Friday, November 16, 2007

Hulle Wil My Nie Toelaat Nie.

Dit was ‘n pragtige Sondag oggend. Mense was besig om die kerk binne te stroom en die kerk banke was byna almal gevul. Soos wat die mense inkom ontvang hulle by die deur ‘n traktaatjie met al die aankondigings, opsomming van vandag se preek, watter liedere word gesing en vir wie moet voorbidding gedoen word.

Aan die einde van die ry staan ‘n ou man. Sy klere was vuil en jy kon gou agterkom dat hy vir ‘n paar dae nie gebad of geskeer het nie. Toe hy by die diaken by die deur kom, haal hy die flenter bruin hoed van sy kop af, uit respek. Sy hare was lank, vuil en deurmekaar. Sy skoene was ou vellies wat vol gate is en die voorste punt oopgesny is vir sy tone. Die diaken kyk hom op en af en sê, Uhm, jammer meneer, maar ek is bevrees ons kan jou nie laat inkom nie. Jy sal die orde in die diens kom ontstig en ons laat niemand toe wat die orde van die diens kan ontwrig nie. Ek is bevrees jy sal moet gaan.”

Die ou man kyk af na homself met ‘n uitdrukking van ongeloof op sy gesig. Hy plaas sy bruin flenter hoed terug op sy kop en draai om en loop.
Hy was baie hartseer aangesien hy vreeslik lief was daarvoor om te luister na die koor wanneer hulle lofliedere sing tot eer van God. Hy was veral lief daarvoor om na die klein kindertjies te luister as hulle voor in die kerk staan en hulle kinder lofliedere sing. In sy sak dra hy ‘n klein verweerde Bybeltjie en dit gee aan hom groot plesier om te sien of die predikant dalk ‘n stukkie lees uit die Bybeltjie wat hy dalk onderstreep het.
Maar hy was baie beleefd en wou nie moeilikheid veroorsaak nie en het net sy kop laat sak en weer die klompie trappies van die pragtige kerk afgeklim na die geplaveide voetpaadjie wat lei na die kerk.

Hy het op die steen muurtjie gaan sit naby die grens van die kerk en sy ore behoorlik gespits om te luister na die sang in die kerk deur die toe deure en ruite. Ag, hoe wens hy, hy kon daar binne wees saam met die res van die gemeente.

Na verloop van ‘n paar minute kom daar skielik agter hom ‘n jongman aan wat langs hom kom sit. Hy vra die ou man wat is hy besig om te doen? Hy antwoord, “Ek wou na die kerk toe gaan vandag, maar hulle dink ek is te vuil, my klere te oud en verweer en hulle was bang dat ek hulle diens sal ontstig.

Jammer, ek het myself nog nie voorgestel nie. My naam is Jan.” Die twee mans skud hande en Jan kan nie help om op te merk dat die man ook lang hare het soos hy. Hy dra ‘n lap oor sy liggaam en die is vasgemaak met ‘n konings blou band om sy middel. Hy het sandale aan sy voete, wat nou vuil en vol stof is.

Die vreemdeling raak Jan se skouer aan en sê, “Jan, moenie te sleg voel omdat hulle jou nie wil laat ingaan nie. My naam is Jesus, en ek probeer al vir jare om in die kerk te kom maar hulle wil my ook nie toelaat nie.”
(Heb 13:2) Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige, sonder om dit te weet, engele as gaste geherberg.

No comments: