Friday, May 30, 2008

Die Rykste Man in die Vallei


Daar was ‘n baie ryk grondbaron wat gereeld met sy perd al op die grensdrade van sy enorme groot plaas langs gery het. Elke keer as hy die rit gemaak het was hy baie trots op homself oor die groot rykdom wat hy verwerf het.
Eendag terwyl hy weer so om sy plaas ry, op sy geliefkoosde perd, sien hy vir Hans, ‘n bywoner op sy plaas. Hans het onder ‘n heerlike koelteboom gesit toe Karel daar verbyry.

Karel stop vir ‘n wyle en vra vir Hans wat doen hy. Hans antwoord: “Ek was net besig om God te bedank vir die maaltyd.”

Karel sien toe dat die kossies in Hans se bord maar baie karig is en merk op: “As dit al is wat ek het om te eet sal ek nie daarna voel om God te bedank vir die voedsel nie.”

Hans antwoord: “God het my alles gegee wat ek nodig het en ek is baie dankbaar daarvoor.”

Die ou bywoner merk toe op: “Dis nogal baie toevallig dat jy nou juis vandag hier verbyry want ek het laasnag ‘n droom gehad. In my droom het ‘n stem my meegedeel dat die rykste man in die vallei vannag sal sterf. Ek weet nie wat dit beteken nie maar ek het gedink ek moet jou maar ook vertel.”

Karel snork van verontwaardiging en antwoord: “Drome is sommer twak’” en gallop weg op sy pragtige perd. Maar hy kon nie Hans se woord uit sy gedagtes kry nie, “Die rykste man in die vallei sal vannag sterf.”
Dit was tog duidelik dat hy die rykste man in die vallei is. Hy nooi toe sommer ook dadelik sy huisdokter oor die aand en vertel hom wat Hans gesê het. Na ‘n deeglike mediese ondersoek verklaar die dokter dat hy nog so sterk soos ‘n os is en dat hy beslis nie vannag sal sterf nie.

Afgesien van die dokter se verklaring het Karel, net vir ingeval, die dokter versoek om maar die hele nag by hom te bly. Hulle het toe maar die heel nag kaart gespeel want Karel was in elk geval te bekommerd om te gaan slaap want netnou sterf hy dalk in sy slaap. Die volgende oggend het die dokter vertrek en Karel het plegtig om verskoning gevra dat hy die dokter soveel moeite aangedoen het deur die simpel bywoner se droom.

So teen ongeveer nege uur die oggend arriveer daar ‘n boodskapper by Karel se pragtige woning.

“Wat is dit?” vra Karel die boodskapper kortaf.

Die boodskapper verduidelik, “Dit is oor Hans meneer. Hy is laasnag in sy slaap oorlede.”

No comments: