Monday, February 18, 2013

Wanneer ons die Waarheid Weet




Die trein begin stadig in beweging kom. Die trein is gepak met mense van alle ouderdomme maar hoofsaaklik werkende mans en vrouens en jong universiteit studente. By die venster sit ‘n ou man met sy dertig jarige seun.

Soos wat die trein beweeg is die seun oorstelp van vreugde deur die pragtige landskap wat hy deur die trein venster waarneem.

“Sien pa, die prentjie van die rye bome wat in die vêrte wegraak soos wat ons al vinniger beweeg, dit is te mooi.”

Die optrede van die dertig jarige seun laat die ander passasiers op die trein effens kriewelrig voel. Al die passasiers is druk besig om saggies die optrede van die seun met mekaar te bespreek en spekuleer wat fout is met hom.

“Die mannetjie lyk of hy ‘n paar varkies kwyt is,” fluister die jong man aan sy vrou.

Skielik begin dit te reën. Reën druppels val op die passasiers deur die oop venster. Die dertig jarige seun is vreeslik opgewonde en sê, “Kyk pa hoe wonderlik is die reën ...”

Die vrou, van die jong man wat beweer het dat hy ‘n paar varkies kwyt is, begin baie geïrriteer te word deur die paar druppels wat op haar val. Sy het ‘n nuwe snyers pakkie aan en die reën druppels is besig om dit te ruïneer.

Sy snou die ou man toe, “Kan julle nie sien dit reën nie, maar die venster toe en as jou seun nie wel voel nie vat hom dokter toe dat hy kan kyk wat fout is met hom want hy het beslis ‘n skroef of twee los.”

Die ou man aarsel eers ‘n oomblik en toe in ‘n lae stemtoon antwoord hy, “ Ons kom nou net van die dokter af. My seun is vanoggend ontslaan uit die hospitaal. Hy was blind van geboorte af en het sy sig eers ‘n paar dae gelede teruggekry na die operasie. Reën en die natuur is nuut in sy oë. Vergewe ons asseblief indien ons u enige ongerief aangedoen het.”

Sekere dinge wat ons sien mag vir ons reg lyk, volgens ons perspektief, totdat ons die waarheid te wete kom. Wanneer ons die waarheid leer ken, kan ons reaksie op “ons waarheid” selfs ons seermaak.
Probeer eers die probleem te verstaan voordat jy oorhaastig optree.

Wednesday, February 13, 2013

Trots op Prestasies




Om trots te wees op mens se prestasies verteenwoordig nie hoogmoed nie. Dit verteenwoordig blydskap in nederigheid.
“Die kwaliteit van die werk en die kwaliteit van die werker is onlosmaaklik deel van mekaar.”
“Half-hartige pogings produseer nie halwe resultate nie; dit produseer geen resultate nie.”

Drie mense was besig om steen messelwerk te doen. ‘n Verbyganger vra aan hulle wat is hulle besig om te doen.

Die eerste een antwoord:
Kan jy nie sien ek is besig om geld te verdien om aan die lewe te bly nie?”

Die tweede een antwoord:
Kan jy nie sien ek is besig om steen messelwerk te doen nie?”

Die derde een antwoord:
“Ek is besig om ‘n pragtige monument te bou.”

Hier is drie mense wat presies dieselfde werk doen maar totaal verskillende perspektiewe handhaaf oor dit wat hulle doen. Hulle al drie het drie verskillende benaderings ten opsigte van die werk wat hulle doen.
En sal hul benadering tot hul werk hul prestasie beïnvloed?
Die antwoord is ‘n baie besliste – Ja.

Uitnemendheid word eers bereik wanneer die ondernemer trots is om slegs sy beste te lewer. Elke taak is ‘n self-beeld van die persoon wat die werk doen, ongeag wat die taak is, hetsy dit motor was is, om die vloer te vee of om die huis te verf.

Doen dit reg die eerste keer, elke keer. Die beste versekering vir môre is ‘n werk goed gedoen vandag.

Michelangelo het ‘n lang tyd aan ‘n standbeeld gewerk. Hy het geweldig baie tyd spandeer om elke klein detailtjie weer oor te gaan en te verseker dat dit is soos hy dit wil hê. ‘n Omstander het gedink die klein veranderinkies is onbenullig en het vir Michelangelo gevra hoekom hy sy tyd daarmee mors.
Michelangelo het geantwoord:
“Kleinigheid maak dit perfek en perfek is nie ‘n kleinigheid nie.”

Die meeste mense vergeet hoe vinnig jy ‘n taak verrig het, maar hulle onthou hoe goed jy die taak verrig het.

Friday, February 8, 2013

Ander se Wasgoed





‘n Jong getroude paartjie het in ‘n nuwe woonbuurt ingetrek. Die eerste oggend terwyl hulle ontbyt eet sien die jong vroutjie die buurvrou terwyl sy haar wasgoed buite ophang.

“Daardie wasgoed is nie baie skoon nie,” sê sy aan haar man. “Die buurvrou weet nie hoe om wasgoed behoorlik te was nie. Miskien moet sy oorskakel na ‘n ander waspoeier toe.”

Haar man het opgekyk na die buurvrou se wasgoed, maar het nie ‘n woord gesê nie.

Elke keer wanneer die buurvrou haar wasgoed op die draad hang het die jong vroutjie dieselfde opmerkings oor die toestand van die wasgoed.

Ongeveer ‘n maand later was die jong vroutjie die een oggend uiters verbaas om silwer skoon wasgoed op die buurvrou se wasgoeddraad te sien, “Kyk! Sy het geleer hoe om haar wasgoed behoorlik te was. Ek wonder wie het haar bietjie touwys kom maak?”

Haar man antwoord toe, “Ek het vanoggend bietjie vroeër opgestaan en ons vensters skoongemaak!”

Dit is soms ‘n goeie idee om eers te kyk of jou vensters skoon is want wat ons sien terwyl ons na ander kyk hang grootliks af van die vlekkeloosheid van ons eie vensters waardeur ons kyk.

Voordat ons kritiek lewer is dit ‘n goeie idee om onsself eers af te vra of ons in staat is om eerder die goeie te sien eerder as die slegte in mense met wie ons verkeer.

Monday, February 4, 2013

Trooskombersie





Vriendskap is soos die natuur.  
Soms waai ons by mekaar verby sonder om te stop en te vra hoekom die ander so verkreukeld lyk.
Die lewe se wind dra ons weg met ‘n oppervlakkige -  “Goed dankie” en
 “Sien jou later”.

Soms sien ons eers baie later die rypskade aan die ander se brose binneste en wonder ons hoekom het ons nie lankal gevra nie.

Soms sien ons net die lentekleur raak  op ‘n gesig en is ons nie eers bewus
van die wurm wat aan sy/haar binneste vreet nie.

Soms wonder ons of dit net die wind is wat hom/haar wegbuig van ons af en of dit dalk die stingeltjie self is wat sy stokstywe ruggie op jou draai.
Pluk iemand ons vir ‘n ruiker uit YaHWeH se tuin, wriemel ons weg van mekaar.

Roos se dorings steek te seer en papawer wil MOS langs niemand wees nie!
Koringblommetjie kruip weg van skaamte oor haar kartelhoede en Hibuskus
wonder of almal weet van haar verlede.

Intussen vergeet ons dat YaHWeH afkyk op Sy tuin en net pragtige blomme sien.
Almal is ewe mooi, ewe kosbaar, ewe goed in Sy oë.

Vergewe my daarom as ek by jou verbygewaai het op ‘n herfsoggend en
nie jou hand gevat het in die sonlig nie.

Vergewe my as ek op ‘n wintersoggend nie vir jou ‘n trooskombersie van
woorde wou oorgooi teen die rypskade nie.

Vergewe my as ek op ‘n lente-oggend selfsugtig met my eie nuwe blare loop en spog het en nie die kneusplekkies aan jou stingeltjie gesien het nie.

Vergewe my as ek op ‘n warm somersdag nie vir jou ‘n tydjie gemaak het nie,
omdat ek te besig was, selfs te veel gekla het, te haastig was om aan jou die koelte van my vriendskap te bied.

Ek vra verskoning…

weet asseblief dat ek daar is en wil wees vir jou!

Wednesday, January 30, 2013

As U sou sê…




As U sê dat ek moet gaan,
al is dit ook so vêr soos tot daar by die maan,
dan sal ek gaan
al wis ek soms dat ek U nie so mooi kan verstaan.

Al sê U soms- neem op jóú, vir jou naaste, nou die blaam,
ja, vir 'n fout deur hom begaan,
dan neem ek sonder meer die blaam
al wis ek soms dat ek U nie altyd so mooi verstaan.

Al sê U soms dat ek sonder rede eenkant toe moet staan
sodat my naaste in voordeel voor my kan staan,
dan staan ek eenkant toe al stort ek daaroor `n verborge traan
en dit alleen omdat ek U aldag nie so mooi verstaan.

As ek val en ek voel daaroor so verniel en platgeslaan
en U sê streng- dit is nou tyd om weer op te staan,
dan staan ek op om blymoedig op `n nuwe weg voort te gaan.

As U sou sê dit raak nou tyd vir die Waarheid om op te staan,
al weet ek dat my vyand my daaroor pap gaan slaan,
dan sal ek vir die Waarheid staan,
want ek weet daar kom `n tyd wat ek U Wel baie mooi sal verstaan.

As U sou sê dit raak nou tyd, verheerlik nou My grote Naam,
dan hef ek my nederige loflied in vreugde vir U aan,
want U is my El wat my in my swakheid nooit versaak
of eensaam daar eenkant laat bly staan.

As U nou sê dit raak tyd om my te onttrek van die wêreld-waan
en in afsondering nou eenkant toe te staan, dan weet ek; dit
raak nou tyd om in volle geloof in U oor te gaan.

As U sou sê dit raak nou tyd vir die liefde om in oorwinning in my
op te staan,
dan weet ek; dit raak tyd om die selfsug in my teen te staan
sodat my naaste se behoefte eerste voor my kan staan.

As U nou sê: Dit raak tyd vir jou siel om in Wysheid oor te gaan
dan weet ek, dit raak tyd vir my wêreldse verstand om te vergaan
sodat U Grote Wysheid alleen in my gees oor kan gaan.

Al is U ewigheid ook so vêr weg hiervandaan
in soveel dimensies wat selfs die grootste geeste nie aldag mooi verstaan
en U sê ek moet daarheen gaan, dan sal ek gaan,
want skielik wis ek hoe kort is die pad van hier tot by die maan.

Judith de Beer
Vrydag 25 Januarie 2013

Friday, January 25, 2013

Is my naam nog Boer?




Ek hoor 'n stem wat skaam daar fluister: kyk, my naam is Boer
en ek staan gestroop van trots en roer want te lank het ek gesloer
om my liefde vir God, volk en vaderland uit te voer. Maar my ore,
die kon ek uitleen aan die groot hoer en kyk, my kerk het my ‘n
leuen gevoer en so is my siel van die Waarheid na die hel ontvoer.

Ek hoor ‘n stem wat verlate fluister: kyk, my naam is Boer en
eens staan my voorsate so trots en stoer en die grense van hul
Godgegewe land staan vas in elke kontoer en die Gees van God
het saggies soos ‘n Tortelduif in hulle midde gekoer en die aparte
engele was oor hierdie Boervolk so diep ontroer.

Ek hoor ‘n stem wat so oorwonne fluister: kyk, my naam was
eens Boer maar na die wêreld se aanbiedinge het ek alte graag
geloer en die Waarskuwingstem van die Heilige Gees het ek met
geweld toegesnoer en na die mallemeule van ‘n wêreldhel,
daarheen het ek my vrolik laat wegvoer en daarom sal my vyand
wat ek op my heel beste sou vet voer, nou op my erfland as die
nuwe eienaar daarop boer.

Ja, ek hoor ‘n stem wat saggies fluister: kyk, my naam was eens
Boer maar ek staan nou gestroop van my trots en roer want te
lank het ek gesloer om my liefde en lojaliteit jeens my God, volk
en vaderland uit te voer.


Judith de Beer    
Maandag 22 Januarie 2013

Tuesday, January 22, 2013

Stap Eers In ‘n Ander Man Se Skoene




Billy was ‘n groot, snaakse, huislike tipe kêrel. Hy het redelik snaaks aangetrek en die klere het nooit behoorlik gepas nie. Daar was ‘n hele paar werknemers wat gedink het dis vreeslik snaaks om met hom die gek te skeer.

Eendag merk een van sy kollegas ‘n klein skeurtjie op in Billy se hemp en hy gryp die stukkie en skeur die hemp verder. ‘n  Ander kollega in die fabriek pluk ook verder aan die skeur en kort voor lank is daar ‘n hele materiaal strook wat aan Billy se hemp hang.

Billy het aangegaan met sy daaglikse taak en op ‘n stadium stap hy te naby verby aan ‘n beweegde belt. Die geskeurde hemp strook word deur die masjien ingetrek. Binne sekondes word sy hele hemp deur die bewegende band gegryp en Billy verkeer in ernstige moeilikheid.

Alarm het begin skreeu, skakelaars is in der haas afgeskakel en op die manier is ‘n tragedie voorkom. Die voorman, was bewus van wat presies gebeur het en wat het aanleiding tot die insident gegee, ontbied al die manne en dra die volgende storie aanhul oor:

In my jonger dae het ek in ‘n klein fabriek gewerk. Dit was waar ek vir die eerste keer Mike Verwey ontmoet het. Hy was groot en nogal skerpsinnig gewees. Hy was altyd besig om grappies te maak en het daarvan gehou om sy mede kolegas ‘n poets te bak. Hy was ‘n natuurlike leier. Dan was daar Pieter Lumas, hy het altyd ingeval by Mike se planne en poetse, hy was ‘n volgeling. En dan was daar ‘n man by die naam van  ....... Jakkie.

Hy was ietwat ouer as die res van ons – stil, skadeloos en eenkant. Hy het altyd sy middagete eenkant by homself geeët. Hy het dieselfde gelapte broek vir drie jaar aaneenlopend gedra. Hy het nooit deelgeneem aan die speletjies wat ons speel tydens etenstye. Dit het voorgekom asof hy heeltemal afsydig was en het altyd alleen eenkant onder ‘n boom gesit.

Jakkie was die natuurlike teiken vir al die poetse. Hy sou soms ‘n lewendige padda in sy kosblik kry of ‘n dooie muis in sy hoed. Maar hy het dit altyd in ‘n goeie gees aanvaar.

Toe een herfs, terwyl die werk baie min was het Mike bietjie tyd afgeneem om te gaan jag. Pieter het natuurlik saamgegaan. Hulle het ons almal belowe dat as hulle wild kry sal hulle vir ons elkeen ‘n stukkie saambring. Ons was almal baie opgewonde toe ons hoor dat hulle terug gekeer het van die jagveld en dat Mike ‘n lekker groot bok in die hande kon kry.

Ons het nog meer as dit gehoor. Pieter kon nooit iets vir homself hou nie en het dit laat uitlek dat hulle ‘n ordentlike poets gaan bak vir Jakkie. Mike het die bok verwerk en het vir elkeen ‘n lekker groot pakkie met wildvleis gemaak. En, vir die grap, het hy die ore, stert en wildspote bewaar om ‘n pakkie daarvan vir Jakkie te maak – dit sou regtig skreeu snaaks wees wanneer Jakkie sy pakkie oopmaak.

Mike deel die pakkies aan almal uit tydens die middagete. Ons elkeen het ‘n mooi pakkie gekry, dit oopgemaak en Mike daarvoor bedank. Die grootste pakkie het Mike gebêre vir laaste. Dit was Jakkie se pakkie.

Pieter wou omtrent bars van opgewondenheid en Mike het ‘n baie selfvoldane trek op sy gesig gehad. Soos altyd, Jakkie het eenkant by homself gesit, hy was op die verste punt van die groot ou hout tafel. Mike stoot die pakkie nader aan Jakkie tot binne sy reik afstand en ons almal sit en wag om te sien wat volgende gebeur. Jakkie was nooit een wat baie gepraat het nie. Hy was so stil jy sou nooit geweet het hy is in die omgewing nie. Gedurende die laaste drie jaar het hy skaars ‘n honderd woorde met sy mede werkers gepraat. Dus was ons almal baie verbaas met wat volgende gebeur het.

Hy het die pakkie stewig in sy hande geneem en stadig opgestaan. Hy het breed geglimlag vir Mike – dit was toe dat ons eers opmerk sy oë glinster soos die trane opwel. Sy adams appel beweeg ‘n paar keer op en af en toe kry hy eers sy emosies onder beheer.

“Ek het geweet jy sou my nie vergeet nie,” sê hy dankbaar; “Ek het geweet jy sou jou kant bring! Jy is 'n groot ou en hou daarvan om met ons die gek te skeer, maar ek het die heeltyd geweet dat jy ‘n goeie hart het.” Hy het so paar keer weer gesluk aan die knop in sy keel en toe sy blik op die res van ons gevestig.
 
”Ek weet dat dit voorkom asof ek nie deelneem aan julle manne se speletjies nie maar ek het geensins bedoel om ongeskik te wees nie. Julle sien, ek het nege kinders by die huis – en ‘n vrou wat ‘n invalide is – bedleênd nou reeds vir vier jaar. Sy gaan nooit beter word nie. En soms wanneer sy in erge pyn verkeer sit ek die hele nag by haar en waak om haar so gerieflik as moontlik te maak en op te pas. Die grootste gedeelte van my loon gaan om die dokters af te betaal en medisyne te koop vir my vrou. Die kinders probeer hulle bes om te help maar by tye was dit baie moeilik om kos in hulle monde te plaas.”

Miskien dink julle dit is snaak as ek eenkant gaan sit om my middagete te eet. Wel, ek skat ek was ‘n bietjie skaam, want soms het ek niks om tussen my broodjies te sit nie. Of soos vandag – daar is net ‘n rou raap in my kosblik vir middagete. Maar ek wil hê julle moet weet hoeveel hierdie vleis vandag vir my werklik beteken. Miskien meer as vir enigeen rondom die tafel, want vanaand sal my kinders ...” hy vee eers die paar trane van sy gesig af met die agterkant van sy hand, “...vanaand sal my kinders werklik ‘n ....” Hy pluk aan die toutjie waarmee die pakkie vasgebind is.

Ons het Jakkie so intens dopgehou en geluister na sy woorde van dankbaarheid dat ons nie veel aandag geskenk het aan Mike en Pieter nie. Maar ons almal merk hulle nou op, want albei duik op die pakkie in Jakkie se hande af om dit te probeer gryp. Maar hulle was te laat. Jakkie het die papier omhulsel reeds oop en is besig om sy geskenk te bekyk. Hy ondersoek elke wildspoot, elke oor en toe hou hy die stert in die lug. Dit waggel lomp in sy hand. Dit moes eintlik skreeu snaaks gewees het, maar niemand het gelag nie – nie een enkele siel nie. Die moeilikste gedeelte was toe Jakkie opkyk en probeer glimlag vir die poets.

Dit is waar die voorman die storie los en al die manne wat om hom gestaan het. Hy het nie nodig gehad om enigiets meer te sê nie: maar dit was verblydend om te sien hoe die ander hul middagete deel met Billy. Een mede werker het selfs sy hemp vir Billy aangebied.