Friday, January 15, 2010

Die Wonderlike Mosterd Saadjie


Daar is ’n baie ou verhaal van ’n vrou wie se enigste seun gesterwe het. In haar droefheid het sy gegaan na die wyse man in die dorp en hom gevra. “Hoe gaan ek vertroos word met die afsterwe van my enigste kind. Wat kan ek doen om hom terug te bring van die dode. Watse raad het jy vir my om my kind weer lewendig te kry ?”

In plaas daarvan om haar weg te stuur of met haar te redeneer oor die afsterwe van haar seun, sê hy aan haar, “Bring vir my ’n mosterd saadjie van ’n huis wat nog nooit enige hartseer geken het nie. Ons sal die saadjie gebruik om die hartseer uit jou lewe te verdryf.” Die vrou is onmiddellik daar weg in haar soektog na die wonderlike mosterd saadjie.

Eerste kom sy by pragtige woning, klop aan die deur en vra, “Ek is op soek na ’n huis wat nog nooit enige hartseer geken het nie. Is die so ’n huis ? Dis baie belangrik vir my.”

Die huismense vertel toe vir haar, “Jy is verseker nou by die verkeerde huis.” en hulle begin te beskryf al die tragiese gebeure wat hulle die afgelope tyd oorgekom het.

Die vrou sê toe vir haarself, “Wie is beter geskik om die arme mense te help as ek, wat hartseer, ongeluk en droefheid so goed ken ?”

Sy het by die mense aangebly om hulle te vertroos en te versterk. Na ’n wyle is sy weer daar weg opsoek na die huis wat geen hartseer ken nie. Maar maak nie saak waar sy gekom het nie, huise, hotelle, plase vind sy die een verhaal na die ander van hartseer en teëspoed.

Die vrou het so betrokke geraak om ander te help met hul hartseer dat sy uiteindelik van haar eie hartseer en pyn begin vergeet het.
Iewers langs die pad het haar soektog na die wonderlike mosterd saad verander in ’n missie van vertroosting van ander.

Na amper ’n jaar het sy teruggekeer na die wyse man en hom meegedeel dat sy haar soektog na die wonderlike mosterd saad laat vaar, want daar is nie ’n huis wat geen hartseer ken nie. Maar in haar soeke na die wonderlike mosterd saad het haar eie hartseer en droefheid vervaag en bestaan feitlik nie meer nie.
Die wyse man het aandagtig na haar geluister en wat sy alles deurgemaak het met die ander bedroefde mense wat sy teëgekom het in haar soektog.

Nadat sy van al haar wedervaringe vertel het, deel hy haar mee dat dit die soektog na die wonderlike mosterd saad is wat haar droefheid verdryf het en nie die mosterd saad self nie.

Soms oorval droefheid en hartseer ons tot so mate dat ons nie in staat is om die pyn en hartseer van ander kan raaksien nie totdat ons begin luister en ’n hand van hulp uitstrek, dan begin ons eers te besef dat ons almal ’n bietjie ondersteuning en simpatie nodig het. Iemand wat net vir ’n paar oomblikke die las van ons skouer kan lig sodat ons weer kan asem skep en ons hoof oplig om die son te sien skyn aan die einde van die moeilike pad.

No comments: