Wednesday, January 16, 2008

Woestyn Logistiek

Een van die grootste logistieke wonderwerke in die wêreld vind ons by Moses en die Israeliete in die woestyn.

Ons beleef die verskil tussen vlees en gees, tussen geloof en ongeloof.

Sowat 3,5 miljoen mense moes 40 jaar lank gevoed word. Volgens ‘n militêre strateeg (kwartiermeester) sou Moses, as hy nie in die geloof gewandel het nie, moes sorg vir die volgende:

1 500 ton voedsel per dag – dit is;
Twee goedere treine van 1,6km in lengte sou die kos moes aanry

4 000 ton brandhout per dag sou nodig wees om kos te kook
Verskeie goedere treine van 8km in lengte sou die hout moes aanry

Hulle sou 20 miljoen liter water benodig het want daar was geen mere of riviere in die woestyn nie
‘n Trein met tenkwaens van 18.8km in lengte sou die water moes aanry

As hulle dubbel-gelid deur die Rooi See sou beweeg, sou die tou 1 280km lank gewees het.
Die tog deur die Rooi See sou 35 dae en nagte geduur het
Daar moes dus ‘n breë opening van sowat 4.8km gewees het sodat die Israeliete 5 000 in gelid in een nag kon deur beweeg

Elke keer wat hulle gekamp het, het die kamp ‘n area van 1 200 vk km beslaan, ‘n area van 48km lank en 40km breed – so groot soos die Groter Bloemfontein.

Hierdie lysie sou vir elke dag oor ‘n tydperk van 40 jaar moes gegeld het.

Dink jy Moses het aan al hierdie dinge gedink voordat hy vertrek het?
Ek dink nie so nie.

Hulle het ook geen materiaal gehad om sandale en klere van te maak nie. Hulle sandale en klere het 40 jaar lank gehou.
Die groter wonderwerk is dat die kinders se sandale saam met hulle voete groter geword het.
Moses het God geglo.
Hy het geweet God sal na al hierdie dinge omsien.

Die verskil tussen om in die vlees en in die gees te wandel, is enorm en onvergelykbaar, soos toe die vissies en broodjies aan 5 000 man en hulle vroue en kinders uitgedeel was.

Dit gaan die mens se verstand te bowe, maar om die dinge van God te verstaan moet mens dit juis nie met jou vertsand probeer verklaar nie.

Ons het presies dieselfde God vandag as wat die Israeliete destyds gehad het. God het nie verander nie en sal nooit verander nie.

Ons probleme lyk vir ons soms so oneindig groot, maar dink dan daaraan wat God kan doen en gedoen het!

Skep moed, ons het dieselfde God.

Ons moenie God by ons planne en strategieë inskakel nie. Kom ons skakel by Sy plan in want dan onderneem Hy in alles.

Die pad vorentoe is een van geloof, waarheid en gees!

Monday, January 14, 2008

My Bruidegom

My Geliefde, hoe lieflik is die terugblik aan ons heerlike ontmoeting.

Op die vlug vlerke van herinnering onthou ek ons ontmoeting soos gister.

U, my Bruidegom het lankal U oog op my gehad, gereeld het u lieflike vermanings woorde aan my gefluister wanneer my gewete my aanspreek.

Lieflike uitnodigings briefies het u aan my gestuur deur die getuienis van my vriende wat reeds aan u verbind was met die goue koord van liefde.

Maar hoe verblind was my gees nog deur die verlokkinge van die wereld.
My oë was traag om te sien die lieflikheid van U aangesig.
My ore te doof om te luister na die liefdes woorde wat U tot my rig.
My hande te besig met die vlegwerk van die aardse lewe.
My voete te haastig om te loop agter die kwaad.
My gees vasgevang in sy winter slaap sonder vooruitsig om gou te ontwaak.
My siel geknel in die web van my daaglikse oorlewing.

Maar nooit my geliefde het U opgehou om te klop aan die deur van my hart nie, altyddeur was U daar, as gevaar my bedreig, het U my uitgered soos ‘n ridder sy geliefde sou red. U versugtinge van verlange was voortdurend in my oor.

Tot die dag dat U die skille van my oë weggevee het, die verstoppings uit my ore gehaal het en die kliplaag om my hart stukkend geslaan het.
Toe eers kon ek U lieflike roepstem herken.

Met vreugde was ek vervul want eensaamheid en verlatenheid het gevlug voor die aangesig van my Geliefde.
Saggies het U U hand uitgestek na my om my uit te haal uit die moeras van sondigheid waarin ek verval het.

U het my genoem U kosbare bruid.
Hoe kon ek die woorde glo – watter bruidegom wil so ‘n bruid verkry wat vol is van die besoedeling, wat verwerp is deur al haar aardse minnaars.
In skaamte moes ek my oë laat sak voor U Glansryke aangesig, maar in U oë was geen afkeuring nie maar slegs suiwer liefde vir my.

U het my gewas en my geklee in wonderskone glansrykheid.

‘n Ring het U aan my vinger gesit en aan my plegtig belowe dat ek U verloofde is en dat U my nooit sal versaak of verlaat.

Styf het U my teen U vasgedruk en liefdes woorde in my oor gefluister.
My hart was verblyd in my en het rondgespring soos ‘n bokkie in die ope velde na die lente reëns.

My Geliefde met U hand het U my hoof gestreel, U vingers het my lippe aangeraak om hulle te salf sodat ek ook woorde van suiwer liefde teenoor U kan spreek.

Ag, my Bruidegom nooit sal ek U waardig kan wees nie maar ek sal myself voortdurend verbly in die volheid van U liefde.

Ek hoor reeds die klokke lui, binnekort sal ek in die eg verbind word met my Bruidegom. Die onthaal het HY met grootse sorg aangelê met net die beste lekkernye en slegs die beste Kana wyn.

In my bruidskamer wag ek vir U my bruidegom want binnekort sal U my kom haal.
Die tyd het byna tot volheid gekom.
Ek kan ek nie meer wag om die volheid van U prag te aanskou nie.
My asem sal weer deur U wegslaan word met die verruklikheid van U skoonheid.

My Bruidegom hoe verlang ek na die volheid van U nabyheid, om langs U sy te staan en my hand in U hand te plaas.
Hoe sal ek ooit die woorde kan vind om aan U te vertel hoe groot die liefde in my hart vir U is my Bruidegom.
Dankie my Bruidegom dat U alsiende oë tot binne my hart kan sien en dat U weet U is my een en enigste liefde.

Kom al Sy bruide laat ons vandag ‘n loflied aanhef tot ons Bruidegom, laat die lampe vol olie bly, ons Bruidegom is oppad.
Hy kom ons haal want ons huwelik word voltrek.

Thursday, January 10, 2008

Die Saad

‘n Suksesvolle Christen sakeman was besig om oud te raak en het geweet dit raak tyd om ‘n opvolger aan te wys om die bestuur van die besigheid oor te neem. In plaas daarvan om een van sy direkteure of sy kinders aan te wys, besluit hy om dit op ‘n ander manier te doen.

Hy roep al die jong bestuurders van sy maatskappy bymekaar. “Dit is tyd is besig om vir my uit te loop en om ‘n nuwe uitvoerende hoof vir die maatskappy aan te wys.” sê hy. “Ek het besluit om een van julle te kies.”

Die jong bestuurders is almal geskok maar die baas gaan aan. “Ek gaan vandag aan elke een van julle ‘n saad gee – ‘n baie spesiale saad. Ek wil hê julle moet die saad plant, water gee, mooi versorg en kom terug oor ‘n jaar van vandag af met dit wat gegroei het van jou saad wat ek jou gegee het. Ek sal dan die plante beoordeel wat julle bring en die een wat ek dan kies sal die volgende uitvoerende hoof wees.”

Een man, genaamd James, was daar die dag en net soos die ander het hy ook ‘n saad ontvang.

Hy het huis toe gegaan en baie opgewonde aan sy vrou die hele storie vertel. Sy het baie entoesiasties hom gehelp om ‘n pot te kry, grond, kompos en hy het die saad geplant.

Elke dag het hy getrou water gegee en gekyk om te sien of die saad nog nie ‘n plantjie begin te maak nie. Na ongeveer drie weke het sommige van die ander jong bestuurders al begin te praat oor hul sade wat al begin uitloop. James het voortdurend na syne gekyk, maar daar was nie ‘n teken van ‘n uitloopseltjie nie.

Drie weke, vier weke, vyf weke het verby gegaan maar steeds nog niks nie. Teen die tyd praat almal al van hul plantjies en goed hulle groei maar James het nog nie eens ‘n plant nie, hy het soos ‘n volslae mislukking gevoel.

Ses maande het verby gegaan – maar steeds is daar niks in James se pot nie. Hy het sommer geweet hy het sy saad laat doodgaan. Al die ander het al jong boompies en lang plante, maar hy – niks. James het maar liewers niks aan sy kollegas gesê nie want sy mislukking om sy saad aan te groei te kry is oorweldigend. Hy het maar net aangehou om getrou die grond in die potjie water en kunsmis te gee – hy wou so bitter graag gehad het dat sy saad moet groei.

Uiteindelik het ‘n jaar verstryk en al die jong bestuurders het hulle prag plante gebring aan die uitvoerende bestuurder vir inspeksie en beoordeling. James het vir sy vrou gesê dat hy nie eens sy leë pot gaan saamvat nie maar sy het by hom aangedring dat hy dit wel moet saamvat en eerlik moet wees oor wat gebeur het.

James het skoon ‘n naar kol op sy maag gehad. Dit gaan die mees vernederendste dag van sy lewe wees maar hy het geweet sy vrou is reg.

Hy neem sy leë pot saam na die raadsaal. Toe hy daar aankom is hy uit die veld geslaan oor die groot verskeidenheid van plante wat al die ander jong bestuurders aan die groei gekry het. Hulle was pragtig – in alle vorme en kleure. James sit toe maar sy leë pot op die vloer neer en baie van sy kollegas lag hom uit. ‘n Paar ander voel baie jammer vir hom.

Toe die uitvoerende bestuurder daar aankom, gaan sy oog vinnig oor die hele vertrek terwyl hy al sy jong bestuurders groet.

James probeer maar so ver moontlik agter in die raadsaal wegkruip en so onopsigtelik as moontlik te wees.

“Mense, watter pragtige plante, bome en blomme het julle nie laat groei nie.” sê die UB.

“Vandag sal een van julle aangewys word as die nuwe uitvoerende bestuurder!”

Skielik merk die UB vir James op agter in die raadsaal met sy leë pot. Hy gee toe sy finansiële direkteur opdrag om vir James na vore te bring.

James was verskrik en het by homself gedink, “Die UB weet nou ek is ‘n mislukking! Miskien sal hy my nou ontslaan!”

Toe hy voor by die UB kom vra die vir hom wat het gebeur met sy saad. James vertel hom toe die storie hoe hy gereeld vir die saad gesorg het maar niks wou help dat die saad uitloop en groei nie.

Die UB vra toe vir almal om hul sitplekke in te neem behalwe vir James. Hy kyk toe vir James en kondig toe aan vir al die jong bestuurders teenwoordig, “Hier is julle volgende Uitvoerende Bestuurder! Sy naam is JAMES!”

James kon dit nie glo nie. James kon nie eens sy saad aan die groei kry nie hoe is dit moontlik dat hy die nuwe UB kan wees vra die ander?

Toe sê die UB, “Presies een jaar gelede in dieselfde vertrek het ek vir elkeen van julle ‘n saad gegee. Ek hulle julle gesê om die saad te plant, water te gee, te versorg en dit oor ‘n jaar terug te bring na my. Maar ek het al die sade gekook, hulle is dood – dit is nie moontlik vir hulle om te laat groei nie.”

“Almal van julle, behalwe James, het vir my bome, plante en blomme gebring. Toe julle sien dat julle saad nie uitloop en groei nie het julle die saad wat ek julle gegee het vervang met ‘n ander saad. James was die enigste een met die moed en eerlikheid om aan my ‘n pot te bring met die saad in wat ek hom gegee het. Daarom is hy die een wat die volgende Uitvoerende Bestuurder sal wees.”

As jy eerlikheid plant, sal jy vertrou oes.

As jy goedheid plant, sal jy vriende oes.

As jy nederigheid plant, sal jy grootheid oes.

As jy volharding plant, sal jy tevredenheid oes.

As jy oordenking plant, sal jy perspektief oes.

As jy harde werk plant, sal jy sukses oes.

As jy vergifnis plant, sal jy versoening oes.

As jy geloof in Christus plant, sal jy verlossing oes.

Dus wees baie versigtig wat jy nou plant; dit sal bepaal wat jy later gaan oes.

Twee duisend jaar gelede het Paulus aan die gemeente van Galasiërs ‘n soortgelyke storie geskryf maar net in baie minder woorde
(Gal 6:7) …. want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.

(1Pet 1:23) want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.

Monday, January 7, 2008

Die Keuse

Hy plaas een skep klei op die ander totdat daar ‘n lewelose vorm op die grond lê.

Die hele Tuin se bewoners het gaan stilstaan om die gebeurtenis te aanskou. Arende sweef in sirkels, die kameelperde rek hul nekke om te sien vlinders verpoos op die blomblare en kyk.

“Jy sal my liefhê, natuur” sê God. “Want ek het jou so geskape. Jy sal my gehoorsaam, wêreld. Want jy is ontwerp om dit te doen. Hemele, jy sal my glorie verkondig want dis waarvoor jy geskep is. Maar die een sal soos Ek wees. Die een sal in staat wees om te kies.”

Almal en alles was in doodse stilte toe die Skepper uitreik binne Homself en iets verwyder, wat tot nog toe ongekend was. ‘n Saad. “Dit word genoem, ‘keuse’. Die saad van keuse.”

Die skepping het in stille verwondering gestaan en die lewelose vorm aanskou.

‘n Engel spreek, “Wat as hy….?

“Wat as hy kies om my nie lief te hê nie?” voltooi die Skepper die sin. “Kom ek sal jou wys.” Nie gebonde aan vandag stap God en die engel in die realm van die toekoms. “Daar, kyk na die vrug van die saad keuse, beide die soet en die bitter daarvan.”

Die engel staar in verwondering vir dit wat hy sien. Spontane liefde. Vrywillige toewyding. Teerheid deur eie keuse. Nog nooit het hy so iets gesien nie. Hy kon die liefde van die Adam’s aanvoel. Hy hoor die vreugde van Eva en haar dogters.

Hy sien die voedsel en die laste wat gedeel word. Hy drink die goedhartigheid in en aanskou die wonderlike warmte tussen mekaar.

“Die hemele het nog nooit tevore sulke skoonheid gesien nie, my Koning. Dit is werklik u wonderlikste skepping van almal.”

“Ah, maar jy het nog net die soet gesien. Aanskou nou die bitter.” ‘n Verskriklike stank omring die twee. Die engel, vervul met afsku, draai om en vra.

“Wat is dit?”

Die Skepper spreek slegs een woord: “Selfsug”

Die engel staan sprakeloos terwyl hulle beweeg deur eeue van afsku. Nog nooit het hy sulke vullis aanskou nie. Verrotte harte. Gebreekte beloftes. Vergete lojaliteite. Kinders van die skepping wat blindelings wandel in di e sondigheid.

“Is dit die resultaat van keuse?” vra die engel.

“Ja.”

“Hulle sal U vergeet?”

“Ja.”

“Hulle sal U verwerp?”

“Ja.”

“Hulle sal nooit terugkom nie?”

“Sommige sal. Die meeste sal nie.”

Die Skepper stap verder aan in tyd, verder en verder die toekoms in, totdat Hy by ‘n boom gaan staan. “n Boom wat later omskep sal word in ‘n krip. Toe reeds kon Hy al die hooi ruik wat Hom sou omring in die stal.

Met nog ‘n verdere stap in die toekoms in verpoos Hy by ‘n ander boom. Dit staan eenkant alleen op ‘n kaal koppie. Die stam daarvan was dik en die hout sterk. Binnekort sal dit afgesny en verwerk word. Binnekort sal dit geplant word op die koppie van Golgota en Hy sal daaraan gekruisig word.

Hy voel die hout krap teen ‘n rug wat Hy nog nie aangeneem het nie.

“Gaan U af daarheen? Vra die engel.

“Ek sal”

“Is daar nie ‘n ander pad nie?”

“Nee, daar is nie.”

“Sou dit nie makliker gewees het om glad nie die saadjie te plant nie? Sal dit nie makliker wees om glad nie die keuse te gee nie?”

“Dit sal.” Antwoord die Skepper stadig, “Maar om die keuse weg te laat is om die liefde weg te laat.”

Hy kyk om Hom heen op die koppie en sien die toneel. Drie figure hang aan drie kruise. Arms en voete vasgespyker aan die kruishout en hoofde geboë. Die wind dra die klaagliedere van hul pyn. Mans geklee in soldate uniforms sit op die grond naby die drie. Hulle speel speletjies in die grond en lag uitbundig.

Mans geklee in die drag van die sinagoge staan daar aan die een kant. Hulle glimlag tevrede met hulself en vol arrogansie. Hulle het God beskerm dink hulle by hulself deurdat hulle die valse een laat dood maak.

Vroue geklee in smarte staan vasgeklou aan mekaar aan die voet van die heuwel. Gesigte benat met die trane van verdriet. Oë grondwaarts gerig. Een plaas haar arms om ‘n hartseer moeder om haar weg te lei. Sy wil nie gaan nie. “Ek sal bly.” fluister sy, “Ek sal bly.

Die hemele staan gereed om te baklei. Die hele natuur staan op om te red. Die hele ewigheid gereed om te beskerm. Maar die Skepper het geen opdrag gegee.

“Dit moet gedoen word…..” sê Hy.

Terwyl Hy omdraai hoor Hy die stem wat eendag sal uitroep: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Hy verwring oor môre se angs.

Die engel praat weer. “Dit sal minder pynlik…….”

Die Skepper val hom saggies in die rede. “Maar dit sal nie liefde wees nie.”

Hulle stap weer die Tuin binne. Die Skepper aanskou die klei skepping in alle erns. ‘n Stortvloed van liefde wel op in Hom. Hy het reeds gesterf vir die skepping voordat Hy dit nog geskape het. Die vorm van God buig oor die gevormde gesig en blaas Sy asem uit. Stoffies dwarrel om die lippe van die nuut geskape een . Die borskas begin te styg terwyl dit die klei oopbreek. Die wang kry vlees. ‘n Vinger roer. ‘n Oog maak oop.

Maar meer wonderbaar as die beweging van die vlees is die roering van die gees. Die wat die onsienlike kon aanskou se asems word weggeslaan.. Miskien was dit die wind wat dit die eerste gesê het. Miskien was dit wat die ster op daardie oomblik aanskou het wat gemaak het dat dit voortdurend skitter. Miskien was dit oorgelaat aan ‘n engel om dit te fluister:

“Dit lyk soos… dit lyk so baie soos…. dit is Hy!”

Die engel het nie gepraat van die gesig, die kenmerke of die liggaam nie. Hy het binne in gekyk – na die siel.

“Dit is ewig!” roep ‘n ander engel uit.

Binne in die man het God ‘n heilige saad geplaas van Homself (die saad van keuse). Die Almagtige God van hemel en aarde het die aarde se magtigste geskape…. Die Een wat gekies het om lief te hê het een geskep wat in staat is om terug lief te hê.

Nou is dit jou keuse. – Wat gaan dit wees?

Sunday, January 6, 2008

Die Ou Visserman

Ons huis was direk oorkant die straat van die John Hopkins Hospitaal in Baltimor. Ons het in ‘n dubbel verdieping huis gewoon, die onderste vloer het die gesin bewoon en die boonste vloer se kamers is aan buite pasiënte van die hospitaal verhuur. Een somers aand terwyl ek besig was met die voorbereiding van aand ete, was daar ‘n klop aan die deur. Ek het die deur oopgemaak en ‘n man wat verskriklik lyk voor my gesien. Hy was skaars langer as my agtjarige kind gewees het ek by myself gedink terwyl ek sy verrimpelde postuur aanskou. Sy gesig was skoon skeef getrek van swelling en dit het rooi en rou gelyk. Maar tog was sy stem baie aangenaam toe hy sê, “Goeie naand Mevrou. Ek het kom uitvind of julle dalk ‘n kamer beskikbaar vir slegs een nag. Ek het vir ‘n behandelings sessie vanoggend vanaf die Ooskus en daar is eers môre ‘n bus terug.”

Hy sê dat hy die hele middag nog opsoek was na ‘n kamer waar hy kan oorbly vir die nag maar sonder sukses. Dit lyk of niemand enige kamers beskikbaar het nie. “Ek neem aan dit moet seker my gesig wees…… ek weet dit lyk afskuwelik, maar my dokter reken met nog ‘n paar behandelings…………” Vir ‘n oomblik het ek nog geaarsel maar sy volgende woorde het my oortuig. “Ek kan sommer in die skommelstoel hier op die stoep slaap. My bus vertrek baie vroeg môre oggend.” Ek het aan hom gesê al die kamers is vol maar ons sal vir hom ‘n plekkie kry om te slaap, hy moet solank bietjie sit en rus.

Ek het teruggegaan kombuis toe en klaar gemaak met die aand ete. Nadat die ete klaar voorberei is het ek die ou man genooi om by ons aan te sluit vir ete. Hy het ‘n bruin papiersak in die lug gehou met die woorde “Nee dankie, ek het heeltemal genoeg hier.” Nadat ek klaar die skottelgoed gewas het, het ek saam met die ou visser op die stoep gesit om so bietjie met hom te gesels. Dit het nie lank geneem om agter te kom dat die ou man ‘n hart so groot soos ‘n huis het wat ingeprop is in die tenger liggaampie nie.

Hy vertel my dat hy visvang vir ‘n lewe om sy dogter, haar vyf kinders en man, wat hopeloos verlam is vanweë ‘n rugbesering, te onderhou. Hy het dit aan my vertel nie op ‘n wyse om simpatie te ontlok of hom jammer te kry nie, in teendeel, baie gereeld begin sy sinne met sy dankbaarheid teenoor God vir die seëninge wat hy ontvang. Hy was baie dankbaar dat hy geen pyn het met die siekte wat hom aantas nie, blykbaar is dit ‘n tipe velkanker. Hy dank God vir die krag wat hy ontvang het om voort te gaan ten spyte van die siekte.

Teen slapenstyd het ‘n opvou bedjie in die kinders se kamer vir hom opgemaak. Die volgende oggend, dou voor dag, was die bedlinne netjies opgevou op die voetenent van die bed en die ou visser het reeds op die stoep gesit. Hy het geweier om enige ontbyt te eet maar net voor sy vertrek om sy bus te haal, verpoos hy ‘n oomblik asof hy ‘n groot guns het om te vra. “Kan ek volgende keer wanneer ek weer kom vir die volgende behandeling hier kom bly? Ek sal jou glad nie verontrief nie. Ek kan net so goed in ‘n stoel slaap.” Hy het so oomblik geaarsel en bygevoeg, “Jou kinders het my baie tuis laat voel. Grootmense word ontstel deur my gesig maar vir die kinders pla dit in die minste.” Ek het aan hom gesê hy is welkom om weer te kom.

Met sy volgende besoek was die ou visser net na sewe die oggend by die huis. As ‘n geskenk het hy ‘n groot vis en ‘n klompie van die grootste oesters wat ek in my lewe gesien het vir ons gebring. Hy het gesê dat hy die oesters die oggend gaan kry voordat hy vertrek het sodat hulle nog lekker en vars is. Ek weet dat hy reeds om vier uur die oggend die bus gehaal het en ek wonder hoe laat moes hy opstaan om nog eers die mossels te kry.

In die jare wat kom het hy gereeld by ons oorgebly maar daar was nooit ‘n geleentheid wat hy nie iets saamgebring het soos ‘n vis, oesters of vars groente uit sy tuin nie. Ander kere het ons pakkies in die pos gekry of per spesiale aflewering: vis en oesters verpak in ‘n doos vol vars spinasie, elke blaartjie netjies gewas.
Omdat ek weet hoe swaar hy gekry het en dat hy vyf kilometer moet stap na die naaste pospunt toe het dit die geskenkies net soveel meer waardevol gemaak.

Wanneer ek die geskenkies ontvang dink ek onwillekeurig aan die kommentaar van die bure langs my nadat die ou visser die eerste oggend vertrek het. ”Het jy daardie man wat so verskriklik lyk gehuisves laas nag? Ons het hom weggewys. Jy kan huurders verloor deur so ‘n persoon te huisves.” Miskien het ons so een of twee keer huurders verloor. Maar ai, as hulle hom tog maar net geken het sou die las van hulle siekte wat hulle dra soveel makliker gewees het. Ons familie sal altyd dankbaar wees dat ons hom geken het – van hom het ons geleer wat dit beteken om die slegte te aanvaar sonder om te kla en die goeie met dankbaarheid teenoor God vir ons seëninge.

Onlangs het ek ‘n vriendin besoek wat ‘n kweekhuis het. Terwyl sy my al haar pragtige blomme wys kom ons by die mooiste blom van almal, ‘n goue krisant, wat oortrek is van die blomme. Maar tot my grootste verbasing het dit gegroei in ‘n ou geroeste emmer. Ek het by myself gedink, “As dit my plant was, sou ek dit in die mooiste blompot gesit het wat ek kan kry.”

My vriendin het gou my gedagtes verander, “Ek het kort gehardloop aan potte om in te plant.” verduidelik sy “maar omdat ek geweet het hoe pragtige blom die is het ek gedink dit sal nie omgee om te begin in ‘n ou geroeste emmertjie nie. Dis in elk geval net vir ‘n kort rukkie totdat ek dit uitplant in die tuin.”

Sy moes seker gewonder het hoekom ek skielik so verblydend gelag het, maar ek het in my geestesoog dieselfde prentjie gesien in die hemel. “Hier is ‘n besonderse pragtige een,” sou God seker gesê het toe Hy by die siel van die lieflike ou visserman kom. “Hy sal nie omgee om te begin in die klein tenger liggaampie nie.”

Dit alles het lank gelede gebeur – en nou, in God se tuin, hoe “groot” moet die lieflike siel nie al staan nie.
Laat ons almal die inhoud sien en nie die houer nie.

(1Sam 16:7) Maar die HERE sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die mens sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.

Saturday, January 5, 2008

‘n Vader se Belofte

Negentien jaar gelede (7 Desember 1988) het ‘n 6.9 aardbewing gevolg deur ‘n 5.8 na-skok Armenia feitlik gelyk gemaak en oor die 45 000 mense het gesterf in minder as vier minute.
Dit is moeilik om jouself voort te stel die wroeging, pyn en leiding wat begin het in die kortstondige vier minute – mense se hele wêreld is omgekeer en lewens verwoes. Ten spyte van die verwoesting bring sulke tragedies soms die beste in mense na vore – dit voorsien ‘n venster om die inhoud van elke een se hart te sien. Laat my toe om jou die hart te wys van ‘n liefdevolle vader.

Te midde van die chaos en verwoesting het hy gejaag na sy seun se skool. In plaas van ‘n skool het hy slegs ‘n vormlose ruïne van steen, klip, hout en sink aangetref waar die skool eens gestaan het. Dink jouself in wat het deur sy gedagtes gegaan. Wat sou op daardie stadium deur jou gedagtes gegaan het? Moontlik sou skok jou ook so verlam het soos die ander ouers wat in ‘n dwaal op die perseel rondgestaan het en droefgeestig na hulle kinders geroep het terwyl ‘n groot benoudheid hul oorval het. Maar in die geval van die vader, het die verwoeste gebou hom aangespoor om tot aksie oor te gaan. Hy hardloop na die agterste hoek van die gebou waar sy seun se klaskamer voorheen was en hy begin onmiddellik te grawe. Hoekom? Watse hoop het hy gehad? Wat was die kanse dat sy seun so ‘n verwoesting kon oorleef? Al wat hy geweet het is dat hy sy seun belowe het dat hy altyd daar sal wees vir hom. Dit was die belofte wat krag aan sy liggaam voorsien het en hom geestelik gemotiveer het.

Terwyl hy begin het om te grou het wel menende ouers hom probeer wegkry by die rommel met die woorde: “Dit is te laat!” “Hulle is dood!” “Jy kan niks meer vir hulle doen nie!” “Jy kan hulle nie help nie!” “Gaan huis toe!” Die hoof van die brandweer het hom ook probeer wegkry en hom meegedeel: “Brande en ontploffings vind oral plaas. Jy verkeer in groot gevaar. Gaan huis toe!” Ten einde laaste het die polisie opgedaag en aan hom gesê, “Jy is kwaad, getraumatiseerd, maar dit is verby. Gaan nou eerder huis toe.” Maar die vader het ‘n belofte gemaak en hy was vas van plan om daarby te hou!

Die liefde wat die vader in sy hart gehad het vir sy seun het hom aanhou laat grou vir agt … 12…. 24…. 36 ure. Toe, in die 38ste uur rol hy ‘n groot stuk beton rotsblok weg en hoor sy seun se stem wat roep om hulp. Dadelik roep hy, “ARMAND!” Die seun roep terug, “Pa!? Ek het hulle gesê! Ek het die ander kinders gesê dat as pa nog leef sal hy my kom red! Jy het belowe dat jy altyd daar sal wees vir my en jy het jou belofte gehou!

‘n Vasbeslote vader, ‘n belofte en ‘n rotsblok wat weggerol word om lewe te onthul en vryheid te skenk. Die verhaal van Armand se vader herinner ons aan die gebeure wat plaasgevind het by die graf van ons Verlosser toe ons Hemelse Vader ‘n baie groter belofte gehou het deurdat Hy ‘n rotsblok van nog groter betekenis weggerol het.
Met die wegrol van die steen het daar vir ons ewige lewe gekom en ware vryheid in Christus.
En weet julle wat? Ons Hemelse Vader is nog steeds in die besigheid van die wegrol van klippe.

Wat is die klippe in jou lewe?
Dit maak nie saak hoe groot of hoe klein hulle is nie ons Vader is nou op soek na jou. Hy soek deur die rommel en ruïnes van lewens wat nie vir Hom geleef word nie en Hy wil die rotse wegrol van wanhoop en slaweband wat jou bind.

Mag jy onthou of miskien vir die eerste keer ontdek dat ons God die grootste beloftes ooit gemaak het en Hy is oorvloediglik in staat om hulle almal na te kom net soos Hy die baie spesiale belofte aan Sy Seun nagekom het so twee duisend jaar gelede.

(Han 13:37) maar Hy wat deur God opgewek is, het geen verderwing gesien nie.
(Han 13:38) Laat dit dan aan julle bekend wees, broeders, dat deur Hom vergifnis van sondes aan julle verkondig word,
(Han 13:39) en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die wet van Moses nie geregverdig kon word nie.

Thursday, January 3, 2008

Die Eend en die Duiwel….

‘n Jong seun het by sy ouma en oupa gaan kuier vir die vakansie op hulle plaas. Oupa het vir hom ‘n kettie gegee om in die woud mee te skiet en te speel. Hy het gereeld in die woud gaan oefen op al wat ‘n teiken is maar hy kon nooit die teiken raak skiet nie.
So bietjie moedeloos met sy mislukking om ‘n teiken raak te skiet gaan hy maar huis toe vir aand ete.

Terwyl hy so terug loop huis toe sien hy ouma se troetel eend en sonder om te dink laat waai hy met die kettie en skiet die eend teen die kop morsdood.

Hy was so geskok (dat hy die eend raakgeskiet het terwyl hy nie eens ‘n teiken kan tref nie) en baie hartseer oor ouma se troetel eend.
Vrees bevange steek hy toe die dooie eend weg onder die hout hoop in die agterplaas net om te sien dat sy suster hom die hele tyd dopgehou het.

Sarie het alles gesien maar nie ‘n woord gesê nie. Na middag ete die volgende dag sê ouma vir Sarie, “Sarie laat ons gou die skottelgoed was.”
Maar Sarie sê, “Ouma, Jannie het vir my gesê dat hy graag in die kombuis wil help.” Voordat Jannie nog iets kon uitkry fluister Sarie vir Jannie, “Onthou die eend?”
So Jannie het maar help skottelgoed was.

Later die dag vra oupa of die kinders saam met hom wil gaan visvang maar ouma sê sy het vir Sarie nog om te help met die voorbereiding van aand ete.
Sarie het net geglimlag en gesê, “Dit is alles reg want Jannie het vir my gesê dat hy wil graag bly en vir ouma help.”
Sy fluister weer vir Jannie, “Onthou die eend?”
So het Sarie saam met oupa gaan visvang terwyl Jannie vir ouma gehelp het.

Na ‘n paar dae wat Jannie al sy take en Sarie sin moes verrig kon hy dit nie langer uithou nie. Hy het na ouma toe gegaan aan haar erken dat hy per ongeluk haar troetel eend dood geskiet het.

Ouma het afgebuk en hom ‘n drukkie gegee en aan hom gesê, “Skattebol, ek weet. Jy sien ek het by die kombuis venster gestaan en alles gesien maar omdat ouma lief is vir jou het ek jou reeds vergewe. Ek het net gewonder hoe lank gaan jy toelaat dat Sarie ‘n slaaf van jou maak.”

Gedagte vir die dag en elke dag hierna….

Wat ookal in jou verlede is, wat jy ookal gedoen het ..(lieg, verkul, vrees, woede, haat, slegte gewoontes, bitterheid, ens.)
Die duiwel bly dit die heeltyd voor jou kop gooi.
Wat dit ookal is jy moet weet dat God by die venster gestaan het en reeds alles gesien het.
Hy het jou hele lewe gesien.
Hy wil hê dat jy moet weet Hy is lief vir jou en dat jy vergewe is.
Hy wonder net hoe lank gaan jy toelaat dat die duiwel ‘n slaaf maak van jou.
Die wonderlikste ding van God is dat as jy Hom vra om jou te vergewe.
Vergewe Hy nie net nie maar vergeet ook.
Dit is deur God se barmhartigheid en genade dat ons gered word.