Thursday, July 31, 2008

Wyse Woorde


Woede is 'n swak adviseur.


Moet jouself nie beskerm deur 'n heining nie maar eerder deur jou vriende.


Tsjeggiese Spreuke

Wednesday, July 30, 2008

Eensame Soldaat by die Rommelhoop.


Die stryd was fel, baie soldate het gesneuwel. Ek neem plaas op ‘n klip, ‘n kort afstand vanwaar die eens blink en nuut, nou geroeste, dowwe en ingeduikte helms, borsplate, gordels, beenstutte, skoene, swaarde en skilde op die smeulend rommelhoop gestrooi is. Ekself is nie meer so goed bewapen nie. Ek het iewers in die geveg my gordel, skild en swaard verloor. My borsplaat het ‘n hele paar merkbare duike in. Ek kruip nou maar so bietjie hier by die rommelhoop weg. Ek treur oor my makkers wat geval het en ek vrees want my eie lewe is in gevaar.

My gedagtes moes baie vêr gewees het want dit is eers toe Hy direk voor my staan dat ek van Sy teenwoordigheid bewus geraak het. Ek het geskrik, maar toe ek opkyk na Hom, merk ek trane in Sy oë en hartseer op Sy gesig. Die uitdrukking op Sy gesig het my eie gevoel van verslaenheid weerspieël. Hy het langs my plaasgeneem en my vraend aangekyk. Ek het gedink dat Hy dalk die Vader van een van die gesneuwelde soldate was. Ek het die hele geveg breedvoerig uitgelê. Ek het gepraat en gepraat totdat ek ook my hele lewensverhaal voor Hom uitgestort het. Ek het Hom nie die geleentheid gegee om ‘n enkele word te sê nie, net voort gebabbel. Eers later het ek verleë stilgebly.

Hy het oorgeleun en my hand in Sy Hand geplaas. “Hulle was almal My stryders en kinders” het Hy in Sy sagte rustige stem gesê. “Hulle het so passievol vir die stryd aangemeld. Ek het hulle toegerus met die beste Wapenrusting uit die Hemelse Arsenaal. Hulle het so mooi gelyk, en so hard geoefen. Dit het goed gegaan, maar later het hulle hul paraatheid verloor, die hande het gehang, die knieë het swak geword en die binneste het gesterf.”

Ek het die teleurstelling in Sy stem gehoor. Ek het skaam, nederig en skuldig voor Hom gevoel. Ek wou my hand uit Sy hand wegtrek maar Hy het dit stewig vasgehou. Hy het afgekyk na my met soveel liefde en begrip dat die trane vrylik begin loop het. “Wat moet ek nou doen” het ek deur die trane geprewel.

“My kind, Ek verseker jou dat God julle nooit sou toegerus het met ‘n sterk Hemelse wapenrusting, as die slag wat gelewer word nie eg was nie. Satan is ‘n bekwame generaal. Hy verberg sy soldate agter mure en bome en in loopgrawe. Hy is slu en subtiel. Hy is ook baie geduldig. Hy wag net totdat God se stryders en kinders maar slegs ‘n gedeelte van die wapenuitrusting uittrek. Dan slaan hy toe en hy sal poog om hulle met een hou of pyl neer te fel”

“Opregte gebed, innige geloof en volharding sal weer:
Die Gordel van Waarheid laat skitter en blink,
Die Borsplaat glad poleer en dig rondom die bors laat sluit,
Die Helm laat blink in die son.
Die duike in die Skild uitklop wat deur die vurige pyle van Satan getref is.
Die Swaard van die Gees slyp tot ‘n nuwe glans, dit sal ook krag gee aan jou arm om die Swaard te swaai”.

Hy het my beduie na wapenrusting so entjie weg en daar sien ek my Swaard, Skild en Gordel wat ek verloor het.

“Deur opregte gebed, innige geloof en volharding kan julle hierdie Wapenrusting van God dra tot die dag van julle dood”

“Slegs deur oefening en volharding word julle gelei na oorwinning. Daar is ‘n prys vir elkeen wat oorwin, eerste of laaste. Die prys is ‘n Goue Glorieryke plek by ons Vader in die Hemel”.

Hy het my opgehelp van die klip waar ons gesit het. Hy het nog steeds my hand vasgehou toe ons weggestap het van die verlede af. Hy hou nog steeds my hand vas waar ek die toekoms instap. My hart juig en ek huil van vreugde, want ek het nog ‘n kans gekry.

Elizabeth vd Schyff

Tuesday, July 29, 2008

Afrika Spreuke


Don't set sail on someone else's star.


(hierdie een hou ek in Engels ander gaan die betekenis daarvan verlore)

(Moenie jou geluk probeer bou op iemand anders se drome nie)


Wanneer 'n naald in 'n baie diep put val, sal baie mense in die put afkyk maar baie min sal bereid wees om agter die naald aan te gaan.

Monday, July 28, 2008

Die Krag van Woorde


‘n Groepie paddas het deur die woud gereis en twee van hulle het in ‘n baie diep put geval. Al die ander paddas het rondom die put vergader. Toe hulle sien hoe diep die put was, vertel hulle die twee paddas dat hulle so goed as dood is.

Die twee paddas het die kommentare geïgnoreer en probeer om uit die put te spring so al wat hulle werd is. Die ander paddas het aan hulle vertel dat hulle maar net sowel kan ophou spring want hulle is so goed as dood is. Uiteindelik, het een van die paddas gehoor gegee aan wat die ander paddas gesê het en moed opgegee. Met sy laaste sprong poging het hy neergeval en dood gegaan.

Die ander padda het steeds gespring so hard en hoog hy kon. Weereens het die paddas buite die put vir hom gegil om op te hou om homself so te pynig en maar eerder rustig te raak en kalm dood te gaan. Maar die padda het net harder gespring en uiteindelik maak hy dit toe om uit die put te kom.

Toe hy uit die put is vra die ander paddas aan hom, “Het jy ons nie gehoor nie?” Die padda verduidelik toe aan hulle dat hy doof is en dat hy onder die indruk was dat hulle almal hom die heeltyd aangemoedig het om nog harder te probeer.

Die storietjie gee ons baie om oor te dink naamlik:
1. ‘n Bemoedigende woord aan iemand wat platgeslaan is kan hulle aanmoedig om op te staan en hul doelwit te bereik.
2. Vernietigende woorde aan iemand wat platgeslaan is kan ‘n negatiewe effek hê. Wees versigtig met dit wat sy sê.

Mark Russel se aanhaling oor woorde is baie waar:
Die sneeu mag glad en sag lyk maar die rotse daaronder is skerp!

Is die woorde wat jy uiter aan ander bemoedigend sodat hulle aanhou spring om uit te kom of laat jou woorde hulle moed opgee en gaan lê?

Tuesday, July 22, 2008

God


Het jy 'n bewys nodig van God se bestaan? Skakel jy 'n flitslig aan om die son te sien?

Japanese spreuk

Woorde


Jy behoort eerder jou woorde te weeg as om hulle te tel.

Thursday, July 17, 2008

Ek Wil die Wêreld Verander


Toe ek ‘n jong man was, wou ek die wêreld verander.

Ek het gevind dat dit moeilik is om die wêreld te verander, dus het ek probeer om my volk te verander.

Toe ek vind dat ek nie my volk kon verander nie, het ek begin fokus op my dorp. Ek kon nie my dorp verander nie en, as ‘n heelwat ouer man, het ek probeer om my gesin te verander.

Nou, as ‘n ou man, besef ek dat die enigste ding wat ek kan verander is myself en skielik besef ek dat indien ek lank gelede myself verander het kon ek ‘n inpak op my gesin gehad het. My gesin en ek kon ‘n inpak gemaak het op ons dorp. Hulle inpak kon die volk verander het en ek kon op die manier wel die wêreld verander het.

Onbekende Monnik