Wednesday, June 25, 2008

God se Koffie


‘n Groep oud studente, waarvan die meeste die hoogste sport in hul beroep bereik het, het ‘n besoek gereël by hul ou universiteit’s professor. Die geselskap het vinnig ontaard in ‘n kla sessie oor die spanning van hul werk en lewens.

Die professor het sy gaste koffie aangebied en is kombuis toe en keer terug met ‘n groot ketel koffie en ‘n verskeidenheid koppies. Die koppies het gewissel van porselein, glas, kristal, sommige wat baie goedkoop lyk, ander wat baie duur lyk en sommige wat besonders mooi was. Hy het sy gaste genooi om hulself te help met die koffie.

Toe al die oud studente ‘n koppie koffie in die hand het, sê die ou professor:

“As julle sal oplet sal julle sien dat al die mooi, duur koppies gebruik is en die wat oorgebly het op die skinkbord is die gewone goedkoop koppies. Terwyl dit vir manne van julle status normaal is om slegs die beste vir julself te wil hê, is dit ook die bron van julle probleme en spanning.

Wees verseker dat die koppie opsigself gee kwaliteit tot die koffie toevoeg nie. In die meeste gevalle is dit net ‘n kwessie van die koppie wat duurder is en in ander gevalle verberg dit nog die inhoud van dit wat ons drink.

Wat julle almal regtig verlang het was koffie, nie die koppie nie, maar bewustelik het julle almal gegaan vir die beste koppies…… Toe begin julle verder mekaar se koppies te beloer om te sien wie het die beste koppie gekry.

Nou dink so bietjie na oor die volgende: Die lewe is die koffie; die werk, geld, aansien in die gemeenskap is die koppies. Hulle is slegs gereedskapstukke wat die lewe insluit en omvou. Die tipe koppie wat ons het bepaal nie of verander nie die kwaliteit van die lewe wat ons leef nie.

Soms gebeur dit dat ons slegs konsentreer op die koppie en sodoende vergeet om die koffie te geniet wat God aan ons voorsien het.”

God berei vir ons die koffie, nie die koppies nie….. Geniet jou koffie!

“Die gelukkigste mense het nie die beste van alles nie. Hulle maak slegs die beste van dit wat hulle het.”

Monday, June 23, 2008

Dankie God vir My Skoene


Een oggend het ek wakker geword en besef dat daar baie dinge in my lewe is waarmee ek nie tevrede is nie. Daar was uitdagings wat my siel en my hele geloofs basis bedreig.

Ek het myself afgevra, “Hoe kan enige iemand my beny en graag in my skoene wil staan.”
Hulle weet nie hoe rof die pad was wat ek moes bewandel nie nog minder weet hulle hoe die pad vir my lyk wat voorlê. Hulle weet ook nie hoe ontevrede ek van tyd tot tyd met myself raak oor my gebreke en foute nie. Ek wens ek kon in iemand anders se skoene staan.

Mense is nie bewus van die probleme wat ander al moes verduur nie en wat is die prys wat hulle moes betaal om te kom waar hulle vandag is nie. Al wat hulle weet is dat hulle graag in iemand anders se skoene sal wil staan.

Hoor ons dit nie elke dag om ons nie – ek sal graag daardie persoon wil wees wat so ryk is of ek sal graag so mooi soos daardie model wil lyk.

Hoekom sal jy wens dat jy in iemand anders se skoene was as jy nie eens weet hoe sy skoene pas nie.?
As jy jou skoene vir ‘n ruk gedra het dan begin hulle die vorm van jou voete aan te neem en is hulle aangepas vir die manier waarop jy loop.
As jy iemand anders se skoene sou dra sal jy nie gemaklik daarin wees nie want die grootte kan reg wees maar die vorm sal verskil.

Dus het ek opgehou om te wens dat ek in iemand anders se skoene kan staan want hulle sal nie pas nie en ek sal eerder God dank vir my skoene, want hulle pas perfek!

Ek het geleer om binne my vermoë die beste te wees wat ek kan en dat ek uniek is, niemand is soos ek nie en niemand kan my enigsins vervang nie.
Ek is ‘n oorspronklike, my God is nie in die klonings besigheid nie, Hy maak slegs oorspronklikes.

Gee slegs jou beste wat jy kan en leef jou lewe voluit want ons leef net hierdie een keer en daarvan sal ons rekenskap gee voor die Almagtige.
Hy voorsien vir ons die regte skoene vir die pad wat ons moet bewandel.

Thursday, June 19, 2008

Die Varing en die Bamboes



Daar was ‘n man wat besluit het om moed op te gee……hy het sy werk opgegee, sy verhouding, sy geloof…..hy wou opgee op die lewe self.
Hy het na die woud gegaan om ‘n laaste keer met God te praat.

Hy het gesê, “God, kan U my een goeie rede gee hoekom ek nie moed op moet gee met alles nie?”

God se antwoord het hom verras.

“Kyk om jou heen,” sê Hy. “Sien jy die varing en die bamboes?”

“Ja,” het hy geantwoord.

“Toe Ek die varing en die bamboes saadjie geplant het, het ek hulle baie goed versorg. Ek het hulle lig gegee. Ek het hulle water gegee. Die varing het baie vinnig uitgeloop en sy helder groen blare het vinnig die woud vloer gedek. Maar, niks het gebeur met die bamboes saadjie nie.”

“In die tweede jaar het die varing net nog weliger en mooier gegroei. En steeds, het nog niks gebeur met die bamboes saadjie nie. Maar Ek het nie moed opgegee met die bamboes saadjie nie.”

“In jaar drie het daar nog steeds niks gebeur met die bamboes saadjie nie. Maar steeds het ek nie moed opgegee nie. Dieselfde het gebeur in jaar vier.”

“In die vyfde jaar het daar ‘n klein uitloopseltjie verskyn”.

“In vergelyking met die varing was dit klein en onbenullig.”

“Maar binne slegs ses maande was die bamboes oor die dertig meter lank gewees.”

“Die bamboes het die eerste vyf jaar gebruik om wortels te groei. Die wortels het dit sterk gemaak en aan die bamboes gegee wat nodig is om te oorleef sodra dit eers uitspruit.
Ek sal aan geeneen van My skeppings ‘n uitdaging gee wat hy nie kan hanteer nie.”

“Het jy geweet, My kind, dat die hele tyd wat jy so vreeslik gesukkel het, was jy eintlik besig om wortels te groei? Ek sal nie moed opgee met die bamboes nie … hoeveel te meer sal Ek nooit moed opgee met jou nie.”

Hy het aan die man gesê, “Moenie jouself met ander vergelyk nie. Die bamboes het ‘n ander doel gehad as die varing. Maar steeds maak hul altwee tesame die woud pragtig.”

“Jou tyd sal kom en dan sal jy hoog groei.”

Die man het gevra, “Hoe hoog sal ek moet groei ?”

In antwoord het God gevra, “Hoe hoog sal die bamboes groei?”

“So hoog soos wat hy kan?” het die man gevra.

Vader het geantwoord, “Ja, gee aan My glorie deur te groei so hoog soos wat jy kan.”

Die man het die woud verlaat met die diepe besef dat God nooit met hom moed sal opgee nie. Hy sal ook nooit moed opgee met enige iemand anders nie.

Moet nooit ‘n dag in jou lewe berou nie.

Goeie dae verskaf aan jou vreugde en swak dae gee an jou ondervinding: albei is noodsaaklik vir lewe.

Tuesday, June 17, 2008

Obstruksies


‘n Koning het eenmaal ‘n groot rotsblok op die pad na die mark laat plaas. Hy het homself langs die pad versteek om te sien of iemand die obstruksie uit die pad sou probeer kry.
Van die koning se rykste handelaars en hof dienaars het daar verby gekom maar hulle het net om die obstruksie geloop sonder om enige poging aan te wend om die obstruksie uit die pad te kry. Baie van hulle het luidkeels gekla dat die koning niks doen om die paaie van die koninkryk vry te hou van sulke obstruksies nie.

‘n Arm man het verby gekom met sy vrag groente vir die mark. Hy het sy vrag eenkant neergesit en vir homself gesê, “Mens sal met ‘n vrag langs die obstruksie kan verby maar dis baie ongerieflik en gevaarlik. Ek sal probeer om die rots uit die pad te skuif want dit sal die pad baie veiliger maak vir al die reisigers en die ander verkopers van my dorpie wat nog mark toe moet kom.”
Na ‘n vreeslike gesukkel en gestoei het hy uiteindelik die rots verskuif tot aan die kant van die pad.

Toe die arm man weer sy vrag groente optel sien hy ‘n beurs lê waar die rots was. Die beurs was vol goue munte en ‘n briefie van die koning wat aandui dat die munte is vir die persoon wat die rots uit die pad uit skuif.

Die arm man het geleer wat baie ander nooit kan verstaan nie. Elke obstruksie bied ‘n geleentheid om jou eie en die rondom jou se omstandighede te verbeter.

Wednesday, June 4, 2008

God se Antwoorde


Vir al die negatiewe dinge wat ons daagliks vir onsself sê, het God elke keer ‘n positiewe antwoord.

Jy sê: “Dis onmoontlik”
God sê: Alle dinge is moontlik (Luk 18:27)

Jy sê: “Ek is te moeg”
God sê: Ek sal jou rus gee (Mat 11:28)

Jy sê: “Niemand het my regtig lief nie”
God sê: God het jou lief (Joh. 3:16)

Jy sê: “Ek kan nie aangaan nie”
God sê: My genade is vir jou genoeg (II Kor. 12:9)

Jy sê: “Ek kan dinge nie verstaan nie”
God sê: Vertrou My en nie jou eie insig nie (Spr. 3:5)

Jy sê: “Ek kan dit nie doen nie”
God sê: Jy is tot alles in staat deur Christus (Phil 4:13)

Jy sê: “Dit is nie die moeite werd nie”
God sê: Alles sal ten goede meewerk (Rom 8:28)

Jy sê: “Ek kan myself nie vergewe nie”
God sê: EK VERGEWE JOU (1 Joh. 1:9)

Jy sê: “Ek kan nie in my behoeftes voorsien nie”
God sê: Ek sal in al jou behoeftes voorsien (Fil. 4:19)

Jy sê: “Ek is beangs”
God sê: Ek het jou nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie. (2 Tim 1:7)

Jy sê: “Ek is altyd bekommerd en gefrustreerd”
God sê: Werp al jou bekommernisse op My (1 Pet 5:7)

Jy sê: “Ek het nie genoeg geloof nie”
God sê: Na maat het Ek geloof aan jou toebedeel (Rom 12:3)

Jy sê: “Ek is nie wys genoeg nie”
God sê: As jy My vrees het jy reeds die beginsel van kennis (Spr. 1:7)

Jy sê: “Ek soms so alleen”
God sê: Ek sal jou nooit begewe of verlaat nie (Heb 13:5)

Yahweh is goed, ‘n toevlug in die dag van benoudheid, en Hy ken die wat by Hom skuil. (Nah 1:7)

Monday, June 2, 2008

Rand van die Afgrond


Jare gelede het ‘n gewilde koning onderhoude gevoer met voornemende troon draers. Die ses troon draers sou verantwoordelik wees daarvoor om sy draagbare troon oor groot afstande te dra op sy reise deur sy koninkryk.
Vir elke kandidaat het hy die vraag gevra: “As jy my dra op ‘n bergpaadjie, hoe naby aan die rand van die afgrond sal jy kan loop?”

Sommige van die kandidate het geantwoord, “U majesteit, ek is so sterk ek sal maklik ‘n half meter van die rand van die afgrond kan loop.” Ander het trots verklaar, “Nie alleenlik is ek baie sterk nie maar ek kan ook baie goed balanseer en sal maklik dertig sentimeter van die rand van die afgrond kan loop.”

Slegs ‘n paar het verklaar, “U majesteit, ek sal nie naby aan die rand van die afgrond gaan nie. Hoekom sal ek u kosbare lewe in gevaar wil stel deur naby aan die rand van die afgrond te gaan?”

Raai wie het die werk gekry?

Ons leef in ‘n wêreld vandag waar daar meer afgronde as gelyk vlaktes bestaan. Ons spandeer ‘n groot gedeelte van ons dag binne stapafstand van allerhande afgronde en kranse soos: versoekinge van die vlees, hebsug, immorele vermaak, buite egtelike verhoudings, verslawings soos drank, rook, dobbel, noem maar op, etiese kompromieë.

In plaas daarvan om eerder so ver as moontlik weg te bly van die voor die hand liggende gevare ter wille vanonsself en ons families, laat ons soms die vyand van ons siel toe om ons nader te lok aan die afgrond om net so bietjie beter te kan sien. Ons proe soms net te veel van dit wat die wêreld die mens bied.

Josh McDowell sê, “Ek sal eerder ‘n reëling op die berg bou as om ‘n ambulans beskikbaar te hê onder in die vallei.”
Maar soms is dit beter om maar liewers glad nie die reëling te toets nie want dit mag jou dalk net nie genoegsaam keer nie. Veiligheid reëlings is nie daar om te keer nie maar eerder om jou weg te stuur van die gevaar.

As jy so terugkyk op jou lewe, watter “afgronde” maak jou nuuskierig. Watter van die “afgronde” het jy die grootste stryd mee om te vermy of daar weg te bly?

Vra God se hulp om vroegtydig die “afgronde en kranse” te sien en die gesonde verstand om so ver moontlik daarvan weg te vlug.

(Jes 1:4) Wee die sondige nasie, die volk swaar van skuld, die geslag van kwaaddoeners, die kinders wat verderflik handel! Hulle het Yahweh verlaat, die Heilige van Israel verag, hulle het agtertoe weggedraai.
(Jes 1:5) Waar wil julle nog geslaan word, dat julle voortgaan met af te wyk? Die hele hoof is siek, en die hele hart is krank.
(Jes 1:6) Van die voetsool af tot die hoof toe is daar geen heel plek aan nie, maar wonde en kwesplekke en vars houe! Hulle is nie uitgedruk of verbind of met olie versag nie.
(Jes 1:7) Julle land is ‘n wildernis, julle stede is met vuur verbrand, vreemdes verteer julle landerye in jul teenwoordigheid, en dit is ‘n wildernis soos by ‘n omkering deur vreemdes.
(Jes 1:8) En die dogter van Sion het oorgebly soos ‘n skermpie in ‘n wingerd, soos ‘n slaapplekkie in ‘n komkommertuin, soos ‘n beleërde stad.

Friday, May 30, 2008

Die Rykste Man in die Vallei


Daar was ‘n baie ryk grondbaron wat gereeld met sy perd al op die grensdrade van sy enorme groot plaas langs gery het. Elke keer as hy die rit gemaak het was hy baie trots op homself oor die groot rykdom wat hy verwerf het.
Eendag terwyl hy weer so om sy plaas ry, op sy geliefkoosde perd, sien hy vir Hans, ‘n bywoner op sy plaas. Hans het onder ‘n heerlike koelteboom gesit toe Karel daar verbyry.

Karel stop vir ‘n wyle en vra vir Hans wat doen hy. Hans antwoord: “Ek was net besig om God te bedank vir die maaltyd.”

Karel sien toe dat die kossies in Hans se bord maar baie karig is en merk op: “As dit al is wat ek het om te eet sal ek nie daarna voel om God te bedank vir die voedsel nie.”

Hans antwoord: “God het my alles gegee wat ek nodig het en ek is baie dankbaar daarvoor.”

Die ou bywoner merk toe op: “Dis nogal baie toevallig dat jy nou juis vandag hier verbyry want ek het laasnag ‘n droom gehad. In my droom het ‘n stem my meegedeel dat die rykste man in die vallei vannag sal sterf. Ek weet nie wat dit beteken nie maar ek het gedink ek moet jou maar ook vertel.”

Karel snork van verontwaardiging en antwoord: “Drome is sommer twak’” en gallop weg op sy pragtige perd. Maar hy kon nie Hans se woord uit sy gedagtes kry nie, “Die rykste man in die vallei sal vannag sterf.”
Dit was tog duidelik dat hy die rykste man in die vallei is. Hy nooi toe sommer ook dadelik sy huisdokter oor die aand en vertel hom wat Hans gesê het. Na ‘n deeglike mediese ondersoek verklaar die dokter dat hy nog so sterk soos ‘n os is en dat hy beslis nie vannag sal sterf nie.

Afgesien van die dokter se verklaring het Karel, net vir ingeval, die dokter versoek om maar die hele nag by hom te bly. Hulle het toe maar die heel nag kaart gespeel want Karel was in elk geval te bekommerd om te gaan slaap want netnou sterf hy dalk in sy slaap. Die volgende oggend het die dokter vertrek en Karel het plegtig om verskoning gevra dat hy die dokter soveel moeite aangedoen het deur die simpel bywoner se droom.

So teen ongeveer nege uur die oggend arriveer daar ‘n boodskapper by Karel se pragtige woning.

“Wat is dit?” vra Karel die boodskapper kortaf.

Die boodskapper verduidelik, “Dit is oor Hans meneer. Hy is laasnag in sy slaap oorlede.”