Wednesday, March 5, 2008

Nie Meer vir My Nie


“Ek is jammer. Verskoon my tog asseblief! Ek wil julle nie ophou nie,” sê ou omie terwyl hy sukkel of van die roltrap af te kom.
Ek moet erken. Daar was tye wat ek baie ongeduldig en ergerlik geraak het wanneer ek agter ‘n ouer persoon geloop of gery het. Met ‘n spoed is ek by hulle verby terwyl ek so ‘n verwytende kyk sydelings na hulle rigting gee.
Miskien merk ek dit deesdae meer op omdat ek myself in die posisie sien binne die afsienbare toekoms. Vandag het ek myself in die ou omie se skoene gesien en dit het my verplig om bietjie te verpoos en om hom om verskoning te vra.

Hy was omtrent so 5 of 6 mense voor my op die roltrap. Ek was baie haastig en het die ou omie gesien as ‘n struikelblok in my pad. Ek het al mense gesien wat sodra hulle afklim van die roltrap in hulle voetspore gaan vries en eers hulle pakkies bymekaar maak voordat hulle aanstap en sommer gou is daar ‘n opeenhoping van mense wat maar redelik vies en ongeskik kan raak. Jy kan nie ‘n roltrap vol mense skielik agter jou stop nie, hulle bly kom soos ‘n wors masjien.

Die ou omie was terdeë bewus van die uitdaging. Hy het sy bes probeer om so bietjie sywaarts te staan terwyl hy sukkel met sy inkopie sakkies en om sy balans te herwin. Jy kon sien dat dit vir hom baie moeite en inspanning geverg het. “Ek is jammer. Verskoon my tog maar asseblief! Ek wil julle nie ophou nie,” sê hy terwyl hy sukkel om van die roltrap af te kom.

Ek het die hele gedoente in ‘n nuwe lig ervaar. Dit was asof ek myself in die toekoms gesien het. Ek het jammer gevoel vir die ou omie. Ek het skoon ‘n siek gevoel op die krop van my maag gehad – hier moet die ou omie vir almal om verskoning vra terwyl ons eintlik veronderstel is om hom te help en sy vrese te help oorkom.

Een vir een, blits die mense om hom. Ek het ‘n paar onvleiende aanmerkings gehoor terwyl een dame vinnig by hom verbyskuur.

Teen die tyd wat ek by hom uitkom het hy omtrent net mooi sy balans herwin.
“Ek is jammer. Ek het nie geweet hier is nog mense agter my nie” sê hy.

“Nee, oom. So haastig wil ek nie meer wees nie” sê ek. Dis toe wat ek eers werklik besef hoe tragies dit is dat die hele wêreld so gejaag is, my ingesluit, om nie vir ‘n oomblik stil te staan en ‘n ou omie te help nie. Maar …. So haastig wil ek nie meer wees nie.

My hart het uitgegaan vir hom toe ek in sy oë kyk. Ek wens ek kon alles gesien het wat hy al gesien het in sy leeftyd. Sy gesig is verweer deur die lewe self maar die lag plooie om die oë en mond vertel vir my dat hy al baie gelukkige oomblikke geniet het. Ja, ‘n gelukkige man.

“My vriend, kan ek jou help?” vra ek.
Hy was eers baie twyfelagtig maar sê toe later, “Ja, dit sal baie gaaf wees, dankie.”

Ek het my hand onder sy linker arm geplaas en stap met hom ‘n veilige afstand weg van die roltrap af en uit die mense verkeer om ons.

“Watse inkopies is daar nog wat oom wil doen?”

“Nog net so ietsie vir my buurvrou. Sy is ‘n jong vroutjie wat haar kinders op haar eie grootmaak. Sy is altyd so gaaf met my. Ek het gedink aan ‘n boks sjokolade vir haar met Moedersdag…” antwoord hy, terwyl hy skielik stop terwyl hy die binne sak van sy baadjie deursoek.

“Is oom opsoek na iets?” vra ek.

“Ah, nee. Hier. Ek dink ek het dit gekry. Ek dra dit altyd saam met my.” Sê hy terwyl hy ‘n handvol papiere uit sy sak haal en hulle vinnig deursoek vir die regte een en gee aan my sy besigheidskaartjie met die volgende woorde op.

“Jan K van Wyk - Vriend van almal – vyand van niemand!
Ek het vandag gebid en jy was die antwoord..
Baie Dankie!

“Dit is vir jou” sê hy. “Dankie dat jy gestop het en ‘n ou man gehelp het.”

“My vriend, dis ek wat vir jou moet dankie sê. Ek het ontdek dat ek ongelukkig is met die wêreld en dat ek deel was van die probleem. Nou wil ek deel wees van die oplossing. So haastig wil ek nie meer wees nie!”

Glimlaggende sê die omie, “Dan was dit bedoel om so te wees.”
“Jy weet God stuur geskenke aan my elke dag en altyd ten minste een spesiale persoon. Jy was my geskenk vir die dag! Kom ons gaan kry so bietjie sjokolade, my vriend.”

No comments: