Thursday, October 25, 2012

Hou my ‘n bietjie vas.




O’ Vader, hou my troostend net so ‘n bietjie vas,
terwyl die ongekende vrees vanuit die wêreld duisternis my bewende
hart betas,
en sal U my siel in U bloed rein kom was,
want  kyk, so versmorend hou soveel swakhede my nog vas.

O’ Vader, hou in U Goddelike Genade, my styf teen U boesem vas,
en verlos ons van ons sware wêreldlas,
sodat ook ons in U grote legkaart net soos die verlore seun in ons tuiskoms in sal pas,
daar waar ons in ‘n ewige rus ons sal neervly op U groene hemelgras.

O’ Vader, hou my asseblief in U reine Waarheid stewig vas,
ja, tydens my verblyf in hierdie wêreld wat rondomtalie draai
op ‘n illusieleuen-as,
daar waar soveel geloofstrukture voed op elke leuen wat satan ontlas terwyl oneindig baie siele hulle weg na saligheid so na die ewige lewe verpas.

O’ Vader, ek is net ‘n kind wat in onsekerheid om my rondtas,
so, hou my asseblief teen U kosbare Vaderhart altyd styf vas,
terwyl U my teen alles wat so bang maak op sal pas,
en verlos my van my juk,  ja van my sware wêreldlas,
sodat ek as U kind reeds op hierdie aarde as ‘n weergeborene in my veilige hemelplekkie in sal pas.

Woensdag 24 Oktober 2012 07:05  
Judith de Beer

Wednesday, October 17, 2012

Een Pond Botter




Daar was ‘n boer wat daagliks aan die bakker een pond botter gelewer het, wat hy gebruik vir sy brode wat hy bak. Op ‘n dag besluit die bakker om die botter te weeg om seker te maak dat die boer wel een pond botter aan hom voorsien. Hy het gevind dat die botter minder as een pond geweeg het. Hy was briesend omdat die boer hom ingeloop het met die gewig van die botter en het hom voor die hof gedaag.

Die regter vra die boer of hy ‘n skaal het wat hy gebruik. Die boer antwoord, “Agbare regter, ek boer baie primitief en het nie ‘n skaal wat die gewig van die produk aandui soos die nuwerwetse skale soos wat die bakker gebruik nie, maar ek het ‘n ou weegskaal waar jy die produk aan die een kant in die bak sit en aan die anderkant plaas jy ‘n spesifieke gewig en kyk dat die twee balanseer.”

Die regter vra, nou hoe presies bepaal jy die gewig van die botter wat jy verkoop, wat is jou teen gewig wat jy gebruik?”

Die boer antwoord, “Agbare regter, lank voordat die bakker botter by my begin koop het, het ek gereeld ‘n een pond brood by hom gekoop. Toe die bakker by my begin  botter koop het ek sy een pond brood aan die een kant van die skaal geplaas en dieselfde gewig aan die anderkant afgeweeg vir hom. Ek het aanvaar dat sy gewig van die brood korrek sal wees en het nie doelbewus die gewig van die botter minder gemaak nie. Die persoon wat hier te blameer is, is die bakker.”

Ons word gemeet met die maatstok waarmee ons ander meet.

Sal dit nie wonderlik wees as ons kan sê, ....... ek hoop om te ontvang soos ek gegee het?

Friday, October 12, 2012

Halwe Waarhede



In die tyd waarin ons vandag leef is halwe waarhede of ‘n wanvoorstelling van die waarheid aan die orde van die dag. Wanneer jy na die nuus kyk word feite sodanig verdraai dat dit ‘n ander prentjie skep van wat werklik besig is om te gebeur of om die persepsie van die kyker of luisteraar sodanig te beïnvloed dat hy ‘n ander prentjie vorm van die aanvanklike waarheid.

Hierdie metode word deesdae met groot sukses ook deur predikers in die kerke gebruik om verwarring en vertwyfeling by die lidmate te saai en dan word sekere waarhede bevraagteken soos die maagdelike geboorte van Yahshua Messiah, die wonderwerke wat Yahweh aan Israel gedoen het in die woestyn, Jona wat deur die vis ingesluk is en nog vele meer.

Deur hierdie metode van halwe waarhede of wanvoorstelling van die waarheid word die gelowige se geloofs basis stadig maar seker deur sommige van die predikers (wat eintlik niks anders as wolwe in skaaps klere is nie) weggekalwe. Die jong gelowige wat nog besig is om te groei en volwasse te word in die geloof word hierdeur mislei en die leuen word later sy geloofs basis .

Om hierdie halwe waarheid of wanvoorstelling van die waarheid te illustreer dien die volgende verhaal as ‘n uitstekende voorbeeld.

Daar was ‘n matroos wat reeds drie jaar op dieselfde skip gewerk het. Een aand het dit baie gesellig gegaan met die etery en het die matroos dronk geword. Dit was die eerste keer dat dit ooit met die matroos gebeur het.

Die kaptein het dit in die skeeps dagboek aangeteken,
“Die matroos was dronk vanaand.”

Die matroos het die inskrywing gelees en besef dat die inskrywing sy hele loopbaan in die toekoms sal affekteer. Hy is na die kaptein en vra plegtig om verskoning vir sy swakheid die aand en pleit by die kaptein om by die inskrywing in die dagboek by te voeg, “....maar dit is die eerste keer dat dit gebeur in die drie jaar wat die matroos op die skip werk.” wat die waarheid was.

Die kaptein het geweier om die inskrywing te verander en sê, “Wat ek in die dagboek geskryf het, is die absolute waarheid.”

Die volgende dag was die matroos op wag in die stuur kajuit en dit was sy verantwoordelikheid om die skeeps dagboek in te vul.

Hy skryf toe in die skeeps dagboek, “Die kaptein was sober vanaand.”

Die kaptein lees die inskrywing en vra die matroos om die inskrywing te verander of daarby by te voeg want die inskrywing laat dit voorkom asof die kaptein al die ander aande dronk is.

Die matroos antwoord die kaptein dat dit wat hy geskryf het in die skeeps dagboek is die waarheid.

Beide inskrywings in die skeeps dagboek was waar maar hulle het ‘n verkeerde boodskap oorgedra – ‘n wanvoorstelling van die waarheid.

Wednesday, October 10, 2012

Groot Wonderwerk vir ‘n Klein Boetie



Tessa gaan na haar kamer en agter in haar kas, in ‘n donker klein wegsteek hoekie, haal sy haar glas bottel met al haar spaar geldjies uit. Versigtig gooi sy die kleingeld op haar bed uit en begin die geld te tel. Sy tel die geld drie keer oor, om seker te maak dat die totaal korrek is. Sy gooi die munte terug in die glas bottel en draai die skroefdeksel terug. Versigtig plaas sy die glas bottel in haar rugsak en glip ongesiens by die agterdeur uit. Sy stap ses blokke vêr om by die groot apteek in die stad uit te kom.

Geduldig wag sy dat die apteker haar help, maar hy was te besig om haar raak te sien. Tessa skuifel haar voete op die teelvloer om ‘n skuur geluid te maak, geen reaksie van die apteker nie. Sy maak op die onaardigste wyse keel skoon, maar steeds geen reaksie. Uiteindelik neem sy een van die munte uit haar bottel en tik daarmee op die glas toonbank. Die keer werk dit!

“En wat wil jy hê?” vra die apteker ongeduldig terwyl hy die gesprek met sy broer onderbreek wat kom kuier het. “Ek is besig om met my broer te gesels, wat ek jare laas gesien het,” sê die apteker, sonder om op ‘n antwoord te wag op sy vraag aan Tessa.

“Wel, ek wil met jou gesels oor my broer!,” antwoord Tessa in dieselfde geirriteerde stemtoon as die apteker. “Hy is regtig egtig baie siek ...... ek wil ‘n wonderwerk koop vir hom.”

“Verskoon tog, wat sê jy daar kind?” vra die apteker. “Sy naam is Andries, en hy het iets slegs wat in sy kop groei en my pappa sê slegs ‘n wonderwerk sal hom nou kan red. So, hoeveel kos ‘n wonderwerk hier by julle?”

“Ons verkoop nie wonderwerke hier nie, meisie, ek is jammer ek kan jou nie help nie,” antwoord die apteker in ‘n baie sagter stemtoon.

“Oom, ek het geld om daarvoor te betaal. As dit nie genoeg is nie, sal ek die res in die hande kry. Vertel my tog net ..... hoeveel kos so ‘n wonderwerk?”

Die apteker se broer, ‘n welgeklee middeljarige man, was ontroerd deur die klein meisie se pleidooi. Hy stap om die toonbank, gaan buk by die meisie en vra, “Watse soort wonderwerk het jou boetie nodig?”

“Ek weet nie,” antwoord Tessa terwyl die trane opwel in haar klein dogtertjie oë.”Ek weet net hy is regtig baie siek en mamma sê dat hy ‘n operasie sal nodig hê. Maar my pappa kan nie vir die operasie betaal nie, so ek wil my geld gebruik om vir my boetie ‘n wonderwerk te koop.”

“Hoeveel geld het jy by jou?” vra die apteker se broer.

“Tien rand en vyf en vyftig sent,” antwoord sy in ‘n stemmetjie wat skaars hoorbaar is. “En dit is al die geld wat ek het, maar ek kan nog meer in die hande kry wanneer ek my sakgeld kry die einde van die maand.”

“Wel, wat ‘n toevalligheid is dit nou nie!” glimlag die man. “Tien rand en vyf en vyftig sent – die presiese prys van ‘n wonderwerk vir klein boeties.”

Hy neem Tessa se geld in die een hand en neem haar klein handjie in sy ander hand en sê, “Neem my na waar julle bly. Ek wil jou klein boetie sien en jou ouers ontmoet. Laat ons kan sien of ek die soort wonderwerk het wat jy benodig.”

Die welgeklee man was ‘n sjirurg wat gespesialiseer het in neuro-sjirurgie. Die operasie is gedoen sonder enige kostes en dit was nie lank daarna nie, toe is klein Andries terug by die huis en blakend gesond.

Ma en Pa het vol vreugde gesels oor hoe wonderlik alles uitgewerk het vir klein Andries. “Daardie operasie,” het Ma gefluister, “was ‘n werklike wonderwerk. Ek wonder wat so ‘n operasie sou gekos het?”

Tessa glimlag. Sy weet presies hoeveel ‘n wonderwerk kos .......... tien rand en vyf en vyftig sent ........... plus die geloof van ‘n klein kindjie.


‘n Wonderwerk is nie die opheffing van ‘n natuurlike wet nie maar die werking van ‘n hoër wet.

Friday, September 28, 2012

In My Hart...



Elke dag gaan ek my gaan.
Van moeilikhede raak ek gedaan.
Ek soek na blydskap diep binne my.
‘n Plek waar ek ‘n bietjie liefde kry
Maar ek weet U kyk deur my oë.
Sodat ek my pad
kan vind.
Na die Vader daar bo.
U is my lewensraam.

U laat my mooi lyk daar waar ek staan.
Daar gaan ek voort met my hart vol vreugde
Met my lewensverhaal.
Waarvan U is- die grootste gedeelte.

Ek raak weereens stil met my hart vol pyn.
En wanneer ek U vra, maak U my weer rein.
Ek gee my bietjie liefde aan U, liewe Heer.
U vergewe my net weer en weer.
So dankbaar is ek.
As my trane aflek.
Dat ek die smaak van sout-
as soet onthou.

Ek is baie klein.
Maar ook baie groot.
As ek dink aan die liefde vir U my
Pa.
Gee dit my ‘n hupstoot.
Ek is so lief vir U.
En U is so lief vir my.
Mag U vir ewig en altyd
In my hart bly.

Deur J. v Z.

Wednesday, September 19, 2012

Die kerkbasaar



 In ‘n oorvol parkeerruimte staan ‘n hoopvolle bedelaar en hy wonder of een of
 meer kerklidmaat sy behoefte sal gewaar. Ja, eenmaal 'n jaar kom ‘n gemeente
 kleurvol bymekaar en fyngebak en vleis produkte staan georden maar ook
 deurmekaar en in die ritme van die hoer se hoofslagaar daar klink in dreunsang
 satans’ stem as die afslaer terwyl hy ook as beskermheer gierig die kerk se beurs
 bewaar.

 En terwyl die gemeentelede so uitspattig op hul kerk se bierfees baljaar- roep
 daar krom ou weduwees: kyk die pannekoek is nou gaar en so staan ook die
 kerrie en rys kant en klaar- met die nagereg vanjaar werklikwaar so ongeëwenaar.
 En terwyl die hoof ouderling se maag van al die bier in die kleedkamer nie wil
 bedaar met die predikant wat broederlik troostend verklaar- "byt net vas ou broer
 en begin bedaar want vanaand kom ons weer vir die een of ander sangpaar
 bymekaar en as die seremoniemeester moet jy die erns van die fondsinsameling
 uitklaar".

 En terwyl die bedelaar met tanende hoop na die oorvol kostafels staar- luister hy
 na die gemeente se kinders wat luidrugtig en onbeheers op die springkasteel
 baljaar en hy wonder of het die duiwel ook nou in hulle ingevaar. So sien hy ook
 ‘n vrou met `n onnatuurlike- uitspattige haarkleur wat in haar onsamehangende
 woordespel teenoor haar vriendinne net nie wil of kan bedaar en eenkant staan
 haar man fronsend daar en hy bereken; teen ‘n bees ‘n jaar raak die kerkbasaar
 vir hom nou ‘n bietjie swaar. Maar ‘n gemeentelid-broer staan nader en dié is ‘n
 groot vrymesselaar en of dit nou die gholfbaan of kerkbasaar is, hy bly nou
 eenmaal ‘n makelaar en in sy winsbejag- daar wil hy nou eenmaal net nie bedaar
 en dit kos die boer op die einde van die dag meer as net ‘n bees ‘n jaar.

 En so staan daar in die oorvol parkeerruimte die eensame bedelaar en hy voel
 oor dit wat hy sien skielik onverklaarbaar naar en hy wens daar kom ‘n Man met
 `n sweep en Hy slaan die hele kerkbasaar heeltemal uitmekaar- sodat die duiwel
 tog net ‘n bietjie kan bedaar en ‘n engel kom wat die kosbare gebed van die
 rondloper na die hemel toe dra- met woorde wat lui: ek dank U O' God, ek is nie
 ‘n gesiene kerklidmaat maar net ‘n eenvoudige, ja, ‘n honger bedelaar.

Openbaring 1749
 Woensdag 5 September 2012 06:00
 
http://www.openbaringe.co.za/
Judith de Beer

Friday, September 14, 2012

Paar Konstantes



Te midde van vandag se lewe van tegnologiese vooruitgang en fenominale ontdekkings, is daar ‘n paar dinge wat hier was van die begin van tyd en sal bly voortbestaan tot aan die einde toe.

Vrede: Jy sal nie vrede vind in enige self-help boek of enige van die new age tydskrifte nie. Ons moet daarna streef met ons hele wese, dissipline aan die dag lê om te weet wat is ons beperkinge voordat die vrede in ons hart versteur word en die moed hê om te voorkom dat ander ons verby die perk dryf.

Liefde: Liefde is nie die gevoel of emosies waarmee so baie van ons assosieer nie. Liefde is die voortdurende toegewydheid wat ons beloof aan die sake of verhoudinge wat ons die meeste voor omgee, selfs wanneer dit nie meer so goed gaan met die sake of verhoudinge nie.

Deernis: Deernis is nie om jammer te voel vir iemand of een of ander saak waarvoor jy een maal ‘n maand vrywilliglik van jou tyd afstaan nie. Ware deernis skyn deur wanneer ons kwaad, ongelukkig of bly genoeg is om te baklei vir verandering van dinge wat ons weet nie so hoort nie.