Monday, January 31, 2011

Die Hartseer van ’n Sabbats Vreugde


Hierdie klink omtrent soos ’n teenstrydigheid maar miskien moet ons eers so bietjie gaan ondersoek instel om te sien of dit werklik ’n teenstrydigheid is.

In Markus sê Yahshua Messiah dat Hy die Sabbat spesiaal vir die adamiet gemaak het.

Markus 2:27 En Hy sê vir hulle: Die Sabbat is gemaak vir die adamiet, nie die adamiet vir die Sabbat nie.

In Genesis 1 sien ons dat Vader YaHWeH na elke skepping die woorde toevoeg;
Toe sien Elohim dat dit goed was.

In vers 31 verklaar Elohim as volg:
Toe sien Elohim dat alles wat HY gemaak het, baie suiwer was. En dit was aand en dit was môre, dit was die sesde dag.

In Genesis 2: 2en 3 Sê Elohim:
2 En Elohim het op die sewende dag Sy werk voltooi wat HY gemaak het, en op die sewende dag gesabbatteer van al SY werk wat HY gemaak het.
3 En Elohim het die sewende dag geseën en dit apart gestel; omdat Elohim daarop gesabbatteer het van al die werk wat HY geskep en gemaak het.


Dus kan ons sien dat Elohim na elke dag bevestig het dat dit goed was en aan die einde van die skeppings dae bevestig Hy weereens dat alles wat Hy gemaak het baie suiwer was.

Elohim het terug gekyk na die skeppings week, die werk van Sy hande, en bevestig dat dit suiwer en baie goed was. Vader was baie tevrede met dit wat Hy gedoen het die week.

Die Sabbat behoort ook vir ons ‘n dag van vreugde en heerlikheid te wees omdat die dag spesiaal vir ons gemaak is, ‘n dag waarop ons kan rus van die werke van ons hande en kan spandeer om ons Glansryke Koning te loof en te prys.

Maar dit is ook ‘n dag wat ons moet kan terug kyk op die week en moet kan sê,
“dit was suiwer en baie goed.”
Sodra ons, ons optrede en dade van die afgelope week bepeins en oordenk, dan is dit met pynlike herinnering wat ons moet dink aan ons sondes, ons gebreke, ons tekort kominge, ons hoogmoed, ons hardheid van hart, die haat en nyd wat daar in ons hart geheers het en die onsuiwere woorde wat oor ons lippe en in ons hart geuiter is.

Kan ons dan nog werklik sê, “dit was suiwer en baie goed.” ? ? ?

Temidde van die vreugde oor die Sabbat is daar die hartseer omdat ons nie kan sê ons weë die afgelope week was suiwer en baie goed nie.

Ons het nog so vêr pad om te gaan voordat ons sal kan sê, dit was suiwer en baie goed.

Laat ons voordurend tot ons Koning YaHWeH nader om ons elke dag die krag en genade te gee om te oorwin in Sy naam en dat ons sal streef om ook eendag te kan terugkyk en sê:

“dit was suiwer en baie goed.”

Thursday, January 27, 2011

Oggend


Genadige YaHWeH, U genade het my gebring by die aanbreek van ’n nuwe dag. Vergeefs sal sy geskenk wees tensy ek groei in genade en kennis om ryp te word vir die geestelike oes. Laat my die dag U ken in U grootheid, U tot die uiterste toe bemin, U hartgrondig dien en U in volheid vereer.

Deur genade laat my wil U gehoorsaam wees, wetende dat die krag tot gehoorsaamheid nie in my is nie, maar dat U vrye liefde alleen my in staat stel om U te dien.

Hier is nou my leë hart, vul dit oorvloedig met U keurigste geskenke; hier is my blindheid om te verstaan, verdryf die wasigheid van onkunde.

O ewige wakende Herder, lei, wys en versorg my die dag; sonder U teregwysende staf fouteer en dwaal ek. Omhein my pad sodat ek nie afdwaal in sondige plesier en drink van sy giftige stroom nie; rig my voete dat ek nie verstrik raak in Satan se geheime strikke of val in sy verborge lokvalle nie.

Beskerm my van vyande wat my aanval, van euwels op my pad, van myself.
My teenstanders is deel van my natuur, hulle kleef aan my soos my eie vel; ek kan nie hul kontak ontglip nie. In my sit en my staan pynig hul my; hul probeer my voortdurend verlei met allerlei lokaas; my vyand is binne die vesting. Kom met U almagtige krag en werp hom uit, deurboor hom en verdryf uit my elke stukkie vleeslike begeerte in hierdie dag.

Tuesday, January 25, 2011

Oggend Oordenking


Almagtige Majesteit YaHWeH, soos wat ek oor die drempel stap van ’n nuwe dag gee ek myself, hart, siel, liggaam, alle sake en vriende oor in U sorg.
Waak oor, onderhou, lei, stuur, heilig en seën my.
Neig my hart na U weë.
Vorm my geheel in die beeltenis van Yahshua, soos die pottebakker die klei vorm. Mag my lippe soos ’n goed ingestelde harp wees om U glansrykheid te besing.

Laat my medemens my sien leef deur U Gees, onbeweegbaar deur die aardse dinge, vrygemaak van nietighede, met ’n hart wat vernuwe is deur U genade, geklee in die volle wapenrusting van YaHWeH, skyn soos ’n onuitdoofbare lig en dat heiligheid skyn in al my doen en late.

Laat geen boosheid in hierdie dag my gedagtes, woorde of hande besoedel nie.
Mag my aardse wandel wees met ’n lewe wat onbevlek en rein is, my verlange voortdurend na die hemelse is en my liefde opwaarts styg soos die vlamme van ’n vuur.
Laat my oë gevestig bly op die onsienlike dinge en oop vir die leegheid, breekbaarheid en valsheid van die wêreld en sy nietighede.

Mag ek alle dinge aansien in die spieëlbeeld van die ewigheid, wagtend op die koms van my Koning, met ore wat wag op die klank van die laaste basuin en ’n haas om te gaan na die nuwe hemel en aarde.

Gebied in hierdie dag al my gesprekke ooreenkomstig U wysheid en dat dit sal lei tot wedersydse liefde. Verbied dat ek iets sal doen vir eie gewin.
Mag ek elke woord spreek asof my laaste woord en elk tree gee asof my laaste tree.

Indien my lewe vandag sou eindig laat dit my beste dag wees.

Thursday, January 20, 2011

Tevredenheid


Hemelse Vader, as ek moet lei in nood, ongekleed moet gaan en in armoede verkeer, laat my hart U liefde prys, U liefde ken, daardeur bedwing word, al word ek van alle seëninge weerhou. Dit is U genade om my te kwel en te beproef met gebrek, want deur die beproewinge sien ek my sonde en verlang verlossing daarvan. Laat my vrywilliglik aanneem ellende, hartseer en versoekinge as ek daardeur die sonde kan gewaarword as die grootste euwel en daarvan verlos word met dankbaarheid aan U met erkenning dat dit die grootste getuienis is van U liefde.

Toe U Seun, Yahshua, in my kom woon in plaas van sonde het Hy meer kosbaar geword vir my as die sondes wat voorheen in my geheers het. Sy goedhartige heerskappy het die tirannie van sonde vervang. Leer my om te glo dat indien ek ooit enige sonde oorwin ek nie net moet werk om dit te oorkom nie maar my Verlosser moet uitnooi om in die plek daarvan te kom woon, dat Hy vir my meer sal word as wat die vleeslike wellus was sodat Sy Heerlikheid, Krag en Lewe in my sal wees.
Derhalwe moet ek genade van Hom soek eerder as sonde, maar moet dit nie eis as ’n reg nie.

Wanneer ek bevrees is oor boosheid wat kom, vertroos my deur aan my te wys dat in myself is ek ’n sterwende, veroordeelde wrak maar in Yahshua is ek verlos en lewe; dat in myself vind ek leegheid en geen rus, maar in Yahshua is daar tevredenheid en rus; dat in myself is ek swak en nie in staat om goed te doen nie, maar in Yahshua is ek in staat om alles te doen.
Alhoewel ek Sy genade nou gedeeltelik ervaar, sal ek dit binnekort in perfektheid ervaar wanneer ek volkome met U verenig is en U alleen vir my voldoende sal wees, my totaal sal liefhê met sonde vir ewig vernietig.
O Majesteit, verhaas tog daardie dag.

Tuesday, January 18, 2011

Puritein Gebede


Die volgende paar weke wil ek graag Puritein Gebede plaas wat oorgeneem is uit die Vallei van Visie: ’n Versameling van Puritein Gebede en Verootmoedigings.

Die gebede is baie treffend en spreek tot die diepte van die siel en getuig van ’n uiterste verlange om in geregtigheid voor YaHWeH te wandel maar dui ook die mens se totale afhanklikheid aan van Vader se genade en vergiffenis.

Belydenis en Smeking

Heilige YaHWeH, ek het gesondig male sonder tal, is skuldig aan trotsheid en ongeloof, het gefaal om U wil te soek in U Woord, van nalatigheid om U te soek in my daaglikse bestaan.
My oortredinge en tekortkominge staar my in die gesig met ’n lys van aantuigings, maar ek loof U dat hul nie teen my sal staande bly nie omdat hul almal geplaas is op ons Verlosser Yahshua Messiah.
Gaan voort en onderdruk my verdorwenhede en bied my genade om bo hulle te leef. Laat nie toe dat die passies van die vlees of die wellustighede van die sinne my siel onderwerp nie, maar heers U oor my in vryheid en in krag.

Ek dank U dat baie van my gebede geweier is. Ek het verkeerdelik gevra en ontvang nie, ek het gebid uit sinnelike lus en is afgewys, ek het verlang na Egipte en is ’n wildernis gegee. Gaan aan met U geduldige werk, antwoord ‘nee’ op my verkeerdelike gebede en rus my toe om dit te aanvaar. Reinig my van elke vals begeerte, elke valse aspirasies, alles wat teenstrydig is met U wil. Ek dank U vir U wysheid en U liefde, vir al U dissiplinêre handelinge waaraan ek onderworpe is, dat U my somtyds in die oond plaas om my goud te verfyn en my loog te verwyder.

Geen toets is so moeilik te verduur soos die bewustheid van sonde nie. Indien U my die keuse sou bied om te lewe in plesier en my sonde te behou of om hulle weg te brand deur beproewing, skenk my geheiligde beproewing. Verlos my van elke kwade gewoonte, elke aanwassing van vorige sondes, enigiets wat die helderheid van U genade in my verdoof en enigiets wat my verhoed om my in U te verbly. Dan sal ek U seën, YaHWeH, die Geliefde Een, wat my help om staande te bly.

Friday, January 14, 2011

OUPA EN OUMA SE ANTWOORDMASJIEN


Goeie môre .... Ons is tans nie tuis nie, maar laat asseblief 'n boodskap na die toon. As jy een van ons kinders is, druk die nommer kind wat jy is en druk dan een van die volgende nege opsies, sodat ons by ons terugkoms kan weet wat ons moet doen:
1. As ons die kleinkinders moet kom oppas, druk 2
2. As julle ons kar wil leen, druk 3
3. As julle wil hê ons moet julle klere was en stryk, druk 4
4. As julle wil hê dat die kleinkinders by ons moet kom slaap, druk 5
5. As julle wil hê dat ons die kinders by die skool moet gaan haal,druk 6
6. As julle wil hê dat ons vir julle 'n maaltyd moet voorberei of dit
by julle huis aflewer, druk 7
7. As julle hier wil kom eet, druk 8
8. As julle geld nodig het, druk 9
9. As julle ons vir ete gaan nooi, of ons teater toe wil vat, begin
praat, ons luister.

Friday, January 7, 2011

Die laaste weg van keuse


So het die laaste pad- nou in twee weë ingevurk.
Smal en breed, goed en kwaad, middeldeur geruk.
Op die breë weg gaan die wêreld nou so baie druk.
Dit dans en lag, koop en verkoop, almal soek geluk.
Op die smal weg gaan ʼn paar onder ʼn kruis gebuk.
Hulle dra swaar, maar verbete stu hul voort in die juk.

So het die weg van keuse nou in twee weë ingevurk.
Smal en breed- goed en kwaad soos ʼn boom se mik.
Op die breë wil niemand meer, hul na God se wil skik.
Daar is geen oordeelswaarskuwing wat hul laat skrik.
ʼn Paar gaan op die smal weg terwyl tyd gevaarlik tik.
Hulle weet aan die einde van hul weg wag daar geluk.

So het die laaste pad vir oulaas in twee weë ingevurk.
Op die breë weg word daar so vrolik na die hel opgeruk.
Daar wag die antichris- nog swart, nog wit, dalk ʼn Turk.
Op die smal weg is ʼn paar- hul pas versnel vinnig druk.
Terwyl hul desperaat geliefdes van die breë weg wil ruk.

Ja, die eindtydpad het finaal tussen twee weë ingevurk.
Tussen smal en breed, hemel of hel, middeldeur geruk.
Op die breë weg waar almal hulle na Satan se wil skik.
Styg en daal gevaarlik- die eindtyd barometer, se kwik.
O’ die smal weg, die paar wat swaar aan vervolging sluk.
Maar hul weet- aan die einde van hul weg wag daar geluk.

Judith de Beer

Thursday, January 6, 2011

Slegs my hart en my liefde.


O’ My God, daar is niks wat ek vir U kan doen, bied of bring.
O’ Waarom voel ek in my liefde vir U so hopeloos gering.
So graag wil ek saam met die engele om U staan in ʼn kring.
Ja, saam met skare hemelsfere so graag U ewige lof besing.
Ja, in heerlike saligheid uitbundig uitroep in my jubeling.
Hosanna-hosanna wil ek uitroep in my lied aan U gebring.

Ja, so wil ek jubel en sing terwyl ek dartel na U woning.
In die refrein van my melodie, my liefde betuig in fluistering.
Soos ʼn bruid naderstaan- my hand uitgehou vir die trouring.
Skaamteloos getuig, daar is net één, Elohim is my Liefling.
Tydens my aardse lewe, staan Hy my by- in my loutering.
Daarom wil ek so graag, so graag iets kosbaars vir U bring.
Maar, my God, daar is niks- wat ek vir U kan doen of bring.

Daarom voel ek in my liefde vir U so hopeloos uiters gering.
Terwyl die woord van my lied sterf in treurige boetedoening.
In my klaaglied ween ek en sê: kyk, O’ God, ek is te gering.
Ek is te sondig- om te kan staan in hemelskares se kring.
Terwyl ek berouvol my hande in gebed, voor U saamwring.
Maar my enigste besitting- my hart- sal ek nou na U bring.

Skaamteloos vra: by U wil ek woon, ja, in U ewige woning.
Ek weet U het my lief- U het Uself na die sondaars gebring.
Daarom sal my klaaglied- nou weer, in jubellied ontspring.
Engele roep ek toe: neem my saam om my hulde te bring.
Vrolik sal ek hosanna sing in my lied aan my God gebring.
O’ my God, daar is iets, ja iets, wat ek wel na U kan bring.
Dit is my hart en ook my liefde, wat U ewige lof toe sal sing.

Judith de Beer

Tuesday, January 4, 2011

“In Shape”


Dit is altyd baie interessant om te luister na mense se Nuwejaars voornemens. Negentig persent van die kere gaan hul voornemens oor hoe hulle hulself fisies wil verbeter, soos ophou rook, op dieet gaan en begin oefen sodat hulle liggame soepel en fiks is.
Alles draai hoofsaaklik rondom die fisiese aspek van hul lewens en hul uiterlike voorkoms na die wêreld daar buite. Daar is seker niks mee verkeerd om na jou fisiese gesondheid om te sien en voornemens te hê dit wat sleg is vir jou liggaam te los nie.
Dit behoort ’n gereelde lewens wyse te wees, nie net ’n Nuwejaars gier wat baie kere nie eens die einde van Januarie haal nie.

Die hoof rede vir die Nuwejaars voornemens is om vir jouself ’n beter gehalte - en langer lewe te verseker want nie een van ons wil sieklik en krank wees wanneer ons oud word nie.

Maar ........ hoeveel kere hoor ons dat iemand se voorneme is om sy siel te versorg ?
Om na sy geestelike sy om te sien, om sy hart tot Vader te bekeer, om te leef volgens die Woord en Voorskrifte van YaHWeH?

Ons is geneig om soveel klem te lê op dit wat ander mense sien dat ons heeltemal vergeet van Hom wat in die verborgenheid van die hart sien.

Die grootste probleem van die moderne eeu is dat die mense baie gesonder lewe en heelwat ouer word as sowat vyftig jaar gelede maar die geestelike sy van hul bestaan is siek en in baie gevalle reeds sterwend of dood.

Die dilemma van die mensdom is dat hulle die probleem van die verkeerde kant af benader. Sorg eers vir die geestelike en dan sal die fisiese self in lyn kom want die geestelike sal voorskryf aan die fisiese. Sodra daar gehoorsaamheid is aan Majesteit YaHWeH dan sal daar gehoorsaamheid wees aan Sy Woord, wat vir ons al die voorskrifte gee van ’n gesonde en lang lewe.

Kom ons maak ons voorneme vir die jaar om eers die saak reg te maak met ons Koning YaHWeH......... dan sal die res vanself regkom.

Selfs vir die sterwende siel is daar steeds hoop.