Monday, October 26, 2009
Rietfontein
Oupa se plaas, ou Rietfontein
Het vakansies gewemel van groot en klein.
Saans vertel Oupa vir ons staaltjies.
Bedags leer hy ons dril soos soldaatjies.
“Links regs, links regs,
Staan soos ’n Kiewiet
Knyp jou sterre en
Kyk vêr oor die wêreld.”
Skelmpies kry elkeen ’n trek aan sy pyp.
Maar O liewe aarde, na hierdie vergryp
Is ons groen om die kiewe
En naar in die lyf.
Ouma die raas en sê: “Willem jou bokker”
Nou sal ek al die kleingoed moet dokter!”
Gou kry almal ’n dop groenamara en wonderessens.
Volgens Oupa is dit alte goed vir die pens.
Die winters was beste, as die dorsmasjien dreun
Dan het elkeen ’n takie en sleep sakke steun-steun.
Die mielieblare word ons speelplek tot die son ondergaan.
Maar ai tog, met badtyd was almal betraan...
Lyfies is skurf en gesny deur die blare.
Ouma moet help want stoppels is tot in ons hare.
Paraffien en kerswas gesmelt op die stoof
Is die beste salf om die pyn te verdoof.
Leer is min, wat weet ’n kind van besin.
Rooidag is ons op en terug op die dorsvloer in glorie,
En vanaand is dit weer dieselfde storie.
Ouma bak in die buite-oond
Melktert en brode, goudbruin en rond.
Beskuit en koekies laat water jou mond.
Oupa vertel dit is boonop gesond.
Brekfis was melkpap, brood en konfyt
met ’n skeppie kaiings was heerlik daarby.
Middae kry ons vleis met groente daarby
Saans eet ons melkkos onder gelag en gewoel.
Oupa noem dit sommer slinger-om-die-smoel.
Ouma leer die meisies van hekel en brei
Wyl Oupa die seuns leer kalwers ry.
Ons leer ook geskiedenis aan Oupa se voet
Van Boere wat so onnodig moes boet.
Terwyl Boer en Brit veg en bloed drup in die sand
Lê die plase verwoes en afgebrand.
Vrouens en kinders soos vee in ’n kamp
Vir ewig opgeteken as ’n skandalige ramp.
Die laaste dag van 1900 en ’n bloedige einde van die eeu
Die pyn en hartseer genoeg om ’n mens te laat skreeu.
Die vaders in St Helena, die moeders en kinders versprei oor die land
Meestal op plase, kaal afgebrand.
In die klein platdak huisie
Was dit altyd ’n fees.
Volop vreugde en liefde
Was ons s’n gewees.
Al was geldjies maar min
Jy’t geweet jy’s bemin.
Geleer wat jy mag en wat jy moet laat
En dat jy nooit van ander lelik mag praat.
By ons liefste klein Ouma
Het niemand ooit honger gely
Elkeen het altyd genoeg gekry.
Saans by die lamplig word godsdiens gehou
En elkeen moet minstens ’n reëltjie onthou.
Die Bybel geskryf in die Hollandse taal
Het altyd my moed in my skoene laat daal.
Vra saggies vir nefie, wat kan ek onthou ?
’n Tiekie se braaivleis en sê dit maar gou.
Almal om die tafel sit rukkend en krom
Nooit het boekevat so skielik tot ’n einde gekom.
Oupa en Ouma, nou lankal reeds weg
En die boerdery het vinnig versleg.
Ons drome van gister, vir altyd verlore
Oupa se plaas was vir vreemdes beskore.
Rietfontein, O Rietfontein,
Waar gaan ek heen met my hartseer en pyn ?
Deur Rina
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment