Friday, August 29, 2008

Die Baba


Een middag, terwyl ‘n paartjie oppad was, merk hulle skielik in die vêrte ‘n vrou in die middel van die pad op wat versoek dat hulle moet stop. Die vrou sê aan haar man dat hy moet aanhou ry want dit kan ‘n lokval wees, maar die man besluit toe om stadig verby te ry sodat hy kan sien wat die probleem is en of daar werklik ‘n probleem is van iemand wat dalk seergekry het. Terwyl hulle naderkom merk hulle dat die vrou snye en kneusings in haar gesig en op haar arms het. Hulle besluit om te stop en te kyk wat hulle kan doen om te help.

Die beseerde vrou het by hulle gesmeek om haar te help want hulle was in ‘n motorongeluk en haar man en pasgebore baba was steeds in die motor wat in die diep kloof lê. Sy sê dat haar man reeds dood is maar dit lyk of die baba nog lewe.

Die man besluit toe dat hy in die kloof sal afklim en probeer om die baba te red. Hy vra die vrou om solank in die motor te klim en by sy vrou te bly. Toe hy onder kom merk hy dat daar twee mense in die voorste sitplekke van die motor is maar hy steur hom nie veel aan hulle nie en haal vinnig die baba agter uit die motor om die na sy ma toe te neem.

Toe hy bo uitkom, is die ma nêrens te vinde nie en hy vra sy vrou wat van die ma geword het. Sy sê dat die vrou agter hom aan is toe hy in die kloof af is na die motor toe. Hy besluit toe om maar weer in die kloof af te gaan en te gaan soek na die ma. By die wrak uitgekom sien hy die twee mense voor in die motor was reeds dood, ‘n man en vrou, steeds met hul veiligheidsgordels aan.

Toe hy nader ondersoek instel merk hy dat die oorlede vrou presies dieselfde vrou was wat by hulle gepleit het om te stop vir hulp.

Die baba leef nou by familie en sal leef om eendag die storie te vertel.

Ons het nog so baie om te leer oor die Almag, Grootheid en Goedheid van God en daar is nog baie dinge wat verborge is vir die menslike verstand.


Daarom sal ons Hom loof in heerlikheid vir die wonderwerk wat Hy nog elke dag in ons lewens laat plaasvind.

Thursday, August 28, 2008

Spreuke


Do more than belong: participate.

Do more than care: help.

Do more than believe: practice.

Do more than be fair: be kind.

Do more than forgive: forget.

Do more than dream: work.




There is no better exercise for your heart than reaching down and helping to lift someone up.


Bernard Meltzer

Wednesday, August 27, 2008

Onvoorwaardelike Liefde


Die verhaal word vertel van die soldaat wat uiteindelik huistoe gekom het na ‘n lang en uitgerekte oorlog. Hy het hulle gebel vanaf die stad.

“Ma en Pa, ek kom huistoe, maar ek het ‘n guns om te vra. Ek het ‘n vriend wat ek wil saambring huistoe.”

“Seker,” antwoord hulle, “ons sal hom graag wil ontmoet.”

“Daar is iets wat julle moet weet voordat ek hom saambring,” gaan hy voort, “hy was baie ernstig gewond tydens ‘n skermutseling. Hy het op ‘n landmyn getrap en het sy arm en been verloor. Hy het nêrens anders om heen te gaan nie en ek wil graag hê dat hy by ons moet kom bly.”

“Ek is jammer om dit te hoor, seun. Miskien kan ons hom help om ‘n ander blyplek te kry waar hulle hom beter kan versorg.”

“Nee, Ma en Pa, ek wil hê dat hy by ons bly.”

“Seun,” sê die pa, “jy weet nie wat jy vra nie. Iemand met so ‘n gebrek sal ‘n geweldige las op ons plaas. Ons het ons lewens om te leef en ons kan nie toelaat dat iets soos die inmeng met ons lewens nie. Ek dink jy moet net huistoe kom en vergeet van die vriend. Laat die weermag hom verder versorg. Hy sal wel later op sy eie regkom.”

Op daardie stadium het die seun die telefoon neergesit sonder om te groet. Die ouers het niks weer verder van hom gehoor nie. ‘n Paar dae later ontvang hulle ‘n oproep van die polisie uit die stad waar hul seun was. Hulle is meegedeel dat hul seun dood is nadat hy van ‘n gebou afgeval het. Die polisie vermoed dit was selfmoord gewees. Die bedroefde ouers het na die stad gevlieg en is na die lykshuis geneem om hul seun se liggaam uit te ken.
Hulle het hom herken as hulle seun maar het tot hul skok iets ontdek wat hulle nie geweet het nie, hul seun het net een arm en been gehad.

Die ouers in die verhaal is soos baie van ons. Ons vind dit baie maklik om die lief te hê wat goed lyk en pret is om mee saam te wees, maar ons hou nie van mense wat ons verontrief of ons ongemaklik laat voel nie. Ons sal eerder wegbly van mense wat nie so gesond, mooi of slim soos ons is nie. Gelukkig, is daar Iemand wat ons nie so sal behandel nie. Iemand wat ons onvoorwaardelik lief het en ons verwelkom in Sy Goddelike familie, ongeag hoe opgemors ons is.

Vanaand, voordat jy snoesig in jou bed klim, vra God dat Hy jou die krag sal gee om mense te aanvaar soos hulle is en om ons te help om meer begrip te toon vir hulle wat nie so bevoorreg is soos ons nie.

Monday, August 25, 2008

Wat Sou Jy Doen?


God het ‘n manier om ons toe te laat om op die regte plek op die regte tyd te wees.

Ek het een aand in ‘n swak verligte straatjie gestap toe ek die gedempte gille hoor vanuit ‘n digte klompie bosse langs die sypaadjie. Ek het stadiger gestap om seker te maak dat ek reg gehoor het en het paniekerig geraak toe ek besef dat ek heeltemal reg gehoor het. Dit was die onmiskenbare geluide van ‘n gestoei: swaar asemhaling, verwoede geworstel en materiaal wat skeur. Slegs meters van waar ek staan word ‘n vrou aangerand.

Moet ek betrokke raak? Ek was bevrees vir my eie veiligheid en het myself verwens omdat ek skielik besluit het om met die nuwe roete huistoe te loop. Wat as ek net nog ‘n statistiek word? Moet ek nie eerder na die naaste telefoon toe hardloop en die polisie bel nie?

Alhoewel dit soos ‘n ewigheid gevoel het, het die gedagtes wat so deur my kop gemaal het slegs ‘n paar sekondes geneem, maar alreeds het die vrou se uitroepe al swakker begin word. Ek het geweet dat ek vinnig sal moet optree. Hoe kan ek wegloop van dit wat hier besig is om te gebeur? Nee, het ek finaal besluit, ek kan nie my rug keer op die noodroep van die onbekende vrou nie, al beteken dit dat ek my eie lewe moet waag.

Ek is nie ‘n brawe man nie, nog minder atleties of sterk gebou. Ek weet nie waar ek die innerlike krag en fisiese sterkte vandaan gekry het nie – maar toe ek besluit om die vrou te hulp te snel het ek gevoel of ek op ‘n vreemde wyse verander word. Ek het agter die bosse ingehardloop en die aanvaller van die vrou af weggegryp. Al stoeiende het ons op die grond beland en na ‘n paar minute se onderlinge gekarnuffel het die aanvaller op die vlug geslaan.

Uitasem, het ek vinnig orent gekom en na die vrou geloop, wat gebukkend agter die boom geskuil het terwyl sy huil. In die donkerte kon ek skaars die buitelyne van haar figuur uitmaak, maak ek kon beslis haar bewende skok aanvoel. Om haar nie verder te verskrik nie het ek op ‘n afstand met haar gepraat.

“Dis OK,” sê ek kalmerend. “Die man het weggehardloop. Jy is n ou veilig.” Daar was ‘n lang stilte en toe hoor ek die woorde, geuiter in ongeloof en verwondering.

“Pappa, is dit jy?” en vanuit die bosse stap my jongste dogter, Katherine.

Friday, August 22, 2008

Die Belangrikste Liggaamsdeel


My moeder het my van jongs af gevra wat is die mees belangrikste deel van my liggaam. Deur die jare het ek gereeld ‘n raaiskoot gewaag sodra as wat ek dink ek ken die antwoord.

Terwyl ek jonger was het ek gedink dat klank baie belangrik vir ons as mense is en ek het geantwoord, “My ore, Mamma.”
Sy het gesê, “Nee, daar is baie mense wat doof is. Maar hou aan om daaraan te dink, ek sal jou binnekort weer vra.”

‘n Paar jaar het verloop voordat sy my weer gevra het. Sedert my eerste probeerslag het ek lank gedink oor die korrekte antwoord.

Die keer vertel ek haar, “Mamma, sig is baie belangrik vir enige iemand, soos daarom moet dit my oë wees.”

Sy het na my gekyk en gesê, “ Jy leer vinnig, maar die antwoord is nie korrek nie want daar is baie mense wat blind is.”

Teleurgesteld het ek maar my soektog voortgesit na kennis om die regte antwoord te kry en deur die jare het Moeder my ‘n paar keer gevra of ek die antwoord ken en gereeld was haar antwoord, “Nee. Maar jy word elke jaar slimmer my kind.”

Verlede jaar, is my oupa oorlede. Almal was hartseer en almal het gehuil, selfs my vader wat ek nog net eenkeer van tevore sien huil het. My Moeder het na my gekyk toe dit ons beurt was om blomme op oupa se kis te plaas.

Sy vra my toe, “Weet jy nou al watter is die mees belangrikste deel van die liggaam my kind?”

Ek was geskok omdat sy my die vraag nou vra. Ek het altyd gedink dit was ‘n soort spel tussen ons.

Sy het die verwarring op my gesig opgemerk en sê, “Dit is ‘n baie belangrike vraag. Dit wys of jy al regtig in jou lewe geleef het. Elke liggaamsdeel wat jy aan my genoem het in die verlede het ek gesê is verkeerd en elke keer ook met ‘n rede, hoekom. Maar vandag is die dag wat dit noodsaaklik is dat jy die belangrike les leer.”

Sy het afgekyk na my op die manier soos net ‘n moeder kan. Ek sien die trane wat opwel in haar oë.

Sy sê, “My kind, die mees belangrike deel van jou liggaam is jou skouer.”

Ek vra, “Is dit omdat dit my kop regop hou?”

Sy antwoord, “Nee, dis omdat dit die kop kan hou van ‘n vriend of ‘n geliefde wanneer hulle huil. Elke mens in die lewe het soms ‘n skouer nodig om op te huil. Ek hoop dat jy genoeg geliefdes en vriende het wat altyd ‘n skouer sal hê vir jou om op te huil wanneer jy dit nodig het.”

Daar en dan het ek geweet dat die mees belangrikste liggaams deel nie ‘n selfsugtige deel is nie. Dit is simpatiek teenoor die pyn van ander.

Wednesday, August 20, 2008

Om Bo die Storm te Vlieg


Het u geweet dat ‘n arend lank voor die tyd reeds weet dat daar ‘n storm in aantog is alvorens dit nog enigsins sigbaar is?

Die arend sal na ‘n hoë piek toe vlieg en daar wag vir die winde van die storm om te kom.

Wanneer die storm aanbreek sal hy sy vlerke sprei sodat die wind hom sal optel en laat uitstyg vêr bokant die storm.

Terwyl die storm homself onder uitwoed sweef die arend met gemak hoog bokant die storm.

Die arend ontvlug nie die storm nie, maar gebruik slegs die storm om dit hoër op te lig.

Dit styg op met die winde wat die storms in sy wêreld inbring.

Wanneer die storms van die lewe teen ons aangerol kom – en ons almal sal dit ervaar – kan ons bokant dit uitstyg deur ons geloof en hoop te vestig op God.

Dit is nie nodig dat die storms ons oorweldig nie.

Ons het die keuse of ons God wil toelaat om ons te laat uitstyg op die winde van die storms wat siekte, pyn, tragedie, mislukking en teleurstelling bring in ons lewens.

As ons Hom toelaat sal Hy ons ook die goeie wys wat daaruit voortspruit.

Ons kan bokant die storms sweef.

Onthou dit is nie die laste van die lewe wat ons onderkry nie maar hoe ons dit hanteer wat saakmaak.
(Jes 40:31) maar die wat op YHWH wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.

Tuesday, August 19, 2008

Spreuke


'n Wyse man verander van opinie, 'n dwaas nooit.


Spaanse Spreuk


Hy wat gee wanneer gevra word het reeds te lank gewag.


Spaanse Spreuk

Monday, August 18, 2008

Geen Battery


Beth en Margie, twee tiener susters, het hulle inkopies terdeë geniet in die groot nuwe inkopie sentrum. Maar teen die tyd toe hulle die kompleks verlaat was dit reeds donker. Terwyl hulle by die kompleks uitgang staan kan hulle skaars die buitelyn van hul motor uitmaak, wat die enigste voertuig is wat oor is, in die swak verligte parkeer area.

Die meisies was baie senuweeagtig terwyl hulle wag in die hoop dat daar ander kliënte sal kom saam met wie hulle kan aanstap na hul motor toe. Hulle onthou hul vader se waarskuwing, “Moet nie te laat kom nie!” Margie verskuif die pakkies onder haar arm en stoot die glasdeure oop en loop so vinnig sy kan na die motor. Beth is kort op haar hakke en kyk die heeltyd of hulle agtervolg word. Hulle het dit gemaak!

Beth sluit die motor deur oop en leun oor om vir Margie die deur oop te sluit. Net toe hoor hulle die geluid van mense wat agter hulle aangehardloop kom. Margie kyk om en sien twee baie verdagte mans aangehardloop kom na hul motor.

“Julle gaan nêrens heen nie!” skree die een. Margie gil. Verskrik spring sy in die motor en sluit die deure, net betyds. Met bewende vingers kry Beth die sleutel in die motor se aansit skakelaar en draai maar niks gebeur nie. Sy probeer weer en steeds gebeur daar niks nie. Die enigste klank wat hulle hoor is die geklik van die sleutel in ‘n doodse stilte.

“Beth, probeer weer!” gil Margie beangs. Die mans trek en beur aan die deur handvatsels en druk teen die vensters. “Dit wil nie aanskakel nie!” huil Beth. Die meisies het geweet hulle het net ‘n paar sekondes van veiligheid tot hul beskikking.

Vinnig, vat hulle mekaar se hande in gebed. “Dierbare God,” pleit Margie, “skenk aan ons ‘n wonderwerk in die naam van Jesus!” Weereens probeer Beth die sleutel draai. Die keer brul die enjin vol lewe. Sy sit die motor in rat en jaag uit die parkeer area terwyl die mans hulle agterna kyk.

Die meisies het die heelpad huistoe gehuil, geskok en verlig om ongedeerd daarvan af te gekom het. Hulle los die motor buite voor die motorhuis terwyl hulle in die veiligheid van hul huis invlug en hul vader alles vertel wat gebeur het. Hy hou hulle altwee styf vas terwyl hy hulle troos en sê “Julle is veilig en dis die belangrikste ding.”

“Dit is tog baie snaaks want die motor het nog nooit gesukkel om aan te skakel nie. Ek sal môre daarna kyk.”

Vroeg die volgende oggend maak die vader die motor se enjin kap oop om na die aansitter te kyk. Met die inspeksie van die masjien besef hy verstom Wie het sy dogters gisteraand veilig huistoe gebring want daar was geen battery in die motor gewees nie.

Friday, August 15, 2008

Die Twee Bokse


Ek het in my hande twee bokse wat God my gegee het om te hou.
Hy het gesê,” Plaas al jou sorge in die swart boks en al jou vreugdes en seëninge in die goue boks.”
Ek het ag gegee op Sy woorde en my sorge en seëninge in die onderskeie bokse geplaas.
Alhoewel die goue boks elke dag swaarder en swaarder geword het, was die swart boks steeds net so lig soos op die eerste dag wat Hy dit vir my gegee het.

Baie nuuskierig het ek die swart boks oopgemaak om te bepaal hoekom die nie swaarder word nie want ek het verseker ‘n klomp sorge al daarin geplaas. Maar daar was ‘n gat in die bodem van die swart boks waardeur al my sorge geval het.
Hy het met ‘n sagte glimlag vir my gesê, “My kind, hulle is almal hier by my.”
Ek vra, “Vader, hoekom het U my twee bokse gegee? Hoekom die goue en ‘n swarte met ‘n gat in die bodem?”
“My kind, die goue is vir jou om jou seëninge te tel, en die swart is vir jou om hul te laat gaan en vir My te los.”

Wednesday, August 13, 2008

Wees


Wees…lojaal teenoor jou vriende.
Wees…vriendelik met jou vyande.
Wees…sterk genoeg om die wêreld elke dag vierkantig in die oë te kyk.
Wees…swak genoeg om te weet dat jy nie alles alleen kan doen nie.
Wees…vrygewig teenoor hulle wat jou hulp nodig het.
Wees...spaarsamig met dit wat jyself benodig.
Wees…wys genoeg om te besef dat jy nie alles weet nie.
Wees…dwaas genoeg om te glo in wonderwerke.
Wees…bereid om jou vreugdes te deel.
Wees…bereid om die hartseer van ander te deel.
Wees…’n leier wanneer jy ‘n weg sien wat ander gemis het.
Wees…’n volger wanneer jy omring word deur die mistigheid van twyfel.
Wees…die eerste om ‘n opponent geluk te wens met sy sukses.
Wees…die laaste om ‘n kollega wat misluk te kritiseer.
Wees…seker waar jy volgende gaan trap sodat jy nie struikel nie.
Wees…seker van jou finale bestemming, ingeval jy die verkeerde rigting inslaan.
Wees…liefdevol teenoor hulle wat jou liefhet.
Wees…liefdevol teenoor hulle wat jou nie liefhet nie, dalk kan hulle verander.
Bo alles…Wees jouself.

Friday, August 8, 2008

Die Eikeboom en die Riete


Daar was eens op ‘n tyd ‘n reuse groot Eikeboom wat langs die rivier gegroei het en reeds meer as honderd jaar oud was. Tydens ‘n groot storm is hy deur die wind omgewaai.
Die boom het in die rivier geval en stroom af gedryf totdat dit tot ruste gekom het teen ‘n klompie riete wat langs die oewer van die rivier gegroei het.

Die groot ou Eikeboom het vol verbasing aan die riete gevra, “Hoe is dit moontlik dat julle die storm kon deurstaan wat selfs te kragtig was vir so groot en sterke boom soos ek?”

Die riete antwoord, “Al die jare het jy weerbarstig die winde weerstaan wat teen jou aangewaai het. Jy was so trots op jou enorme krag dat jy geweier het om mee te gee, selfs nie eens ‘n klein bietjie nie. Ons, daarenteen, het nie die wind weerstaan nie , maar het altyd gebuig saam met die wind. Ons herken die verhewe krag van die wind en dus, hoe harder die wind gewaai het hoe meer het ons onsself verootmoedig voor sy krag.”

Onthou om altyd saam met die wind te buig en jy sal nie deur die storm omgewaai word nie.

Psa 103:16 As die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie en sy plek ken hom nie meer nie.

Jes 41:16 Jy sal hulle uitwan, en die wind sal hulle wegneem en die storm hulle verstrooi; maar jy sal juig in Yahweh, jou beroem op die Heilige van Israel.

Jes 57:13 As jy skreeu, laat jou hoop gode jou red; maar die wind lig hulle almal op, ‘n luggie neem hulle weg. Maar wie op My vertrou, sal die land beërwe en my heilige bergland in besit neem.

Joh 3:8 Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.

Thursday, August 7, 2008

Spreuke


"Dit neem slegs 'm oomblik om 'n kind 'n drukkie te gee maar 'n leeftyd is soms te kort vir hom om dit te vergeet."


Tabra Malloy

Wednesday, August 6, 2008

10 Mees Belangrikste Dinge


- LIEFDE
Daardie spesiale gevoel wat jou warm en wonderlik laat voel. Wat jou laat borrel van vreugde.

- RESPEK
Om ander so goed te behandel soos wat jy graag behandel wil word.

- WAARDERING
Om dankbaar te wees vir al die goeie wat jy in die lewe ontvang.

- BLYDSKAP
Die volle genieting van elke oomblik wat aan jou geskenk word met ‘n glimlag wat daarvan getuig.

- VERGIFFENIS
Die vermoë om uitlokking die rug te keer sonder enige woede.

- MEDEDEELSAAMHEID
Die vreugde om te gee sonder enige gedagte om iets in ruil te ontvang.

- EERLIKHEID
Die kwaliteit om altyd die waarheid te vertel.

- INTEGRITEIT
Die suiwerheid om altyd te doen wat reg is, ongeag die gevolge.

- DEERNIS
Die essensie om iemand ander se lyding te deel terwyl jy die pyn help verlig.

- VREDE
Die beloning om die 10 mees belangrike dinge uit te leef.

Tuesday, August 5, 2008

Spreuke


Wil jy 'n man se karakter beoordeel - gee aan hom mag.


Bekommernis gee gereeld aan klein probleempies groot skaduwees.


Verloor een uur in die oggend en jy sal die hele dag dit agterna hardloop.


Engelse spreuke

Monday, August 4, 2008

Geloof Versus Twyfel


Twyfel sien die struikelblok
Geloof sien die weg

Twyfel sien die donkerste nag
Geloof sien die dag

Twyfel is te bang om ‘n treetjie te neem
Geloof sweef op die hoogtes

Twyfel vra, “Wie glo?”
Geloof antwoord, “Ek!”

Friday, August 1, 2008

Kosbare Tyd


Met ‘n sagte stemmetjie en oë wat vol bewondering is, groet die klein seuntjie sy pa wat net van die werk af terug gekom het, “Pappa, hoeveel geld verdien pappa per uur?”

Baie verwonderd gluur die pa sy seun aan, en sê, “Kyk seun, nie eens jou ma weet dit nie. Moet my nie nou verder pla nie. Ek is moeg.”

“Maar Pappa, vertel my tog net asseblief! Hoeveel verdien Pappa per uur.” Het die seuntjie aangehou.

Later het die pa maar moed opgegee en antwoord: “Twintig rand per uur.”

“Dankie, Pappa. Kan Pappa asseblief vir my tien rand leen?” vra die seuntjie in ‘n bangerige stemmetjie.

Hoogs verontwaardig en erg geïrriteerd snou sy pa hom toe, “So dis die rede hoekom jy wil weet hoeveel geld ek per uur verdien? Gaan slaap nou en moet my nie verder pla nie!”

Heelwat later die aand, terwyl die pa in die donkerte sit en alles oordink wat hy aan sy seun gesê het, het hy baie skuldig gevoel. Hy het by homself gedink, miskien wil sy seun vir homself iets koop wat hy baie graag wil hê.

Na ‘n wyle, om sy gewete te sus, staan die pa op en gaan na sy seun se kamer. “Slaap jy al my seun?” vra sy pa.

“Nee Pappa. Hoekom?” antwoord die seuntjie ietwat deur die slaap.

“Hier is die geld wat jy vroeër gesoek het my seun,” antwoord sy pa.

“Baie dankie, Pappa” juig die seuntjie terwyl hy sy klein handjie onder sy kussing indruk en nog geld onder sy kussing uithaal. “Nou het ek genoeg!! Nou het ek twintig rand!” deel die seuntjie sy pa opgewonde mee.
Sy pa het hom aangestaar, heeltemal verward oor wat sy seun nou gesê het.

“Pappa, kan jy asseblief aan my een uur van jou tyd verkoop?”

Tyd is hopeloos te kosbaar om dit alles aan werk te spandeer!
Waardeer jou geliefdes en moet hulle nie sommer net as vanselfsprekend aanvaar nie.

Moet nooit toelaat dat jou kinders of jou vrou of jou man jou moet kom vra om van jou tyd te koop vir hulself nie.