Wednesday, March 10, 2010

Verhaal van die Onnosel Swaap


Nannie het besluit dat hy hom in die klein pragtige dorpie in die woud wou vestig. Daar aangekom, vra hy die inwoners, wie kan hom help om die dorpie se gewoontes en moets en moenies te wete te kom. Almal het hom verwys na die mees belangrike persoon in die dorp wat naby aan die dorps plein woon.
Nannie het haastig vertrek na die belangrike persoon en daar aangekom vra hy hom:

“Agbare meneer, ek pleit ’n paar minute van u kosbare tyd om my in te lig. Ek het sopas na die dorpie verhuis en dit is my begeerte om die dorpie se gewoontes en reëls te leer sodat ek ’n goeie burger van die dorpie kan wees.”

Die belangrike persoon maak geïrriteerd sy keel skoon en sê, “Ek het baie belangrike werk om nou te doen! Ek het nie nou tyd vir jou nie! Maar ek gaan so twee uur vanmiddag daar by jou woonstelletjie verby. Ontmoet my dan daar.”

“Weet u waar ek bly?” vra hy oorbluf.

“Ek is die eienaar van die gebou.” sê hy ongeërg.

“Twee uur, dan!” antwoord Nannie en vertrek na die mark om groete te koop. Hy het van die varsste groete gekry vir aandete: wortels, uie, aartappels en sy gunsteling... boontjies. Nadat hy al sy groete gekoop het sien hy ’n groot eike boom met heerlike gras daaronder op die dorpsplein. Hy besluit om so rukkie daar te sit en die mense dop te hou in die markplein.

Na so wyle begin Nannie baie lomerig te word maar stry teen die slaap wat hom wil oorval. Kort voor lank is hy vas aan die slaap. Nannie skrik wakker en sien dat die skaduwees al lank raak en die son is besig om te sak. Vinnig spring hy op en hardloop na sy woonstelletjie wat hy huur in die hoop dat hy die belangrike man dalk nog daar sal kry. By sy woonstel aangekom vind hy iemand het op sy deur met wit kryt geskryf,
“ONNOSEL SWAAP.”

Hy hardloop vinnig na die vername man se woon plek en baie nederig vertel hy vir hom,

“Ag, meneer, ek is so jammer ek het ons afspraak vergeet. Maar ek het dit onthou die oomblik toe ek sien u het u naam op my deur geskryf!”

- - - - -

Wanneer jy ’n ander persoon oordeel, definieer
jy nie die persoon nie, maar jy definieer JOUSELF.

No comments: