfde opmerkings oor die toestand van die wasgoed.

Ongeveer ‘n maand later was die jong vroutjie die een oggend uiters verbaas om silwer skoon wasgoed op die buurvrou se wasgoeddraad te sien, “Kyk! Sy het geleer hoe om haar wasgoed behoorlik te was. Ek wonder wie het haar bietjie touwys kom maak?”

Haar man antwoord toe, “Ek het vanoggend bietjie vroeër opgestaan en ons vensters skoongemaak!”

Dit is soms ‘n goeie idee om eers te kyk of jou vensters skoon is want wat ons sien terwyl ons na ander kyk hang grootliks af van die vlekkeloosheid van ons eie vensters waardeur ons kyk.

Voordat ons kritiek lewer is dit ‘n goeie idee om onsself eers af te vra of ons in staat is om eerder die goeie te sien eerder as die slegte in mense met wie ons verkeer.

Monday, February 4, 2013

Trooskombersie





Vriendskap is soos die natuur.  
Soms waai ons by mekaar verby sonder om te stop en te vra hoekom die ander so verkreukeld lyk.
Die lewe se wind dra ons weg met ‘n oppervlakkige -  “Goed dankie” en
 “Sien jou later”.

Soms sien ons eers baie later die rypskade aan die ander se brose binneste en wonder ons hoekom het ons nie lankal gevra nie.

Soms sien ons net die lentekleur raak  op ‘n gesig en is ons nie eers bewus
van die wurm wat aan sy/haar binneste vreet nie.

Soms wonder ons of dit net die wind is wat hom/haar wegbuig van ons af en of dit dalk die stingeltjie self is wat sy stokstywe ruggie op jou draai.
Pluk iemand ons vir ‘n ruiker uit YaHWeH se tuin, wriemel ons weg van mekaar.

Roos se dorings steek te seer en papawer wil MOS langs niemand wees nie!
Koringblommetjie kruip weg van skaamte oor haar kartelhoede en Hibuskus
wonder of almal weet van haar verlede.

Intussen vergeet ons dat YaHWeH afkyk op Sy tuin en net pragtige blomme sien.
Almal is ewe mooi, ewe kosbaar, ewe goed in Sy oë.

Vergewe my daarom as ek by jou verbygewaai het op ‘n herfsoggend en
nie jou hand gevat het in die sonlig nie.

Vergewe my as ek op ‘n wintersoggend nie vir jou ‘n trooskombersie van
woorde wou oorgooi teen die rypskade nie.

Vergewe my as ek op ‘n lente-oggend selfsugtig met my eie nuwe blare loop en spog het en nie die kneusplekkies aan jou stingeltjie gesien het nie.

Vergewe my as ek op ‘n warm somersdag nie vir jou ‘n tydjie gemaak het nie,
omdat ek te besig was, selfs te veel gekla het, te haastig was om aan jou die koelte van my vriendskap te bied.

Ek vra verskoning…

weet asseblief dat ek daar is en wil wees vir jou!