Monday, December 10, 2007

Die Pad van die Lewe

Die eerste keer het ek God gesien as my regter, wat rekord hou van alles wat ek verkeerd doen, om daardeur te bepaal of ek hemel of hel toe sal gaan wanneer ek sterwe. Hy was daar soos die foto van ‘n president. Ek herken Sy portret wanneer ek dit sien, maar ek ken Hom nie werklik nie.

Later toe ek Christus ontmoet het en Hy in my lewe gekom het, het die lewe gevoel soos ‘n fietsrit, op ‘n tandem fiets. Ek het agtergekom dat Christus op die agterste sitplek was en my help trap het.
Ek kan nie onthou wanneer Hy voorgestel het dat ons plekke moet ruil nie, maar daarna was die lewe nooit weer dieselfde nie.

Terwyl ek beheer oor die fiets gehad het was dit baie vervelig en voorspelbaar…. Dit was die korste afstand tussen twee punte en dis dit. Maar toe Hy die leiding neem het Hy al die opwindende paaie geken om te neem, teen berge op en deur rowwe plekke teen nekbreek spoed, al wat ek kon doen was om vas te hou vir ‘n vale!
Soms het dit gelyk na malligheid maar Hy sê net “Trap!”
Deur geloof het ek net getrap al was ek baie bekommerd en benoud. “Waar neem U my heen?” het ek baie gevra maar Hy het net gelag en geen antwoord gegee en dis hoe ek moes leer om te vertrou.
Ek het vergeet van my vervelige bestaan en het die lewe van opwinding betree.

Wanneer ek sê, “Ek is bang,” sal Hy terug leen en my hand aanraak. Hy het my na mense geneem wat gawes gehad het wat ek benodig. Gawes van gesondmaking, aanvaarding, liefde en blydskap. So baie kosbare gawes om saam te neem op my reis – God sin en myne. Dan is ons weer oppad en Hy sal vir my sê, “Gee weg die gawes aan ander – hulle is nou net ekstra bagasie – daar is nog baie ander gawes om te kom op die pad wat ons nou ry.”
So het ek gemaak, die gawes gegee aan mense wat ek op die pad ontmoet het en ek het gevind dat om te gee het ek meer ontvang en my las was baie ligter.

Eers het ek Hom nie vertrou om volle beheer van my lewe oor te neem nie. Ek het gedink Hy sal dit verwoes en dit ‘n baie saai en eentonige lewe maak – maar ek het ontdek dat Hy weet hoe om die slegste pad in my lewe te hanteer.
Nou leer ek om stil te wees en saam te trap in die vreemdste plekke. Ek begin om die uitsig te geniet, die uitdaging van die rit asook die koele windjie op my gesig met die wonderlikste kameraad – Jesus Christus.

Wanneer dit voel of ek glad nie meer verder kan aangaan nie, hou ek net my oë en geloof op Hom. Hy kyk na my met ‘n pragtige glimlag en sê: “…… Hou aan om te trap.”

(Jes 41:10) Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.

Saturday, December 8, 2007

Die Strandlopertjie

Sy was maar 'n skamele 6 jaar oud toe ek haar vir die eerste keer ontmoet het. Ek ry gewoonlik die 4 kilometer af strand toe elke keer as ek voel dat die wêreld vir my te klein begin word. Sy was besig om 'n sandkasteel of iets te bou, en toe sy opkyk, kyk ek in die pragtigste blou ogies, so blou soos die see self.
"Hallo", sê sy. Ek antwoord met 'n knik van die kop, nou nie juis in 'n bui om te bodder met 'n klein dogtertjie nie."Ek bou", sê sy. "Ja, so sien ek. Wat bou jy?" Ek gee nou nie juis om wat sy bou nie..... "Aag ek weet nie, ek voel maar net lus om in die sand te speel." Die idee trek my nogal aan, en ek trek my skoene uit. 'n Strandlopertjie sweef verby. "Dis 'n vreugde", sê sy. "Dis 'n wat?" “'n Vreugde.” Mamma sê dat 'n strandlopertjie vir 'n mens vreugde bring." Die strandlopertjie verdwyn oor die duin. "Koebaai vreugde", mompel ek vir myself, "Hallo pyn!" Ek draai om, om te loop. Depressie het aan my geknaag - my lewe was 'n gemors. "Wat is jou naam?" Hierdie dogtertjie gaan nie maklik tou opgooi nie. "Robert", sê ek, "Robert Peterson." "Ek's Wendy ..... ek is ses.""Hallo Wendy" Sy giggel. "Jy's snaaks", sê sy.Ek lag, ten spyte van die donker wolk wat oor my gemoed hang, en ek stap aan. Haar klokhelder giggel-laggie volg my."Kom weer meneer P", skree sy, "kom sodat ons nog 'n gelukkige dag kan hê!"Na 'n paar dae van onbeheerbare Boy Scouts, frustrerende vergaderings en 'n ou kranklike moeder, het die son een oggend so vrolik geskyn dat ek die skottelgoedwater van my hande afgeskud het , en toe sê ek vir myself: "Robert, jy het 'n strandlopertjie nodig."
Die heerlike sout seelug wag vir my, en ek gryp my jas. Die windjie is ysig, maar ek stapaan en probeer die rustigheid van die strand indrink, daardie rustigheid wat ek so bitter nodig het."Hallo meneer P," roep sy my, "wil jy kom speel?" "Wat het jy in gedagte?" Ek voel half vies vir hierdie inbreuk op my gedagtes."Aag, ek weet nie..... wat dink jy?""Wat van kennetjie?" vra ek half sarkasties.Haar klokhelder laggie weerklink oor die strand. "Ek ken nie daai speletjie nie.""Nou maar dan loop ons maar sommer."Ek kyk af na die lewendige klein figuurtjie, en ek kan nie help om die delikate bleek gesiggie raak te sien nie. "Waar bly jy?""Daar anderkant", sê sy, en sy beduie in die rigting van ‘n paar somerhuisies.Dis baie snaaks, dink ek. Om in die winter in somerhuisies te kom bly.... "En waar gaan jy skool?""Ek gaan nie skool toe nie - Mamma sê ons is met vakansie."Sy babbel aanmekaar terwyl ons met die strand afstap, maar my gedagtes is baie vêr weg. As ek later huis toe ry, sê Wendy vir my dat dit 'n baie lekker dag was. Ek glimlag vir haar - snaaks genoeg voel ek ook sommer baie beter.Drie weke later jaag ek af na my strand toe. Dinge het nou net te veel vir my geraak, en ek is nie in 'n bui om eers vir Wendy te groet nie. Ek sien iemand op die somerhuisie se stoep sit - seker Wendy se ma - en ek voel asof ek vir haar wil skree: "Hou jou dogtertjie asseblief vandag tuis!"Ek stap gejaag, maar Wendy haal my in. "Asseblief, nie vandag nie!", snou ek haar toe, "Ek wil vandag alleen wees!" Sy lyk vandag onnatuurlik bleek en uitasem."Hoekom?" vra sy.Ek gaan staan, draai om na haar toe en skree: "Want my ma is dood!" En skielik wonder ek waarom ek dit vir hierdie kind vertel."O", sê sy saggies, "dan is dit 'n slegte dag.""Ja", sê ek, "én gister, én eergister, en ... aag gaan tog net weg!" "Was dit seer?" sy kan net nie ophou nie."Was wát seer?" ek is moedeloos, met die dogtertjie en met myself."Toe sy dood is?""Natuurlik was dit seer!" kap ek terug, sonder om die bedoeling agter haar vraag te verstaan. Ek draai om en stap haastig weg, versonke in my eie see van gedagtes.'n Maand of wat later, toe ek weer op die strand kom, was sy nie daar nie. Ek voel skuldig en skaam oor my gedrag, en ..... ek het haar nogal gemis. Ek stap na die strandhuisie toe en klop aan die deur. 'n Vrou maak oop."Ek is Robert Peterson", sê ek, "ek mis jou dogtertjie só vandag, en ek het net gewonder waar sy is." "O ja, meneer Peterson, kom in asseblief. Wendy het so baie van jou gepraat. Ek is so jammer dat ek toegelaat het dat sy jou pla. As sy 'n oorlas was - dan vra ek om verskoning""Aag nee wat, sy is so 'n borrelende klein dogtertjie." En skielik besef ek dat ek werklik bedoel wat ek sê."Wendy is verlede week dood, meneer Peterson. Sy het bloedkanker gehad - het sy jou nie gesê nie?"Skielik draai die wêreld om my, en ek gryp haastig vir 'n stoel. Ek is sprakeloos..."Sy was so lief vir hierdie strand, en toe sy vra dat ons hierheen kom, toe kon ek nie nee sê nie. Sy het soveel beter hier gelyk, en hier het sy baie gelukkige dae gehad. Maar die laaste paar weke het sy baie vinnig agteruit gegaan." Haar stem bewe. "Sy het iets vir jou gelos..... as ek dit net kan opspoor. Sal jy omgee om 'n bietjie te wag – ek soek dit net gou?"Ek knik my kop - ek soek vir woorde - maar hulle ontbreek. Wat sê ek vir hierdie pragtige jong vrou?Sy gee vir my 'n vuil koevert met "MR. P" op geskryf in groot kinder letters. Binne is 'n tekening in helder kleure - 'n geel strand; 'n blou see en 'n bruin voël, en onderaan die woorde: 'n Strandlopertjie om geluk te bring"Ek kan die trane nie keer nie, en hierdie klip-hart van my wat lankal vergeet het wat dit is om lief te hê, kraak en breek. Ek neem Wendy se ma in my arms: "Ek is so jammer, so bitter, bitter jammer", is al wat ek kan uitkry, oor en oor, en saam huil ons.Daardie kosbare prentjie is geraam, en hang in my studeerkamer. Ses woorde - een vir elke jaar van haar kort lewetjie - sê vir my van harmonie, dapperheid en 'n onvoorwaardelike liefde. 'n Geskenk van 'n dogtertjie met see-blou oë en hare die kleur van die seesand - sy het my geleer van die geskenk van ware liefde.Hierdie ware verhaal is opgeteken deur Robert Peterson. Dit het meer as 20 jaar gelede afgespeel, en hierdie insident het sy lewe onherroeplik verander. Ons kan hieruit leer dat ons tyd moet maak om die lewe te geniet, en tyd moet maak vir mekaar.Die lewe is so gekompliseerd - die gejaag en elke dag se probleme en traumas kan maak dat jy fokus verloor en van die dinge wat rêrig saakmaak vergeet.Gaan gee vir die mense in jou lewe waarvoor jy lief is vandag 'n ekstra drukkie, net om te sê dat jy omgee en vir hulle lief is. En gaan stap 'n draai in die tuin, en ruik aan die blomme. Drink die skeppingswonder van God in, en gee aan Hom die eer.Wendy het nie maar toevallig op Robert se pad gekom nie - daar is nie so 'n ding soos toeval nie. Sy was daar met 'n doel. So bring die Here dinge op ons pad met 'n doel - soms is dit nie lekker nie, soms raak dit daar diep binne in jou bors, waar 'n waslap nie kan was nie, aan jou hart. Maar sien die hand van God daarin, en dank Hom daarvoor. Ek bid vir jou 'n Strandlopertjie-dag toe.

Geskryf deur: Robert Peterson.

Friday, December 7, 2007

MY SEUN

'n Welgestelde man en sy seun was baie lief daarvoor om skaars kunswerke te versamel. Hulle het van alles in hul versameling gehad, van Picasso tot Raphael. Hulle twee sou gereeld saam sit en die grootse kunswerke bewonder.

Toe die Viëtnam oorlog uitbreek, het die seun oorlog toe gegaan. Hy was baie dapper en het gesterf in die geveg terwyl hy besig was om 'n mede soldaat te red. Die vader is in kennis gestel van die afsterwe van sy seun en hy het vreeslik oor sy enigste seun getreur.

Ongeveer 'n maand later was daar 'n klop aan die deur. 'n Jong man het voor die deur gestaan met 'n groot pakkie in sy hand.
Hy sê, " Mnr, u ken my nie, maar ek is die soldaat vir wie u seun sy lewe gegee het. Hy het daardie dag sy lewe vir my gegee toe hy my na veiligheid gedra het en 'n koeël van die vyand hom reg in die hart tref, hy was opslag dood. Hy het baie oor u gepraat en u liefde vir die kuns." Die jong man hou die pakkie uit na die seun se pa. "Ek weet dit is nie baie nie. Ek is nie juis 'n groot kunstenaar nie, maar ek is oortuig dat u seun sou hê dat u die neem."

Die vader neem die pakkie en maak dit oop. Dit was 'n skildery van sy seun wat deur die jongman geskilder is. Hy staar in verwondering hoe die jongman sy seun se persoonlikheid so kon vasvang in die skildery. Die vader was so aangetrokke tot die oë van die skildery dat sy eie oë opgewel het van die trane. Hy bedank die jong man en bied aan om hom te betaal vir die skildery. "Nee meneer, ek kan nooit vergoed vir wat u seun vir my gedoen het nie, hierdie is 'n geskenk aan u."

Die vader het die skildery bokant sy vuurherd geplaas waar hy elke dag daarna kon kyk. Elke keer wat hy besoekers ontvang het neem hy hulle eers om die skildery van sy seun te sien voordat hy enige van die ander vername skilderye in sy versameling aan hulle vertoon.

Die man is 'n paar maande later oorlede en daar sou 'n groot veiling plaasvind van al sy kunswerke. Daar was baie vername mense teenwoordig by die veiling. Hulle was vreeslik opgewonde om sulke vername kunswerke te sien en die geleentheid te kry om op sulke werke te bie en moontlik een in die hande te kry vir hul eie versameling.

Op die afslaers platform is die skildery van die seun. Die afslaer kap met sy hout hamertjie op die podium. "Ons begin die veiling met die skildery van die seun. Wie maak 'n bod vir die skildery?"

Daar was 'n doodse stilte.

Toe roep 'n stem van agter uit die vertrek. "Ons wil die vername skilderye sien... Los die een eers."

Maar die afslaer hou voet by stuk. "Sal iemand 'n aanbod maak op die skildery. Wie sal die bod begin? $100, $200?"

'n Ander geïrriteerde stem. "Ons het nie gekom vir die skildery nie. Ons het gekom om die Van Goghs en die Rembrandts te sien. Gaan aan met die regte veiling!"

Maar steeds hou die afslaer vol. "Die seun! Die seun! Wie sal die seun neem?"

Uiteindelik, 'n stem vanuit die heel agterkant van die lokaal. Dit was die eertydse tuinier van die man en sy seun wat jare vir hulle gewerk het. "Ek sal $10 gee vir die skildery." Aangesien hy baie arm was, was dit al wat hy kon bekostig.

"Ons het $10, wie sit 'n bod in vIr $20?"

"Gee dit aan hom vir $10. Laat ons ander die meesterstukke sien."

"Die bod staan op $10, wil niemand $20 aanbied nie?"

Die mense het begin kwaad word want hulle soek nie die skildery van die seun nie. Hulle soek die meer waardige versamelstukke vir hul versamelings

Die afslaers slaan met sy hamertjie. "Vir die eerste maal, vir die tweede maal, VERKOOP vir $10!"

‘n Man in die tweede ry roep uit, "Laat ons nou met die regte versameling begin!"

Die afslaer plaas sy hamertjie eenkant neer. "Ek is jammer, maar die veiling is verby."

"Wat van die ander skilderye?"

"Ek is jammer. Toe ek aangestel is om die veiling te behartig, is ek ingelig van 'n geheime klousule in die testament. Ek was nie toegelaat om die klousule te openbaar tot nou toe nie. Slegs die skildery van die seun sou aangebied word vir die veiling. Wie ook al die skildery sou koop erf die hele landgoed ingesluit al die ander skilderye.
Die man wat die seun neem kry alles!"

God het Sy Seun 2000 jaar gelede gegee om aan die kruis te sterf. Baie soos die afslaer, is Sy boodskap vandag: "Die seun! Die seun! Wie sal die seun neem?"

Want, jy sien, wie ook al die Seun neem kry alles.

WANT SO LIEF HET GOD DIE WÊRELD GEHAD, DAT HY SY ENIGGEBORE SEUN GEGEE HET, SODAT ELKEEN WAT IN HOM GLO, NIE VERLORE MAG GAAN NIE, MAAR DIE EWIGE LEWE KAN HÊ.......DIT IS LIEFDE

Thursday, December 6, 2007

Niemand het dit Gemaak

Baie jare gelede het Isaac Newton ‘n presiese replika gehad van ons sonnestelsel. As die middelpunt was daar ‘n groot goue bal wat die son voorgestel het, verbind daaraan, met dun staal stafies van verskillende lengtes, was daar ‘n hele paar ander kleiner balle. Hulle het Mercurius, Venus, Mars en ander planete verteenwoordig.
Hierdie was almal gekoppel deur middel van ratte en dryf belde wat maak dat al die planete in perfekte harmonie om die “son” wentel.

Eendag terwyl Newton besig was om die model te bestudeer kom ‘n vriend hom besoek wat glad nie glo in die Bybelse weergawe van die skepping nie. Terwyl hy verwonderd toekyk hoe die wetenskaplike die apparaat laat werk, roep die man uit, “Newton, wat ‘n uitsonderlike ding. “Wie het dit vir jou gemaak. Sonder om op te kyk antwoord Isaac Newton hom, “Niemand.” “Niemand?” vra sy vriend. “Dis heeltemal reg ek het gesê niemand! Al die balle, ratte en dryf belde het net bloot toevallig bymekaar uitgekom en wonder bo wonder het hulle sommer begin om in hulle spesifieke bane te roteer en met perfekte tydsberekening.”

Die ongelowige het die boodskap gekry! Dit was dom om te dink dat die model sommer net gebeur het. Maar dit was nog meer sinneloos om die teorie te aanvaar dat die aarde en die wye hemelruim net toevallig ontstaan het.
Hoeveel meer logies is dit nie om te glo wat die Bybel ons leer nie, “(Gen 1:1) In die begin het God die hemel en die aarde geskape.”
Die Woord verklaar ook:
(PSA 14:1) Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie. ……..

Wednesday, December 5, 2007

Die Koopman en sy Vier Vroue

Daar was eens op ‘n tyd ‘n ryk koopman wat vier vrouens gehad het. Hy het die vierde vrou die liefste gehad van almal en het haar oorlaai met die geskenke en die beste lekkernye. Hy het baie goed na haar omgesien en vir haar net die beste gegee.

Hy was baie lief vir sy derde vrou en baie trots op haar en het gedurig met haar gespog voor sy vriende. Maar, die koopman het altyd in vrees geleef dat sy sou wegloop saam met ‘n ander man.

Hy was ook lief vir sy tweede vrou. Sy is ‘n baie bedagsame persoon, altyd geduldig en sy is trouens ook die koopman se vertroueling. Wanneer die koopman probleme ondervind dan is hy vinnig by sy tweede vrou en sy sal hom altyd uithelp en hom bystaan in moeilike tye.

Die koopman se eerste vrou, sy is ‘n baie lojale wederhelfte en het ‘n baie groot bydrae gelewer om die koopman se rykdom te vergroot, sy besigheids belange uit te brei en om die huishouding in stand te hou. Alhoewel hy nie lief was vir haar nie het sy hom oneindig liefgehad. Hy het ook selde van haar notisie geneem.

Eendag toe word die koopman sien en kort voor lank word hy meegedeel dat hy op sterwe lê. Hy dink toe aan die luukse lewe wat hy gelei het en sê vir homself, “Ek is bevoorreg, ek het vier vroue, maar wanneer ek sterwe gaan ek alleen wees. Hoe eensaam sal dit tog nie wees nie!”
Daarop vra hy sy vierde vrou, “Ek het die meeste lief gehad van al my vroue, ek het in oorvloed aan jou die beste gegee van alles. Noudat ek op sterwe lê, sal jy my volg en my in die dood my vergesel?”

“Daar is nie ‘n manier nie!” antwoord die vierde vrou en loop weg sonder ‘n woord verder.
Die antwoord het soos ‘n mes gesny in die koopman se hart.

Die hartseer koopman vra toe sy derde vrou, “ Ek het jou my hele lewe liefgehad, noudat ek besig is om te sterwe, sal jy my volg en my vergesel in die dood?”
“Nee!” antwoord die vrou. “Die lewe is te lekker aan die kant! Ek sal in elk geval weer ‘n ander man trou wanneer jy dood is.”
Die koopman se hart sak in sy skoene en hy voel baie seergemaak deur haar antwoord.

Toe vra hy sy tweede vrou, “ Ek het altyd na nou jou gekom vir hulp en jy het my altyd uitgehelp. Nou het ek weer jou hulp nodig. Wanneer ek doodgaan sal jy my volg en my vergesel in die dood?”
“Ek is jammer, maar die keer sal ek jou nie kan help nie.” Antwoord die tweede vrou. “Die beste wat ek kan doen is om jou te vergesel tot by die graf maar nie in die dood nie.”
Die antwoord het finaal die koopman se hoop en verwagtinge vernietig.

Toe hoor hy ‘n stemmetjie vir hom sê, “Ek sal saam met jou gaan. Ek sal jou volg waar jy ookal gaan.” Die koopman kyk op en daar staan sy eerste vrou.

Sy was vreeslik maer, amper soos iemand wat erg ondervoed is. Baie hartseer sê die koopman, “Ek moes baie beter na jou omgesien het terwyl ek nog die tyd gehad het!”

Eintlik, het ons almal vier vroue in ons lewens……. Die vierde vrou is ons liggaam. Maak nie saak hoeveel tyd, geld en energie ons daarop spandeer om dit mooi te maak nie, dit verlaat ons wanneer ons doodgaan.

Ons derde vrou? Ons besittings, status en rykdom. Wanneer ons doodgaan gaan dit na iemand anders.

Die tweede vrou is ons familie en vriende. Maak nie saak hoe naby hulle aan ons is terwyl ons lewe nie, die verste wat hulle die pad saam met ons kan loop is tot by die graf.

Die eerste vrou is ons siel wat ons soms geweldig afgeskeep in ons soeke na materiële rykdom en sensuele plesier.
Raai wat? Dit is in werklikheid die enigste wat ons sal volg waar ons ookal mag gaan.
Dit sal dalk baie raadsaam wees om ons siel te versorg en te voed NOU in plaas daarvan om te wag totdat ons op ons sterfbed is.

(Mat 16:26) Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?

Monday, December 3, 2007

Muisvalletjie

‘n Muis loer deur die kraak in die muur terwyl die boer en sy vrou ‘n pakkie oopmaak. “Ek wonder watse lekker kos kan daarin wees” wonder die muis.

Hy was totaal platgeslaan toe hy ontdek dit is ‘n muisvalletjie.

Terwyl hy na die plaaswerf vlug kondig hy voortdurend die waarskuwing aan. “Daar is ‘n muisvalletjie in die huis! Daar is ‘n muisvalletjie in die huis!”

Die hoender skrop en krap in die grond rond, lig haar kop en sê, “Meneer Muis, ek kan agterkom dat hierdie ‘n geweldige bekommernis is vir jou maar dit hou geen gevaar in vir my nie. So moet my nie daarmee pla nie.”

Die muis draai na die vark en vertel hom, “Daar is ‘n muisvalletjie in die huis.” Die vark simpatiseer met die muis, maar sê, “Ek is so jammer Meneer Muis, maar daar is niks wat ek daaraan kan doen nie. Wees verseker ek sal aan jou dink.”

Die muis gaan na die koei en vertel dieselfde storie. Sy sê “Sjoe, Meneer Muis ek is baie jammer vir jou maar dit kan niks aan my doen nie.”
Die muis draai om en gaan terug huistoe, kop omlaag en ‘n gevoel van verwerping om maar alleen die boer se muisvalletjie aan te durf.

Daardie selfde nag is daar ‘n klapgeluid in die huis – soos die klank van ‘n muisvalletjie wat sy prooi vasvang.

Die boer se vrou storm in die huis af om te gaan kyk wat het hulle gevang in die muisvalletjie. In die donkerte het sy nie gesien dit was ‘n baie giftige slang wat se stert vasgevang is in die muisvalletjie nie. Die slang het die boer se vrou gepik. Hy het met haar dadelik na die hospitaal gejaag en later het st weer terug gekom maar met ‘n baie hoë koors.

Almal weet dat die beste raad vir om ‘n koors mee te behandel is vars hoendersop, dus het die boer sy byl geneem na die plaaswerf vir die hoendersop se hoof bestandeel.
Maar sy vrou se siekte het net aangehou en vriende en familie het gekom om te help om haar 24 uur op te pas.

Om aan hulle kos te gee moes die boer die vark slag. Die boer se vrou het nie gesond geword nie en later wel gesterf.

Baie mense het na haar begrafnis gekom en die boer moes die koei slag vir genoeg vleis vir al die mense om te eet.

So, volgende keer wanneer jy hoor iemand het ‘n probleem en dink dit raak jou nie – onthou – wanneer een van ons bedreig word is almal in gevaar.

Elkeen van ons is ‘n belangrike draad in ‘n ander persoon se tapeserie: Ons lewens is saamgeweef vir ‘n rede.

Sunday, December 2, 2007

Roomys

Laasweek neem ek my vrou en kinders uit vir ete na die restaurant in ons dorp. My ses jaar oue seun vra toe of hy die tafel gebed kan doen. Terwyl ons ons oë sluit en ons hoofde buig begin hy te bid, “ God is goed. God is groot. Dankie vir die kos en ek sal u nog meer dank as mamma vir ons roomys kry vir nagereg. Amen.”

Saam met die gelag van die mense by die tafel langs ons, hoor ek ‘n vrou opmerk, “Dit is hoe dit so gaan in die land. Kinders van vandag weet nie eers hoe om te bid nie. Vra God vir roomys! Bid jou aan!”

By die aanhoor van die opmerking bars my seun in trane uit en vra my, “Het ek dit verkeerd gedoen? Is God nou kwaad vir my?” Terwyl ek hom vashou en vertroos met die woorde dat daar niks verkeerd was met sy gebed nie en dat God glad nie kwaad is vir hom nie, kom daar ‘n bejaarde man by die tafel aan. Hy knipoog vir my seun en sê “Ek weet dat God gedink het dit was ‘n baie goeie gebed.” “Regtig?” vra my seun. “100% seker.” Met ‘n diep stem fluister hy toe vir my seun “Dis net jammer die tannie het nie vir God gevra vir roomys nie. ‘n Bietjie roomys is soms baie goed vir die siel.”

Na aanleiding van die hele petalje het ek vir die kinders roomys vir nagereg. My seun het vir ‘n oomblik na sy roomys gestaar en toe iets gedoen wat ek vir die res van my lewe sal onthou. Sonder ‘n woord het hy het sy choc sundae opgetel, oorgeloop na die dame wat hom vroeër gekritiseer het oor sy gebed en die roomys voor haar neergesit. Met ‘n groot glimlag op sy gesig sê hy vir haar, “Hier tannie, dit is vir jou. Partymaal is roomys baie goed vir mens se siel en myne is klaar goed.”

(1Pe 3:9) Vergeld geen kwaad met kwaad of skeldwoorde met skeldwoorde nie, maar seën inteendeel, omdat julle weet dat julle hiertoe geroep is, sodat julle seën kan beërwe.