Monday, March 17, 2008

Geskenk van Lewe


Baie jare gelede het ek gewerk as ‘n vrywilliger by die Stanford Hospitaal waar ek ‘n klein dogtertjie met die naam van Liza leer ken het. Sy het aan ‘n seldsame siekte gely en het dringend ‘n bloedoortapping benodig van haar vyfjarige boetie. Hy het wonderbaarlik dieselfde siekte oorleef as sy sussie en het teenliggame ontwikkel wat nodig is om die siekte te beveg.

Die dokter het die situasie aan haar jong boetie verduidelik en die seun gevra of hy bereid is om sy bloed vir sy sussie te gee sodat sy gesond kan word. Ek het gesien dat hy vir ‘n oomblik huiwer voordat hy diep asemhaal en sê, “Ja, ek sal dit doen as dit vir Liza sal red.”

Soos wat die oortapping vorder is daar glimlagte op almal se gesigte soos wat die kleur weer terugkeer in Liza se wange, ook op die gesig van haar boetie wat langs haar op die bed lê. Toe word sy gesig bleek en sy glimlag begin verdwyn.

Hy kyk op na die dokter en vra met ‘n bewerige stemmetjie, “Dokter, sal ek dadelik begin doodgaan?” Omdat hy so jonk was het hy die dokter heeltemal verkeerd verstaan en het gedink dat hy al sy bloed vir sy sussie moes gee.

(Joh. 15:13) Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee.

Friday, March 14, 2008

My Wêreld het Verander


Die kollege het gesluit vir die Desember vakansie en was baie ingenome om ‘n kinderoppasser werk te kry vir die vakansie.
Ek het die vier en ‘n half jarige dogtertjie, Maddie, opgepas. Ek en Maddie het elke dag na middag ete parkie toe gegaan. Sy was versot op die swaaie en glyplank en sy kon ure speel op die twee apparate.
Sy was ‘n baie goedhartige kind en het my telkens verras deur haar liefde vir ander mense. Beide haar ouers was dieselfde – hulle het altyd so ‘n heerlike rustigheid omtrent hulle – ek het altyd gewonder hoekom hulle so anders is.

Op ‘n dag toe ek vir Maddie op die swaai stoot hoor ons ‘n klompie kinders uitbundig lag. Ons sien toe die groepie kinders is almal versamel rondom een van die park bankies. Maddie wou ophou swaai en gaan kyk waarvoor die klompie kinders so lag. Ons stap toe oor na die groepie kinders en met die kom een van die seuntjies aangehardloop en sê: Kom kyk na hierdie snaakse ou vrou! Sy is vuil, stink en sit en huil!”

Maddie ignoreer die seuntjie en stap na die bankie waar die ou vrou sit. Sy het gelyk of sy so ongeveer sestig jaar oud kan wees maar sy kon maklik ook heelwat jonger gewees het. Dit het gelyk of die lewe haar baie stief behandel het en dat sy al baie swaarkry gesien het in haar lewe. Die seuntjie was reg, sy het gestink en was baie vuil gewees.

My onmiddellike gedagte was om Maddie aan die hand te gryp en te maak dat ons wegkom van die vrou af. Voordat ek nog iets kon doen was Maddie klaar by die bankie en het haar tuisgemaak langs die vrou en haar hand vasgehou.
Die vrou het afgekyk na Maddie en geglimlag. Vir ‘n paar oomblikke was die vrou glad nie meer vuil en onwelriekend nie maar mooi. Al die ander kinders het uiteindelik geloop en Maddie het die vrou ‘n drukkie gegee en ook geloop.

Oppad huis toe het Maddie ‘n vrolike deuntjie geneurie, haar ou gewone gelukkige self, met nie ‘n enkele sorg in die wêreld nie.
Ek het gewag dat sy iets oor die ou vrou moes sê, maar nie ‘n enkele woord nie. Uiteindelik, toe ons by die huis kom kon ek dit nie meer uitstaan nie. Ek gaan na Maddie en vra haar, “Maddie, hoekom het jy dit gedoen?” “Wat gedoen Julie?” vra sy. Ek sê, “Hoekom het jy na die ou vrou gegaan en haar hand vasgehou? Al die ander kinders het of vir haar gelag of was bang vir haar, maar nie jy nie, jy het langs haar gaan sit!”

Maddie kyk na my en sê, “Julie, Jesus sou nie daardie ou vrou so behandel het nie. Almal het gelag en Jesus net so behandel soos die klomp gemaak het met die ou vrou en kyk wat het Hy gedoen! Hy het op die kruis vir ons gesterf. Elke keer wat ek so iemand sien wat bespot word gaan ek altyd na hulle toe en vertel hulle dat Jesus lief is vir hulle. Dit laat my altyd beter voel!”

Hier staan ek – ‘n twintig jarige kollege student – veronderstel om geleerd te wees. Maar hier is ‘n 4 en ‘n halfjarige dogtertjie wat soveel meer as ek weet. Dit is wat haar so anders gemaak het!! Dit was Christus.
Jesus ons Messias het na hierdie koue, vuil wêreld gekom en is vertrap, bespot, gegesel en steeds het Hy vir ons gesterf. Ek het die dag verander en die wêreld lyk nou heel anders vir my. Net omdat ‘n vier en ‘n halfjarige dogtertjie vir my gewys het wat dit regtig beteken om lief te hê.

Wednesday, March 12, 2008

Ouma se Hande


Ouma, so negentig plus jare oud, het kragteloos op die stoep bank gesit. Sy het nie beweeg nie, net daar gesit met geboë hoof en gestaar na haar hande. Toe ek langs haar gaan sit het dit nie eens gelyk of sy my opgemerk het nie en ek het gewonder of sy in die haak is.

Uiteindelik, nie soseer om haar te pla nie maar om net te hoor of sy reg is vra ek haar, Is alles reg? Sy lig haar kop op en glimlag vir my. “Ja, my kind, ek is reg en dankie dat jy vra.” Antwoord sy in ‘n sterk helder stem.

“Ek het nie bedoel om ouma te pla nie, maar ouma het so ingedagte na ouma se hande gestaar en ek wou net seker maak alles is nog reg.” verduidelik ek aan haar.

“Het jy al ooit na jou hande gekyk,” vra sy. “Ek bedoel regtig na jou hande gekyk?”

Ek het stadig my hande oopgemaak en afgekyk na hulle. Ek het hulle omgedraai, palms op en toe na onder. Nee, ek skat ek nog nooit regtig so intens na my hande opgelet nie terwyl ek probeer bepaal wat die punt is wat ouma wil maak.

Ouma glimlag en begin die storie te vertel: “Stop en dink vir ‘n oomblik na oor die hande wat jy het, hoe goed hulle jou al gedien het deur al die jare van jou lewe. Die hande, alhoewel vol plooie, bewend en swak is en was die gereedskap wat ek deur my hele lewe gebruik het om die lewe aan te gryp en te omhels.”


“Hulle het gekeer en my val gestuit as kleuter elke keer wat ek gestruikel of geval het. Hulle sit kos in my mond en trek vir my klere aan. As ‘n kind het my moeder my geleer om hulle saam te hou in gebed. Hulle het my skoene vasgemaak en my stewels opgetrek. Hulle het my man vasgehou en my trane afgedroog to hy weg is oorlog toe.”

“Hulle was al vuil, vol skrape, rou van wonde, geswel en gebuig. Hulle was dom en onervare toe ek my pasgebore seun wou vashou. Versier met my trouring het hulle vir die hele wêreld gewys dat ek getroud is en iemand spesiaal lief het. Hulle het my briewe aan hom geskryf en gebewe en geruk toe ek my ouers en my eggenoot begrawe het.”

“Hulle het my kinders en my kleinkinders vasgehou, my bure vertroos en in ‘n vuis geskud van woede wanneer ek nie verstaan nie.”

“Hulle het my gesig bedek, my hare gekam en die res van my liggaam gewas en gereinig. Hulle was taai en nat, gebuig en gebreek, uitgedroog en gebars. En tot op hede wanneer die meeste van my nie meer so lekker funksioneer nie hou hierdie hande my op, lê my neer en steeds is hulle gevou in gebed.”

“Die hande is die kenteken van waar ek oral was en die hardheid van die lewe. Maar die belangrikste, dit sal die hande wees waarna God sal uitreik en neem wanneer Hy my huistoe lei. Met my hande sal Hy my optel aan Sy sy en daar sal die ek die hande gebruik om die aangesig van ons Verlosser aan te raak.”

Ek sal nooit weer na my hande op die dieselfde wyse kyk nie. Maar ek onthou dat God uitgereik het en ouma se hande geneem het en haar huistoe gelei het.

Wanneer my hande vol pyne of seer is of wanneer ek die gesigte van my kinders of my man streel dink ek aan ouma. Ek weet sy is gestreel, vertroetel en vasgehou deur die hande van God

Ek self, wil die aangesig van God aanraak en Sy hande voel op my gesig.

(Psa 28:2) Hoor die stem van my smekinge as ek U aanroep om hulp, as ek my hande ophef na die binneste van u heiligdom.

Monday, March 10, 2008

God Weet Waar jy Is


Glo jy dat God jou nie net lief het nie maar ook weet presies waar jy is en wat jy elke sekonde van die dag doen?

Ek glo dit verseker na ‘n verstommende gebeurtenis wat ek so paar jaar gelede gehad het. Op daardie stadium het ek en my gesin gery op die snelweg naby Dayton, Ohio. Ons het van die snelweg afgedraai om ‘n breuk te vat en bietjie verversings te koop vir die pad. My vrou Barbara en die kinders het solank aangestap na die restaurant. Ek het skielik ‘n geweldige behoefte ondervind om net bietjie te stap en bene te rek en het vir die vrou en kinders beduie hulle moet solank ingaan ek is nou-nou by hulle. Ek het solank vir my ‘n koeldrank gekoop en verby die motorhawe gestap. Gedagtes van selfbejammering het my gedagtes omvou. Ek is lief vir God, maar ek het leeg gevoel en was swaarmoedig. My beker was leeg.

Skielik ruk die aanhoudende gelui van ‘n naby geleë telefoon my uit my neerslagtige gedagtegang. Dit kom vanaf ‘n telefoonhokkie langs die motorhawe. Was niemand van plan om die telefoon te antwoord nie?

Die geraas van die voertuie by die besige kruising het seker die gelui van die telefoon so verdoof dat die petroljoggie nie die telefoon gehoor het nie, want hy het net aangegaan om sy kliënte te bedien. Min gepla deur die luiende telefoon.

“Hoekom antwoord iemand tog nie die telefoon nie.” Het ek so onderlangs gemompel. Ek het by myself begin redeneer. “Dit mag dalk belangrik wees. Wat as dit ‘n noodgeval is?”

My nuuskierigheid was baie sterker as my argelose houding. Ek het in die telefoon hokkie ingegaan en die foon opgetel.

“Hello,” het ek baie kalm geantwoord terwyl ek ‘n lekker sluk van my koeldrank neem. Die operateur sê: “Lang afstand oproep vir Ken Gaub.”

My oë rek en ek verstik amper aan ‘n stuk ys. Terwyl ek vinnig sluk sê ek, “Jy is seker laf!” Ek besef toe dit is seker nie die regte manier om met die operateur te praat nie voeg ek by, “Dit kan nie wees nie! Ek het net hier verby geloop, niemand gepla nie en die telefoon het net aanhou lui…. “Is Ken Gaub daar?” val die operateur my in die rede, “Ek het ‘n lang afstand oproep vir hom.”

Dit het my ‘n oomblik geneem om beheer te kry oor my gebabbel, maar eindelik antwoord ek, “Ja, hy is hier.”

Terwyl ek wonder oor moontlike verduidelikings en of dit nie een of ander gekskeerdery is nie, vra ek, “Hoe op aarde het jy my in die hande gekry? Ek het toevallig hier verbygeloop terwyl die telefoon gelui het en het dit per toeval beantwoord. Jy is seker nie ernstig nie?”
“Wel,” vra die operateur , “is Mnr Gaub daar of nie?” “Ja, ek is Ken Gaub,” sê ek terwyl ek oortuig is deur haar stemtoon dat die oproep nie ‘n gekskeerdery is nie. Toe hoor ek ‘n ander stem aan die anderkant sê, “Ja , dis hy, skakelbord. Dit is ken Gaub.”

Stomgeslaan luister ek na ‘n vreemde stem wat haarself identifiseer. “Ek is Millie van Harrisburg, Pennsylvania. Jy ken my nie, Mnr Gaub, maar ek is desperaat. Help my asseblief.”

“Wat kan ek vir jou doen?”

Sy begin te huil. Na ‘n rukkie herstel sy en gaan aan. “Ek was op die punt om selfmoord te pleeg, het net klaar ‘n briefie geskryf, toe ek begin om te bid en vir God te vertel dat ek dit nie graag wil doen nie. Toe onthou ek skielik dat ek jou op televisie gesien het en dink by myself, as ek net met jou kan praat, sal jy my kan help. Ek het geweet dit is onmoontlik aangesien ek nie geweet het hoe om jou in die hande te kry nie. Ek weet nie van enige een wat my kon help om jou op te spoor nie. Skielik het ‘n klomp syfers in my gedagtes gekom en ek het dit vinnig neergeskryf.

Op die stadium het sy weer begin huil en ek het saggies gebid dat Vader vir my die wysheid moet gee om haar te help. Sy het aangegaan, Ek het na die nommers gekyk en by myself gedink, ‘Sou dit nie wonderlik wees as God aan my ‘n wonderwerk toestaan en aan my Ken se telefoon nommer kan gee nie.’ Ek het besluit om te probeer om die nommer te bel. Ek kan nie glo ek praat met jou nie. Is jy in jou kantoor in Kalifornië?

Ek antwoord toe, “Dame, ek het nie ‘n kantoor in Kalifornië nie. My kantoor is in Yakima, Washington.”

Effens verbaas vra sy, “Oh regtig, nou waar is jy dan nou?” “Weet jy nie?” vra ek. “Jy is die een wat die oproep gemaak het.”

Sy verduidelik, “Maar ek weet nie eens wat is die area wat ek geskakel het nie. Ek het net die nommer gelui wat ek op die papier geskryf het.”

“Dame, jy sal dit nie glo nie maar ek is in ‘n telefoon hokkie in Dayton, Ohio!”

“Werklik?” roep sy uit. “Wel, nou wat doen jy daar?”

Ek maak ‘n klein grappie met haar, “Wel, ek antwoord die telefoon. Dit het gelui toe ek verbyloop en toe antwoord ek dit maar.”

Wetende dat die ontmoeting slegs deur God beskik kon word, het ek begin om vir die vrou berading te gee. Terwyl sy my vertel van haar wanhoop en frustrasies het die teenwoordigheid van die Heilige Gees die telefoon hokkie oorspoel en aan my woorde van wysheid gegee bo my eie vermoë. Binne ‘n paar minute het sy die gebed van die sondaar gebid en die Een ontmoet wat haar uit die situasie sou lei na ‘n nuwe lewe.

Ek het weggestap van die telefoon hokkie met ‘n grootse gevoel van ons hemelse Vader se bekommernis oor elke kind van Hom. Wat is die astronomiese kanse dat dit kan gebeur? Met al die miljoene telefone en die onberekenbare kombinasies van nommers, is dit slegs ‘n Alwetende God wat veroorsaak het dat die vrou die nommer van die telefoon hokkie op die presiese oomblik gebel het.

Terwyl ek skoon my koeldrank in die hokkie vergeet het en ek wat wil bars van opgewondenheid, stap ek terug na my gesin terwyl ek wonder of hulle die storie sal glo. Miskien moet ek hulle maar liewers nie vertel nie, maar ek kon myself nie keer nie. “Barbara, jy sal dit nie glo nie! God weet presies waar ek is!”

(Jer. 33:3) Roep My aan, en Ek sal jou antwoord en jou bekend maak groot en ondeurgrondelike dinge wat jy nie weet nie.

Friday, March 7, 2008

Watse Kruikie is Jy


Hoe baie keer het ek en jy nie al gebid, “Vader U is die Pottebakker en ek die klei, vorm my en maak my volgens U wil. Maak van my ‘n kruik of potjie wat diensbaar is in U Koninkryk” of die liedjie gesing – “Doen slegs U wil Yah, U wil met my. U Pottebakker, met my,die klei, vorm my en maak net soos U wil. Op U slegs wag ek needrig en stil.”
Om dit te bid en te sing beteken tog ons moet op ‘n staduim gaan stilstaan, omdraai en kyk – watse kruikie of potjie het Vader van my gemaak en is ek diensbaar in Sy koninkryk?

Vader het dit nie bestem dat ons ons hele lewe as ‘n hoop klei op die draaitafel bly staan nie. Hy het van ons ‘n kruikie gemaak, ons moet net die moeite doen om uit te vind watter soort kruikie ek is.
As jy weet wat is die gawe wat jy in jou kruikie dra is dit baie makliker om uit te deel aan hulle wat daardie gawe nodig het, want hoe kan jy iets uitdeel as jy nie weet wat is in jou kruik nie.

Sommige van ons het groot kruike, ander middelslag kruike en sommige klein potjies, die een nie minder belangrik as die ander nie. Sommige gawes het net ‘n groot kruik nodig om in te pas en vir ander is ‘n klein potjie heeltemal voldoende.

Watse tipe kruik of potjies kan ons moontlik wees?

Die groot waterkruik waarin die water opgegaar word vir die moeë reisiger wat by jou verbykom en vir wie jy verfris met die heerlike water van die lewe wat Vader met jou gedeel het.

Die waterkruik wat die jong saailinge op die land moet voed met die lewegewende water wat in jou kruik geberg is.

Die kruik waarin die Saaier Sy saai bêre om dit te saai op die regte tyd in die saailand van die lewe.

Die kruike gevul met Kana wyn, wat eens water was, om die gaste by die bruilof te verbly.

Die kruik wat gevul is met Skrif rolle, soos die waarin die Dooie See rolle ontdek is, om ander te leer van die Woord van Vader.

Die kruik gevul met meel om brood mee te maak en die wat honger het te voed.

Kruik wat gevul is met geld en rykdomme van die lewe om daardeur ook die armes van jou volk en die weduwee en die wese te help versorg en hul nood te verlig.

Die kruik waarin die olie vir die lampe in gestoor word ten einde lig te voorsien vir die reisigers op die lewenspad.

Die kruik waarin olie vir die maak van die kos in gestoor word, want dit is ‘n noodsaaklike bestandeel vir die maak van die brode om die ander mee te voed.

Die potjie waarin die salfolie gehou word om die hoof te salf en wat dien as teken van seëning en blydskap en dien as beskerming teen die son en hitte.

Die potjie met die medisyne salf wat ons plaas op die wonde van ons medemens om hul te genees en te versterk.

So kan ons sekerlik aan vele kruike en potjies dink waarin die beste van die lewe gestoor word wat ons ontvang het uit die Hand van God en waarvan ons opdrag ontvang het om uit te deel aan ons medemens.

Buiten die probleem dat ons soms nie moeite doen om uit te vind watse kruikie ek is nie of om die hand in die kruikie te steek en uit te deel aan hulle met wie ons in aanraking kom nie is die ander gevare dat mense soms nie tevrede is met hul kruikie nie.
Op hul eie begin hulle om die kruikie te versier met ekstra handvatsels en allerhande patrone op te verf sodat hul kruikie mooier vertoon as die ander se kruikie.

Die kruikie vertoon later so mooi van buite dat hulle nie meer toelaat dat daar iets in die kruikie gegooi word nie omdat hulle te bang is dit beskadig die kruikie – dit word later ‘n vertoonstuk en nie meer ‘n werkstuk nie.

Het jy al die moeite gedoen om uit te vind watse kruikie of potjie jy is?
Het jy jou kruikie of potjie al so versier dat dit ‘n vertoonstuk geraak het en nie meer ‘n werkstuk nie?

Wednesday, March 5, 2008

Nie Meer vir My Nie


“Ek is jammer. Verskoon my tog asseblief! Ek wil julle nie ophou nie,” sê ou omie terwyl hy sukkel of van die roltrap af te kom.
Ek moet erken. Daar was tye wat ek baie ongeduldig en ergerlik geraak het wanneer ek agter ‘n ouer persoon geloop of gery het. Met ‘n spoed is ek by hulle verby terwyl ek so ‘n verwytende kyk sydelings na hulle rigting gee.
Miskien merk ek dit deesdae meer op omdat ek myself in die posisie sien binne die afsienbare toekoms. Vandag het ek myself in die ou omie se skoene gesien en dit het my verplig om bietjie te verpoos en om hom om verskoning te vra.

Hy was omtrent so 5 of 6 mense voor my op die roltrap. Ek was baie haastig en het die ou omie gesien as ‘n struikelblok in my pad. Ek het al mense gesien wat sodra hulle afklim van die roltrap in hulle voetspore gaan vries en eers hulle pakkies bymekaar maak voordat hulle aanstap en sommer gou is daar ‘n opeenhoping van mense wat maar redelik vies en ongeskik kan raak. Jy kan nie ‘n roltrap vol mense skielik agter jou stop nie, hulle bly kom soos ‘n wors masjien.

Die ou omie was terdeë bewus van die uitdaging. Hy het sy bes probeer om so bietjie sywaarts te staan terwyl hy sukkel met sy inkopie sakkies en om sy balans te herwin. Jy kon sien dat dit vir hom baie moeite en inspanning geverg het. “Ek is jammer. Verskoon my tog maar asseblief! Ek wil julle nie ophou nie,” sê hy terwyl hy sukkel om van die roltrap af te kom.

Ek het die hele gedoente in ‘n nuwe lig ervaar. Dit was asof ek myself in die toekoms gesien het. Ek het jammer gevoel vir die ou omie. Ek het skoon ‘n siek gevoel op die krop van my maag gehad – hier moet die ou omie vir almal om verskoning vra terwyl ons eintlik veronderstel is om hom te help en sy vrese te help oorkom.

Een vir een, blits die mense om hom. Ek het ‘n paar onvleiende aanmerkings gehoor terwyl een dame vinnig by hom verbyskuur.

Teen die tyd wat ek by hom uitkom het hy omtrent net mooi sy balans herwin.
“Ek is jammer. Ek het nie geweet hier is nog mense agter my nie” sê hy.

“Nee, oom. So haastig wil ek nie meer wees nie” sê ek. Dis toe wat ek eers werklik besef hoe tragies dit is dat die hele wêreld so gejaag is, my ingesluit, om nie vir ‘n oomblik stil te staan en ‘n ou omie te help nie. Maar …. So haastig wil ek nie meer wees nie.

My hart het uitgegaan vir hom toe ek in sy oë kyk. Ek wens ek kon alles gesien het wat hy al gesien het in sy leeftyd. Sy gesig is verweer deur die lewe self maar die lag plooie om die oë en mond vertel vir my dat hy al baie gelukkige oomblikke geniet het. Ja, ‘n gelukkige man.

“My vriend, kan ek jou help?” vra ek.
Hy was eers baie twyfelagtig maar sê toe later, “Ja, dit sal baie gaaf wees, dankie.”

Ek het my hand onder sy linker arm geplaas en stap met hom ‘n veilige afstand weg van die roltrap af en uit die mense verkeer om ons.

“Watse inkopies is daar nog wat oom wil doen?”

“Nog net so ietsie vir my buurvrou. Sy is ‘n jong vroutjie wat haar kinders op haar eie grootmaak. Sy is altyd so gaaf met my. Ek het gedink aan ‘n boks sjokolade vir haar met Moedersdag…” antwoord hy, terwyl hy skielik stop terwyl hy die binne sak van sy baadjie deursoek.

“Is oom opsoek na iets?” vra ek.

“Ah, nee. Hier. Ek dink ek het dit gekry. Ek dra dit altyd saam met my.” Sê hy terwyl hy ‘n handvol papiere uit sy sak haal en hulle vinnig deursoek vir die regte een en gee aan my sy besigheidskaartjie met die volgende woorde op.

“Jan K van Wyk - Vriend van almal – vyand van niemand!
Ek het vandag gebid en jy was die antwoord..
Baie Dankie!

“Dit is vir jou” sê hy. “Dankie dat jy gestop het en ‘n ou man gehelp het.”

“My vriend, dis ek wat vir jou moet dankie sê. Ek het ontdek dat ek ongelukkig is met die wêreld en dat ek deel was van die probleem. Nou wil ek deel wees van die oplossing. So haastig wil ek nie meer wees nie!”

Glimlaggende sê die omie, “Dan was dit bedoel om so te wees.”
“Jy weet God stuur geskenke aan my elke dag en altyd ten minste een spesiale persoon. Jy was my geskenk vir die dag! Kom ons gaan kry so bietjie sjokolade, my vriend.”

Monday, March 3, 2008

Rede, Seisoen of Leeftyd

Mense kom in jou lewe vir ‘n rede, ‘n seisoen of ‘n leeftyd.
Wanneer jy weet vir watter rede sal jy ook weet wat om te doen vir die persoon.

Wanneer iemand in jou lewe kom vir ‘n REDE, is dit gewoonlik om ‘n behoefte te vervul wat jy uitgespreek het.
Hulle het gekom om jou deur ‘n moeilike tyd te dra, om jou van raad en advies te bedien en jou te ondersteun op die fisiese, geestelike of emosionele vlak.
Hulle word baie keer beskou as ‘n antwoord op jou gebed.
Hulle is daar vir die rede wat jy hulle nodig het.
Dan, sonder dat jy enigsins die persoon te na gekom het of op ‘n ongeleë tyd sal die persoon iets sê of doen wat die vriendskap tot ‘n einde bring.
Soms het hulle afgesterf. Soms het hulle net weggestap van die vriendskap.
Soms doen hulle iets wat aanstoot gee en verplig jou om standpunt in te neem.
Ons moet besef dat ons behoefte vervul is, hulle werk is klaar in ons lewe.
Die gebed wat jy opgestuur het is beantwoord en dit is nou tyd om aan te beweeg.

Party mense kom in ons lewe vir ‘n SEISOEN, want jou beurt het aangebreek om te deel, te groei en om te leer.
Hulle bring aan jou ‘n ondervinding van vrede of laat jou lag.
Hulle kan jou moontlik iets leer wat jy nog nooit gedoen het nie.
Hulle verskaf gewoonlik aan jou ‘n ongelooflike ervaring van blydskap.
Glo dit, dit is waar. Maar slegs vir ‘n seisoen.

LEEFTYD verhoudings leer jou leeftyd lange lesse, dinge waarop jy moet bou ten einde ‘n soliede emosionele fondament daar te plaas.
Jou werk is om te leer uit die lesse, om die persoon lief te hê en om dit wat jy geleer het te gebruik in ander verhoudinge en areas in jou lewe.
Dit word gesê dat die liefde blind is maar vriendskap heldersiende.

Dankie dat jy deel is van my lewe, hetsy dit was vir ‘n rede, ‘n seisoen of ‘n leeftyd.