Thursday, September 18, 2008

Ore


“Kan ek my baba sien?” vra die nuwe moeder opgewonde. Toe die kleine bondeltjie knus in haar arms lê vou sy die puntjie van die kombersie weg wat oor die kleinding se koppie was om sy gesiggie te sien en sy snak na haar asem. Die dokter draai vinnig om en staar by die groot hospitaal venster uit. Die baba is gebore sonder ore. Later is uitgevind dat die kleinding se gehoor perfek is. Dit was net sy voorkoms wat geskend is weens die afwesigheid van ore.

Terwyl hy eendag hom van die skool af haas en hom in sy moeder se arms werp, het sy net gesug, en geweet dat sy hele lewe net ‘n opeenvolging van hartseer en bespotting sal wees.

Hartseer vertel hy sy moeder sy wedervaring by die skool. “’n Seun, ‘n groot seun ….. het gesê ek is ‘n frats.”

Hy het groot geword en ten spyte van sy gebrek was hy tog gewild onder sy mede studente, hy kon selfs hoofseun gewees het was dit nie vir sy gebrek wat tog ander studente afgeskrik het. Sy moeder het hom gereeld vermaan om te meng met ander jong mense maar in haar hart het sy besef hoe moeilik dit vir hom moes wees en dat elke dag ‘n stryd is.

Die seun se vader het hul huisdokter besoek en wou weet of daar niks is wat vir die seun gedoen kan word nie. “Ek glo dat ons ore vir hom kan oorplant as ons geskiktes in die hande kan kry.” Het die dokter te kenne gegee.

Daar en dan het die soektog begin na geskikte skenkers wat bereid was om so ‘n opoffering te maak. Twee jaar het verloop nadat die soektog begin het.

Toe op ‘n dag roep die vader sy seun en sê, “Jy moet saam met ons hospitaal toe gaan seun. Jou moeder en ek het iemand opgespoor wat bereid is om sy ore aan jou te skenk. Maar die persoon wat die ore skenk wil anoniem bly.” Die operasie was ‘n reuse sukses en die seun het soos ‘n nuwe mens daar uitgesien met die nuwe ore. Hy het behoorlik ontpop in ‘n nuwe mens en skool en universiteit het ‘n reeks oorwinnings vir hom geword. Hy is later getroud en het ‘n betrekking in die diplomatieke korps aanvaar.

Hy het aanhoudend by sy vader probeer uitvind, “Ek wil graag weet wie het die ore aan my geskenk. Wie kon soveel vir iemand anders doen? Ek sal nooit genoeg die persoon kan vergoed nie.” “Ek glo nie jy sal kan nie seun.” het die vader geantwoord, “maar die ooreenkoms was dat jy nie mag weet nie …. in elk geval nie nou al nie.”

Deur die jare het die geheim bewaar gebly, maar die dag het gekom …… een van die donkerste dae wat die seun nog ooit moes verduur. Hy het saam met sy vader gestaan oor sy moeder se kis. Stadig en liefdevol het die vader sy hand uitgestrek en sy geliefde vrou se lang pragtige rooi-bruin hare opgelig om te wys dat sy geen oorskulpe gehad het nie.

“Moeder het gesê dat sy bly was dat sy nooit ander toegelaat het om haar hare te sny nie,” fluister die vader saggies “en niemand het ooit gedink moeder is minder pragtig nie, het hulle?”
Ware skoonheid is nie te vinde in die fisiese voorkoms nie maar in die hart.
Ware skatte is nie gesetel in dit wat mens kan sien nie maar in dit wat mens nie kan sien nie.
Ware liefde is nie in dit wat jy doen en waarvan ander weet nie maar in dit wat jy doen en waarvan ander nie weet nie.

Matt 6:3 Maar jy, as jy liefdadigheid bewys, laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie,

No comments: