Friday, November 30, 2007

‘n “Liefde” Storie

Eendag lank gelede was daar ‘n eiland waar al die gevoelens gebly het: Blydskap, Hartseer, Kennis en al die ander insluitende Liefde. Eendag word daar aangekondig dat die eiland waarop hulle woon gaan sink en inderhaas het almal begin of vir hulle bootjies voor te berei om die eiland te verlaat.

Liefde wou vasbyt tot op die laaste nippertjie want dit was ‘n lekker eiland en sy wou dit nie graag verlaat totdat sy doodseker was dat die eiland wel sal vergaan nie. Terwyl die eiland besig is om weg te sink in die oseaan besluit Liefde sy sal moet vra vir hulp. Rykdom het verby Liefde gevaar in ‘n luukse boot. Liefde vra, “Rykdom, kan jy my asseblief saam met jou neem?” Rykdom antwoord, “Nee, ek kan nie. Daar is baie goud en silwer op my boot en nie nog plek vir jou ook nie.”

Liefde besluit om vir Ydelheid te vra terwyl die in ‘n pragtige boot verby vaar. “Ydelheid, asseblief help my!” “Jammer Liefde ek kan nie want jy is al sopnat en kan dalk my boot beskadig.” Antwoord Ydelheid.

Hartseer was ook in die omgewing en Liefde besluit om vir die te vra. “Hartseer, laat my saam met jou gaan.” “Ag…… Liefde, ek is so hartseer dat ek liewer by myself wil wees!” antwoord Hartseer.

Blydskap kom ook verby Liefde gevaar, maar sy was so bly dat sy nie eens gehoor het toe Liefde na haar roep nie.

Skielik, was daar ‘n stem hier agter Liefde, “Kom Liefde, ek sal jou neem.” Dit was ‘n bejaarde. Liefde het so geseënd gevoel en was oorstelp van vreugde dat sy skoon vergeet het om die bejaarde se naam te vra.
Toe hulle op droë grond aankom het die bejaarde sy eie koers ingeslaan.

Liefde besef hoeveel sy verskuldig is aan die bejaarde en vra vir Kennis, ‘n ander bejaarde, “Wie het my gehelp?” “Dit was Tyd” antwoord Kennis. “Tyd?” vra Liefde. “Maar hoekom het Tyd my gehelp?”
Kennis glimlag met ‘n trek van diepe wysheid en antwoord, “Omdat, slegs Tyd in staat is om te verstaan hoe groot Liefde is.”

Thursday, November 29, 2007

Luister of Wag…..

‘n Jong en suksesvolle sakeman was besig om in die woonbuurt se straat af te ry, heelwat vinniger as wat hy moet, in sy nuwe Jaguar. Hy was die heeltyd op die uitkyk vir kinders wat dalk tussen die geparkeerde motors uithardloop. Hy het so bietjie stadiger gegaan toe hy hom verbeel hy sien iets.

Terwyl hy by die geparkeerde motors verbyry, kom daar geen kinders uit nie, maar instede ‘n baksteen wat teen die motor se deur gegooi word! Hy slaan onmiddellik die remme aan en ry agteruit tot by die plek vanwaar die baksteen gegooi is. Hy spring uit die motor en gryp die seun wat die baksteen gegooi het en druk hom vas teen een van die geparkeerde motors en skreeu, “Hoekom het jy dit gedoen? Is jy mal in jou kop?”

Die sakeman is nou eers besig om stoom op te tel en is buite homself van woede “Dit is ‘n splinternuwe motor daardie en dit gaan ‘n plaas se prys kos om reg te maak!!”

“Asseblief, meneer, asseblief. Ek is verskriklik jammer. Maar ek het nie geweet wat anders om te doen nie!” pleit die seun. “Ek het die baksteen gegooi omdat niemand wil stop…” die trane loop oor die seun se wange terwyl hy beduie na die agterkant van die geparkeerde motor. “Dit is my broer” sê hy. “Hy het by die randsteen afgerol met sy rolstoel en omgeval en kan hom nie opgetel kry nie.” Terwyl die seun snik vra hy die sakeman, “Kan u my asseblief help om hom in sy rolstoel te kry? Hy het seergekry en is te swaar vir my om op te tel.”

Stomgeslaan probeer die sakeman vinnig sluk aan die knop wat in sy keel opwel. Hy tel die jongman op en sit hom weer in sy rolstoel. Hy haal sy sakdoek uit en vee die skrape en sny af om seker te maak die jongman is reg. “Dankie meneer en mag God u ryklik seën” antwoord die dankbare seun. Die man kyk agterna terwyl die seuntjie sy broer huis toe stoot.

Dit was ‘n lang stap terug na sy Jaguar toe ….. ‘n lang, stadige stap. Hy het nooi die duik op die deur laat regmaak nie. Hy het die duik daar gehou om hom te herinner om nie so vinnig deur die lewe te gaan dat iemand nodig het om ‘n baksteen te gooi om jou aandag te trek nie.

God fluiter in jou siel en praat tot jou hart. Soms wanneer jy nie tyd het om te luister na Sy stem nie, moet hy ‘n “baksteen” na jou gooi.
Luister vir die fluister, of wag vir die baksteen….

Wednesday, November 28, 2007

Vergifnis

Lank gelede het twee broers wat op aangrensende plase geboer het ‘n geweldige rusie met mekaar gehad. Dit was die eerste ernstige struweling in veertig jaar van sy aan sy boerdery, deel van plaas implemente en toerusting, deel van arbeid en goedere soos nodig sonder enige haakplek. Die lang samewerking het tot niet gegaan.
Dir het begin met ‘n klein misverstand en dit het gegroei tot ‘n geweldige rusie en uiteindelik het dit ontplof in ‘n oor en weer verwisseling van kwetsende woorde, gevolg deur weke van stilte.

Een oggend is daar ‘n klop aan die deur van Johan, die ouer broer. Voor die deur het ‘n man gestaan met sy skrynwerkers gereedskapskissie. “Ek soek na ‘n los werkie om te doen vir die volgende paar dae” sê die skrynwerker. “Jy het nie dalk ‘n paar klein werkies wat ek vir jou kan doen hier op die plaas nie?”

“Ja” sê die broer. “Ek het ‘n werk vir jou. Sie jy daardie plaas oorkant die rivier? Dis my buurman, my jonger broer, wat ek glad nie meer wil sien of ken nie. Laas week het hy sy laaigraaf geneem en die spruitjie tussen ons verander in ‘n baie breë rivier tussen ons. Hy het dit gedoen om my te vermaak maar ek sal hom wys dat ek dit nog beter kan doen.
Sien jy daardie hoop houtpale en planke langs die skuur? Ek wil hê jy moet dit neem en vir my ‘n 2 meter hoë heining net voor die rivier opsit tussen my en my broer sodat ek nie nodig het om elke dag in sy plaas vas te kyk nie.”

Die skrynwerker sê “Ek dink ek verstaan die situasie heeltemal. Wys my waar is die spykers en ander gereedskap en ek sal vir jou ‘n werkstuk lewer wat jou tevrede sal stel.”

Die ouer broer moes dorp toe gaan vir voorrade maar voordat hy vertrek help hy eers gou die skrynwerker om al die materiale bymekaar te kry en vertrek dorp toe.

Die skrynwerker was die hele dag druk besig om te meet, te saag en spykers in te kap.

Teen sononder toe die boer van die af terugkeer was die skrynwerker sopas klaar met sy werk.

Die boer se oë het gerek en sy mond oopgehang van verbasing.
Daar is geen heining opgerig nie maar ‘n brug wat strek van die kant van die rivier tot aan die oorkant. “n Pragtige stukkie werk met handreëlings en al. Sy buurman, die jonger broer, kom reeds oor die brug aangestap met uitgestrekte arms.

“Jy is ‘n merkwaardige man om ‘n brug te bou na alles wat ek jou vertel en beveel het om te doen.”

Die twee broers ontmoet mekaar in die middel van die brug en omhels mekaar . Terwyl hulle omdraai sien hulle hoe die skrynwerker sy gereedskapkissie op sy skouer plaas. “Nee, wag! Bly tog ‘n paar dae, ons het nog ‘n paar ander werkies vir jou.” Sê die oudste broer.

“Ek sal graag wil bly” sê die skrynwerker, “maar, ek het nog baie ander brûe om te bou.”

Tuesday, November 27, 2007

Gevalle Engel

‘n Engel het na satan gekom en vir hom gevra of hy nie ‘n opdrag vir hom het om uit te voer nie. Satan vra hom toe watse soort engel is hy en wat is sy spesialiteit. Hy verklaar toe as volg: “Ek is ‘n gevalle engel en my naam is Vernietiging, ek leer mense vuil taal, woede en onverskilligheid. My spesialiteit is om struweling tussen mense te veroorsaak, veral gelowiges.”

“Ek kan hulle sovêr kry dat hulle behoorlik baklei oor verskillende geloofs sieninge en opinies. Ek het baie, baie mense sovêr gekry om met haat in hul harte rond te loop waar daar eers liefde was.”

“Dit is eintlik verspot maklik om hulle kwaad te kry oor enige iets soos geld, status, kennis, noem dit maar op. Dit is amper asof hulle net wag daarvoor om kwaad te word oor hoe iemand anders leef en glo.”

“Net gister nog het ek twee bure wat al jare vriende en Christene is sovêr gekry om te baklei oor geloofsgenesing en gebed. Jy moes die twee gesien het, wat ‘n skouspel, ek het God laat ween oor die twee. Ek is baie bly dat ek die twee op die spesifieke tydstip kon kry om te baklei want een van hulle se seuns was op die punt om sy hart vir Jesus te gee. Dit was so hitte-te of ons het die seun verloor.”

“Net nou die dag het die ou, Jan, een van sy vriende by die werk saam geneem kerk toe om hom te oortuig om sy lewe vir God te gee. Die man het amper vir Jesus in sy hart ingenooi, man! was dit nou vir jou ‘n gestoei van die eerste waters want jy weet hoe haat ek dit om in die kerk in te gaan. In elk geval, die man het die hele nag oor Jesus gedink en bepeins en die volgende dag terwyl Jan by hom staan het ek ‘n ander man gekry om ‘n argument met Jan te begin. Man, dit was pragtig hoe Jan sy humeur verloor het en nodeloos om te sê, ek het sy vriend terug gekry.”

“Ek het wel een verloor want die seun se moeder wou eenvoudig net nie moed opgee nie. Ek het die outjie behoorlik vas gehad met dwelms, drank, seks en die lekker lewe, maar sy ma wou eenvoudig nie opstaan van haar knieë voor God en ophou bid vir haar seun nie. Een van God se engele het ‘n ander kind gekry om met die seun te praat en so is hy gered.
Kan jy dit glo! Die ander seun was so lief vir die een dat hy saam met hom gehuil het. Hoe kan jy ‘n geveg wen met so ‘n persoon?
Miskien kan ek sy lewe misrabelik maak en hom op die manier terugkry voordat hy ons te veel skade berokken. Gelukkig het ek jare wat ek aan hom kan werk.”

“Ek kan my geluk nie glo hoe maklik dit deesdae geword het om mense sovêr te kry om afvallig te raak van God nie. Vroeër was dit so 1 uit elke 15 en vandag is dit kinderspeletjies om die helfte te kry om lou warm te wees.
Dit is eenvoudig fantasties hoe maklik ek hulle kan kry om hulle liefde te verloor. Die liefde wat maak dat hulle vir ‘n vyand sal sterf as dit hulle sal red.”

“Satan, ons is besig om die stryd te wen, want alhoewel hulle naaste liefde predik en verkondig, leef hulle dit nie uit nie.”

“Ek is verbaas hoe God kan dink dat die mense vir mekaar sal omgee soos met die eerste gemeentes – gelukkig is hulle al lankal weg danksy ons harde werk.
Ai, ek soek ‘n regte uitdaging, Satan, weet jy nie van iemand wat dink dat hulle baie sterk staan nie?

(Psa 15:1) ‘n Psalm van Dawid. HERE, wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg?
(Psa 15:2) Hy wat opreg wandel en geregtigheid doen, en wat met sy hart die waarheid spreek;
(Psa 15:3) wat nie rondgaan met laster op sy tong nie, sy vriend geen kwaad doen en geen smaadrede uitspreek teen sy naaste nie;
(Psa 15:4) in wie se oë die verworpene veragtelik is, maar hy eer die wat die HERE vrees; al het hy gesweer tot sy skade, hy verander nie;
(Psa 15:5) wat sy geld nie gee op woeker en geen omkoopgeskenk aanneem teen die onskuldige nie. Hy wat hierdie dinge doen, sal nie wankel in ewigheid nie.

Monday, November 26, 2007

Die Plaaswerf Eend

‘n Trop wilde eende was besig om in formasie noord te vlieg vir die winter. Hulle het ‘n pragtige V gevorm in die hemelblou lug en is bewonder deur alle mense waaroor hulle gevlieg het.

Eendag het Wallie, een van die wilde eende in die formasie, iets op die grond opgemerk wat sy aandag getrek het. Dit was ‘n plaaswerf met ‘n trop mak eende wat op die plaas gebly het. Hulle het die hele plaaswerf vol gewaggel en baie gelukkig gekwaak en heerlike mielies geëet wat elke dag vir hulle gegee word. Wallie het baie gehou van wat hy sien en het by homself gedink dat daardie mielies darem nou baie lekker sal smaak. Die hele tyd se gevlieg is baie uitputtend en hy sal glad nie omgee om net so bietjie rond te waggel op die plaaswerf nie.

Nadat hy vir so wyle die sakie bepeins het besluit hy om die trop formasie te verlaat en duik hy af na links oppad na die plaaswerf. Hy land tussen die mak eende en begin saam met hulle rond te waggel en baie gelukkig te kwaak. Hy verlustig homself aan die heerlike mielies wat hulle gevoer word. Die res van die trop wilde eend hou aan met hulle tog na die noorde maar dit pla glad nie vir Wallie nie. “Ek sal weer by hulle aansluit wanneer hulle oor ‘n paar maande weer hier verbykom oppad suide toe” sê hy vir homself.

‘n Paar maande het verby gegaan en op ‘n dag merk Wallie die trop wilde eende op wat oppad suide toe is. Hulle lyk so pragtig daar bo in die lug en Wallie het nou al baie moeg begin raak vir die plaaswerf. Die plaaswerf was modderige en oral waar hy waggel is daar net eende vere en gemors. “Dit is tyd om te vertrek” sê Wallie vir homself.

Wallie het verwoed begin om sy vlerke te klap en probeer om in die lug te kom, maar hy het heelwat gewig opgetel van al die mielie etery en hy het vir ‘n lang tyd glad nie sy vlerke geoefen nie.
Uiteindelik kom hy van die grond af maar sy vlug is so laag dat hy teen die een kant omheining van die plaaswerf vasvlieg. Hy val op die grond met ‘n harde slag en sê vir homself “Ag, wat ek sal nog eers wag wanneer hulle oor ‘n paar maande weer noord vlieg en hier verby kom, dan sal ek by hulle aansluit en weer ‘n wilde eend wees.”

Maar toe die trop wilde eende weer oor ‘n paar maande later verby vlieg, het Wallie weeg probeer in die lug kom maar hy het eenvoudig net nie genoeg krag gehad nie. Elke winter en somer het sy wilde eend vriende oorgevlieg en na hom geroep, maar al sy pogings om uit die plaaswerf te kom was tevergeefs.

Later het Wallie glad nie eens meer aandag geskenk aan die wilde eende wat oor die plaaswerf vlieg nie, hy het hulle nie eens meer opgemerk nie. Hy het na alles ook maar net ‘n plaaswerf eend geword.

Soms word ons moeg om die eend te wees wat ons veronderstel is om te wees – navolgers van Jesus Christus. Dit is nie altyd maklik om gehoorsaam te wees aan God nie en om onsself so te dissiplineer om vas te hou maak nie saak hoe lank die tog is nie. Wanneer ons so swak en moedeloos voel dit is wanneer satan ons versoek om uit die formasie te val en aan te sluit by die plaaswerf eende – ‘n wêreldse lewenswyse.

Maar kyk wat het met Wallie gebeur. Hy het gedink hy sal net vir ‘n klein rukkie uit formasie val en hy sou kon vertrek net wanneer hy wou. Maar hy kon nie en dit is hoe dit gaan met sonde in ons lewe. Sonde is ‘n strik en het die manier om ons te verander in mense wat ons nie wil wees nie. Uiteindelik verloor ons kontak met wie ons rêrig is – die seuns en dogters van die Allerheiligste. Ons het plaaswerf eende geword.

(Jas 5:19) Broeders, as een onder julle van die waarheid afgedwaal het en iemand hom bekeer,(Jas 5:20) laat hy weet dat die een wat ‘n sondaar van sy dwaalweg bekeer, ‘n siel uit die dood sal red en ‘n menigte sondes sal bedek.

Sunday, November 25, 2007

Die Gekraakte Pot

‘n Waterdraer het twee groot potte gehad wat weerskante vasgemaak was aan ‘n lang paal wat hy oor sy nek gedra het. Een van die potte het ‘n kraak in gehad terwyl die ander een perfek was en sy volle maat water kon lewer na die lang tog van die rivier tot by die meester se huis. Die gekraakte pot het gearriveer by die huis met net die helfte van die hoeveelheid water waarmee dit gevul was.

Vir ‘n volle twee jaar het dit daagliks so voortgeduur dat die waterdraer net een en ‘n halwe pot water lewer aan die meester se huis. Die perfekte pot was natuurlike baie trots op homself oor sy prestasie om te doen dit waarvoor hy gemaak is. Maar die arme gekraakte pot was baie skaam gewees vanweë sy gebreke en was baie mismoedig dat hy net die helfte van sy taak kon verrig waarvoor hy gemaak is.

Na twee jaar, wat die gekraakte pot beskou het as ‘n totale mislukking, eendag by die rivier met die waterdraer gepraat. “Ek is baie beskaamd en ek vir aan jou om verskoning vra.”

“Waarom?” vra die waterdraer. “Waarvoor is jy so skaam?”

“Vir die afgelope twee jaar kon ek net die helfte lewer van my werklike kapasiteit, want die kraak in my kant laat die water uit lek al die pad na die meester se woning. Vanweë my gebrek moet jy al die werk doen en jy kry net die helfte van die waarde vir jou moeite.”

Die waterdraer het baie jammer gevoel vir die gekraakte pot en met deernis sê hy vir hom, “Wanneer ons nou terugkeer na die meester se woning wil ek hê jy moet oplet na die pragtige blomme langs die voetpaadjie.”

Soos wat hulle teen die heuwel opgaan met die voetpaadjie merk die gekraakte pot die son wat skyn op die pragtige wilde blomme aan sy kant van die voetpad en dit hom opgevrolik. Maar aan die einde van die voetpad, by die meester se woning, was hy weer baie hartseer omdat die helfte van sy vrag water verlore gegaan het en hy vra weer die waterdraer baie nederig om verskoning omdat hy so mislukking is.

Die waterdraer sê aan die pot, “ Het jy opgemerk dat daar slegs blomme aan jou kant van die paadjies is en nie aan die kant van die ander pot nie? Omdat ek die heeltyd bewus was van jou gebrek het ek dit aangewend tot voordeel van die meester se woning. Ek het blom saadjies geplant aan jou kant van die paadjie soos ons van die rivier af kom na die meester se woning. Elke dag wat ons van die rivier af gekom het het jou lekkende water die plantjies natgemaak. Vir twee jaar reeds was ek in staat om die pragtigste blomme te pluk om die meester se tafel mee te versier. As jy nie was soos jy nou is nie sou die meester geen blomme gehad het om sy woning mee te versier nie.”

Elke een van ons het ons eie unieke gebreke. Ons is almal gekraakte potte maar as ons God toelaat sal hy ons gebruik ten spyte van ons gebreke om Sy woning te versier. In God se groot ekonomie word niks gemors nie.

Terwyl ons na maniere soek hoe om bruikbaar te wees in Sy koninkryk en God ons oproep tot die werk waarvoor Hy ons benodig moet jy nie bevrees wees vir jou gebreke nie. Erken hulle en laat Hom toe om dit te gebruik sodat jy kan help om prag te skep langs die voetpaadjie wat Hy vir jou uitverkies het.

(2Tim 2:21) As iemand hom dus hiervan deeglik reinig, sal hy ‘n voorwerp tot eer wees, geheilig en bruikbaar vir die Here, toeberei vir elke goeie werk.

Friday, November 23, 2007

Die Brug Opsiener

Eendag was daar ‘n brug wat gestrek het oor ‘n baie groot en breë rivier. Die brug het in die middel op ‘n groot draai punt gerus. Gedurende die grootste gedeelte van die dag was die brug parallel saam met die rivier se walle sodat al die bote en skepe vry aan weerskante van die brug verby kon beweeg. Maar op sekere tye van die dag is daar treine wat oor die brug moet beweeg en dan word die brug dwars gedraai oor die rivier sodat die trein kan oorgaan.

Die brug operateur sit in ‘n klein hout huisie op die wal van die rivier vanwaar hy die kontroles beheer wat die brug laat draai en in plek laat sluit wanneer die trein oorgaan. Een aand terwyl die brug opsiener wag vir die laaste trein van die dag om verby te kom, kyk hy in die vêrte so deur die son se laaste strale en sien die trein se hooflig. Hy staan op en gaan na die brug kontroles en wag dat die trein eers die sekere punt bereik voordat hy die kontrole oorskakel vir die brug om te swaai. Hy swaai die brug in posisie, maar tot sy skok, kom hy agter dat die sluit meganisme wat die brug in posisie hou aan die oorkantste wal nie werk nie. Indien die brug nie behoorlik “gesluit is aan weerskante nie veroorsaak dit dat die brug geweldig rondbeweeg en dat die trein ontspoor en in die rivier beland.

Die ergste van alles was is dat die ‘n passasiers trein was met baie mense aan boord. Instinktief, hardloop hy na die oorkant van die wal waar daar ‘n meganiese sluitstuk is wat hy kan vasdruk om die spoor in plek te hou. Hy sal die heeltyd die meganiese sluitstuk moet vastrek solank as wat die trein die brug kruis. Hy kan al die geraas van die trein se ysterwiele op die spore hoor aankom toe hy die handvatsel van die sluitstuk vasklem en sy hele gewig ingooi agter die sluitstuk om die brug in te sluit. Hy pas die heeltyd druk toe om die meganisme gesluit te hou want baie mense se lewens hang daarvan af of die opsiener die regte ding doen.

Toe, van oorkant die brug waar sy kontrole huisie is hoor hy ‘n geluid wat die sy hart feitlik laat stilstaan. “Pappa, waar is jy?” Sy vier jaar oue seuntjie was besig om oor die brug te kom opsoek na hom. Sy eerste impuls is om vir die seuntjie te skreeu, “Hardloop! Hardloop!”. Maar die trein was reeds te naby en sy klein beentjies sou hom nooit betyds oor die brug kon dra nie. Die opsiener het amper die sluitmeganisme gelos om te hardloop en sy seuntjie te gaan gryp en na veiligheid te dra. Maar hy besef dat hy nie betyds sou kon terugkeer na die sluit meganisme nie. Of die mense op die trein moes sterf of sy liefling seuntjie. Hy het net ‘n oomblik gehad om die besluit te maak.

Die trein spoed vinnig en veilig verby op sy weg sonder dat enige een aanboord bewus was van die tenger gebreekte liggaampie wat meedoënloos deur die trein in die rivier geslinger is. Ook was hulle nie bewus van die gebroke figuur van ‘n wenende vader wat steeds verbete klou aan die sluit meganisme lank nadat die trein verby is. Hulle het hom ook nie opgemerk terwyl hy huis toe stap, meer stadig as wat hy nog ooit huis toe gestap het, om vir sy vrou te vertel hoe hulle seun wreedaardig gesterf het – sodat ander mense kon lewe.

As jy jouself die emosies kan indink wat deur die hart van die opsiener moes gaan, kan jy maar net eers begin om te verstaan die gevoelens van ons Hemelse Vader toe Hy Sy Seun opgeoffer het om die gaping te oorbrug tussen ons en die ewige lewe. Was dit dan enige wonder dat Hy die aarde laat bewe het en die son verduister het toe Sy Seun gesterf het?
Hoe dink jy moet God voel as ons so deur die lewe spoed sonder om te dink aan die offer wat Hy aan ons gebring het deur Sy seun te stuur om te sterf vir ons sondes sodat ons die ewige lewe mag beërwe?
(Joh. 3:16) Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.