Tessa gaan na haar kamer en agter in haar kas,
in ‘n donker klein wegsteek hoekie, haal sy haar glas bottel met al haar spaar
geldjies uit. Versigtig gooi sy die kleingeld op haar bed uit en begin die geld
te tel. Sy tel die geld drie keer oor, om seker te maak dat die totaal korrek
is. Sy gooi die munte terug in die glas bottel en draai die skroefdeksel terug.
Versigtig plaas sy die glas bottel in haar rugsak en glip ongesiens by die
agterdeur uit. Sy stap ses blokke vêr om by die groot apteek in die stad uit te
kom.
Geduldig wag sy dat die apteker haar help,
maar hy was te besig om haar raak te sien. Tessa skuifel haar voete op die
teelvloer om ‘n skuur geluid te maak, geen reaksie van die apteker nie. Sy maak
op die onaardigste wyse keel skoon, maar steeds geen reaksie. Uiteindelik neem
sy een van die munte uit haar bottel en tik daarmee op die glas toonbank. Die
keer werk dit!
“En wat wil jy hê?” vra die apteker ongeduldig
terwyl hy die gesprek met sy broer onderbreek wat kom kuier het. “Ek is besig
om met my broer te gesels, wat ek jare laas gesien het,” sê die apteker, sonder
om op ‘n antwoord te wag op sy vraag aan Tessa.
“Wel, ek wil met jou gesels oor my broer!,”
antwoord Tessa in dieselfde geirriteerde stemtoon as die apteker. “Hy is regtig
egtig baie siek ...... ek wil ‘n wonderwerk koop vir hom.”
“Verskoon tog, wat sê jy daar kind?” vra die
apteker. “Sy naam is Andries, en hy het iets slegs wat in sy kop groei en my
pappa sê slegs ‘n wonderwerk sal hom nou kan red. So, hoeveel kos ‘n wonderwerk
hier by julle?”
“Ons verkoop nie wonderwerke hier nie, meisie,
ek is jammer ek kan jou nie help nie,” antwoord die apteker in ‘n baie sagter
stemtoon.
“Oom, ek het geld om daarvoor te betaal. As
dit nie genoeg is nie, sal ek die res in die hande kry. Vertel my tog net .....
hoeveel kos so ‘n wonderwerk?”
Die apteker se broer, ‘n welgeklee
middeljarige man, was ontroerd deur die klein meisie se pleidooi. Hy stap om
die toonbank, gaan buk by die meisie en vra, “Watse soort wonderwerk het jou
boetie nodig?”
“Ek weet nie,” antwoord Tessa terwyl die trane
opwel in haar klein dogtertjie oë.”Ek weet net hy is regtig baie siek en mamma
sê dat hy ‘n operasie sal nodig hê. Maar my pappa kan nie vir die operasie
betaal nie, so ek wil my geld gebruik om vir my boetie ‘n wonderwerk te koop.”
“Hoeveel geld het jy by jou?” vra die apteker
se broer.
“Tien rand en vyf en vyftig sent,” antwoord sy
in ‘n stemmetjie wat skaars hoorbaar is. “En dit is al die geld wat ek het,
maar ek kan nog meer in die hande kry wanneer ek my sakgeld kry die einde van
die maand.”
“Wel, wat ‘n toevalligheid is dit nou nie!”
glimlag die man. “Tien rand en vyf en vyftig sent – die presiese prys van ‘n
wonderwerk vir klein boeties.”
Hy neem Tessa se geld in die een hand en neem
haar klein handjie in sy ander hand en sê, “Neem my na waar julle bly. Ek wil
jou klein boetie sien en jou ouers ontmoet. Laat ons kan sien of ek die soort
wonderwerk het wat jy benodig.”
Die welgeklee man was ‘n sjirurg wat gespesialiseer
het in neuro-sjirurgie. Die operasie is gedoen sonder enige kostes en dit was
nie lank daarna nie, toe is klein Andries terug by die huis en blakend gesond.
Ma en Pa het vol vreugde gesels oor hoe
wonderlik alles uitgewerk het vir klein Andries. “Daardie operasie,” het Ma
gefluister, “was ‘n werklike wonderwerk. Ek wonder wat so ‘n operasie sou gekos
het?”
Tessa glimlag. Sy weet presies hoeveel ‘n
wonderwerk kos .......... tien rand en vyf en vyftig sent ........... plus die
geloof van ‘n klein kindjie.
‘n Wonderwerk is nie die opheffing van ‘n natuurlike
wet nie maar die werking van ‘n hoër wet.
No comments:
Post a Comment