Wednesday, April 2, 2008

Hande


'n Gholfstok in my hande beteken nie veel nie.
'n Gholfstok in Ernie Els se hande beteken 'n paar miljoen rand.
Dit hang af in wie se hande dit is ..

'n Stok in my hande kan gebruik word vir selfverdediging.
'n Stok in Moses se hande het die see geskei.
Dit hang af in wie se hande dit is ..........

Twee vissies en vyf brode in my hande beteken 'n paar vis-toebroodjies.
Twee vissies en vyf brode in God se hande beteken kos vir duisende. Dit hang af in wie se hande dit is ..

Met spykers in my hande kan ek 'n kassie bou. Spykers in Jesus se Hande beteken oorwinning en verlossing vir die hele wêreld.
Dit hang af in wie se hande dit is ..

So, sit jou bekommernisse, jou vrese, jou hoop, jou drome, jou familie, jou verhoudings –ALLES - In God se Hande.


Onthou - Dit hang af in wie se hande jy is !

Monday, March 31, 2008

Pa se oë


In Derde Laan staan ‘n klein huisie met pragtige roostuin en ‘n groot populierboom. Dit is hier waar Theo en sy pa gebly het.Hulle het alleen daar gebly, want sy ma is jare gelede al oorlede.Almal in die dorp het dié twee se verhouding bewonder. Theo se pa het nie een van sy rugbywedstryde misgeloop nie. Of dit nou mooiweer of stormweer was, jy kon verseker weet, Theo se pa was daar. Hy was sy seun se grootste aanhanger.


Ironies, Theo het nooit in ‘n wedstryd gespeel nie; hy was altyd die reserwe. Ná elke wedstryd was sy pa se woorde: “Miskien speel jy volgende keer.” Dan het sy pa altyd met sy arm om Theo se skouer daar weggestap.Sonder enige druk van sy pa se kant, het Theo aangehou oefen en het hy altyd sy beste by elke oefening gegee. Hy het egter deur sy hele hoërskoolloopbaan die reserwebank vol gesit, want - omdat die skool klein was - het hulle net een span in sy ouderdomsgroep gehad.


Maar sy pa het steeds getrou al die wedstryde bygewoon.Dit was voor een van die laaste wedstryde in sy matriekjaar dat ‘n tragedie Theo tref. Sy pa is skielik dood. Dit was vir hom ‘n baie groot skok. Hy het die afrigter gevra om dié week van die oefeninge verskoon te word. Die afrigter het vir hom gesê: “Theo, neem soveel tyd as wat jy wil, want dis ‘n groot verlies wat jou getref het.”


Die Saterdag met die wedstryd daag Theo in sy rugbyklere by die wedstryd op. Hy gaan staan voor die afrigter en pleit-vra: “Meneer, kan ek asseblief vandag speel?” Die afrigter het gevoel dat hy met so ‘n belangrike wedstryd nie kon bekostig om ‘n swak speler in te span nie, maar besluit toe tog om hom te laat speel. Hy het geredeneer: Hoeveel jare lank oefen hy nou al getrou sonder om te speel en boonop is sy pa dood. Ek sal hom ‘n kans gee.Theo speel fantasties en druk selfs die wendrie. Na die tyd stap die afrigter na Theo: “Waar het jy al die tyd hierdie talent gebêre? Jy was briljant.” Theo het met trane in sy oë gesê: “Meneer, my pa is in die hemel. Meneer weet hy het getrou al die wedstryde bygewoon, al was hy blind. Wel, vandag was die eerste keer dat hy my kon sien speel. Ek wou vir hom wys … ek kán speel!”


Onthou, ongeag hoe jy nou voel, iemand is trots op jou, dink aan jou, gee om vir jou en is lief vir jou. God - en al die mense wat lief is vir jou - hou jou in liefde dop.

Friday, March 28, 2008

God se Liefdes Verhaal


So ruk gelede het ek een oggend vroeg opgestaan om te kyk hoe die son opkom. Ah, die prag van God se skepping, wie kan dit in woorde omskryf. Terwyl ek so kyk terwyl die son opkom loof ek God vir Sy pragtige werke wat Hy geskep het. Terwyl ek daar sit, voel ek God se teenwoordigheid by my..

Hy vra my, “Het jy My lief?”

Ek antwoord, “Natuurlik God! U is my Skepper en Redder!”

Toe vra hy, “As jy liggaamlik gebreklik was, sou jy my nog steeds lief gehad het?”

Ek was verleë. Terwyl ek afkyk na my arms, bene, die res van my liggaam en wonder hoeveel goed sal ek nie in staat wees om te doen sonder die liggaamsdele nie – goed wat ek sommer as vanselfsprekend aanvaar.

Ek antwoord, “Dit sal moeilik wees Vader, maar ek sal U steeds liefhê.”

Toe vra God my, “As jy blind was, sou jy steeds so lief wees vir My skepping?” Hoe kan ek vir iets lief wees sonder dat ek dit kan sien? Toe dink ek onmiddellik aan die klomp mense in die wêreld wat blind is en hoeveel van hulle steeds lief is vir God en Sy skepping.

Ek antwoord toe, “Dis moeilik om dit myself voor te stel, maar ek sal U steeds liefhê.”

Toe vra God my, “As jy doof was, sou jy nog steeds na My Woord luister?” Hoe kan ek na enigiets luister terwyl ek doof is?

Toe verstaan ek. Om na God se Woord te luister is nie slegs om met die ore te luister nie, maar met ons hart.

Ek antwoord toe, “Vader dit sal moeilik wees, maar ek sal steeds na U Woord luister.”

God vra my. “As jy stom was, sou jy steeds my Naam verheerlik?”

Hoe kan ek Hom loof en prys sonder ‘n stem? Maar toe onthou ek weer: God wil hê dat ons Sy heerlikheid sal besing vanuit ons hart en siel. Dit maak nie saak hoe ons stem klink nie. Om God te prys is nie altyd met ‘n lied nie maar ook deur die woorde wat ons in ons hart spreek tot verheerliking en dankbetuiging van Hom.

Ek antwoord, “Alhoewel ek nie fisies sal kan sing nie, sal ek steeds U verheerlik.”

En God my toe weer, “Het jy my werklik lief?”

Met moed en sterk oortuiging antwoord ek baie braaf, “Ja, God, Ek het U lief omdat U die enige en ware God is!”

Ek het gedink dat ek goed geantwoord het, maar God vra toe , “NOU WAAROM SONDIG JY?”

Ek antwoord, “Omdat ek net menslik is. Ek is nie perfek nie.”

“NOU WAAROM IN TYE VAN VOORSPOED EN VREDE DWAAL JY DIE VERSTE AF? HOEKOM NET IN TYE VAN NOOD BID JY ONVERPOOS?”

(Ek kon nie antwoord nie …….. slegs die trane wat ‘n stukkende hart verraai)

God het voortgegaan: “Hoekom sing jy vir my net ‘n loflied by byeenkomste en in die erediens? Hoekom soek jy my net in tye van formele aanbidding? Waarom vra jy dinge wat so selfsugtig is en net gerig is op jouself? Hoekom vra jy van My met so swak geloof dat Ek miskien nie sal kan voorsien nie?

Die trane het net aanhou vloei oor my wange.

“Hoekom is jy skaam vir My? Hoekom versprei jy nie aan ander die blye boodskap en verlossing wat Ek jou gebied het nie? Hoekom in tye van hartseer soek jy vertroosting by ander terwyl Ek my skouer vir jou aanbied om op te huil? Hoekom bly jy verskonings maak die oomblik as Ek jou die geleentheid bied om in My naam te dien?

Ek het probeer antwoord maar daar was geen antwoord aan te bied nie.

“Jy is geseën met lewe. Ek het jou nie geskape om dit weg te gooi nie. Ek het jou geseën met talente om My te dien, maar jy hou steeds aan om my die rug te keer. Ek het My Woord aan jou openbaar, maar jy groei nie in kennis nie. Ek het met jou gespreek maar jou ore was geslote. Ek het jou My seëninge gewys maar jou oë was weggekeer van MY. Ek het aan jou dienaars gestuur om jou te help en te leer, maar jy het net gesit en niks gedoen terwyl hulle weggedrywe word. Ek het jou gebede verhoor en hul almal beantwoord.”

“HET JY MY WERLIK LIEF?”

Ek kon nie antwoord nie. Hoe kon ek? Ek was verskriklik beskaamd. Ek het geen verskoning gehad nie. Wat kon ek antwoord op die aantuigings? My hart het verskeurd uitgeroep terwyl die trane vloei, “Asseblief God, vergewe my, ek is nie waardig om U kind te wees nie.”

God het geantwoord, “Dit is My Genade, My kind.”

Ek vra, “Waarom hou U aan om my te vergewe? Hoekom het U my so lief?”

God het geantwoord, “Want jy is My skepping. Jy is My kind. Ek sal jou nooit verlaat nie. Wanneer jy huil, sal Ek medelye met hê en saam met jou huil. Wanneer jy jubel van blydskap, sal Ek saam met jou lag. Wanneer jy terneergedruk is, sal Ek jou opbeur. Wanneer jy val, sal Ek jou optel. Wanneer jy moeg is, sal Ek jou dra. Ek sal met jou wees tot aan die einde van dae en ek sal jou liefhê tot in ewigheid.”

Nog nooit van tevore was my hart so stukkend. Hoe kon ek so koud hartig wees? Hoe kon ek God so seergemaak het?

Ek het God gevra, “Hoe lief het U my?”

God strek Sy arms na my uit, ek aanskou die hande wat met spykers deurboor is. Ek buig neer aan die voete van Christus, my Verlosser. Vir die eerste keer leer ek om te bid en Hom te loof en prys met my hele wese want Hy het Homself gegee vir my.

(Heb 13:5) Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.

Wednesday, March 26, 2008

Die Kruis Vertrek


Die jong man was totaal moedeloos.

Sonder ‘n uitweg in sig val hy op sy knieë en begin te bid.

“Vader, ek kan nie verder aangaan nie,” verklaar hy.

“My kruis wat ek moet dra is hopeloos te swaar vir my.”

God antwoord hom,

“My kind , as die kruis vir jou te swaar is en jy dit nie verder kan dra,

sit jou kruis teen die meer neer in die vertrek.

Stap deur die hele groot vertrek en kies vir jou enige ander kruis wat jou hart begeer.

Die man oorstelp van blydskap en verlig dat hy ‘n ander kruis kon kies.

“Dankie, dierbare Vader,” het hy gesug en begin soek na ‘n ander kruis soos hy beveel is.

Terwyl hy so deur die groot vertrek wandel en al die magdom kruise besigtig, sommige

so hoog dat hy die bo punt daarvan nie eens kan sien nie en ander so kolossaal groot dat

slegs ‘n baie sterk persoon so kruis sal kan dra.

Toe sien hy ‘n klein kruisie daar oorkant teen die muur staan.

“Vader, ek sal graag daardie kruisie teen daardie muur wil dra,” fluister hy vir God.

God antwoord hom,

“My seun, dis die kruis waarmee jy hier aangekom het.”

~ ~ ~ ~ ~ ~

Wanneer lewens kwellinge dreig om ons te verswelg,
help dit om so bietjie om ons heen te kyk en te sien wat ander mense alles moet verduur.
Dan kan jy eers sien dat jy meer bevoorreg is as wat jy gedink het.

(Jes 40:29) Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.

Monday, March 24, 2008

Die Bergpaadjie.


Ons het in die lewe slegs twee paadjies waarvan ons kan kies. Ons ken dit tradisioneel as die smal en die breë weg maar hoe goed ken ons die paaie, het ons nie al so afgestomp geraak dat ons nie meer kan onderskei nie en dink die enigste verskil is dat daar op die een net meer mense is as op die ander.

Hoe sou die breë weg deesdae lyk – nog soos in die prentjie in ouma se huis, daar teen die gang muur waar die twee weë uitgebeeld word. Waar daar gewys word waar die een ou die ander een doodslaan, die een man die ander een se goed steel, ons onthou almal die bekende tonele soos gister.
Nee verseker lyk dit nie meer dieselfde nie, want die mens het in vandag se tye baie meer verfynd en gesofistikeerd geraak selfs met hulle sondes.

Die breë pad is mooi en pragtig geplavei, lekker breed gemaak dat die mens saam met sy vriende gemaklik daarop kan wandel sonder om die ander verkeer te belemmer.
Daar is nie meer ‘n bekommernis oor jou medereisigers nie want hulle is almal beskaafd en die meeste van hulle is saam met jou in die kerk en staan langs jou wanneer julle koek verkoop om fondse in te samel vir die kerk skuld wat betaal moet word.
Daar is ‘n loue liefde teenwoordig in die mense, die liefde is volop op voorwaarde dat jy nie by my moet kom aanklop om hulp nie want dan sal jy vind dat die liefde slegs vir die eie ek is.
Maar hoe word sondes deesdae verbloem op die mooi geplaveide snelweg na die hel.

Hoekom dien jy nog afgode?
Maar ek aanbid geen afgode nie, ek gaan nie na ‘n tempel toe waar ek een of ander hout of klip beeld aanbid nie.
O, nou wat van die god Mammon wat jy dien met soveel toegewydheid dat jy jou vrou en kinders daarvoor verlaat of afgeskeep het? Nee maar jy verstaan nie, ons het mekaar net ontgroei en daar was nog nooit iets verkeerd met ambisie nie. My kinders is gelukkig want hulle het alles wat hul harte maar kan begeer.
Ja, vriend, behalwe ‘n vader!
Nou wat van jou god Bacchus wat deesdae so mooi verpak word in pragtige bottels, wie jy so liefkoos dat jy later nie meer kan regop staan nie? Jy verstaan weereens nie, ek moet my vriende onthaal om hulle besigheid te behou en ek moet ten minste vir my juniors en vriende wys ek kan alles beter doen en ek is ‘n man, ek kan dit handle.
Dis ‘n snaakse manier om jou manlikheid te bewys!
Hoekom dien jy die geluksgodin deur elke tweede aand by die dobbelhuis haar te gaan aanbid? Ek maak nie staat op die geluksgodin nie, ek gaan doen dit vir my ontspanning en vermaak!
Het jy al gedink aan die geluk wat jy sal ervaar as jy dieselfde tyd aan jou lewensmaat en kinders spandeer?

Hoekom gebruik jy God se naam ydellik?
Nee, ek gebruik nooit Sy naam ydellik in enige gesprek nie.
O, jy dink dit gaan net om Sy naam ydellik te gebruik soos in gesprekke, wat noem jy dit om ‘n valse eed af te lê of om ‘n belofte te maak en dit weer te verbreek? Hoekom hou jy praatjies saam met die goddelose terwyl hulle Vader se naam ydellik gebruik en jy sê niks nie? Jy maak of jy ‘n gelowige is terwille van aanvaarding, om ‘n beter pos te kry of bevorder te word, dit is dieselfde as om Sy naam ydellik te gebruik. Jy het Sy naam tot oneer gebruik en misbruik.

Hoekom gedenk jy nie die Sabbatdag nie?
Maar ek gaan kerk toe op ‘n Sondag.
Wat van al die sport wat jy lekker gaan sit en kyk na die erediens klaar is? Ek kan nie help as ons spanne op Sondae moet sport speel ter wille van internasionale aanvaarding nie.
Wat van die besigheid wat jy op die Sabbat bedryf? Ons moet almal oorleef.
Ten koste waarvan? Jou siel?
Wat van al die ander sabbatte soos bepaal in Levitikus? Maar dit is alles Ou Testament goed en is nie meer van toepassing nie.
So die tien gebooie geld ook nie meer vir jou nie? As jy vergeet het, hulle is ook in die Ou Testament.

Hoekom eer jy nie jou vader en jou moeder nie?
Maar ek is nie lelik met hulle nie en ek is lief vir hulle. En die keer toe Moeder jou nie wou help met ‘n ekstra geldjie nie omdat sy nie gehad het nie en jy haar suutjies ‘n mislike ou koeie genoem het agter haar rug?
Wat van die keer toe jy so met hulle baklei het oor hul siening en waardes ten opsigte van die Sabbat en Geloftedag? Toe jy hulle verkramp en uit die oude doos genoem het?

Hoekom het jy jou naaste doodgemaak?
Ek het in my hele lewe nog nie iemand doodgemaak nie! Wat van die man vir wie julle soveel skuld toegestaan het terwyl julle geweet het hy sou dit nooit kon terug betaal nie en wat later maar eerder selfmoord gepleeg het, want dit was die enigste uitweg wat hy gesien het? Wat het jy gedoen toe jy hoor van die nood van jou volksgenote en hul kinders, het jy gehelp om hulle te voed en te klee? Indien nie is jy net so skuldig aan hulle dood.
Wat van die woekerwins wat jy maak deur die belegginkie in die cash loans besigheid op die dorp? Hoeveel mense het jy nie daardeur vernietig nie?

Hoekom vermeng jy?
Maar ek meng nie met ander rasse nie. Dit gaan nie net oor die vermenging met ander rasse nie. Nou wat dink jy gebeur as jy al daardie sataniese films kyk of toelaat dat jou kinders dit kyk, wat van die vieslike boeke wat jy so skelmpies deurblaai of die Harry Potter boeke wat jy vir jou kinders koop? Jou suiwer gees wat afkomstig is van die Almagtige vermeng jy met dit wat van satan af kom.

Hoekom steel jy?
Ek het genoeg geld en het nie nodig om te steel nie. Wat van nou die dag toe die meisie by die kafee vir jou te veel kleingeld gegee het en jy dit vinnig in jou sak gedruk het toe jy sien dis te veel? Ek kan nie help as hulle sulke dom mense daar aanstel nie en ek kry hulle net terug vir die kere wat hulle my verkul het. Wat van die geld wat jy vir jou naaste geleen het teen astronomiese rente, jy weet dit wat ons woeker noem? Dis net steel met ‘n mooi naam.
Onthou jy die assuransie eis van verlede jaar toe jy baie meer ge-eis het as wat gesteel is? Wat noem jy dit?

Hoekom spreek jy valse getuienis teen jou naaste?
Ek het nog in geen hof ‘n leuen vertel oor my naaste nie? Wat van nou die ander dag toe jy met smaak vir jou vriende vertel het van die meisie wat ‘n slet is net omdat sy niks van jou wou weet nie. Of van daardie skinderstories (liegstories) oor ander mense, is jy nie besig om valse getuienis van hulle te lewer nie?
Wat van die keer toe jy vir jou boetie die skuld gegee het vir die bord wat gebreek het.

Hoekom begeer jy wat jou naaste s’n is?
Man ek het alles wat mens maar kan begeer in hierdie lewe, ek het niks nodig nie, inteendeel begeer die ander mense dit wat ek het. Die getroude vrou met wie jy so ‘n skelm verhouding het, is dit nie om jou naaste se vrou te begeer nie? Ja, maar hulle is in elk geval besig om uitmekaar te gaan. Maar tot op hede is sy nog steeds jou naaste se vrou?

Sou jy bietjie moeg raak gedurende jou staptog is daar vir heelwat afleiding langs die pad voorsiening gemaak. Maar die betaling wat verlang word is nie met geld nie maar jy betaal elke keer met ‘n stukkie van jou siel. Vir elke stukkie wat wegraak van jou siel met al die koop transaksies word die verlore stukkie vervang met ‘n donkerte afkomstig van die bose. Later is jy heeltemal leeg van die Goddelike Lig wat jy ontvang het en het net die bose in volheid wat in jou oorbly.

Die bergpaadjie het sy oorsprong uit die breë weg want ons almal is gebore in die breë weg tot op ‘n stadium wat Vader ons gelei het om af te klim van die pad en ‘n heeltemal ander koers in te slaan, die berg op.

Na jare se wandel op die geplaveide breë weg was die terrein van die bergpad maar baie rof gewees, los klippe wat oral rondlê en maak dat mens baie maklik val. Na so paar val slae dan lyk die plavei oppervlak van die breë weg darem baie aanloklik, veral as jy so afkyk na jou stukkende knieë en handpalms.

Die eerste gedeelte van die reis teen die bergpad op is baie steil met hindernisse wat elke paar tree dreig om mens te laat val en moed op te gee. Daar is heelwat wat die bergpaadjie begin en na ‘n paar keer se val is hulle moedeloos en moeg gesukkel en gly maar weer terug tot in die breë weg want dit is baie makliker.
Vir die res wat volhard is die pad geensins makliker nie want afgesien van die voortdurende los klippe is die pad baie glad en begroei met gras en doringtakke wat skraap en steek. Maar die verskil is dat wanneer hulle geval het of moedeloos raak kyk hulle op teen die berg en hulle sien die mooiste landskap wat vir hulle wink en sê kom verken my.

Die dorings wat so steek en skraap en die klippe wat ons pootjie roep elke keer luid uit wanneer hulle ons seermaak.

Die woorde wat hulle gereeld uiter gedurende die staptog is:
“Julle gelowiges is darem vreeslik boring”
“Jou vriende mis jou geweldig baie en hulle wil graag weer lekker tye saam met jou deurbring”
“Sien jy wat het jy nou daarvan, geen vriende meer”
“Dink jy nie die fliek gaan baie lekkerder wees as om te sit en jou Bybel te lees nie?”
“Is dit nie lekkerder om te slaap as om te bid nie?”
“Laat waai met daai vloekwoorde as jy kwaad is, dit sal jou spanne beter laat voel.”
“Sien jy die moeilikheid wat nou oor jou gekom het, dis God se skuld.”
“Jy sal nooit die pad kan volhou nie, kom eerder ondertoe en ontspan ‘n bietjie.”
“Jy sal nooit die drank duiwel kan wen nie.”
“God gee nie om as jy nie te heilig is nie, hy weet jy is net ‘n mens so moenie te veel worry nie.”
“Nee man daar is net ‘n God van liefde en Hy sal nooit enige iemand in die hel werp nie, Hy is nie ‘n God van wraak nie.”

Jy het die keuse om te luister na die gemors wat langs die pad vir jou vertel word of jy kan jou ore sluit vir dit en net konsentreer op die roepstem van Hom wat jou op die pad gelei het.
Die slegte nuus is dat die eerste stukkie van die paadjie baie rof is, maar vertrou op Hom, Hy sal vir jou die regte skoene voorsien vir die rowwe terrein.

Wanneer die rowwe gedeelte agter die rug is dan begin die heerlike reis van ontdekking en dit is asof jou wese nie genoeg kan inneem van die heerlikheid nie.
Dis soos wanneer mens ‘n bergpas bestyg daar anderkant George se omgewing – hier onderlangs is die omgewing en die plantegroei nie baie indrukwekkend nie, soms sommer plain kaal en klipperig. Maar soos wat jy al hoër opgaan in die pas begin die plantegroei weliger te raak, jy ruik daardie unieke reuk van plante en denne. Dis wonderlik hoe die reuk mens so kan verkwik en vernuwe laat voel.

Wanneer die rowwe terrein agter die rug is dan is die res van die pad besaai met die “WOW” faktor soos wat ons op die verkennings tog beweeg na Sy heerlikheid en genade.

Die klippe raak baie minder maar as jy nie kyk waar jy loop nie sal jy steeds oor die klippe en ander obstruksies kan struikel. Gelukkig hoe meer jy bid en God se Genade oor jou lewe afbid hoe minder raak die obstruksies.

Die eerste blom wat ons op die pad raakloop is die ELB – dit staan vir die “Ewige liefdes blom”. Die blommetjie is baie laag op die grond en die enigste manier om die lieflike aroma daarvan te ruik is om op jou knieë te gaan. In jou sal die behoefte onmiddellik ontstaan om elke oggend en aand op jou knieë te gaan en aan die blommetjie te ruik want die reuk het die vermoë om jou wese te open sodat jy met Vader Yahweh kan praat.

Die volgende blommetjie op die pad is die DOH blom – dit is “Die Ontvanklike Hart” blommetjies wat maak dat jou hart besny is en ontvanklik is om Vader se Woord te kan hoor en daarvolgens te leef. Dit stel ook die hart in staat om uit te spruit en vrug van genade en liefde voort te bring.

Die ander lieflike blom is die LSM blom wat welig langs die pad groei en jou kort-kort roep om aan hulle te kom ruik – dit staan vir die “Liefde Sonder Maat” blommetjies. Hulle maak pragtige ruikers wat mens graag uitdeel aan hulle wat mens op die pad teëkom, maar omdat die blomme so goed hou as hulle mooi versorg word kan mens van hulle ook stuur aan die mense op die breë weg. Die mense kan die ruiker weggooi of hulle kan so gelok word deur die heerlike geur daarvan dat hulle ook van die breë pad afklim en die weg soek na die bergpaadjie.

As mens van die ruikers stuur aan hulle op die ander pad is dit uiters noodsaaklik om die komplementêre kaartjie aan te heg wat as volg lees – “Ek deel met jou want God het met my gedeel. Die blomme kom uit die tuin van die Meester en hy soek elke dag vir jou. Vanaf die kranse roep Hy jou by jou naam. Hy wil hê dat jy in die blomtuin van Sy genade kom wandel. Ons wag vir jou. Liefde jou vriend.

Wandel jy reeds hoog op in die berg, indien wel geniet die blomtuin van Vader en laat die ruikers in oorvloed kom na hulle op die breë weg.
OF
Stoei jy nog met die klipperige deel van die bergpaadjie, vra Vader om jou die regte stapskoene te gee en Sy staf van genade om jou te help.
OF
Het jy ‘n ruiker ontvang en weet nog nie wat om daarmee te doen nie? Gaan jy antwoord op die uitnodiging aan jou?
Wat het jy om te verloor? Huidiglik jou siel.
Wat het jy om te wen? Die ewige lewe saam met Yahweh en die voorreg om te wandel in die lowerryke heerlikheid van Sy genade.

Die keuse is joune. Wat sal dit wees?

Friday, March 21, 2008

Blinde Bus Passasier


Die passasiers in die bus kyk simpatiek na die beeldskone jong vrou wat besig is om die bus trappies versigtig te bestyg met haar wit wandel stok. Nadat sy die bus bestuurder betaal het voel sy met haar hande die posisie van die sitplekke en stap met die gangetjie af tot ongeveer waar oop sitplekke is soos aan haar beduie deur die bus bestuurder. Sy neem plaas op die oop sitplek, sit haar briewetas op haar skoot en laat die wandel stok teen haar been rus. Dit is nou ‘n jaar wat Susan, vier en dertig jaar oud, reeds blind is.

As gevolg van ‘n verkeerde mediese diagnose is Susan blind in beide oë en sy was skielik ingedompel in ‘n wêreld van duisternis, woede, frustrasie en self bejammering. Eens ‘n vurige onafhanklike vrou, voel sy nou verwerp deur die wrede lot wat haar getref het en van haar ‘n kragtelose, hulpelose oorlas gemaak het vir almal om haar.
“Hoe kon dit met my gebeur het?” het sy voortdurend met woede in haar hart gevra. Maar maak nie saak hoeveel sy gehuil, baklei of gebid het nie, het sy die pynlike waarheid besef dat haar sig nooit weer tot haar sou terugkeer nie. ‘n Somber wolk van depressie het oor Susan se eens opgewekte gees gehang. Net om deur elke dag te kom was ‘n oefening in frustrasie en moedeloosheid. Al waaraan sou vasgeklou het was haar man, Markus.

Markus was ‘n offisier in die lugmag en hy het die grond aanbid waarop Susan geloop het. Toe sy haar sig verloor het het hy gesien hoe sy wegsak in wanhoop en hy was vasberade om sy vrou te help om krag en vertroue te kry sodat sy weer onafhanklik kon funksioneer. Markus se militêre agtergrond het hom goed toegerus om sensitiewe situasies te hanteer maar steeds het hy geweet dat dit die moeilikste geveg van sy lewe sou wees. Na maande het Susan gereed gevoel om haar werk te hervat, maar hoe sou sy daar kom? Sy het voorheen altyd die bus gebruik maar was nou te beangs om haar weg in die stad te vind. Markus het aangebied om haar elke dag werk toe te ry alhoewel hulle werksplekke in teenoorgestelde rigtings van die stad was.

Aanvanklik het dit Susan vertroos en Markus se behoefte vervul om sy blinde vrou te beskerm wat so onseker was om die geringste takie te verrig. Baie gou het Markus besef dat die reeling nie sou werk nie want die skedule was chaoties en dit was baie duur. Susan sal moet begin leer om weer met die bus te ry het hy aan homself erken. Maar net die gedagte daaraan om dit aan Susan te noem het hom klaar ineen laat krimp. Sy was steeds so weerloos en kwaad. Hoe sou sy reageer?

Net soos Markus verwag het, Susan was buite haarself van vrees deur net daaraan te dink. “Ek is blind!” het sy verbitterd geantwoord. “Hoe is ek veronderstel om te weet waar ek heengaan of waar ek is? Dit voel of jy my aan my eie lot oorlaat.” Markus se hart was stukkend by die aanhoor van die woorde, maar hy het geweet wat moet gedoen word. Hy het Susan belowe dat hy elke oggend en aand saam met haar op die bus sou ry, vir solank dit nodig sou wees, tot sy gemaklik en vol vertroue is dat sy dit allenig sal kan doen. Dit is presies wat gebeur het. Vir twee hele weke het Markus, geklee in sy militêre uniform, Susan vergesel na en van haar werk af. Hy het haar geleer om te begin staat maak op haar ander sintuie, spesifiek haar gehoor, om te luister waar sy is en om aan te pas by die omgewing. Hy het haar gehelp om bevriend te raak met die bus bestuurders wat haar kon help en ‘n sitplek vir haar kon reserveer. Hy het haar weer laat lag, self op die nie-so-goeie-dae wanneer sy amper val as sy uit die bus klim en haar aktetas laat val. Elke oggend het hulle die rit met bus saam meegemaak en dan het Markus daarvandaan ‘n huurmotor geneem na die militêre basis. Alhoewel die oefening baie meer tydrowend en duurder was as die vorige opsie het Markus geweet dit sal net ‘n kwessie van tyd wees voordat Susan in staat sal wees om allenig met die bus te ry. Hy het in haar geglo, in die Susan wat hy geken het voordat sy haar sig verloor het, wat nie bang was vir ‘n uitdaging nie en wat nooit as te nimmer sou tou opgooi nie.

Eindelik het Susan besluit dat sy reg is vir die bus rit op haar eie. Maandag oggend het aangebreek en voordat sy gaan gooi sy haar arms om Markus, haar tydelike bus ry maat, haar man en beste vriend. Haar oë swel op van die trane uit dankbaarheid vir sy lojaliteit, sy geduld en sy liefde. Sy sê vir hom totsiens en vir die eerste keer gaan hul elkeen hul eie rigting.

Maandag, Dinsdag, Woensdag, Donderdag ….Elke dag op haar eie het perfek verloop en Susan het nog nooit beter gevoel nie. Sy het dit reggekry! Sy het op haar eie werk toe gegaan! Die Vrydag oggend neem Susan die bus werk toe soos vorige vier dae. Terwyl sy die bus verlaat sê die bus bestuurder, “Man ek beny jou werklikwaar.” Susan was nie seker of die bus bestuurder met haar gepraat het nie, want wie op aarde sal nou jaloers wees op ‘n blinde vrou wat haar dood sukkel om net van ‘n bus af te klim sonder om neer te slaan?

Nuuskierig vra sy die bestuurder, “Hoekom sê jy dat jy my beny?”

Die bestuurder antwoord, “Jy weet, elke oggend vir die afgelope week is daar ‘n aantreklike man in militêre uniform wat op die hoek oorkant die straat staan en jou dophou as jy van die bus afklim. Hy maak seker dat jy veilig oor die straat kom en hou jou dop totdat jy jou kantoorgebou ingaan. Dan blaas hy vir jou ‘n soentjie en gee jou ‘n klein saluut en loop weg. Jy is voorwaar ‘n baie gelukkige dame.”

Trane van blydskap vloei vrylik oor Susan se wange. Want, alhoewel sy hom nie kon sien nie kon sy Markus se teenwoordig aanvoel. Sy was gelukkig, so gelukkig want hy het aan haar ‘n geskenk gegee wat meer kosbaar as sig is, ‘n geskenk wat sy nie nodig het om te sien om te glo nie …. die geskenk van liefde wat lig kan bring waar daar eens net duisternis was.

God waak oor ons op dieselfde manier. Ons mag dalk nie bewus wees van Sy teenwoordigheid nie. Ons mag dalk nie Sy gesig aanskou nie, maar Hy is altyd daar.

Wees geseënd in die gedagte: “God het jou lief….. al kan jy Hom nie altyd sien nie.”

(Mat 28:20) En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.

Wednesday, March 19, 2008

Ons Lewe is ‘n Reis, nie vir Onsself, maar vir Ander.


‘n Passasiers skip het vergaan tydens ‘n hewige storm op see en slegs twee mans het die tragedie oorleef. Hulle het uitgespoel op ‘n klein eensame en verlate eiland.
Die twee oorlewendes was heeltemal raadop en het besluit dat die enigste uitweg was om tot God te bid.
Maar om te bepaal wie se gebed oor die meeste krag beskik is besluit om die eiland in twee te verdeel en elkeen bly slegs op sy helfte van die eiland.

Die eerste ding wat die eerste man voor gebid het was kos. Die volgende oggend sien die eerste man dat daar ‘n boom op sy gedeelte van die eiland staan wat heerlike vrugte dra en hy kon sy honger daarmee stil.

Die ander man se gedeelte van die eiland was steeds kaal, sonder ‘n enkele boom wat vrugte dra.

Na ‘n week het die eerste man begin eensaam raak en hy besluit om te bid vir ‘n vrou wat hom geselskap kan hou en bystaan. Die volgende dag het nog ‘n skip vergaan en die enigste oorlewende was ‘n vrou. Sy het na sy gedeelte van die eiland geswem.

Op die ander gedeelte van die eiland was daar net mooi niks.

Baie gou het die eerste man gebid vir ‘n huis, klere en nog meer kos.
Die volgende dag het daar aan sy kant van die eiland genoeg planke uitgespoel om ‘n huis te bou tesame met hout kiste vol klere en kosvoorrade.

Maar,
Die ander man het steeds niks gehad nie.

Laastens het die eerste man gebid vir ‘n boot wat hom en sy vrou sou kon red van die eiland af. Die volgende oggend vind hy dat ‘n boot aan sy kant van die eiland voor anker lê.

Die man en sy vrou het na die boot geswem en hy het besluit dat hy die ander man op die eiland gaan los.
Hy het die ander man nie waardig genoeg geag om te deel in die seëninge wat God hom geskenk het nie aangesien nie een van sy gebede verhoor is nie.

Terwyl die boot op die punt staan om te vertrek hoor die eerste man die stem van God.

“Waarom los jy jou metgesel wat saam met jou die ramp oorleef het agter op die eiland?”
“My seëninge wat ek ontvang het is myne alleen, aangesien ek die een is wat vir hulle gebid het,” antwoord die man. “Sy gebede was almal onbeantwoord en daarom verdien hy nie enige iets nie.”

“Jy maak ‘n groot fout!” vermaan die Stem hom. “Hy het slegs een gebed gehad, wat Ek beantwoord het. As dit nie daarvoor was nie het jy geeneen van My seëninge ontvang nie.”

“Vertel my asseblief,” vra die eerste man aan God, waarvoor het hy gebid dat ek hom enigiets verskuldig sou wees?”

“Hy het gebid dat al jou gebede beantwoord mag word.”

Vir al wat ons weet is ons seëninge nie die vrug van slegs ons eie gebede alleen nie, maar ook van die gebede van ander wat vir ons bid.

Toe Yahshua vir ons gesterf het aan die kruis het Hy aan jou gedink!

(Rom 8:27) En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.
(Rom 8:28) En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.