Wednesday, November 26, 2008

Die Ander Kant


’n Man wat siek was besoek sy dokter, terwyl hy besig is om die ondersoek kamer te verlaat draai hy om na die dokter en sê, “Dokter, ek is bang om dood te gaan. Vertel my wat wag daar aan die anderkant vir my.”

Baie saggies antwoord die dokter, “Ek weet nie.”

“Jy weet nie? Jy, ’n gelowige man, weet nie wat wag aan die anderkant nie?”

Die dokter het sy hand steeds op die deurhandvatsel gehad, aan die anderkant van die deur was daar ’n gekrap en ’n saggies tjank. Toe hy die deur oopmaak spring sy hond na binne, in die ondersoek kamer, met sy stert wat waai en die ene blydskap om sy baas te sien.

Terwyl hy omdraai na sy patient sê die dokter, “Het jy my hond opgemerk? Hy was nog nooit vantevore in die ondersoek kamer nie. Hy het nie ’n idee gehad van wat is binne die kamer nie ........ Hy weet niks behalwe dat sy eienaar hier binne was en toe ek die deur oopmaak het hy ingespring sonder enige vrees.”

“Ek weet min van wat aan die anderkant van die dood is, maar ek weet een ding. Ek weet my Meester is daar en dit is genoeg vir my.”

Friday, November 21, 2008

Die Sewe Wonders van die Wêreld


Die graad 7 leerlinge het die dag in die klas die sewe wonders van die wêreld behandel. Aan die einde van die les het die juffrou die leerlinge gevra dat elkeen ’n lys moet maak van sy sewe wonders van die wêreld. Na so 10 minute vra sy dat hulle van hul wonders moet begin opnoem sodat sy dit op die bord kan skryf en dan kan hulle daaroor stem en kyk watter is hulle keuse van die wonders van die wonders van die wêreld.

Daar was maar redelike verskille oor die wonders maar konsensus is verkry dat die volgende volgens die klas hul wonders van die wêreld is:
1. Piramiedes van Egipte
2. Die Taj Mahal in Indië
3. Die Grand Canyon in Amerika
4. Die Panama Kanaal.
5. Die Empire State gebou in Amerika
6. St Peters Katedraal
7. Die Groot Muur van Sjina

Die juffrou het gevra die klas hulle lysie met hul wonders van die wêreld moet inhandig. Sy merk toe op dat daar een leerling, ’n stil meisie, nog nie haar lysie ingehandig het nie.

Sy vra toe die meisie of sy ’n probleem het om haar lysie te voltooi. Die stil meisie antwoord toe, “Ja, juffrou, so klein bietjie, want daar is so baie en ek kon nie besluit watter sewe is vir my die belangrikste nie.”

Die juffrou sê toe, “Wel, vertel vir ons dan kan ons almal jou miskien help.”

Die meisie weifel vir ’n oomblik en begin toe te lees, “Ek dink die sewe wonders van die wêreld is:
1. Om te sien.......
2. Om te hoor.....
3. Om te proe.....
4. Om te voel..... (sy weifel so bietjie en voeg toe by....)
5. Om te ruik.....
6. Om te lag.....
7. Om lief te hê.....

Dit het so stil in die klas geraak dat jy ’n speld kon hoor val.

Mag die verhaaltjie vir ons ’n herinnering wees dat die dinge wat ons soms as so vanselfsprekend aanvaar is soms die mees wonderlike – en ons hoef nie iewers spesiaals heen te reis om hulle te ervaar nie.

Wednesday, November 19, 2008

Kleuter Wet


Die Kleuter Eiendoms Wet

1. As ek daarvan hou, dan is dit myne.
2. As dit in my hand is, dan is dit myne.
3. As ek dit van jou kan vat, dan is dit myne.
4. As ek dit ’n rukkie gelede gehad het, dan is dit myne.
5. As dit myne is, dan moet dit nooit lyk of dit dalk aan jou behoort nie.
6. As ek iets doen of bou, dan is al die stukke myne.
7. As dit soos myne lyk, dan is dit myne.
8. As ek dit eerste gesien het, dan is dit myne.
9. As jy met iets gespeel het en jy sit dit neer, dan word dit outomaties myne.
10. As dit stukkend is, dan is dit joune.

Friday, November 14, 2008

Liefde


Liefde is ’n vriendskap wat vlam gevat het.
Dit is simpatiek, het wedersydse vertroue, is mededeelsaam en vergewensgesind.
Dit is lojaal deur goeie en slegte tye.
Dit maak voorsiening vir die menslike swakheid en is tevrede al is dit nie perfek nie.

Liefde is tevrede met die huidige, dit hoop op die toekoms en dit tob nie oor die verlede nie.
Dit het die vermoë om die daaglikse irritasies en probleme te hanteer, kompromie aan te gaan, klein teleurstellings te hanteer en saam te werk na ‘’n gemeenskaplike doel.

Indien jy liefde in jou lewe het, kan dit opmaak vir ’n klomp dinge wat jy te kort het.
Indien jy nie liefde in jou lewe het nie, maak nie saak wat jy alles het nie, dit sal nooit genoeg wees nie.

Tuesday, November 11, 2008

Die Legkaart


Soos ’n legkaart lê die stukke verspreid op Sy tafel van Barmhartigheid. Met bedrewe hand van liefde word elke stukkie perfek op sy plekkie geplaas.

Sommige stukke belangrik want dit vorm die raamwerk van die legkaart beeld. Ander nie so belangrik en opsigtelik nie maar steeds voltooi hul die geheel van die skouspelagtige beeld wat Vader in Sy Grootheid ontvou.

Die perfektheid sal ontbreek in die afwesigheid van slegs een ou stukkie en dus is daar in Vader se legkaart prentjie geen stukkie wat misbaar is nie. Sy prentjie is totaal volledig.

Verbly jou in die deel wat jy daarin het sonder om jouself te verhef na ‘n belangriker status as waarvoor jy bestem is. Want jy is gemaak vir die plek waar jy moet inpas in die legkaart en so is dit gewil deur God.

Friday, November 7, 2008

Môre is nie Gewaarborg nie.


Soms kom mense in jou lewe en jy weet sommer van die begin af dat hulle bedoel was om deel van jou lewe te wees. Hulle dien een of ander doel; leer jou dalk ’n lewensles of twee of help jou om uit te vind wie presies jy is en wie of wat jy graag wil word of wees.

Jy sal nooit weet wie die mense dalk is of van waar hulle in jou lewe kom nie. Dit kan jou buurman wees, ’n kind, ’n lang verlore vriend of selfs ’n totale vreemdeling maar die oomblik as jul oë mekaar ontmoet, dan weet jy op daardie oomblik dat hulle jou lewe gaan beïnvloed op ‘’n ingrypende wyse.

Soms gebeur daar dinge met jou en somtyds is dit vir jou pynlik en lyk dit onregverdig maar as jy daaraan terug dink besef jy dat was dit nie vir die hindernis nie, sou jy nooit jou potensiële krag ontdek of jou hartsbegeerte geken het nie.

Elke dingetjie gebeur om ’n rede. Niks gebeur per toeval of deur geluk of ongeluk nie. Siekte, beserings, liefde, verlore oomblikke van glorie en selfs ondervindinge deur absolute onnoselheid. Alles gebeur om die grense van jou siel te toets.

Sonder die klein toetse, hetsy gebeurlikhede, siekte of verhoudings sal die lewe wees soos ’n reguit, gelyke plaveide pad wat lei na nêrens – veilig en gemaklik – maar verbeeldingloos en uiters doelloos.

Die mense wat jy ontmoet beïnvloed jou lewe en die sukses en mislukking wat jy ervaar maak van jou wie jy is. Daar is selfs lesse te leer uit die slegte ondervindings, inteendeel is hulle sekere die aangrypendste en mees belangrikste lesse.

As iemand jou seermaak, jou verraai of jou hart breek, vergewe hulle want hulle het jou gehelp om te leer omtrent vertroue en die belangrikheid daarvan om versigtig te wees vir wie jy jou hart oopmaak.

As iemand jou liefhet wees onvoorwaardelik lief ook vir hulle, nie net omdat hulle jou liefhet nie maar omdat hulle jou leer om lief te hê. Open jou hart en oë vir die dinge wat jy nooit sou raaksien, ervaar of voel sonder hulle in jou lewe nie.

Laat elke dag vir jou belangrik wees, waardeer elke oomblik en neem daaruit alles wat jy moontlik kan want jy mag dit dalk nooit weer in jou lewe ervaar nie.

Praat met mense met wie jy nog nooit voorheen gepraat het nie en staan ’n oomblik stil en luister na wat hulle te sê het.

Leef elke dag asof dit jou laatste is want ...............môre is nie gewaarborg nie.

Wednesday, November 5, 2008

Gereedskap Te Koop


Daar was geadverteer dat die duiwel sy gereedskap op ‘n veiling gaan aanbied vir voornemende kopers.
Op die dag van die verkope was die gereedskap uitgestal vir algemene inspeksie deur voornemende kopers, elke gereedskapstuk was gemerk met die reserwe prys wat die duiwel daarvoor soek.

Dis was ‘n verraderlike versameling gereedskapstukke – Haat, Jaloesie, Leuens, Hoogmoed, Verleiding en nog baie meer.

Maar eenkant op ‘n afsonderlike tafel het ‘n gereedskapstuk gelê wat op die oog af baie onskuldig gelyk het, maar mens kon sien die stuk is al baie gebruik en die reserwe prys was uitsonderlik hoog vir die stuk gereedskap.

“Wat is die naam van die gereedskap stuk?” vra een van die voornemende kopers terwyl hy na die stuk wys. “Dit is Moedeloosheid,” antwoord die duiwel.

“Hoekom is die reserwe prys so hoog?”

“Want dit is een van my mees waardevolste gereedskap stukke, meer waardevol as al die ander saam. Ek kan mense se harte oop dwing en ingaan met die gereedskap wanneer al die ander glad nie wil werk nie. Wanneer ek eers in hul harte is kan ek maak net wat ek wil met hulle. Ek weet die slytasie op die stuk is al baie maar ek gebruik die stuk die meeste van almal omdat die meeste mense nie besef dat dit aan my behoort nie.

(Luk 18:1) En Hy het ook aan hulle ‘n gelykenis vertel met die oog daarop dat ‘n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie,