Friday, March 12, 2010
Blare en Vye.
Dis vir my altyd te wonderlik hoe dit so dikwels gebeur dat ons die Skrif lees en soms lees ons ‘n stuk oor en oor sonder om die werklike betekenis daarvan te verstaan of ons verstaan dit net gedeeltelik en dan die volgende oomblik is dit asof ‘n lig aangaan en die hele stuk so duidelik soos daglig vir ons ontvou. Ek bly verstom oor die genade wat Vader ons skenk deurdat Hy sy glansryke lig laat skyn op dit wat soms vir my verstand hoe lank verborge was.
Hoe dikwels gebeur dit ook nie dat Vader vir ons elkeen iets ander gee uit dieselfde stuk om ons mee te voed nie.
Dit is soos om in jou Bybel ‘n lang verborge briefie te ontdek met jou naam daarop.
In die briefie begin die aanhef:
My liewe kind, ................
Ek wil jou vandag vertel van die stuk van My woord wat jy gelees het. Ek wil aan jou die diepere betekenis daarvan verduidelik sodat jy gevoed word met die Brood van die Skrif en mag drink van die Lewende Water sodat jou honger en dors versadig kan word.
Die betekenis ................
Hierdie is presies wat die week weer gebeur het toe ek Markus 11 lees, veral vanaf vers 12 toe Yahshua by die vye boom kom en geen vye aan die boom vind nie. Dit wat my die meeste gepla het was die gedeelte in vers 13 ..... “want dit was nie die tyd van vye nie.”
MARK 11:12 : EN die volgende dag, onderwyl hulle uit Betánië gaan, het Hy honger gehad;
MARK 11:13 : en toe Hy op 'n afstand 'n Vyeboom met blare sien, het Hy daarheen gegaan in die hoop om iets aan haar te vind; en toe Hy by haar kom, vind Hy niks as blare nie, want dit was nie die tyd van vye nie.
MARK 11:14 : En JaHWèshua spreek en sê vir haar: Laat niemand ooit in der ewigheid van jou 'n vrug eet nie! En Sy studente het dit gehoor.
........................
MARK 11:20 : En toe hulle vroeg in die môre verbygaan, sien hulle die Vyeboom, verdroog van die wortels af.
MARK 11:21 : En Petrus het onthou en vir Hom gesê: My Meester, kyk, die Vyeboom wat U vervloek het, is verdroog.
MARK 11:22 : JaHWèshua antwoord en sê vir hulle: Julle moet Geloof in die Elohim hê.
Wat was daar vir my geskrywe in Sy briefie wat ek ontdek het?
Daar is baie wat die beeld van ’n gelowige voorhou as jy hulle op ’n opstand sien. Die vyeboom moes pragtige blare gehad het want dit was dadelik uitgeken as ’n vyeboom reeds van ’n afstand af en dis die dat Yahshua na die boom stap met die verwagting van wat Hy daar sou moes aantref..... Vye.
As mens mooi na ’n vyeboom op ’n afstand kyk dan sal mens nie kan sê of daar vye aan is nie, want die vrug is gewoonlik versteek tussen die blare en jy moet nader gaan om te sien of daar vrugte aan is.
... “Hy daarheen gegaan in die hoop om iets aan haar te vind;....” Yahshua het gehoop om vrugte aan die boom aan te tref.
Hoe baie is daar nie wat die beeld van geloof voorhou maar daar is geen vrugte nie. Hulle lyk soos ’n vyeboom, hulle groei soos ’n vyeboom maar hulle dra geen vye nie.
Hoe maklik het dit nie in die wêreld geword om die beeld van gelowige voor te hou nie, ons sien dit elke dag, dit hang net af wat mense wil hê. Hulle is “gelowiges” wanneer dit hulle pas, .... wanneer hulle ’n werk soek, wanneer hulle wil bedel, volksleiers wat die gelowige se ondersteuning soek vir stemme, noem maar op.
...... “want dit was nie die tyd van vye nie.”
Hoekom sou Yahshua na die vyeboom gaan as Hy geweet het dis nie nou die seisoen vir vye nie? Hy moes mos geweet het dat dit buite seisoen was.
Maar as ons kyk na die laaste vers, vers 22 ..... “Yahshua antwoord en sê vir hulle: Julle moet Geloof in die Elohim hê.” dan sien ons die antwoord. Die soek na die vye was Sy honger om vrugte by Sy kinders te vind en wat het Hy by hulle gevind? Geen vrugte. Geen geloof in Elohim.
Hoe baie is daar wat nooit vrugte dra nie, hulle kom nooit in die seisoen nie en let ons na die woorde dan kon die boom by ‘n vorige geleentheid vrugte gedra het en dat dit net nou nie die regte tyd was vir vrugte nie.
Hoeveel keer gebeur dit in ons lewens dat dit die dag nie baie goed gaan nie. Ons het befoeterd opgestaan. Ons dag verloop nie soos ons dit graag wil hê nie. Of ons is so vasgevang in wêreldse dinge dat dit nie nou die tyd vir geloof is nie.
En dan .........
Kom Vader en Hy kom soek die vrugte aan ons.
Ons het op daardie stadium niks om Hom te bied nie want ons is nie in die tyd nie. Ons het soos die dwase maagde geword wie se lampe doodgegaan het met die koms van die Bruid.
Wie van ons sal dan weet wanneer die Almagtige ons besoek om te kom kyk of daar vrugte aan ons is?
Die vrugte van bekering moet ons te alle tye dra sodat, maak nie saak wie kom vrugte aan ons soek nie, dit sal vind en daarmee versadig kan word.
Kom ons verseker vandag dat alhoewel ons vruggies nie volmaak en nog nie mooi uitgeswel en reg nie is nie, daar ten minste vrugte aan ons is wanneer die Allerhoogste ons besoek en Hy honger het.
Die uiteinde van ‘n vrugtelose bestaan word vir ons baie duidelik gemaak in vers 20 en 21.
Uitgedroog en reg om in die brandende vuur gewerp te word.
Laat ons altyd in die regte tyd wees vir ’n oes.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
1 comment:
Dit het met my en tot my gespreek. Baie dankie. Die Here seen.
Post a Comment