Friday, October 30, 2009

Emmertjie Wysheid


Miskien wil God hê dat ons soms eers ’n paar verkeerde mense ontmoet voordat ons die regte een ontmoet sodat wanneer ons die regte een ontmoet, sal ons weet hom om dankbaar te wees vir die geskenk.

Wanneer die deur van geluk vir ons toeklap, maak ’n ander een oop, maar soms kyk ons so lank na die toe deur, dat ons nie die een sien wat oopgegaan het nie.

Die beste vriend wat jy kan hê, is die een met wie jy saam op die tuin bankie kan sit sonder om ’n woord te praat, op te staan en weg te stap en te voel dit was die beste gesprek wat jy nog gehad het.

Dit is waar dat ons nie weet wat ons gehad het totdat ons dit verloor het nie, maar dis ook waar dat ons nie weet wat ons gemis het totdat dit arriveer nie.

Om iemand al jou liefde te gee is geen waarborg dat hulle jou terug sal liefhê nie! Moet nie liefde in ruil terug verwag nie; wag geduldig tot dit in hul harte groei, maar as dit nie groei nie, weer tevrede dat dit wel in jou hart gegroei het.

Dit neem slegs ’n minuut om op iemand verlief te raak, ’n uur om van iemand te hou, ’n dag om iemand lief te kry maar dit vat ’n leeftyd om iemand te vergeet.

Daar is oomblikke in die lewe wanneer jy iemand so baie mis dat jy voel jy kan hulle sommer uit jou gedagtes pluk en hulle ’n regte drukkie gee.

Plaas jouself altyd in iemand anders se skoene. As jy voel dat dit seer maak is dit waarskynlik dat die ander persoon ook daardeur seergemaak word.

Liefde begin met ’n glimlag, groei met ’n soen en eindig met ’n traan.

Die blinkste toekoms word altyd baseer op ’n vergete verlede. Jy kan nie vorentoe gaan in die lewe totdat jy losgeraak het van jou mislukkings en hartseer wat in die verlede lê nie.

Moenie gaan vir skoonheid nie, die kan jou mislei. Moenie gaan vir rykdom nie, die kan vergaan. Gaan vir iemand wat jou laat lag, want dit neem net ’n glimlag om ’n donker dag op te vrolik. Vind iemand wat jou in jou hart kan laat glimlag.

Die gelukkigste mense is nie noodwendig die wat die beste van alles het nie; hulle maak slegs die beste van wat oor hulle pad kom.

“Dierbare Vader: Ek het ’n probleem. Soms is dit ek.”

Om oud te word, is onafwendbaar, om groot te word, is opsioneel.

Daar is geen sleutel to geluk nie, die deur is altyd oop.

Geloof is die vermoë om nie paniekerig te raak nie.

Niks is werklik totdat jy dit self ondervind het nie, ander is dit alles hoorsê.

Wees meer bekommerd oor jou karakter as oor jou reputasie, omdat jou karakter getuig van wie jy is, terwyl jou reputasie slegs die persepsie is van wie ander dink jy is.

Toe jy gebore is, het jy gehuil en almal om jou het geglimlag. Leef jou lewe so dat wanneer jy sterf, jy die een sal wees wat glimlag en die om jou die is wat huil.

Wednesday, October 28, 2009

Klip Sop


Eendag lank gelede het drie soldate, honger en uitgeput van die oorlog, op ’n klein dorpie afgekom. Die dorpie was vêr afgeleë van die beskawing en die oorlog het ook sy merk op die dorpie gelaat.
Die inwoners, wat daardie jaar maar ’n baie swak oes gehad het en baie swaar gekry het vanweë die oorlog, het vinnig die bietjie kos wat hulle nog beskikbaar gehad het, gaan versteek. Hulle het die drie soldate ontmoet op die dorps plein en met vreeslike jammer klagtes hulle lot beklae dat hulle niks het om te eet in die dorp nie.

Die drie soldate het vinnig kajuitraad onder mekaar gehou en die eerste soldaat gaan praat met die oudstes van die dorpie. “Julle uitgeputte en verwoeste landerye het aan julle niks opgelewer om te deel met ander nie, daarom sal ons die bietjie wat ons het met julle deel, die geheim om sop te maak van klippe.

Die inwoners was vreeslik gefassineerd en sommer gou was ’n vuur aan die gang met die dorp se grootste pot op die vuur, gevul met lekker vars fontein water. Terwyl die water stadig begin te koop plaas die tweede soldaat drie gladde klippe in die pot en merk op, “Die gaan ’n baie lekker sop wees, maar ’n knippie sout en bietjie pietersielie sal dit wonderlik maak !”
Skielik spring een van die inwoners op en roep uit, ”Wat ’n geluk, ek onthou nou net dat ons nog so bietjie sout en pietersielie oor het !” en hardloop huis toe. Sy keer terug met haar voorskoot vol pietersielie, hand vol sout en nog ’n raap ook.
Soos wat die water al hoe meer begin te kook, hoe beter raak die geheue van die inwoners en elkeen “onthou” skielik van ’n ietsie wat hy het wat by die sop gevoeg kan word soos gort, wortels, bietjie vleis en room.
Kort voor lank “onthou” iemand van ’n vaatjie wyn wat dalk iewers nog in ’n kelder kan wees en die vaatjie word na die dorps plein gerol en almal neem plaas vir ’n feesmaal.

Hulle het behoorlik geëet, gedans en gesing tot laat in die nagtelike ure, verfris deur die heerlike fees en hul nuut gevonde vriende.
Die volgende oggend terwyl die soldate ontwaak kom al die inwoners van die dorpie na hul aangestap. Voor hulle plaas hulle ’n mandjie gevul met van die dorp se beste brood en kaas.
“Julle het aan ons die grootste geskenk gegee, die geheim om sop te maak van klippe,” sê een van die dorp se oudstes “en ons sal dit nooit vergeet nie.”

Die derde soldaat draai na die inwoners en sê, “Daar is geen geheim nie, maar weet dit, ’n fees is net moontlik wanneer daar met mekaar gedeel word.” en die drie soldate vertrek vêrder op hul reis.

Steek jy ook vandag weg die bietjie wat jy het of deel jy met ander om ’n fees te skep?

Monday, October 26, 2009

Rietfontein


Oupa se plaas, ou Rietfontein
Het vakansies gewemel van groot en klein.
Saans vertel Oupa vir ons staaltjies.
Bedags leer hy ons dril soos soldaatjies.
“Links regs, links regs,
Staan soos ’n Kiewiet
Knyp jou sterre en
Kyk vêr oor die wêreld.”

Skelmpies kry elkeen ’n trek aan sy pyp.
Maar O liewe aarde, na hierdie vergryp
Is ons groen om die kiewe
En naar in die lyf.
Ouma die raas en sê: “Willem jou bokker”
Nou sal ek al die kleingoed moet dokter!”
Gou kry almal ’n dop groenamara en wonderessens.
Volgens Oupa is dit alte goed vir die pens.

Die winters was beste, as die dorsmasjien dreun
Dan het elkeen ’n takie en sleep sakke steun-steun.
Die mielieblare word ons speelplek tot die son ondergaan.
Maar ai tog, met badtyd was almal betraan...
Lyfies is skurf en gesny deur die blare.
Ouma moet help want stoppels is tot in ons hare.
Paraffien en kerswas gesmelt op die stoof
Is die beste salf om die pyn te verdoof.

Leer is min, wat weet ’n kind van besin.
Rooidag is ons op en terug op die dorsvloer in glorie,
En vanaand is dit weer dieselfde storie.

Ouma bak in die buite-oond
Melktert en brode, goudbruin en rond.
Beskuit en koekies laat water jou mond.
Oupa vertel dit is boonop gesond.

Brekfis was melkpap, brood en konfyt
met ’n skeppie kaiings was heerlik daarby.
Middae kry ons vleis met groente daarby
Saans eet ons melkkos onder gelag en gewoel.
Oupa noem dit sommer slinger-om-die-smoel.

Ouma leer die meisies van hekel en brei
Wyl Oupa die seuns leer kalwers ry.
Ons leer ook geskiedenis aan Oupa se voet
Van Boere wat so onnodig moes boet.
Terwyl Boer en Brit veg en bloed drup in die sand
Lê die plase verwoes en afgebrand.
Vrouens en kinders soos vee in ’n kamp
Vir ewig opgeteken as ’n skandalige ramp.

Die laaste dag van 1900 en ’n bloedige einde van die eeu
Die pyn en hartseer genoeg om ’n mens te laat skreeu.
Die vaders in St Helena, die moeders en kinders versprei oor die land
Meestal op plase, kaal afgebrand.

In die klein platdak huisie
Was dit altyd ’n fees.
Volop vreugde en liefde
Was ons s’n gewees.
Al was geldjies maar min
Jy’t geweet jy’s bemin.
Geleer wat jy mag en wat jy moet laat
En dat jy nooit van ander lelik mag praat.
By ons liefste klein Ouma
Het niemand ooit honger gely
Elkeen het altyd genoeg gekry.

Saans by die lamplig word godsdiens gehou
En elkeen moet minstens ’n reëltjie onthou.
Die Bybel geskryf in die Hollandse taal
Het altyd my moed in my skoene laat daal.
Vra saggies vir nefie, wat kan ek onthou ?
’n Tiekie se braaivleis en sê dit maar gou.
Almal om die tafel sit rukkend en krom
Nooit het boekevat so skielik tot ’n einde gekom.

Oupa en Ouma, nou lankal reeds weg
En die boerdery het vinnig versleg.
Ons drome van gister, vir altyd verlore
Oupa se plaas was vir vreemdes beskore.

Rietfontein, O Rietfontein,
Waar gaan ek heen met my hartseer en pyn ?

Deur Rina

Thursday, October 22, 2009

Sien Jy Straf of Groei ?


Die mens met sy natuurlike geneigdheid na die sonde en die jare lange kondisionering van – “vir elke oortreding is daar straf” - het gemaak dat ons so dikwels ontneem word van die mees ongelooflike geleenthede om te groei in die gees.

Wanneer daar groot probleme en moeilikhede op ons pad kom is ons eerste reaksie gewoonlik – “Wat het ek gesondig dat dit nou met my of ons moes gebeur?”
Ons gaan soek eerste die skuld by God, want die natuurlike reaksie is dat Vader ons nou weer straf vir een of ander iets wat ons verkeerd gedoen of gesondig het. Intense self ondersoek volg hierna om te bepaal watter van my verkeerde optrede het aanleiding gegee tot dit wat nou met my gebeur het.

Ervaar jy dieselfde wanneer die moeilikhede jou tref ?

Die moeilikhede is soms soos ’n enorme groot magneet wat al die geestelike krag wat daar in jou is, met een slag opslurp sodat jy leeg en weerloos voel. Dit voel of jou gebede net tot by die plafon van jou binnekamers strek en nie kan uitkom tot by die ore en hart van Vader nie. Die probleme raak so groot berg dat ons nie daarby verby kan kyk en die Genade van ons Almagtige God kan raaksien of self Sy stem kan hoor nie.

Die ander benadering wanneer die lewens storms teen ons woed is om eerder te konsentreer op die geleentheid wat daardeur geskep word.

Watse geleentheid sal jy miskien vra ?

Die geleentheid om geestelik te groei, om op te hou vra – wat het ek verkeerd gedoen om die straf te verdien ? – maar om eerder te vrae, watter geleenthede skep die probleme om geestelik te groei.

Ons lewe moet nie stagnant bly na ons redding nie maar ons moet groei, ons moet groot word in die geloof. Ons kan nie die hele tyd tevrede wees om soos ’n baba in doeke te bly, om gevoer en skoongemaak te word nie. Ons moet leer om groot te word in die geloof, om te wandel, om te hardloop, om te spring en om die stryd te stry. Indien ons dit nie kan doen nie het ons misrabelik gefaal in die roeping wat Vader aan ons gegee het. Geestelik sal ons armsalige babas in die geloof bly as ons nie geleenthede vir groei en beproewing aangryp nie. Slegs stryders kan die stryd voer, nie babas nie, hulle is nog nie sterk genoeg nie.

Job, bly vir my seker een van die mooiste verhale met een van die mees belangrikste lesse. Te midde van al sy beproewing het hy nooit Vader verwyt nie maar hy het net bly groei in die geloof en sterker geword. Presies die teenoorgestelde wat satan wou vermag het. Hy het aangehou met die wedloop en wanneer hy val het hy weer opgestaan maar nooit sy vertroue in die Almagtige verloën of verloor nie.

Ons Verlosser het klaar vir ons oortredinge betaal, Hy het die straf vir ons oortredinge gedra.

Nou bly daar net een vraag oor vir jou om te antwoord.

Sien jy straf of groei ? ? ? en Wat gryp jy aan ? ? ?

Tuesday, October 20, 2009

Maak ’n Aantekening ...............


1. Die beste manier om iemand terug te kry is om te vergewe...
2. Voed jou geloof en jou twyfel sal sterf van die honger...
3. Tensy jy die HELE skepping kan skep in 5 dae, is dit miskien nie so goeie idee om vir God voor te skryf nie.
4. Hartseer kyk terug, bekommernis rondom heen en geloof na bo....
5. Suksesvolle huwelike is nie om die regte persoon te vind nie maar om die regte persoon te wees...
6. Dit is nie verkeerd om so nou en dan op jou selfbejammerings potjie te sit nie, maak net seker dat jy dit spoel wanneer jy klaar is...
7. As die gras groener is aan die ander kant van die draad kan jy verseker wees dat die water rekening ook hoër is...
8. Woede is ’n toestand waar die tong vinniger werk as die verstand...
9. Jy kan nie die verlede verander nie, maar jy kan die huidige ruïneer deur te bekommer oor die toekoms...
10. God gee altyd Sy beste aan hulle wat die keuse aan Hom oorlaat...
11. Alle mense glimlag in dieselfde taal...
12. ’n Drukkie is ’n groot geskenk ........ “one size fits all”...
13. Almal verdien om bemin te word.... veral hulle wat dit nie verdien nie...
14. Die werklike maatstaf vir ’n man se rykdom is wat hy belê het in die lewe hierna...
15. Elke een het skoonheid maar nie almal sien dit nie...
16. Dank God vir wat jy het en VERTROU HOM vir wat jy benodig...
17. Indien jy jou hart vul met verwyte oor gister en die bekommernisse van môre, het jy geen vandag om voor dankbaar te wees nie...
18. Indien iemand iets slegs van jou sê, leef so dat niemand dit glo nie...
19. Geduld is die vermoë om jou “engine te laat idle” terwyl jy voel jy wil jou” gears strip”...
20. Harde woorde breek nie bene nie maar wel harte...
21. Liefde word versterk deur saam deur konflik te werk...
22. Om uit die moeilikheid te kom, moet mens gewoonlik daardeur...
23. Ons neem as vanselfsprekend die dinge aan waarvoor ons moet dankie sê ...
24. Liefde is die enigste ding wat verdeel kan word sonder dat dit minder word...
25. Neem tyd om te lag want dit is die musiek van die siel...

Tuesday, October 13, 2009

Die Waarde van Onderwysers


Daar is ’n pragtige legende van ’n koning wat besluit het om ’n spesiale dag uit te roep waarop die belangrikste onderdaan in sy ryk vereer sou word.
Toe die groot dag aanbreek was daar al wat leef en beef versamel in die paleis se binnehof.
Vier finaliste is voor die koning gebring.

Die eerste persoon wat voorgestel is was ’n skatryk filantroop. Die koning is meegedeel dat die man ’n uitstekende kandidaat is vir die titel vanweë al sy humanitêre pogings. Hy het baie van sy rykdom afgestaan aan die armes om hulle te help.

Die tweede was ’n gerespekteerde dokter. Die koning is meegedeel dat hy ook ’n goeie aanspraakmaker is omdat hy reeds vir jare pligsgetrou en baie liefdevol die siekes versorg het.

Die derde persoon was ’n vername regter. Die koning is meegedeel dat sy verdienstelikheid baseer is op sy besonderse wysheid, die regverdigheid wat hy toepas en die briljante besluite wat hy neem.

Die vierde persoon wat voorgestel is was ’n ou dame gewees. Almal was opsigtelik verbaas om haar te sien want haar voorkom en kleredrag was baie nederig. Sy het skaars gelyk soos iemand wat vereer kan word vir hul groot en belangrike rol wat hul vervul in die koninkryk.
Watter kans staan sy gemeet teen die ander drie kandidate? Maar afgesien van haar voorkoms was daar iets spesiaals omtrent haar ........ die liefde wat uitstraal uit haar gesig, haar stille selfvertroue.

Die koning het dit baie interessant gevind en was ietwat verbaas oor haar insluiting in die groep. Hy het gevra wie sy is.
Een van die onderdane antwoord: “Majesteit, u sien die filantroop, die dokter en die regter? Wel, sy was hul al drie se onderwyser!”

Friday, October 2, 2009

Karakter of Reputasie ?


Karakter of reputasie. Wanneer ons die twee woorde bymekaar sien dink ons soms onwillekeurig dat die twee saam hoort, jy kan nie die een hê sonder die ander nie en hulle kan nie van mekaar geskei word nie.

Reputasie in ’n neutedop is wat ander mense rondom ons van ons dink. Dit is in werklikheid die opinie wat ander mense van ons het betreffende wie en wat ons is en die motiewe wat hulle glo ons het om dinge te doen soos ons dit doen.

Ons kan ’n “goeie” reputasie of ’n “swak” reputasie hê. Alhoewel ons moet besef dat beide van dié relatief is en dat ’n “goeie” of “swak” reputasie is slegs die opinie van die beoordelaar.

Baie meer waardevol is ons Karakter. Karakter in ’n neutedop is wie ons is wanneer niemand ons gewaar of sien nie. Dit is nie slegs die gesig in die spieël nie, maar die “gesig agter die gesig”.

’n Persoon wat sy lewe vir Yahweh gegee het en so van Vader se karakter eienskappe ontvang het, is iemand wat vas kan bly staan wanneer die storms van valse aantuigings, insinuasies, naam skending en verkleinering in felheid teen hom aanstorm. Hulle bly rotsvas te midde van al die aanslae en alhoewel hulle die pyn in hul harte ervaar en dit ook baie werklik is vir hulle, gee hulle nie moed op nie en kan die depressies en hartseer hulle nie oorwin nie.

Josef was valslik beskuldig deur Potifar se vrou in die Ou Testament. Josef was gestroop van sy belangrike en hoë posisie in Potifar se paleis en in die gevangenis gewerp. Ons kan sê dat sy “reputasie” vernietig was. Hy het 12 jaar in die gevangenis deurgebring, die “slagoffer” van ongegronde beweringe. Maar te midde van alles het sy karakter sterk gebly!

Selfs in die gevangenis het hy nie toegelaat dat hy wegkwyn in verbittering of planne beraam om wraak te neem op die wat hom kwaad aangedoen het nie. Hy het geweet dat sy dag sal kom, dat geregtigheid sal seëvier. Karakter ken nie tyds beperkinge nie.

Soos jy weet, het Josef se dag wel aangebreek en hy was tweede in bevel van die hele Egipte en kon hy die reddings werk waarvoor hy bestem was vir sy volk volbring deur die voorsiening van voedsel tydens die groot hongersnood.
Karakter laat hom nie pootjie deur die huidige omstandighede nie maar sien die moontlikhede van môre en die dag daarna.

Reputasies kom en gaan. Karakter sal jou staande hou deur die storms.
Ontwikkel karakter en dit sal jou nooit beskaam laat nie.

Die Pad en die Reis