Friday, February 1, 2008

Boodskap uit die hart:

“Mensekind. Ek ken jou al baie lank, en ek ken jou baie goed. Ek
is die Liefde wat binne jou woon. Wanneer jy Liefde voel, dan is
ek in jou en by jou. Ek is Liefde en bestaan vir ewig, en ek het
jou al geken lank voordat jy op die aarde gebore is. Uit Liefde
wat volmaak is, en veel groter is as wat jy nou kan begryp, is jy
geskape. Liefde bring altyd meer liefde voort, daarom is jy
geskape as ‘n kosbare kind waarin Liefde kan leef, meer kan
word, en waarvandaan meer liefde uitgestraal kan word. Liefde is
skeppend, en skep met volmaakte wysheid. Liefde kan net goed
voortbring, daarom is jou uiteindelike doel goed. Jy is geskape
met ‘n hoër doel, jy het ‘n belangrike roeping om te vervul vanuit
die perspektief van die ewigheid.
Jy het al baie dinge hier in die leerskool van die aarde ondervind.
Baie dinge wat jou soms gelukkig en soms baie ongelukkig
gemaak het. Ek weet van alles, van elke gevoel, elke gedagte en
elke optrede. Ek weet van die swaar, ek weet van jou pyn en
hartseer. Om Liefde waarlik te leer ken, moes jy tydelik ook die
teenoorgestelde van liefde ervaar. Om waarlik ‘n vrye kind van
die Liefde te word, kry jy die kans om self te kies. Op die aarde
laat ek twee pole toe, Lig en liefde, en my teenoorgestelde, wat
duisternis, oordeel, haat en vrees is. Hier kry jy kans om alles te
ervaar en self te kies. Ek vra jou om na my te kom. Kies liefde,
en jy kies lewe. Jy kan my nie sien nie, maar jy kan my in jou
hart, in jou emosies voel wanneer jy sagmoedig is. Jy kan my in
jou hart hoor wanneer jy baie stil is en met jou hart luister.
Jy kan liefde ervaar en vergroot in jou hart wanneer jy jou naaste
help. ‘n Liefdevolle gebaar van hulp of ondersteuning aan
diegene wat om jou is en oor jou pad kom, is die beste manier
om liefde binne jouself op te wek.
Daar is ‘n eevoudige gebod gegee wat jou sal lei op die pad na
jou saligwording. Ek is die enigste Vader van alles wat bestaan,
en vir My moet jy liefhê met jou hele hart en jou hele siel en jou
hele verstand. En jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
Jy moet niemand of niks anders aanbid en aanroep nie, maar
slegs vir My. Tog is daar baie wat ander gode aanbid,
selfgemaakte wêreldse gode in hul soeke na eie mag.
Wanneer daar hoogmoed, selfsug, oneerlikheid, onreg,
verknogtheid aan die aardse besittings en aan aardse genot in
jou is, kan Ek nie in My volmaaktheid en volheid by jou wees nie.
Wanneer sagmoedigheid, nederigheid, verdraagsaamheid,
geduld, opregtheid, mededeelsaamheid en regverdigheid in jou
is, dan kan Ek in My volmaaktheid en volheid in jou en by jou
wees. Hoe meer liefde jy dan in jou hart het en gee, hoe meer sal
jy ontvang.
Maak jou hart en gemoed skoon van dit wat jou weghou van
liefde af. Jou ingebore kompas, jou gewete, sal vir jou aandui
wat jy moet regstel, oorweeg net alle aspekte van jou lewe baie
mooi, en meet dit aan My gebod. Jy het ‘n baie groot geskenk
ontvang, groter as wat jy nou kan besef. Jy het die geleentheid
om volwaardig My kind te wees, om te deel in alles wat Ek het.
Ek is die liefde wat elke sel in jou liggaam aan die lewe hou, Ek
is die Liefde waaruit jou kosbare siel voortgespruit het, en Ek gee
hierdie geskenk van lewe aan jou. Neem dit in liefde aan, soos
wat ek dit in Liefde gee.
Ek deurdring alles.
Ek is baie naby aan jou. Ek is die Een wat in jou hart, jou diepe
emosionele wese is. Ek is die Een wat nou deur jou oë na die
wêreld kyk. Ek is oneindig lief vir jou met My volmaakte liefde, en
niks sal dit ooit verander nie.”
Amen

Met dank aan my vriend Ernst

Wednesday, January 30, 2008

Gebed van die Siel

O my Hemelse Vader, hoor my opregte gebed.
Ek weet dat leë lippetaal vir U niks beteken nie, maar net die opregte emosies en gevoel in die hart van my siel.
Ek dra nou die volgende gevoelens in my hart aan u oor terwyl ek dit met my verstand verwoord.
Dankie vir lewe.
Dankie vir liefde.
Uit my diepste sielwese eer ek U en erken ek U as die enigste Skepper van die Hemel en die Aarde.
Dankie vir U geduld met my.
Ek was verlore, en U het My gered.
U het nooit ingemeng met My wil nie, want U het ‘n vrye wil vir my geskenk saam met die geskenk van lewe.
U laat toe dat ek my eie foute maak, en deur praktiese ervaring geskool word tot die regte insig volgens U orde, wat apart gestel is en heilig is, en nie van die wêreld is nie.
U laat toe dat ek self, deur my eie fisiese en emosionele ervarings, leer van sagmoedigheid, nederigheid, geduld, respek, regverdigheid, opregtheid, geduld, hoop, geloof, en liefde - al die elemente wat ek moet leer om my siel van die gedoemde wêreld te bevry.
Ek dank U vir elke les. Hoe swaar dit ookal soms is, is dit niks in vergelyking met die waarde van die ewige lewe vir my siel nie.
Skenk my asseblief die insig om nie bekommerd te wees oor die oorlewing van my vleeslike liggaam nie, maar skenk my asseblief ook die krag, wysheid en geduld om met verdraagsaamheid
regdeur elke probleem of krisis te gaan, en daaruit vir my siel die lewegewende lesse te haal wat nodig is vir ware lewe.
Dankie dat U die regte leer vir ons hier op aarde gebring het, en dat U ons reeds vrygekoop het van die juk van oordeel en straf.
Lei ook vir ons om diegene wat U leer nog nie aangeneem het nie, behulpsaam te wees wanneer hulle met woorde of ook sonder woorde daarvoor vra.
Ek is my lewe, my alles, aan U alleen verskuldig.
Help my asseblief om waardig U kind te wees volgens U orde.
Die liefde teenoor U wat ek nou in my hart voel, verkwik my soos ‘n klein kind wat sagkens deur sy ouer se arms vasgehou en toegevou word en veilig en geborge en gelukkig is.
Dit verkwik my soos ‘n plant wat eens in ‘n lang droogte was, en nou U sagte reën op hom voel, en wat met lewenskragtigheid na bo uitspruit.
Deurdring asseblief my siel met U kosbare Liefdeslig.
Laat U gees in my opgewek word volgens U wil, en steeds meer my siel deurskyn met U liefde en waarheid en wysheid.
U is my alfa en my omega, my begin en my einde.
Ek rig my volle aandag op U hier in my hart, hier diep binne-in my diepste gevoel.
Ek eer U.
Leer my, o Vader.
Laat die gedagtes wat in my ontspring, volgens U wil wees.
Laat ek dit herken as U wil, en skenk my wysheid en insig en lewenskrag volgens U wil en U
ewige orde.
As dit U wil is, laat my toe om U dienaar te wees.
Lei my om U liefde en boodskap met woord en daad te bring aan my naaste, sodat ek hulle kan help volgens U wil.
Vergewe asseblief my swakhede, en help my om dit te oorkom.
Laat my groei om ‘n volwaardige kind van U te wees, sodat ek sterk en standvastig ook my wil, gelyk aan U wil, kan aanwend in U skeppingsplan.
Liewe Vader, dankie vir alles.
Laat U wil geskied.

Amen

(Met dank aan my vriend Ernst)

Monday, January 28, 2008

Brand jou Hut dalk?

DIE enigste oorlewende van ‘n skeepsramp het op ‘n klein en verlate eiland uitgespoel.

Hy het ernstig gebid dat God hom moet red en elke dag het hy die horison dopgehou vir ‘n moontlike verbygaande skip, maar daar was niks.

Uitgeput het hy uiteindelik vir hom ‘n hut gebou. Kos was skaars. Hy het stadigaan bymekaar gemaak wat hy kon. Wie weet hoe lank hy daar sou moes bly.

Een dag toe hy weer na kos gaan soek het, het hy by sy terugkeer gesien dat sy hut aan die brand is. Hy kon die brand nie blus nie. Alles wat hy bymekaar gemaak het, is vernietig.

Nodeloos om te sê die man was moedeloos. “God, hoe kon U dit aan my doen,” het hy geskreeu.

Ure later het die dreunende motore van ‘n skip hom wakker gemaak. Die bemanning het hom kom red.

“Hoe het julle geweet ek was hier,” wou hy van die bemanning weet.

“O’ ons het jou rooksein gesien,” het hulle geantwoord.

Dis maklik om mismoedig te word. Maar as Christen is ons veronderstel om altyd bo die omstandighede te lewe en nooit onder die omstandighede nie. Ons moet God so goed leer ken dat ons sal besef dat wat ook al gebeur, God het ‘n plan daarmee, al word mens soos Josef ook onder in ‘n put gegooi.

God is aan die werk in ons lewens, selfs te midde van pyn en lyding.
Onthou, volgende keer wanneer jou hut tot op die grond afbrand, dan is dit dalk bloot ‘n rooksein wat roep na God se Genade.

Vir al die negatiewe dinge wat in ons lewens gebeur, het God ‘n positiewe antwoord.

Wanneer jy sê iets is onmoontlik, dan sê God : Alle dinge is moontlik (Lk. 18:27)
Wanner jy moeg is, bied God jou rus aan (Matt. 11:28-30)
Wanneer jy meen niemand het jou lief nie, sê God Hy is beslis lief vir jou. (Jh. 3:16).
Wanneer jy meen jy kan nie meer voortgaan nie, dan sê God Sy Genade is vir jou genoeg. (11 Kor. 12:9).
Wanneer jy meen jy weet nie meer herwaarts of derwaarts nie, dan sê Hy, hy sal vir jou die rigting aandui. (Spr. 3:5-6).
Wanneer jy sê jy kan dit nie doen nie, dan sê God jy kan wel. (Phil. 4:13).
Jy sê dis nie die moeite werd nie, maar God sê dit is. (Rom. 8:28).
Jy meen jy kan nie kop bo water hou nie, maar God sê Hy sal in al jou nood voorsien. (Phil. 4:19).
Jy is vol van vrees, maar God sê Hy het jou nie ‘n gees van vrees gegee nie. (11 Tim. 1:7).
Jy sê jy het nie geloof nie, maar God sê Hy het aan ons elkeen ‘n mate van geloof gegee. (Rom. 12:3).
Wanneer jy meen jy is nie skerp genoeg nie, sê God Hy het aan jou wysheid gegee. (1 Kor. 1:30).
Wanneer jy meen dat jy eensaam is, sê God Hy sal jou nooit verlaat nie. (Heb. 13:5).

Soms moet ‘n mens se hut (dalk ‘n afgod in jou lewe) afbrand, sodat jy weer die genade van God kan smaak.

Saturday, January 26, 2008

Hoe Ryk Is Ons

Eendag het ‘n ryk pa sy seun op reis saam met hom geneem na die platteland met die doel aan hom te toon hoe arm mense kan wees.

Hulle het ‘n dag en nag spandeer op die plaas van ‘n baie arm familie. Nadat hulle teruggekeer het van hulle uitstappie vra die pa vir sy seun, “Hoe was die uitstappie vir jou?”

“Baie goed Pa!”

“Kon jy nou ‘n idee kry hoe arm mense kan wees?” vra sy pa.

“Ja, verseker, pa.”

“En wat het jy geleer uit die uitstappie van ons?”

Die seun antwoord toe as volg;
“Ek het gesien dat ons een hond het en hulle het vier.
Ons het ‘n swembad wat strek tot in die middel van die tuin, hulle het ‘n spruit wat geen end het nie.
Ons het ingevoerde lampe in die tuin, hulle het die sterre.
Ons voortuin strek tot by die grensdraad, hulle sin strek tot by die horison.”

Toe die klein seuntjie klaar is was sy pa sprakeloos.

Hy voeg toe by, “Dankie, Pa, dat jy vir my gewys het hoe ‘arm’ ons is.”

Is dit tog nie so waar dat alles afhang hoe mens na dinge kyk? As jy liefde, vriende, familie, gesondheid, goeie humor en ‘n positiewe lewens uitkyk het – het jy alles.

Jy kan nie enige van die bogenoemde koop nie. Jy kan beskik oor al die materiële welvaart denkbaar, maar as jy arm aan gees is, het jy niks.

(1Tim 6:17) Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet;

Wednesday, January 23, 2008

Lappiesmous

Voor dagbreek een Vrydag sien ek 'n jongman, aantreklik en sterk, deur die agterstrate van ons stad loop.
Hy trek 'n karretjie waarop 'n spul lappe lê. Hulle lyk pragtig skoon, nuut en helderkleurig.
"Lappe! Lappe! Lappe! Nuwe lappe vir oues!" roep die jongman.
"Ek neem jou stukkende lappe! Kom ruil dit om vir nuwes."

"Merkwaardig", sê ek vir myself. Dit lyk na so 'n gawe, sterk jong man.
Sou hy dan nie 'n beter werk kan kry nie?
Waarom nou met lappe smous?
My nuuskierigheid was so geprikkel dat ek hom gevolg het. En ek is nie teleurgestel nie.

By die eerste huis waar die lappiesmous verbygaan, sit 'n vrou op die stoep en huil. Haar sakdoek was sopnat en haar skouers het geruk van die snikke. Dit was duidelik: haar hart was stukkend. Die lappiesmous het sy karretjie gestop en na die vrou gestap.
"Mevrou, gee jou lap vir my", het hy saggies gesê, "ek sal vir jou 'n nuwe lap gee"
Toe neem hy die sakdoek en plaas 'n nuwe lap sakdoek in haar handpalm. Toe begin hy weer sy karretjie trek terwyl hy met sy ander hand 'n snaakse ding doen. Hy sit die vrou se nat sakdoek teen sy oë en begin self huil.
Die vrou se trane het intussen opgedroog. "Dis 'n wonder!" het ek uitgeroep, en die huilende lappiesmous verder gevolg.
"Lappe! Lappe! Nuwe lappe vir oues!" roep hy.

Kort daarna kom die lappiesmous op 'n jongmeisie af. 'n Erg bebloede verband was rondom 'n yslike wond aan haar kop gedraai. Haar oë was dof en leeg. Toe haal die lappiesmous 'n vrolike geel laphoed uit sy karretjie.
"Kom, gee my jou lap en ek sal jou myne gee!" bied hy aan. Die meisie het hom net aangestaar. Toe gaan hy nader en haal met 'n teer gebaar die bebloede verband van haar kop af en draai dit om sy eie kop.
Skielik het sy begin glimlag. Ek het na my asem gesnak, want saam met die verband het die wond gekom. Die bloed het nou oor sy gesig gestroom, en haar wond was genees. "Lappe! Lappe! Ek ruil ou lappe vir nuwes!" roep die sterk, huilende, bloeiende lappiesmous.

Toe hy 'n man met net een arm raaksien, vra hy:
"Het jy werk, meneer?" "Is jy laf? antwoord die af-arm man bitter.
"Wie sal my kan gebruik?" "Gee my jou baadjie, dan gee ek jou myne," antwoord die lappiesmous met gesag.
Toe die ruiltransaksie voltooi is, kon ek my oë nie glo nie. Die man het nou twee volmaakte arms gehad en die lappiesmous net een! "Gaan werk nou!" was die lappiesmous se vriendelike bevel.
So het die lappiesmous aangestap: huilend, bloeiend, gebreklik, oud en siek. Met sy enigste arm het hy sy karretjie getrek.
My hart wou breek toe ek die droewige verandering in die mooi, sterk man se voorkoms sien. Toe hy by die vullishope op die heuwel buite die stad kom het hy daar inmekaargesak en gesterf.
Ek het my seker aan die slaap gehuil - en later agtergekom dat ek dwarsdeur die res van daardie Vrydag en die Saterdag daar gelê en slaap het.
Die Sondagmôre vroeg is ek wakker geskok deur 'n verblindende lig wat rondom my skyn. Toe my oë daaraan gewoond raak, was ek die getuie van die wonder van alle wonders.
Voor my het die lappiesmous gestaan.
Hy was weer jonk en mooi en lewend! En al die lappe wat hy langs die pad by stukkende mense gekry het, was silwerskoon.
Ek stap toe na hom toe en vra: "Trek my ook nuut aan."
Toe verruil my Here my vodde vir pragtige nuwe klere, en sê: "Gaan vertel vir jou vriende: As julle mekaar liefhet, sal almal weet julle is my lappiesmouse vir die wêreld."

Monday, January 21, 2008

Die Klip Kapper

Daar was eens op ‘n tyd ‘n klip kapper wat baie ontevrede was met homself en met sy stand in die lewe.

Een dag stap hy verby ‘n ryk koopman se huis. Deur die oop ingangshek, sien hy al die pragtige besittings van die ryk koopman en al die vername gaste wat hom besoek. “Hoe groot moet die koopman tog nie wees nie” dink hy by homself. Hy het baie afgunstig geword en gewens hy kon soos die koopman wees.

Tot sy grootste verbasing word hy skielik die koopman wat meer luukshede en mag geniet as wat hy ooit van kon gedroom het. Maar saam met dit is ook die veragting en afguns van die wat minder ryk is as hyself.
Nie lank daarna kom ‘n baie vername amptenaar verby, wat rondgedra word in ‘n pragtige drastoel. Hy word gevolg deur vele van sy ondergeskiktes en begelei deur soldate wat op dromme slaan. Elke een, maak nie saak hoe ryk, moes laag buig voor die optog buig. “Hoe vernaam is die amptenaar tog” dink hy. “Ek wens dat ek so vername amptenaar kon wees.”

Toe word hy die vername amptenaar, wat rondgedra word in sy prag drastoel, wat gevrees en gehaat word deur sy volgelinge en die mense op straat. Dit was ‘n baie warm somers dag en die vername amptenaar het baie ongemaklik begin voel in die drastoel wat ontsettend warm begin word het. Hy kyk toe op na die son. Dit skyn trots bo in die hemelruim, geensins gepla deur die amptenaar se teenwoordigheid. “Hoe geweldig is die son nie” dink hy. “Ek wens dat ek die son kan wees.”

Toe word hy die son wat gewelddadig skyn op almal, die veld verbrand en vervloek word deur die boere en die arbeiders. Maar ‘n groot donker wolk het tussen hom en die aarde inbeweeg sodat sy strale nie meer op alles onder op die aarde kon skyn nie. “Hoe kragtig is die storm wolk tog nie” dink hy. “Ek wens dat ek so ‘n wolk kan wees.”

Toe word hy die wolk, wat die velde en dorpies oorstroom en verwens word deur alle bewoners. Maar gou vind hy dat hy weggestoot word deur ‘n groot krag naamlik die wind. “Hoe sterk is die wind tog nie” dink hy. “Ek wens dat ek die wind kan wees.”

Toe word hy die wind, wat die teëls van huise se dakke af waai, bome ontwortel en gevrees en gehaat word deur almal onder hom. Na ‘n wyle waai hy teen iets vas wat nie wil beweeg nie, maak nie saak hoe hard hy daarteen waai nie. ‘n Massiewe rotsblok. “Hoe statig is die rots tog nie” dink hy. “Ek wens ek was die rots.”

Toe word hy die rots, wat kragtiger is enige iets op aarde. Maar terwyl hy daar staan hoor hy die gekap van ‘n hamer op ‘n bytel wat ingedryf word in die rots en hy voel hoe hy verander word.
“Wat kan tog meer kragtiger as ek wees, die groot rots?” dink hy.

Hy kyk toe af na onder en sien daar aan die onderkant die figuur van ‘n klip kapper.
(Ecc 5:18) (5:17) Kyk, wat ek as ‘n goeie ding gesien het, wat voortreflik is, is dat iemand eet en drink en die goeie geniet vir al sy arbeid waarmee hy hom vermoei onder die son gedurende die getal van sy lewensdae wat God hom gee; want dit is sy deel.

Friday, January 18, 2008

Oordeel (Wysheid)

Daar was ‘n baie arm ou man wat in die dorpie gewoon het. Alhoewel hy onbelangrik was, was self konings jaloers op hom omdat hy die pragtigste wit perd in die hele land besit het.
Die konings het groot somme geld aangebied vir die perd, maar die ou man sê net, “Die perd is nie ‘n perd vir my nie maar soos ‘n mens en hoe kan jy ‘n mens, ‘n vriend, verkoop?” Die ou man was arm maar hy sou nooit sy perd verkoop nie.

Een oggend vind hy dat die perd nie in die stal is nie. Die mense van die hele dorp het bymekaar gekom en vir hom gesê, “Jou dwase ou man! Ons het geweet dat iemand eendag die perd sal steel. Dit sou beter gewees het as jy die perd verkoop het terwyl jy kon. Wat ‘n verlies!”

Die ou man sê toe vir hulle, “Moenie sovêr gaan om te sê dat die perd gesteel is nie. Sê eerder dat die perd is nie in die stal nie. Dit is die feit, enigiets anders is spekulasie. Of dit ‘n verlies of ‘n seën is weet ek nie want ons ken net ‘n gedeelte. Wie weet wat hierop sal volg?”

Die mense het gelag vir die ou man. Hulle het altyd geweet dat hy nie aldag al sy varkies op hok het nie. Na ongeveer vyftien dae het die perd skielik een nag net weer by die stal opgedaag. Hy was nie gesteel nie maar het net ontsnap na die wildernis. Die perd het nie net teruggekeer nie maar het ‘n dosyn wilde perde saam met hom gebring.

Weereens het die dorp se mense bymekaar gekom en gesê, “Ou man, jy was reg. Dit was nie ‘n verlies nie maar dit het uitgedraai om ‘n seën te wees.”

Die ou man sê toe, “Weereens gaan julle te vêr. Sê net eerder, die perd is terug ….. wie weet of dit ‘n seën is of nie? Dit is weereens net ‘n gedeelte van die hele prentjie. Julle lees net een woord in ‘n sin – hoe kan julle dan die hele boek beoordeel?”

Die keer kon die mense niks gesê nie, maar heimlik het hulle geweet hy is verkeerd. Twaalf pragtige perde het saam terug gekom.

Die ou man het slegs een seun gehad en hy het begin om die twaalf wilde perde in te breek. Slegs ‘n week later val hy van die perd af en breek beide sy bene. Die mense het weer bymekaar gekom en weer het hulle geoordeel. Hulle sê, “Weereens het jy bewys jy is reg! Dit was ‘n verlies. Jou enigste seun het die gebruik van beide bene nou verloor en in jou oudag was hy jou enigste ondersteuning. Nou is jy nog armer as wat jy ooit was.”

Die ou man antwoord hulle, “Julle het ‘n obsessie om et oordeel. Moenie sovêr gaan nie. Sê slegs dat my seun sy bene gebreek het. Die lewe kom in fragment stukkies en meer word nie aan jou gegee nie.”

Dit het gebeur dat ‘n paar weke na die insident dat die land betrokke geraak het in ‘n oorlog en al die jong manne van die dorp is gedwing om oorlog toe te gaan. Slegs die ou man se seun is gelos aangesien sy bene gebreek is. Die hele dorp was in rou en hartseer gedompel want die oorlog was gedoem van die begin af en die inwoners het geweet dat die meeste van hul jong manne nie sal terugkeer nie. Hulle gaan toe weer almal na die ou man toe en sê, “Jy was reg, ou man – dit het uitgedraai om ‘n seën te wees. Jou seun kan nou wel nie loop nie, maar hy is steeds by jou. Ons seuns is weg verewig.”

Die ou man sê weer, “Julle gaan weer aan en aan om te oordeel. Niemand weet nie! Sê slegs, dat ons seun gedwing is om oorlog toe te gaan en joune nie. Want slegs God, wat die hele prentjie sien, weet of dit ‘n seën of ‘n verlies sal wees.”

Oordeel nie anders sal jy nooit in staat wees om die hele prentjie te sien nie. Met slegs fragmente raak jy behep en maak afleidings wat verkeerd kan wees. Wanneer jy geoordeel het, het jy ophou groei want die verstand soek altyd oordeel omdat dit die maklike uitweg is. Sonder oordeel moet die verstand oop bly vir enige verdere verwikkelinge wat vir die verstand gevaarlik en ongemaklik voorkom.

In teendeel, die reis hou nooit op nie. Een pad eindig, ‘n ander begin: een deur sluit, ‘n ander maak oop. Jy bereik die piek, die volgende hoër piek wag. In God is dit ‘n eindelose reis. Slegs die wat so braaf is dat hulle nie omgee oor die einddoel nie maar tevrede is met die reis, kan leef in die oomblik en daarin verder groei, slegs hulle kan wandel in die geheel prentjie.