Daar was eens op ‘n tyd ‘n ryk koopman wat vier vrouens gehad het. Hy het die vierde vrou die liefste gehad van almal en het haar oorlaai met die geskenke en die beste lekkernye. Hy het baie goed na haar omgesien en vir haar net die beste gegee.
Hy was baie lief vir sy derde vrou en baie trots op haar en het gedurig met haar gespog voor sy vriende. Maar, die koopman het altyd in vrees geleef dat sy sou wegloop saam met ‘n ander man.
Hy was ook lief vir sy tweede vrou. Sy is ‘n baie bedagsame persoon, altyd geduldig en sy is trouens ook die koopman se vertroueling. Wanneer die koopman probleme ondervind dan is hy vinnig by sy tweede vrou en sy sal hom altyd uithelp en hom bystaan in moeilike tye.
Die koopman se eerste vrou, sy is ‘n baie lojale wederhelfte en het ‘n baie groot bydrae gelewer om die koopman se rykdom te vergroot, sy besigheids belange uit te brei en om die huishouding in stand te hou. Alhoewel hy nie lief was vir haar nie het sy hom oneindig liefgehad. Hy het ook selde van haar notisie geneem.
Eendag toe word die koopman sien en kort voor lank word hy meegedeel dat hy op sterwe lê. Hy dink toe aan die luukse lewe wat hy gelei het en sê vir homself, “Ek is bevoorreg, ek het vier vroue, maar wanneer ek sterwe gaan ek alleen wees. Hoe eensaam sal dit tog nie wees nie!”
Daarop vra hy sy vierde vrou, “Ek het die meeste lief gehad van al my vroue, ek het in oorvloed aan jou die beste gegee van alles. Noudat ek op sterwe lê, sal jy my volg en my in die dood my vergesel?”
“Daar is nie ‘n manier nie!” antwoord die vierde vrou en loop weg sonder ‘n woord verder.
Die antwoord het soos ‘n mes gesny in die koopman se hart.
Die hartseer koopman vra toe sy derde vrou, “ Ek het jou my hele lewe liefgehad, noudat ek besig is om te sterwe, sal jy my volg en my vergesel in die dood?”
“Nee!” antwoord die vrou. “Die lewe is te lekker aan die kant! Ek sal in elk geval weer ‘n ander man trou wanneer jy dood is.”
Die koopman se hart sak in sy skoene en hy voel baie seergemaak deur haar antwoord.
Toe vra hy sy tweede vrou, “ Ek het altyd na nou jou gekom vir hulp en jy het my altyd uitgehelp. Nou het ek weer jou hulp nodig. Wanneer ek doodgaan sal jy my volg en my vergesel in die dood?”
“Ek is jammer, maar die keer sal ek jou nie kan help nie.” Antwoord die tweede vrou. “Die beste wat ek kan doen is om jou te vergesel tot by die graf maar nie in die dood nie.”
Die antwoord het finaal die koopman se hoop en verwagtinge vernietig.
Toe hoor hy ‘n stemmetjie vir hom sê, “Ek sal saam met jou gaan. Ek sal jou volg waar jy ookal gaan.” Die koopman kyk op en daar staan sy eerste vrou.
Sy was vreeslik maer, amper soos iemand wat erg ondervoed is. Baie hartseer sê die koopman, “Ek moes baie beter na jou omgesien het terwyl ek nog die tyd gehad het!”
Eintlik, het ons almal vier vroue in ons lewens……. Die vierde vrou is ons liggaam. Maak nie saak hoeveel tyd, geld en energie ons daarop spandeer om dit mooi te maak nie, dit verlaat ons wanneer ons doodgaan.
Ons derde vrou? Ons besittings, status en rykdom. Wanneer ons doodgaan gaan dit na iemand anders.
Die tweede vrou is ons familie en vriende. Maak nie saak hoe naby hulle aan ons is terwyl ons lewe nie, die verste wat hulle die pad saam met ons kan loop is tot by die graf.
Die eerste vrou is ons siel wat ons soms geweldig afgeskeep in ons soeke na materiële rykdom en sensuele plesier.
Raai wat? Dit is in werklikheid die enigste wat ons sal volg waar ons ookal mag gaan.
Dit sal dalk baie raadsaam wees om ons siel te versorg en te voed NOU in plaas daarvan om te wag totdat ons op ons sterfbed is.
(Mat 16:26) Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?
Wednesday, December 5, 2007
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment