Thursday, April 29, 2010

Wat is ’n Vriendin se liefde?


Dis 'n houtkruis teen alleenheid,
'n Steunpilaar in pyn,
'n Vuurhoutjie en 'n olielamp,
wanneer jou lewenslig begin kwyn.

Dis 'n skouer om op te huil,
Wanneer die wêreld jou soms druk,
'n Hand wat weet wanneer om jou vas te hou,
en wanneer om vir jou 'n roos te pluk.

Dis 'n oor wat na jou luister,
Al praat jy soms nie sense nie,
'n Stem wat vir jou fluister:
"Jy's 'n dierbare mens."

Dis 'n kombers teen die koue,
'n Sambreel teen die reën,
'n Fort waardeur geen wind kan waai,
Selfs wanneer die donderweer buite dreun.

Dis 'n telefoonoproep uit die bloute,
'n Drukkie wanneer jy dit die nodigste het,
En wanneer woorde oorbodig is,
Word Liefde 'n stille gebed.

Bo alles is Liefde 'n gawe van God -

Geen mens kan daarsonder klaarkom -
Dis die kern van Sy grootste gebod
liefde aan jou naaste maar belangrik ook aan HOM !!

Thursday, April 22, 2010

Wat Maak My


Wat maak my swak? My vrese.

Wat maak my heel? My God.

Wat hou my staande? My geloof.

Wat maak my goedhartig? My vermoë om nie heeltyd aan myself te dink nie.

Wat maak my eerlik? My integriteit.

Wat hou my gedagtes skoon? My soektog na ware kennis.

Waaruit leer ek die beste lewenslesse? My foute.

Wat hou my kop omhoog? My trots, nie my arrogansie nie.

Wat as ek nie kan uithou en aanhou nie? Dit is nooit 'n opsie nie.

Wat maak my suksesvol? My moed om aan te hou met opstaan as ek geval het.

Wat maak my bevoeg vir alles wat ek doen? My selfvertroue.

Wat maak my mooi? My alles!

Wat maak my ’n kind van die Almagtige? My hart.

Wie is ek? Ek is ’n Konings kind!

"Vir mooi oë, kyk altyd na ander se goeie eienskappe ; vir mooi lippe, sê net vriendelike woorde ; vir grasie, loop met die wete dat jy nooit alleen is nie."

Tuesday, April 20, 2010

Deeglike Selfondersoek


'n Ongeletterde jong knaap van so 23 jaar oud, wat geen skoolopleiding gehad het nie, stap eendag die apteek binne. Hy gaan reguit na die apteker en vra vir hom of hy asseblief net gou sy telefoon vir 'n plaaslike oproep kan gebruik.

Die apteker moes vir hom die nommer skakel want die knaap kon nie lees of skryf nie. Die apteker doen dit en oorhandig die spreekbuis aan die ongeskoolde jongman om te praat.

"Hello", sê die jongman, "Hello, dr Anderson."

"Dr Anderson . ... . soek u nie dalk iemand om te huur om u gras vir u te sny, u motor te was en u aflewerings en al die ander los werkies vir u te doen nie?
O, u het alreeds 'n knaap wat dit vir u doen, maar dr. Anderson, is u doodseker, u is 100% heeltemal tevrede met die werk wat die knaap wat u het vir u doen?

'OK' dan, 'good-bye', dr. Anderson." Toe die jongman die gehoorstuk terug plaas en die apteker bedank vir die oproep, sê die apteker vir hom......

"Wag so 'n bietjie......

Soek jy werk, want ek kan doen met 'n handlanger soos jy?

"Dankie oom," sê die jongman, "maar ek het 'n 'job'."

Verbaas vra die apteker; "Het jy dan nie nou net probeer om by dr Anderson werk te kry nie?"

"Nee oom," sê hy, "u sien ek is die knaap wat vir dr. Anderson werk.

Ek het myself maar net 'n bietjie 'opgecheck'."

Weet jy, dit is wat Paulus sê ons moet doen.
In 2 Kor. 13:5 sê hy; "Ondersoek julleself en stel julleself op die proef of julle in die geloof lewe."
Paulus sê ons moet 'n slag "opcheck" of ons verhouding met Yahweh nog is wat dit moet wees.

YAHWEH LEER VIR ONS HOE BELANGRIK DIT IS OM 'N SLAG DEEGLIK SELFONDERSOEK TE DOEN - NIE NET OOR ONS GEESTELIKE LEWE NIE, MAAR OOK OOR ONS LEWE TUIS MET ONS GESIN EN BY DIE WERK TEENOOR ONS KOLLEGAS EN OOK TEENOOR DIE WERK SELF WAT U VIR ONS GEGEE HET OM TE DOEN.
AMEIN.

Jy is God se oogappel !!!! Sag 2:8

Thursday, April 15, 2010

Pragtige Meisie oor die Modder Pad


Trevor en Eckhard was eendag op reis met ’n baie modderige paadjie tussen die twee klein dorpies. Die reënbui wat vanoggend begin het sak steeds uit maar terwyl die twee hul bes doen om die meeste modder te vermy en die nattigheid van hul lywe weg te hou geniet hulle mekaar se geselskap.
Hulle het beide hulself afgesonder om die Woord van God te bestudeer en te getuig sovêr as wat hul reise hul neem.

Om ’n draai kom hulle ’n pragtige meisie teë wat geklee is in die mooiste tabberd wat poog om aan die oorkant van die modderige pad te kom sonder om haar pragtige tabberd te bemors met die modder.
“Kom meisie,” sê Trevor en tel haar op in sy arms en dra haar oor die modderige pad.

Eckhard het nie weer ’n woord verder gesê totdat hulle die aand ’n klein maar gesellige herberg aan die voet van die berge bereik het nie. Hy kom homself nie langer inhou nie.
“Ons afgesonderdes kom nie naby aan die teenoorgestelde geslag nie,” se Eckhard, “veral nie mooi, pragtige jong meisies soos die een van vroeër nie.
Dit is gevaarlik en kan mens in die versoeking lei.
Hoekom het jy dit gedoen?”

“Ek het die meisie daar aan die oorkant van die pad gelos,” sê Trevor, “dra jy haar steeds?”

Die een wat haar oor die modderige pad gehelp het, het dit gedoen omdat hy wou help. Hy was spontaan en het dit gedoen uit die goedheid van sy hart sonder dat daar wellustige bedoelings betrokke was.
Die ander een is die wat die wellustige gedagtes gekoester het en haar steeds in sy gedagtes dra.
Liefde word betoon in ’n gees van opregtheid sonder bybedoeling en sonder om vergoeding of iets in ruil terug te verwag.

Monday, April 12, 2010

Diensplig


Eendag merk die dominee ' n klein seuntjie in die voorportaal van die kerk op wat aandagtig na ' n groot gedenkplaat teen die muur staan en kyk. Dit was oortrek met name en daar was klein landsvlaggies weerskante.

Toe loop die dominee nader, kom staan langs die seuntjie, en sę saggies: "Goeiemore my seun."

"Môre, Dominee," sê hy, met sy oë nog vasgenael op die plaat.

"Dominee, wat is dit hierdie?" vra hy.

Die dominee antwoord: "Wel, my seun, dit is 'n gedenkplaat vir al die jongmanne wat in die diens gesterf het."

In doodse stilte en met groot eerbied staan die twee voor die plaat en staar na die name.

Uiteindelik, in 'n skaars hoorbare stemmetjie en bewend van vrees vra die seuntjie: "Watter diens, Dominee?
Die oggend- of die aanddiens?"

Thursday, April 8, 2010

Die Laaste Keer


As ek geweet het dis die laaste keer
dat ek jou aan die slaap sou sien raak,
sou ek meer moeite gedoen het
om jou warm toe te maak.

As ek geweet het dis die laaste keer
wat ek jou by die deur sien uitloop,
sou ek jou gedruk en gesoen het -
en jou teruggeroep het vir nog 'n drukkie.

As ek geweet het dis die laaste keer
dat ek jou stem sou hoor,
sou ek dit op band op geneem het
sodat ek dit weer en weer kon speel.

Ons leef so asof daar nog baie tyd oor is
om alles te doen wat ons graag wil,
maar sê nou vandag was die laaste kans !

Die Skrif sê:
" ons is maar 'n damp wat 'n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. "

Kom ons maak vandag tyd om te sê:

'Ek is jammer' of 'dankie' of 'ek waardeer jou'!

As môre dalk nie daar is nie, kom ons leef vandag voluit !

Waardeer elke dag die geliefdes rondom jou.

Sunday, April 4, 2010

Onse Vader – Tweegesprek


Ons Vader wat in die hemel is …
Ja?
Moet my nie onderbreek nie, ek is besig om te bid.
Maar jy het My dan geroep.
U geroep? Nee, ek het gebid: Ons Vader wat in die hemel is.
Daar doen jy dit weer.
Wat het ek gedoen?
Jy roep My, jy het gesê: “Ons Vader wat in die hemel is ...” wel, hier is Ek, wat wil jy vir My sê?
Maar ek het niks daarmee bedoel nie, ek het maar net my daaglikse gebed gebid. Ek bid dit gereeld, dit laat my goed voel ... hoe sal ek sê, asof dit soort van die regte ding is.
Nou goed, gaan aan.
Nou goed. Laat U Naam geheilig word.
Wag nou eers bietjie, wat bedoel jy daarmee?
Wat bedoel U nou daarmee?
Ek wil weet wat bedoel jy met “laat U Naam geheilig word”?
Dit meen ... dit beteken ... o hete, ek weet nie wat dit beteken nie. Hoe op aarde sal ek dit nou weet? Dis tog net deel van ’n gebed. Nou ja, vertel my dan wat dit mag beteken.
Dit beteken: Geëerde! Hoog Heilige! Wonderbare!Almagtige!
Dit maak nogal sin. Ek het nog nooit so daaroor gedink nie, om U Naam te heilig ... dit kan net wonderlik wees!
Baie dankie my kind, gaan voort.
Laat U koningkryk kom, laat U wil ook op die aarde geskied net soos in die hemel.
Bedoel jy dit regtig?
Natuurlik, hoekom nie?
En, wat doen jy daaromtrent?
Doen? Hoekom? Niks nie, ek dink ... ek dink maar net dat dit goed sal wees as U die beheer hier ook sal oorneem soos U daarbo doen, ons maak net ’n gemors hier op aarde.
Ja, dis waar, maar het Ek beheer oor jou?
O, ek gaan kerk toe, ja.
Dis nie wat ek gevra het nie, wat van jou slegte humeur? Jy weet jy het regtig ’n probleem daarmee. Dan is daar nog ’n probleem. Hoe spandeer jy jou geld? Alles net op jouself. Wat van daardie boeke en tydskrifte wat jy so graag lees? En wat van daai laataand televisieprogramme wat jy so graag kyk?
Wag, wag net so bietjie! Hou op om so op my te pik, ek doen maar net wat ander kerkmense doen.
Verskoon my, Ek het gedink dat jy bid dat My wil geskied. As dit die geval is, dan moet ons mos begin by diegene wat daarvoor bid, soos byvoorbeeld jy ...
O, nou goed, ek dink ek het ’n paar foute, maar ek weet van nog ’n hele paar ander.
Ja, Ek ook.
Ek het nie so daaroor gedink nie. Sal baie graag van sommige verkeerde dinge wil ontslae raak, ek sal baie graag vry wil wees, weet U?
Nou goed, nou is ons besig om iewers te kom. Ons moet nou net saamwerk, jy en Ek. Ek is trots op jou my kind.
Ek wil net eers hier klaarmaak, as U nie omgee nie, dit neem nou baie langer as gewoonlik ... Gee ons vandag ons daaglikse brood.
Jy sal die brood dalk so bietjie moet uitsny, want jy eet te veel en jy is bietjie ver oorgewig.
Haai wag ’n bietjie, wat gaan nou aan? Hier doen ek my geestelike plig en skielik tjip U in en herinner my aan my tekortkominge!
Om te bid kan gevaarlik wees, jy mag dalk kry waarvoor jy bid. Onthou, jy het my geroep en hier is ek, dit is te laat om op te hou. Gaan voort en bid jou gebed ... toe gaan aan.
Ek is bang.
Bang ... bang waarvoor?
Ek weet wat U gaan sê.
Probeer ....
Vergewe ons ons skulde soos ons ons skuldenaars vergewe.
Wat dan nou van Betsie?
Sien, ek het mos gesê. Ek het geweet dat U dit sal sê. Sy het soveel leuens en stories oor my vertel, sy het ook nie die geld wat sy by my geleen het teruggegee nie. My wraak gaan soet wees (sug) ... nou goed, ek vergewe haar, is U nou tevrede?
Pragtig! Wonderlik! Hoe voel jy nou?
Aaa .. Jaa, glad nie sleg nie, inteendeel dit laat my goed voel. Ek kan nie glo dat ek so goed voel nie! Vannag gaan ek soos ‘n klip slaap, want dit is iets minder wat my slaap versteur, ek weet nie wanneer laas het ek regtig rustig geslaap nie.
Ja, ek weet! Het jy nou klaar gebid?
Nee, nee nog nie!
Goed, gaan aan.
Goed. Lei ons nie in die versoeking nie, en verlos ons van die bose.
Goed ek sal dit doen, bly net weg van plekke en situasies waar jy versoek kan word.
Wat bedoel U nou daarmee?
Jy weet baie goed!
Ja, ek weet.
Goed, bid verder.
Want aan U behoort die koningkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
Weet jy wat maak my so opgewonde en gelukkig?
Nee, e...e...ek weet nie, maar ek sal baie graag wil weet. Ek sal U graag plesier wil gee. Ek het alles so opgemors deur net my eie kop te volg. Nou wil ek U volg, ek kan net sien hoe wonderlik dit moet wees om U te volg. Vertel my tog wat ek moet doen om U gelukkig te maak?
Jy het so pas, my kind.