Monday, September 29, 2008

Die Marmer Teël


Daar was die museum wat uitgelê was met die mooiste marmer vloerteëls en die marmer standbeeld in die middel van die ingangs portaal. Mense van reg oor die wêreld het na die museum gekom om Te kyk na die pragtige marmer standbeeld.

Een aand begin die marmer teëls met die marmer standbeeld te praat.

Marmer teël: “Marmer standbeeld, dit is nie regverdig nie, dis baie onregverdig! Hoekom wil almal van regoor die wêreld hierna toe kom net om op my te trap, terwyl hulle jou bewonder? Onregverdig!”

Marmer standbeeld: “My liewe vriend, marmer teel. Onthou jy nog dat ons beide van dieselfde marmer groef in die berg afkomstig is?”

Marmer teel: “Ja! Dis verder hoekom ek nog meer verontwaardig voel. Ons is uit dieselfde groef gebore en tog word ons nou verskillende behandeling. Baie onregverdig!” verklaar die marmer teel.

Marmer standbeeld: “Goed, dan onthou jy seker steeds die dag toe die ontwerper probeer het om op jou te werk, maar jy het weerstand gebied teen die gereedskap?”

Marmer teel: “Natuurlik onthou ek. Ek haat daardie werker! Hoekom kon hy daardie gereedskap op my gebruik, dit het verskriklik gepyn.”

Marmer standbeeld: “Dis reg! Hy kon glad nie op jou werk nie want jy het geweier dat daar aan jou gekap en getimmer word.”

Marmer teel: “En wat daarvan?”

Marmer standbeeld: “Toe hy besluit om moed op te gee met jou en begin werk het op my, het ek onmiddellik geweet dat ek heeltemal iets anders sal wees nadat hy met my klaar gewerk het. Ek het nie sy gereedskap weerstaan nie, ek het inteendeel al die pynlike gekap en getimmer verdra sonder weerstand…”

Marmer teëls: “Mmmmmm………”

Marmer standbeeld: “My vriend, daar is ‘n prys te betaal vir alles in die lewe. Aangesien jy besluit het om halfpad moed op te gee, kan jy nie ander verwyt omdat hulle nou op jou trap nie.”

Friday, September 26, 2008

Die Bybel en die Kole Mandjie


Die storie word vertel van ‘n ou man wat op ‘n plaas in die berge gebly het saam met sy jong kleinseun. Elke oggend vroeg was Oupa al op en het by die kombuis tafel gesit en uit sy ou verslete Bybel gelees.

Sy kleinseun, wat net soos sy Oupa wou wees, het hom nageboots in alles wat hy doen.

Een dag toe vra die kleinseun hom,

“Oupa, ek probeer elke oggend die Bybel te lees net soos jy, maar ek verstaan dit nie en dit wat ek verstaan vergeet ek so vinnig soos wat ek die Bybel weer toemaak. Watse goed doen dit om die Bybel te lees?”

Die Oupa draai stadig om terwyl hy besig was om kole in die koolstoof te sit en sê, “Neem die kole mandjie na die rivier en bring vir my ‘n mandjie vol water terug.” Die seun het gedoen soos sy Oupa hom gevra het, alhoewel al die water uitgeloop het deur die mandjie nog voordat hy die huis kon bereik.

Die Oupa lag en sê, “Jy sal volgende keer bietjie vinniger moet wikkel met die mandjie water,” en stuur hom terug rivier toe met die mandjie om weer te probeer.

Die keer hardloop die seuntjie vinniger, maar die mandjie was weer leeg voordat hy by die huis aankom. Uitasem, vertel hy sy Oupa dat dit onmoontlik is om water in ‘n mandjie te dra en hy gaan haal die emmer op die stoep om te gebruik in plaas van die mandjie.

Die Oupa antwoord, “Ek soek nie ‘n emmer water nie, ek soek ‘n mandjie water. Jy kan dit doen. Jy probeer net nie hard genoeg nie,” en hy stap buitentoe om die seun dop te hou terwyl hy weer probeer.

Op die stadium het die seun besef dit is hopeloos om dit reg te kry maar om aan sy Oupa te bewys al hardloop hy so vinnig as wat hy kan, daar is nie ‘n manier wat die water nie sal uitloop voordat hy by die huis is nie.

Die seun skep die water en hardloop vir al wat hy werd is maar toe hy by sy Oupa uitkom is die mandjie weereens leeg.

Uitasem, hyg hy, “Sien Oupa, dit is hopeloos!”

“So jy dink dit is ‘n hopelose saak?” sê die Oupa, “Kyk na die mandjie.” Die seun kyk na die mandjie en vir die eerste keer besef hy dat die mandjies anders lyk. In plaas van ‘n ou vuil kole mandjie, was dit nou skoon.

“Seun, dis wat gebeur as jy die Bybel lees. Jy mag dalk nie miskien alles verstaan of onthou nie, maar wanneer jy dit lees, sal dit jou van binne verander.”

Dit is die werk van God in ons lewens.

Om ons te verander van binne na buite en om ons stadig te omvorm na die beeld van Sy Seun.

Neem tyd om ‘n stukkie van Vader se Woord elke dag te lees. Bid dat Hy dit sal gebruik om jou hart en verstand na Hom te keer.

---------- …. ----------

(Psa 119:9) Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na U woord.

Monday, September 22, 2008

Vrugte van die Boom van die Gees


Hoe baie het ons nie al die verhaal gelees in Genesis van Eva wat verlei was deur satan om van die vrug te eet van die boom wat in die middel van die tuin gestaan het nie. Hoe sy van die vrug ook gegee het aan Adam om daarvan te eet. Daarna het hulle hul versteek omdat hulle tot die besef gekom het dat hulle naak was.

Sekerlik is daar baie verklarings van wat presies gedurende die episode gebeur het en dat hierdie maar slegs ‘n beeldspraak was van wat werklik plaasgevind het.
Maar tog is dit noodsaaklik dat ons so bietjie vergeet van die verskillende interpretasies en stilstaan by die verhaal en gaan kyk na die ander betekenis en hoe dit ook vandag in ons lewens afspeel en ons hele saligheid beinvloed.

Adam en Eva kon van die vrugte van alle bome eet sonder dat hulle iets sou oorkom bahalwe die spesifieke een wat nie goed vir hulle sou wees nie want hulle sou daarvan sterwe – dit was vir hulle verbode. Die sterwe was nie letterlik nie maar hulle sou geestelik sterwe

In ons hele lewenswandel stop ons elke dag by ‘n klomp verskillende bome om van hul vrugte te eet. Van die vrugte pluk ons en deel uit aan ander wat ons op ons lewenspad raakloop.
Maar het ons al gaan stilstaan en kyk na die vrugte wat ons pluk om te eet of te deel met ander.
Pluk ons vrugte wat onskadelik is vir ons, pluk en eet ons vrugte wat ons voed en goed is vir ons of eet ons vrugte wat ons laat ‘sterwe’.

Die mens se onderskeid tussen gesonde en dodelike vrugte het in vandag se tye so vervaag dat dit moeilik te onderskei is tussen dit wat lewe geen en dit wat lewe neem. Maar hoekom het dit so geraak?
Eintlik baie eenvoudig – ons lees nie meer die ‘instruksie handleiding’ nie – ons het so eiesinnig en eiewys geraak dat ons self besluit het wat is goed vir ons en wat nie. Die nuwe siening word gehuldig dat baie goed wat in die ‘instruksie handleiding’ vir ons weergegee en waaroor ons gewaarsku word nie meer vandag van toepassing is nie want tye het verander.

Tye het miskien verander maar die vrugte nie – wat giftig was is vandag steeds giftig – of kon die mens die giftige vrugte in sy aller wysheid verander na gesonde voedende vrugte? Sekerlik nie want die boom word aan sy vrugte geken.

Die vrugte wat die mens vandag eet en wat hom aangebied word is die vrugte wat slegs die eie ek voed – die giftige vrugte is gekamofleer in ‘n omhulsel van heilsaamheid maar die vrug onder die kamoflering is giftig tot die dood toe.

Hoeveel is daar nog wat luister na die Stem van Vader as Hy aan ons sê – “My kind moenie van die vrug van dié boom eet nie, want dit sal jou lewe kos.”
Die mens bevind hom in die vrugte boord van satan en versadig hom met die vrugte van die dood sonder dat hy eens daarvan bewus is en die doderyk maak sy mond wyd oop om te verslind die wat hul versadig in die boord van die goddelose.

Het die vrugte boord van die Gees verlore geraak vir die mensdom? Want werklik min is die wat die heerlike vrugteboord opspoor en hulself versadig met die vrug van Gods Gees of het die groot samedromming in die boord van die ‘onheilige’, die mense so mislei dat hulle dink die vrugte daar is baie lekkerder en gesonder omdat almal daar vergader?

Hoe verblydend is dit tog nie om te staan en te eet van die vrug van lering, wysheid en genade van Vader nie. Dit is die vrug wat ons voed en ons oë open om die heerlikheid van Sy genade en liefde te aanskou. My hart is verjeug want ek word gevoed deur die hand van die Almagtige.

Hoe groot is tog die hartseer as hulle vir wie ons naderwink om te proe van die ware vrugte van die boord van God die uitnodiging afmaak en hul haas na die boord van die goddelose om hul te versadig met vrugte van die dood want dit is baie joliger daar as in die boord van die Almagtige.

Ondersoek elke vrug want aan die vrug sal jy die boom herken of goed of kwaad is.

Thursday, September 18, 2008

Ore


“Kan ek my baba sien?” vra die nuwe moeder opgewonde. Toe die kleine bondeltjie knus in haar arms lê vou sy die puntjie van die kombersie weg wat oor die kleinding se koppie was om sy gesiggie te sien en sy snak na haar asem. Die dokter draai vinnig om en staar by die groot hospitaal venster uit. Die baba is gebore sonder ore. Later is uitgevind dat die kleinding se gehoor perfek is. Dit was net sy voorkoms wat geskend is weens die afwesigheid van ore.

Terwyl hy eendag hom van die skool af haas en hom in sy moeder se arms werp, het sy net gesug, en geweet dat sy hele lewe net ‘n opeenvolging van hartseer en bespotting sal wees.

Hartseer vertel hy sy moeder sy wedervaring by die skool. “’n Seun, ‘n groot seun ….. het gesê ek is ‘n frats.”

Hy het groot geword en ten spyte van sy gebrek was hy tog gewild onder sy mede studente, hy kon selfs hoofseun gewees het was dit nie vir sy gebrek wat tog ander studente afgeskrik het. Sy moeder het hom gereeld vermaan om te meng met ander jong mense maar in haar hart het sy besef hoe moeilik dit vir hom moes wees en dat elke dag ‘n stryd is.

Die seun se vader het hul huisdokter besoek en wou weet of daar niks is wat vir die seun gedoen kan word nie. “Ek glo dat ons ore vir hom kan oorplant as ons geskiktes in die hande kan kry.” Het die dokter te kenne gegee.

Daar en dan het die soektog begin na geskikte skenkers wat bereid was om so ‘n opoffering te maak. Twee jaar het verloop nadat die soektog begin het.

Toe op ‘n dag roep die vader sy seun en sê, “Jy moet saam met ons hospitaal toe gaan seun. Jou moeder en ek het iemand opgespoor wat bereid is om sy ore aan jou te skenk. Maar die persoon wat die ore skenk wil anoniem bly.” Die operasie was ‘n reuse sukses en die seun het soos ‘n nuwe mens daar uitgesien met die nuwe ore. Hy het behoorlik ontpop in ‘n nuwe mens en skool en universiteit het ‘n reeks oorwinnings vir hom geword. Hy is later getroud en het ‘n betrekking in die diplomatieke korps aanvaar.

Hy het aanhoudend by sy vader probeer uitvind, “Ek wil graag weet wie het die ore aan my geskenk. Wie kon soveel vir iemand anders doen? Ek sal nooit genoeg die persoon kan vergoed nie.” “Ek glo nie jy sal kan nie seun.” het die vader geantwoord, “maar die ooreenkoms was dat jy nie mag weet nie …. in elk geval nie nou al nie.”

Deur die jare het die geheim bewaar gebly, maar die dag het gekom …… een van die donkerste dae wat die seun nog ooit moes verduur. Hy het saam met sy vader gestaan oor sy moeder se kis. Stadig en liefdevol het die vader sy hand uitgestrek en sy geliefde vrou se lang pragtige rooi-bruin hare opgelig om te wys dat sy geen oorskulpe gehad het nie.

“Moeder het gesê dat sy bly was dat sy nooit ander toegelaat het om haar hare te sny nie,” fluister die vader saggies “en niemand het ooit gedink moeder is minder pragtig nie, het hulle?”
Ware skoonheid is nie te vinde in die fisiese voorkoms nie maar in die hart.
Ware skatte is nie gesetel in dit wat mens kan sien nie maar in dit wat mens nie kan sien nie.
Ware liefde is nie in dit wat jy doen en waarvan ander weet nie maar in dit wat jy doen en waarvan ander nie weet nie.

Matt 6:3 Maar jy, as jy liefdadigheid bewys, laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie,

Wednesday, September 3, 2008

Op my Knieë wil ek Bly


Vader, Almagtige, hoe het ek tog nie elke dag gekla en gemurmureer omdat ek nooit van my knieë af opkom nie. Sodra ek dink dat ek sterk genoeg is om te staan dan is die versoeking en die sonde daar om my te laat struikel en val.

Al het ek eensaam en verlate gevoel was U altyd in stilte daar vir my. Of U stil was, weet ek nie, ek glo dit was eerder my hart en ore wat hul doof gehou het vir U stem, want elke woord kla my aan en laat my ineenkrimp van skaamte.

Hoe vreeslik het ek U nie bedroef nie, terwyl U toe gekyk het hoe ek U versmaad het in my sondigheid. U wat sien tot in die diepste geheimenisse van my hart. Daar was niks verborge van my oortreding teenoor U nie. Want so deurskynend soos water is die mensekind voor U.

Hoe sal hy dan enige gedagte vir U kan versteek, U wat alles in die hele skepping weet. Waar sal ek my versteek in skaamte vir U regverdige blik. Tussen die sterre – sal hulle my nie verkla voor die Almagtige wat hulle geskape het deur die woorde van Sy mond nie – in die diepste vallei – sal die rotse en die plante van U skepping nie tot U roep om my te openbaar nie.

Sal ek nie eerder myself neerwerp voor U aangesig en pleit om genade nie? Want ek wil myself nie versteek van U aangesig nie.

Hoe moes ek tog nie leer dat die beste plek bly maar tog steeds op my knieë voor die Almagtige wat die regverdige oordele vashou in Sy hand. Wat is ek tog meer as ‘n stoffie, ‘n wurmpie, voor Sy aangesig.
In my nietigheid pleit ek om genade en kruip in skaamte aan Sy voete.

Helaas bly die beste plek maar steeds op my knieë want daar weet ek hoe om nederig te wees, om Hom te dien uit genade wat Hy my skenk in oorvloed. Waarom sal ek dan die hoogmoedigheid wil aankleef om myself te verhef voor U glansryke aangesig Vader.
Laat my vandag soos ‘n kleine kindjie aan u voete leer die Almag van U heerlike liefde en dankie Vader dat U soveel genade het met die sondaar.

Monday, September 1, 2008

Kinders is soos Vlieërs


Jy spandeer jare om hulle van die grond af te kry om te vlieg.

Jy hardloop saam met hulle totdat julle beide skoon uitasem is. Hulle val…. raak verstrengel….. jy maak hulle heel, vertroos hulle, bemoedig hulle en verseker hulle dat hulle wel eendag sal kan vlieg.

Uiteindelik, is hulle in die lug.

Hulle benodig meer lyn en jy bly meer skiet gee met die lyn.

Hulle pluk aan die lyn en met elke draai van die lyn is daar ‘n hartseer wat tog ook gevul is met blydskap.

Die vlieër raak al hoe kleiner in die vêrte en jy weet dat dit nie meer lank sal wees voordat hierdie pragtige vlieër die lewenslyn sal breek wat jul aan mekaar gehou het.

Dit sal vlieg soos dit veronderstel was om te vlieg …. vry en alleen.

Slegs dan sal jy weet dat jy tog ‘n goeie werk gedoen het van die vlieër.