Monday, August 25, 2008

Wat Sou Jy Doen?


God het ‘n manier om ons toe te laat om op die regte plek op die regte tyd te wees.

Ek het een aand in ‘n swak verligte straatjie gestap toe ek die gedempte gille hoor vanuit ‘n digte klompie bosse langs die sypaadjie. Ek het stadiger gestap om seker te maak dat ek reg gehoor het en het paniekerig geraak toe ek besef dat ek heeltemal reg gehoor het. Dit was die onmiskenbare geluide van ‘n gestoei: swaar asemhaling, verwoede geworstel en materiaal wat skeur. Slegs meters van waar ek staan word ‘n vrou aangerand.

Moet ek betrokke raak? Ek was bevrees vir my eie veiligheid en het myself verwens omdat ek skielik besluit het om met die nuwe roete huistoe te loop. Wat as ek net nog ‘n statistiek word? Moet ek nie eerder na die naaste telefoon toe hardloop en die polisie bel nie?

Alhoewel dit soos ‘n ewigheid gevoel het, het die gedagtes wat so deur my kop gemaal het slegs ‘n paar sekondes geneem, maar alreeds het die vrou se uitroepe al swakker begin word. Ek het geweet dat ek vinnig sal moet optree. Hoe kan ek wegloop van dit wat hier besig is om te gebeur? Nee, het ek finaal besluit, ek kan nie my rug keer op die noodroep van die onbekende vrou nie, al beteken dit dat ek my eie lewe moet waag.

Ek is nie ‘n brawe man nie, nog minder atleties of sterk gebou. Ek weet nie waar ek die innerlike krag en fisiese sterkte vandaan gekry het nie – maar toe ek besluit om die vrou te hulp te snel het ek gevoel of ek op ‘n vreemde wyse verander word. Ek het agter die bosse ingehardloop en die aanvaller van die vrou af weggegryp. Al stoeiende het ons op die grond beland en na ‘n paar minute se onderlinge gekarnuffel het die aanvaller op die vlug geslaan.

Uitasem, het ek vinnig orent gekom en na die vrou geloop, wat gebukkend agter die boom geskuil het terwyl sy huil. In die donkerte kon ek skaars die buitelyne van haar figuur uitmaak, maak ek kon beslis haar bewende skok aanvoel. Om haar nie verder te verskrik nie het ek op ‘n afstand met haar gepraat.

“Dis OK,” sê ek kalmerend. “Die man het weggehardloop. Jy is n ou veilig.” Daar was ‘n lang stilte en toe hoor ek die woorde, geuiter in ongeloof en verwondering.

“Pappa, is dit jy?” en vanuit die bosse stap my jongste dogter, Katherine.

No comments: