Monday, December 14, 2009
Sirkel van Liefde
Vriende, net so min soos wat julle kan wegbly om te lees net so min kan ek te lank wegbly om 'n stukkie te plaas.
Hy het amper nie eens die ou dame raak gesien wat gestrand was langs die pad nie. Maar selfs in die flou lig van die aandskemering kon hy sien dat sy hulp nodig het. Hy trek van die pad af en stop voor haar Mercedes en klim uit. Sy ou Ford gee nog so ’n paar doods roggels terwyl hy aanstap na haar motor.
Afgesien van die glimlag op sy gesig, was sy steeds baie bekommerd. Niemand het die afgelope uur eens gestop om hulp aan te bied nie. Was hy van plan om haar seer te maak? Hy lyk nie baie veilig nie, hy lyk arm en honger. Hy kon sien dat sy beangs was terwyl sy daar in die koue staan. Hy het geweet hoe sy voel.
Dit was daardie koue rillings wat slegs vrees teweeg kan bring. Hy sê, “Ek is hier om jou te help mevrou. Waarom wag u nie maar solank in die motor, waar dit lekker warm is nie? Terloops, my naam is Bryan”
Wel, al wat fout was, was ’n pap wiel, maar vir ’n ou dame was dit erg genoeg. Bryan kruip onder die motor in om te sien waar hy die domkrag moet plaas en in die proses kap hy sy kneukels ’n paar kere nerf-af teen die onderstel van die motor. Gou was hy in staat om die pap wiel om te ruil, maar in die proses het hy maar bra vuil geword en sy hande het gepyn van die koue. Terwyl hy besig was om die laaste wielmoer vas te draai, draai die ou dame die ruit af en begin met Bryan te gesels. Sy vertel dat sy van familie op pad terug is huis toe en glad nie die gebied ken nie. Sy kon hom nie genoeg bedank dat hy haar gehelp het nie.
Bryan het net geglimlag terwyl hy die motor se kattebak toemaak. Sy vra hom hoeveel sy hom skuld. Enige bedrag sou reg gewees het met haar. Sy het alreeds in haar verbeelding gesien watse aaklige dinge met haar, vrou alleen, hier langs die pad kon gebeur indien hy nie gestop het om haar te help nie.
Bryan het nie eens aan geld gedink nie. Dit was nie ’n werk vir hom nie. Dit was hulp aan iemand in nood en slegs Vader weet hoeveel mense het hom die laaste paar jaar ’n helpende hand aangebied. Hy is nog sy hele lewe so, help waar hy kan sonder om vergoeding te verlang en dit het nog nooit eens by hom opgekom om anders te wees nie. Hy vertel toe aan haar dat as sy hom regtig wil vergoed, moet sy die volgende keer wanneer sy iemand teëkom wat hulp benodig, moet sy aan daardie persoon hulp verleen en Bryan voeg by “.... en dink dan aan my.”
Hy wag dat sy eers haar motor aanskakel en wegry. Dit was ’n koue en depressiewe dag vir Bryan, maar hy voel goed hier binne terwyl hy koers kry huis toe.
’n Paar kilometer in die pad af sien die ou dame ’n klein kafeetjie. Sy stop daar om gou iets te kry om te eet en bietjie van die koue ontslae te raak voordat sy die res van haar lang reis aandurf. Dit was maar ’n baie ou en afgeleefde restaurant met twee ou petrol pompe voor die kafee. Die kasregister en telefoon lyk of hulle dateer uit die vorige eeu.
Die kelnerin bring vir haar ’n skoon handdoek om haar nat hare bietjie af te droog. Sy het ’n pragtige glimlag, een wat nie eens uitgevee kan word deur ’n harde dag se werk op haar voete nie. Die ou dame bemerk dat die kelnerin ongeveer agt maande swanger moes wees, maar sy laat nie toe dat die pyne en ongemak haar heerlike, verfrissende geaardheid verander nie.
Die ou dame wonder hoe iemand wat so min het in staat is om so baie van haarself te gee aan ’n vreemdeling. Toe onthou sy weer vir Bryan.
Nadat die ou dame haar maaltyd genuttig het en die kelnerin vir haar gaan kleingeld kry het vir die R 200-00 noot, het die ou dame by die deur uitgeglip. Sy was reeds weg toe die kelnerin terugkeer met haar kleingeld. Terwyl sy wonder wat het van die ou dame geword, merk sy op dat daar iets geskryf is op die servet. Onder die servet was daar vyf R200-00 note gewees. Daar was trane in haar oë terwyl sy die briefie van die ou dame lees, “Jy skuld my niks nie, ek was ook al waar jy nou is. Iemand het my ook uitgehelp soos wat ek hoop die geldjies jou sal help. As jy my regtig wil terug betaal, doen dan die volgende, moenie dat die sirkel van liefde by jou eindig nie.” Daar was nog tafels om op te ruim en klante om te bedien, maar met ’n gemoed wat vol dankbaarheid is, het jy nog ’n dag se werk voltooi.
Die aand toe sy by die huis kom na werk en in die bed klim, lê sy en dink aan die geld en die briefie wat die ou dame geskryf het. Hoe kon die ou dame geweet het dat sy en haar man die geld so broodnodig gehad het? Met die baba wat volgende maand gebore moet word, gaan dit baie moeilik wees. Sy weet hoe bekommerd haar man is oor hul benarde posisie terwyl hy hier langs haar lê en slaap. Sy leun oor en gee hom ’n sagte soentjie en fluister saggies in sy oor, “Alles sal reg kom, ek is lief vir jou Bryan.”
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment