Monday, September 22, 2008

Vrugte van die Boom van die Gees


Hoe baie het ons nie al die verhaal gelees in Genesis van Eva wat verlei was deur satan om van die vrug te eet van die boom wat in die middel van die tuin gestaan het nie. Hoe sy van die vrug ook gegee het aan Adam om daarvan te eet. Daarna het hulle hul versteek omdat hulle tot die besef gekom het dat hulle naak was.

Sekerlik is daar baie verklarings van wat presies gedurende die episode gebeur het en dat hierdie maar slegs ‘n beeldspraak was van wat werklik plaasgevind het.
Maar tog is dit noodsaaklik dat ons so bietjie vergeet van die verskillende interpretasies en stilstaan by die verhaal en gaan kyk na die ander betekenis en hoe dit ook vandag in ons lewens afspeel en ons hele saligheid beinvloed.

Adam en Eva kon van die vrugte van alle bome eet sonder dat hulle iets sou oorkom bahalwe die spesifieke een wat nie goed vir hulle sou wees nie want hulle sou daarvan sterwe – dit was vir hulle verbode. Die sterwe was nie letterlik nie maar hulle sou geestelik sterwe

In ons hele lewenswandel stop ons elke dag by ‘n klomp verskillende bome om van hul vrugte te eet. Van die vrugte pluk ons en deel uit aan ander wat ons op ons lewenspad raakloop.
Maar het ons al gaan stilstaan en kyk na die vrugte wat ons pluk om te eet of te deel met ander.
Pluk ons vrugte wat onskadelik is vir ons, pluk en eet ons vrugte wat ons voed en goed is vir ons of eet ons vrugte wat ons laat ‘sterwe’.

Die mens se onderskeid tussen gesonde en dodelike vrugte het in vandag se tye so vervaag dat dit moeilik te onderskei is tussen dit wat lewe geen en dit wat lewe neem. Maar hoekom het dit so geraak?
Eintlik baie eenvoudig – ons lees nie meer die ‘instruksie handleiding’ nie – ons het so eiesinnig en eiewys geraak dat ons self besluit het wat is goed vir ons en wat nie. Die nuwe siening word gehuldig dat baie goed wat in die ‘instruksie handleiding’ vir ons weergegee en waaroor ons gewaarsku word nie meer vandag van toepassing is nie want tye het verander.

Tye het miskien verander maar die vrugte nie – wat giftig was is vandag steeds giftig – of kon die mens die giftige vrugte in sy aller wysheid verander na gesonde voedende vrugte? Sekerlik nie want die boom word aan sy vrugte geken.

Die vrugte wat die mens vandag eet en wat hom aangebied word is die vrugte wat slegs die eie ek voed – die giftige vrugte is gekamofleer in ‘n omhulsel van heilsaamheid maar die vrug onder die kamoflering is giftig tot die dood toe.

Hoeveel is daar nog wat luister na die Stem van Vader as Hy aan ons sê – “My kind moenie van die vrug van dié boom eet nie, want dit sal jou lewe kos.”
Die mens bevind hom in die vrugte boord van satan en versadig hom met die vrugte van die dood sonder dat hy eens daarvan bewus is en die doderyk maak sy mond wyd oop om te verslind die wat hul versadig in die boord van die goddelose.

Het die vrugte boord van die Gees verlore geraak vir die mensdom? Want werklik min is die wat die heerlike vrugteboord opspoor en hulself versadig met die vrug van Gods Gees of het die groot samedromming in die boord van die ‘onheilige’, die mense so mislei dat hulle dink die vrugte daar is baie lekkerder en gesonder omdat almal daar vergader?

Hoe verblydend is dit tog nie om te staan en te eet van die vrug van lering, wysheid en genade van Vader nie. Dit is die vrug wat ons voed en ons oë open om die heerlikheid van Sy genade en liefde te aanskou. My hart is verjeug want ek word gevoed deur die hand van die Almagtige.

Hoe groot is tog die hartseer as hulle vir wie ons naderwink om te proe van die ware vrugte van die boord van God die uitnodiging afmaak en hul haas na die boord van die goddelose om hul te versadig met vrugte van die dood want dit is baie joliger daar as in die boord van die Almagtige.

Ondersoek elke vrug want aan die vrug sal jy die boom herken of goed of kwaad is.

1 comment:

Who I am said...

Ek was vir 'n geruime tyd in die 'woestyn' maar het saam met God suksesvol daar uitgekom... tans bevind ek myself in die "Vrugteboord"... hierdie stukkie het vir my baie beteken. Baie dankie...