Sunday, April 4, 2010

Onse Vader – Tweegesprek


Ons Vader wat in die hemel is …
Ja?
Moet my nie onderbreek nie, ek is besig om te bid.
Maar jy het My dan geroep.
U geroep? Nee, ek het gebid: Ons Vader wat in die hemel is.
Daar doen jy dit weer.
Wat het ek gedoen?
Jy roep My, jy het gesê: “Ons Vader wat in die hemel is ...” wel, hier is Ek, wat wil jy vir My sê?
Maar ek het niks daarmee bedoel nie, ek het maar net my daaglikse gebed gebid. Ek bid dit gereeld, dit laat my goed voel ... hoe sal ek sê, asof dit soort van die regte ding is.
Nou goed, gaan aan.
Nou goed. Laat U Naam geheilig word.
Wag nou eers bietjie, wat bedoel jy daarmee?
Wat bedoel U nou daarmee?
Ek wil weet wat bedoel jy met “laat U Naam geheilig word”?
Dit meen ... dit beteken ... o hete, ek weet nie wat dit beteken nie. Hoe op aarde sal ek dit nou weet? Dis tog net deel van ’n gebed. Nou ja, vertel my dan wat dit mag beteken.
Dit beteken: Geëerde! Hoog Heilige! Wonderbare!Almagtige!
Dit maak nogal sin. Ek het nog nooit so daaroor gedink nie, om U Naam te heilig ... dit kan net wonderlik wees!
Baie dankie my kind, gaan voort.
Laat U koningkryk kom, laat U wil ook op die aarde geskied net soos in die hemel.
Bedoel jy dit regtig?
Natuurlik, hoekom nie?
En, wat doen jy daaromtrent?
Doen? Hoekom? Niks nie, ek dink ... ek dink maar net dat dit goed sal wees as U die beheer hier ook sal oorneem soos U daarbo doen, ons maak net ’n gemors hier op aarde.
Ja, dis waar, maar het Ek beheer oor jou?
O, ek gaan kerk toe, ja.
Dis nie wat ek gevra het nie, wat van jou slegte humeur? Jy weet jy het regtig ’n probleem daarmee. Dan is daar nog ’n probleem. Hoe spandeer jy jou geld? Alles net op jouself. Wat van daardie boeke en tydskrifte wat jy so graag lees? En wat van daai laataand televisieprogramme wat jy so graag kyk?
Wag, wag net so bietjie! Hou op om so op my te pik, ek doen maar net wat ander kerkmense doen.
Verskoon my, Ek het gedink dat jy bid dat My wil geskied. As dit die geval is, dan moet ons mos begin by diegene wat daarvoor bid, soos byvoorbeeld jy ...
O, nou goed, ek dink ek het ’n paar foute, maar ek weet van nog ’n hele paar ander.
Ja, Ek ook.
Ek het nie so daaroor gedink nie. Sal baie graag van sommige verkeerde dinge wil ontslae raak, ek sal baie graag vry wil wees, weet U?
Nou goed, nou is ons besig om iewers te kom. Ons moet nou net saamwerk, jy en Ek. Ek is trots op jou my kind.
Ek wil net eers hier klaarmaak, as U nie omgee nie, dit neem nou baie langer as gewoonlik ... Gee ons vandag ons daaglikse brood.
Jy sal die brood dalk so bietjie moet uitsny, want jy eet te veel en jy is bietjie ver oorgewig.
Haai wag ’n bietjie, wat gaan nou aan? Hier doen ek my geestelike plig en skielik tjip U in en herinner my aan my tekortkominge!
Om te bid kan gevaarlik wees, jy mag dalk kry waarvoor jy bid. Onthou, jy het my geroep en hier is ek, dit is te laat om op te hou. Gaan voort en bid jou gebed ... toe gaan aan.
Ek is bang.
Bang ... bang waarvoor?
Ek weet wat U gaan sê.
Probeer ....
Vergewe ons ons skulde soos ons ons skuldenaars vergewe.
Wat dan nou van Betsie?
Sien, ek het mos gesê. Ek het geweet dat U dit sal sê. Sy het soveel leuens en stories oor my vertel, sy het ook nie die geld wat sy by my geleen het teruggegee nie. My wraak gaan soet wees (sug) ... nou goed, ek vergewe haar, is U nou tevrede?
Pragtig! Wonderlik! Hoe voel jy nou?
Aaa .. Jaa, glad nie sleg nie, inteendeel dit laat my goed voel. Ek kan nie glo dat ek so goed voel nie! Vannag gaan ek soos ‘n klip slaap, want dit is iets minder wat my slaap versteur, ek weet nie wanneer laas het ek regtig rustig geslaap nie.
Ja, ek weet! Het jy nou klaar gebid?
Nee, nee nog nie!
Goed, gaan aan.
Goed. Lei ons nie in die versoeking nie, en verlos ons van die bose.
Goed ek sal dit doen, bly net weg van plekke en situasies waar jy versoek kan word.
Wat bedoel U nou daarmee?
Jy weet baie goed!
Ja, ek weet.
Goed, bid verder.
Want aan U behoort die koningkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
Weet jy wat maak my so opgewonde en gelukkig?
Nee, e...e...ek weet nie, maar ek sal baie graag wil weet. Ek sal U graag plesier wil gee. Ek het alles so opgemors deur net my eie kop te volg. Nou wil ek U volg, ek kan net sien hoe wonderlik dit moet wees om U te volg. Vertel my tog wat ek moet doen om U gelukkig te maak?
Jy het so pas, my kind.

No comments: