Hierdie een is spesiaal vir my vriend Chris wat gister nie baie wel gevoel het nie - ek hoop dit gaan gou beter, ek glo jy sal die een kan waardeer. In ons gebede is jy opgedra aan Vader.
Eendag was daar ‘n jongman wat in die middel van die dorp gestaan het en aan almal wat daar verby gegaan het verkondig hoe pragtige hart het hy. ‘n Groot skare het om hom vergader en sy hart bewonder want dit was voorwaar perfek gewees. Daar was nie ‘n merkie op of enige gebrek daaraan nie. Ja, almal het saamgestem dit was die mooiste hart wat hulle nog ooit gesien het. Die jongman was baie trots en het net nog meer gespog oor sy pragtige hart.
Skielik, verskyn daar ‘n ou man wat sy pad deur die skare moes forseer om voor by die jongman uit te kom. “Jongman, maar jou hart is nie naastenby so mooi soos myne nie.” Roep die ou man uit. Die skare en die jongman kyk na die ou man se hart. Dit het baie sterk geklop maar was vol littekens, dit het plekke gehad waar stukke verwyder is en ander stukke ingelas is maar hulle het nie perfek gepas in die openinge nie en daar was verskeie rowwe kante. Inteendeel, was daar plekke waar daar diep skeure was waar die stukke skoon weg is.
Die skare staar – hoe kan hy sê sy hart is mooier as die jongman sin, wonder hulle? Die jongman kyk na die ou man se hart en sien die toestand daarvan en bars uit van die lag. “Oubaas, jy maak seker ‘n grap.” sê hy. “Vergelyk jou hart met myne, myne is perfek en joune is vol littekens en skeure, hoe kan jy die twee eens vergelyk met mekaar.”
“Ja,” sê die ou man, “Joune lyk perfek, maar ek sal nooit myne met jou hart verruil nie. Jy sien seun, elke litteken verteenwoordig ‘n persoon vir wie ek my liefde gegee het – ek skeur ‘n stukkie van my hart uit en gee dit aan hulle. Gereeld gee hulle ‘n stukkie van hulle hart aan my wat pas in die opening wat ek uitgeskeur het vir hulle, maar omdat die stukkies nie altyd perfek pas nie is die kante maar soms rof, maar dit vertroetel ek want hulle herinner my aan die liefde wat ons gedeel het. Party keer het ek ‘n stukkie van my hart weggegee maar die ander persoon het nie ‘n stukkie van sy hart teruggegee in ruil nie. Dit is die oop skeure – om liefde te gee is om ‘n kans te waag.
Alhoewel die oop skeure pynlik is, bly hulle oop, om my te herinner aan die liefde wat ek het vir die mense en ek bly steeds hoop dat hulle eendag sal terugkeer om die skeure te vul. Kan jy nou sien wat werklike skoonheid is jongman?”
Die jongman staan baie stil met trane wat afloop oor sy wange. Hy stap na die ou man toe, steek sy hand in sy perfekte pragtige hart en skeur ‘n stuk uit. Hy bied dit aan vir die ou man met bewende hande. Die ou man neem sy aanbieding aan en neem ‘n stuk van sy ou verflenterde hart en plaas dit in die wond van die jongman se hart. Dit pas, maar nie perfek nie omdat daar ‘n paar rowwe kante is. Die jongman kyk na sy hart, nie meer so perfek nie maar baie mooier as ooit tevore aangesien die liefde van die ou man se hart daardeur vloei. Hulle omhels mekaar en stap weg sy aan sy.
Hoe hartseer is dit tog nie om deur die lewe te gaan met ‘n perfekte hart wat nog geensins aangeraak is nie.
(1Kor 13:13) En nou bly geloof, hoop, liefde—hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde
Friday, February 15, 2008
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment