Monday, December 14, 2009

Sirkel van Liefde


Vriende, net so min soos wat julle kan wegbly om te lees net so min kan ek te lank wegbly om 'n stukkie te plaas.


Hy het amper nie eens die ou dame raak gesien wat gestrand was langs die pad nie. Maar selfs in die flou lig van die aandskemering kon hy sien dat sy hulp nodig het. Hy trek van die pad af en stop voor haar Mercedes en klim uit. Sy ou Ford gee nog so ’n paar doods roggels terwyl hy aanstap na haar motor.

Afgesien van die glimlag op sy gesig, was sy steeds baie bekommerd. Niemand het die afgelope uur eens gestop om hulp aan te bied nie. Was hy van plan om haar seer te maak? Hy lyk nie baie veilig nie, hy lyk arm en honger. Hy kon sien dat sy beangs was terwyl sy daar in die koue staan. Hy het geweet hoe sy voel.

Dit was daardie koue rillings wat slegs vrees teweeg kan bring. Hy sê, “Ek is hier om jou te help mevrou. Waarom wag u nie maar solank in die motor, waar dit lekker warm is nie? Terloops, my naam is Bryan”

Wel, al wat fout was, was ’n pap wiel, maar vir ’n ou dame was dit erg genoeg. Bryan kruip onder die motor in om te sien waar hy die domkrag moet plaas en in die proses kap hy sy kneukels ’n paar kere nerf-af teen die onderstel van die motor. Gou was hy in staat om die pap wiel om te ruil, maar in die proses het hy maar bra vuil geword en sy hande het gepyn van die koue. Terwyl hy besig was om die laaste wielmoer vas te draai, draai die ou dame die ruit af en begin met Bryan te gesels. Sy vertel dat sy van familie op pad terug is huis toe en glad nie die gebied ken nie. Sy kon hom nie genoeg bedank dat hy haar gehelp het nie.

Bryan het net geglimlag terwyl hy die motor se kattebak toemaak. Sy vra hom hoeveel sy hom skuld. Enige bedrag sou reg gewees het met haar. Sy het alreeds in haar verbeelding gesien watse aaklige dinge met haar, vrou alleen, hier langs die pad kon gebeur indien hy nie gestop het om haar te help nie.

Bryan het nie eens aan geld gedink nie. Dit was nie ’n werk vir hom nie. Dit was hulp aan iemand in nood en slegs Vader weet hoeveel mense het hom die laaste paar jaar ’n helpende hand aangebied. Hy is nog sy hele lewe so, help waar hy kan sonder om vergoeding te verlang en dit het nog nooit eens by hom opgekom om anders te wees nie. Hy vertel toe aan haar dat as sy hom regtig wil vergoed, moet sy die volgende keer wanneer sy iemand teëkom wat hulp benodig, moet sy aan daardie persoon hulp verleen en Bryan voeg by “.... en dink dan aan my.”

Hy wag dat sy eers haar motor aanskakel en wegry. Dit was ’n koue en depressiewe dag vir Bryan, maar hy voel goed hier binne terwyl hy koers kry huis toe.

’n Paar kilometer in die pad af sien die ou dame ’n klein kafeetjie. Sy stop daar om gou iets te kry om te eet en bietjie van die koue ontslae te raak voordat sy die res van haar lang reis aandurf. Dit was maar ’n baie ou en afgeleefde restaurant met twee ou petrol pompe voor die kafee. Die kasregister en telefoon lyk of hulle dateer uit die vorige eeu.

Die kelnerin bring vir haar ’n skoon handdoek om haar nat hare bietjie af te droog. Sy het ’n pragtige glimlag, een wat nie eens uitgevee kan word deur ’n harde dag se werk op haar voete nie. Die ou dame bemerk dat die kelnerin ongeveer agt maande swanger moes wees, maar sy laat nie toe dat die pyne en ongemak haar heerlike, verfrissende geaardheid verander nie.

Die ou dame wonder hoe iemand wat so min het in staat is om so baie van haarself te gee aan ’n vreemdeling. Toe onthou sy weer vir Bryan.

Nadat die ou dame haar maaltyd genuttig het en die kelnerin vir haar gaan kleingeld kry het vir die R 200-00 noot, het die ou dame by die deur uitgeglip. Sy was reeds weg toe die kelnerin terugkeer met haar kleingeld. Terwyl sy wonder wat het van die ou dame geword, merk sy op dat daar iets geskryf is op die servet. Onder die servet was daar vyf R200-00 note gewees. Daar was trane in haar oë terwyl sy die briefie van die ou dame lees, “Jy skuld my niks nie, ek was ook al waar jy nou is. Iemand het my ook uitgehelp soos wat ek hoop die geldjies jou sal help. As jy my regtig wil terug betaal, doen dan die volgende, moenie dat die sirkel van liefde by jou eindig nie.” Daar was nog tafels om op te ruim en klante om te bedien, maar met ’n gemoed wat vol dankbaarheid is, het jy nog ’n dag se werk voltooi.

Die aand toe sy by die huis kom na werk en in die bed klim, lê sy en dink aan die geld en die briefie wat die ou dame geskryf het. Hoe kon die ou dame geweet het dat sy en haar man die geld so broodnodig gehad het? Met die baba wat volgende maand gebore moet word, gaan dit baie moeilik wees. Sy weet hoe bekommerd haar man is oor hul benarde posisie terwyl hy hier langs haar lê en slaap. Sy leun oor en gee hom ’n sagte soentjie en fluister saggies in sy oor, “Alles sal reg kom, ek is lief vir jou Bryan.”

Monday, December 7, 2009

Aan al my vriende

Aan die wat gereeld my blog lees, ek hoop dat julle 'n wonderlike jaar gehad het en die kere wat dit nie so lekker was nie dat julle dit ook gesien het as 'n geleentheid om te groei of om sekere sondes wat deel is van ons te ontgroei.

Dit is met dankbaarheid dat ons kan terugkyk op 'n jaar wat amper verby is, maar die heerlikheid is dat tyd ook naderkom wanneer ons Vader weer sal sien. Die heerlikheid is vir ons opgesluit in dit wat kom en nie in dit wat verby is nie.
Maar verseker sal ons ook beproef word in ons geloof want die suiwering moet plaasvind en ek bid Vader dat Hy ons die krag en genade sal gee om suiwer aan die anderkant uit te kom.

Ek sal vir die volgende drie weke nie stukkies plaas nie aangesien ek so bietjie gaan rondloop - ek loop darem nie die hele tyd rond nie, maar ons weet mos hoe gaan dit die tyd van die jaar. As jy jou oë knip is die dag verby.
Vir die wat so bietjie gaan uitspan, ek hoop julle geniet dit en die ander wat by die huis bly, geniet dit ook. Net om so bietjie uit die roetine te kom is al klaar soos 'n vakansie.

Mag Vader Yahweh Sy hand van seëninge en genade oor julle hou.

Groete

Friday, December 4, 2009

Hy Het My Nodig Gehad


Die verpleegster vergesel die senuweeagtige jong man na die bed van die bejaarde man. “Jou seun is hier,” fluister die verpleegster aan die pasiënt. Sy moes die woorde ’n paar maal herhaal voordat die pasiënt sy oë effens oopmaak. Hy was swaar verdoof vanweë die pyn waarin hy verkeer het as gevolg van die massiewe hartaanval wat hy gehad het. Vaagweg kon hy die jongman sien wat langs die suurstof tent staan.

Hy het sy hand uitgereik na die jongman wat sy hand geneem het en dit styf vasgehou het, terwyl hy die pasiënt se hand ’n bemoedigende drukkie gee. Die verpleegster het ’n stoel vir die jongman nader gebring. Reg deur die nag het die jongman langs die bejaarde man se bed gesit en sy hand vasgehou terwyl hy sagte woorde van hoop uitgespreek het om hom te bemoedig. Die sterwende man het nie ’n woord gesê terwyl hy vashou aan die hand van sy seun nie.

Met sons opkoms het die bejaarde man gesterf. Die jongman plaas die lewelose hand van die bejaarde man sagkens op sy bors en stap om die verpleegster te gaan roep.

Terwyl die verpleegster gedoen het wat nodig is, het die jongman geduldig gewag. Nadat die verpleegster klaar was, het sy woorde van simpatie gerig aan die jongman oor die afsterwe van sy vader.

Maar hy onderbreek haar. “Wie was daardie man ?” vra hy.

Die verskrikte verpleegster antwoord, “Ek het gedink dit is jou vader.”

“Nee, hy was nie my vader nie,” antwoord hy. “Ek het hom nog nooit van te vore gesien nie.”

“Nou hoekom het jy niks gesê toe ek jou na hom toe neem nie ?” vra die verpleegster.

Hy antwoord, “Ek het ook geweet dat hy sy seun nodig gehad het en sy seun was nie hier nie. Toe ek agterkom dat hy te siek is om te weet of ek sy seun is of nie, het ek besef hoe nodig hy my het.....”

Wednesday, December 2, 2009

Deur die Oë van ’n Kind


Die skrywer Leo Buscaglia vertel van die kompetisie wat hy moes beoordeel. Die doel van die kompetisie was om die mees sorgsaamste kind te vind. Die wenner was ’n seuntjie van vier jaar oud wie se buurman, ’n bejaarde man, onlangs sy vrou moes afstaan aan die dood. Die seuntjie het omgestap na die buurman, op sy skoot geklim en net daar gesit. Toe sy moeder hom vra wat het hy vir die buurman gesê, was sy antwoord. “Niks, ek het hom net ’n bietjie help huil.”

**********

’n Onderwyseres, Debbie Moon, se graad eentjies was besig om ’n familie portret te bespreek. Een seuntjie in die portret het ander kleur hare as die res van die gesin gehad. Een van die kinders maak toe die opmerking dat die seuntjie miskien aangeneem is en een van die meisies antwoord, “Ek weet alles van aanneming want ek was aangeneem deur my ma en pa.” “Wat beteken dit om aangeneem te wees?” wil een van die ander kinders nuuskierig weet. “Dit beteken” sê die meisietjie “dat jy in jou mamma se hart gegroei het in plaas van in haar maag.”

**********

’n Vier jarige meisietjie besoek die pediater vir ’n roetine ondersoek. Terwyl die dokter met die otoskoop in haar ore kyk vra hy, “Dink jy ek sal een van die Teletubbies hier binne aantref ?” Die meisietjie was doodstil en het nie ’n woord gesê nie.
Volgende neem die dokter die tong spatula en kyk in haar keel. Hy vra toe, “Dink jy ek sal die Koekie Monster daar binne kan sien ?” Weereens uiter die meisietjie nie ’n woord nie.
Die dokter neem sy stetoskoop en plaas dit op haar bors om na haar hart te luister. Terwyl hy na haar hartklop luister vra hy, “Dink jy ek sal vir Barney die beer daar binne hoor ?”
“Oooo, nee !” Antwoord die meisie. “Jesus is in my hart. Barney is op my broekie.”