Monday, November 9, 2009
Die Bondeltjie Padkos
Eendag lank, lank gelede het daar ’n groot trek plaasgevind. Die volk wat getrek het, het vir jare gebuk gegaan onder sware verdrukking. Die koning van die land van hul verblyf was ’n harde man wat met ’n yster hand regeer het oor hulle. Maar afgesien van die sware slawediens wat hul moes verrig was hul geseënd en het hulle uitermate vermeerder.
Tot so ’n mate dat die koning bekommerd geraak het en opdrag gegee het dat al die baba seuntjies vermoor moes word. Wonderbaarlik was dit so beskik deur die Lewende God dat die opdrag nie uitgevoer is nie en het die volk net aanhou vermeerder. Hoe meer die koning hul verdruk het, hoe meer geseënd was hulle.
Jare het verby gegaan waarin die volk verdruk en mishandel is, hulle het gemurmureer en gekla en hul sugte het opgestyg tot die Ewige Lewende Elohim wat hulle jammer gekry het en gedink het aan Sy verbond met hul voorvaders.
Op wonderbaarlike wyse het God hul verlos uit die hand van hul verdrukkers. Hy het dit so beskik dat daar verskriklike plae oor die verdrukkers gekom het, vir nege plae het die koning van die verdrukkers nie toegegee aan die volk se versoek om weg te trek nie. Met die tiende plaag wat God oor hul beskik het, die plaag van die dood, het die koning opdrag gegee dat hulle moes trek. Hul moes haastig klaarmaak om te vertrek op die lang tog na ’n beloofde land wat vir hul wag.
Die jongman van ons verhaal, Jakobus, het haastig ’n paar goedjies bymekaargesit en hy het vir hom ’n padkos bondeltjie gepak. In die padkos bondeltjie was heerlike brood en vleis wat hy wou saamneem vir die trek. Alhoewel hulle baie swaar gekry het onder die slawediens wat hulle moes verrig gedurende die dag, was die bordjie kos wat vanaand op hulle gewag het ’n hoogtepunt om na uit te sien elke dag. Soos ’n beloning vir die harde werk wat hulle die dag moes verrig.
Die kos word nog meer waardeer wanneer hulle saans aan die etenstafel luister na die verhale van die groot hongersnood wat hulle eintlik na die land toe gebring het. Hoe hul grootvader, wat eens ’n magtige man in die land was, hul redding deur God se genade bewerkstellig het sodat hulle voorvaders nie omgekom het van die honger nie.
Jakobus het geweet dit gaan ’n lang trek wees, want hul leier, het die koning die eerste keer gevra dat hy hulle laat trek, drie dae, die woestyn in om te aanbid. Maar die koning het sy hart nou so verhard teen die wil van die Lewende God dat hulle nou permanent gaan trek uit die land en hulle weet nie hoe lank die trek gaan wees na die nuwe en vry land toe nie.
Die oggend vroeg het die trek begin, almal het hul skamele aardse besittings op hul rug gedra of ’n tuisgemaakte slee om die swaarder items mee te vervoer. Jakobus het nie besef hulle was soveel mense gewees nie. Dit is nie altyd moontlik om ’n denkbeeldige prentjie te vorm van hoeveel mense daar is terwyl almal rond en bont bly in tente en modder hutjies nie totdat almal, groot en klein, op een plek vergader is nie.
Jacobus se aardse besittings was maar min gewees, paar komberse wat dien as beddegoed, tent en sommer ook as bagasie houer vir sy paar kleding stukkies.
Die oggend vroeg het hulle uitbeweeg uit die land van slawerny.
Dit was warm en bedompig. Die stofdampe van al die mense voete op die grondpad het sy keel gou droog en seer gemaak. Maar die droog en seer is oorskadu deur die blydskap om uit die slawerny uit weg te kom, om weer vry te wees.
So teen twaalf uur se kant, toe die middaghitte op sy ergste is, het die leier die volk laat sit om bietjie te rus en die liggame te versterk met ’n bietjie voedsel. Jacobus se vingers het vinnig die padkos bondeltjie ontknoop want hy was al amper dood van die honger gewees.
Die droë brood, vleis en water het heerlik gesmaak. In hierdie nuwe toestand van vryheid het dit nog beter gesmaak as wat dit gesmaak het terwyl hulle in slawerny was.
Jacobus het geëet tot hy net genoeg gehad het want die pad van die trek kan nog baie lank wees en die kos moet darem ’n hele rukkie hou. Hy weet hulle leier het vir hulle gesê hulle moet nie bekommerd wees nie, want die Lewende Almagtige God sal vir hulle sorg langs die pad, maar net vir ingeval dit nie gou gebeur nie moes hy homself bedwing om nie die meeste van sy padkos op te eet nie.
Hulle het weer opgestaan om verder te trek, die oggend se opgewondenheid oor die nuut gevonde vryheid het begin om te taan en die volk het onder mekaar begin kla en murmureer oor die hitte en die ongerief. Gelukkig vir hulle het Vader ’n wolkkolom oor hul beskik om hul te lei en aan hul skaduwee te gee. Maar selfs die wonder het hul nie verhinder om te murmureer nie.
Miskien het hulle met die verloop van jare so gewoond geraak om te kla en murmureer dat dit al tweede natuur by hulle geword het.
Die aand het die wolkkolom wat hulle gelei het verander in ’n vuurkolom sodat hulle dag en nag kon trek, weg van hul slawemeesters af.
Hul leier het hulle gelei tot teen die see en daar het hulle kamp opgeslaan. Die atmosfeer was weer vrolik en opgewonde want dis nou vir ’n geruime tyd dat daar geen teken van hul slawemeesters is nie. Verder is dit baie lekker hier teen die see, die klein kinders is opgewonde want dit is die eerste keer dat hulle by ’n see is en daar is ’n heerlike vars koel briesie wat vanaf die see oor die moeë reisigers waai.
Die vrolikheid is vinnig gedemp toe hulle leier aan hulle vertel dat God hom meegedeel het dat hy die koning van die land van hul gevangeskap se hart verhard het en dat hy op pad is om teen hulle oorlog te voer.
Maar hulle moes hulle nie bekommer nie, want hulle gaan nie deelneem aan die stryd nie, die Almagtige sal self met die koning en sy gevolg afreken. Dit was moeilik vir hulle om te vertrou want in die jare van slawerny het hulle so gewoond geraak om die gode te aanbid van die land waar hulle slawe was en hulle het nou eers weer die God van hul voorvaders leer ken. Alhoewel hulle gesien het wat Hy in Sy Almag gedoen het aan hul slawemeesters was daar maar tog die effense vertwyfeling.
Jacobus het van die ruskansie gebruik gemaak en sy kossakkie oopgemaak, maar die brood en vleis was nie meer so lekker vars en smaaklik soos die vorige kere nie. Die brood het al begin hard word en die vleis was droog gewees. Tog was Jacobus dankbaar vir die kos en dit het hom herinner aan die aande se lekker kos nadat hulle van ’n dag se harde werk terug gekeer het.
Die oggend vroeg toe die volk ontwaak sien hulle die slawe koning wat hulle agtervolg het. Die vertroue wat hulle in hul leier en God gehad het verdwyn soos mis voor die son en almal het uitgeroep; Hoekom het hy hulle nie net so gelos in die land van hul gevangeskap nie, nou sal hul hier in die woestyn, teen die see sterf terwyl hulle eerder in rus en vrede die koning kon dien.
Hulle leier het hulle vermaan om stil te bly en te kyk hoe hul verlossing geskied.
Hul leier het sy staf opgehef oor die see en die water het oopgekloof sodat daar ’n enorme voetpad vir hulle deur die see was. Hulle het onmiddellik begin trek deur die see. Jacobus was baie benoud gewees want hy het teen die kant van die muur van water geloop. Behalwe sy benoudheid was hy sprakeloos oor die groot wonderwerk wat sopas plaasgevind het en hy vergaap hom aan die berg water wat hier langs hom staan.
Aan die oorkant aangekom sien hulle hoe die koning se weermag die voetpad deur die water aandurf om by hulle uit te kom.
Toe die soldate en die strydwaens in die middel van die oopgekloofde see was, het die water toegemaak en is die hele leërmag van die koning verswelg deur die water.
So is hul agtervolgers vernietig en nou eers het hulle geglo aan die Almag van God en aan die woord van hul leier.
Terwyl die volk verder trek het hulle gejubel en lofsange opgehef tot hul Verlosser wat op wonderbaarlike wyse hul vryheid bewerkstellig het. Hulle het drie dae getrek in die woestyn sonder om op enige water af te kom. Die derde dag het hulle by water gekom maar die was te bitter om te drink.
Gou het die ou gewoonte van mor en kla kop uitgesteek en die vertroue en bewyse van God se wonderwerke het gevlug uit die hart van die volk. Hulle geheue van Sy wonderbaarlike verlossing was maar baie kort. Jacobus het begin kwaad raak vir sy mede reisigers, hoe kon hulle so ondankbaar wees ? Kan hulle nie sien, as God hulle kon verlos van een van die grootste leërmagte van die tyd, hoe maklik sal hy nie vir hulle kan voorsien aan vars water om te drink nie.
Wonderbaarlik het hul leier ’n stomp in die water geplaas en die water het soet geword en die hele volk kon drink.
Jacobus het besluit dat hy gou weer die padkos pakkie sal aandurf voordat hulle verder trek. Die brood en vleis was nou regtig besig om baie oud te raak maar hy het nie omgegee nie, want te midde van al die onbekendheid was sy kospakkie tog vir hom baie bekend en het die bekendheid daarvan hom vertroos.
Hul het weer opgepak en verder getrek die woestyn in. Dit was alreeds omtrent een en ’n halwe maand vandat hulle getrek het uit hul land van gevangeskap.
Die volk het nou aanhoudend gekla en bly vrae, hoekom het hulle leier hulle uit gevangeskap gelei net sodat hulle in die woestyn moet sterf van die honger. In die land waar hulle vandaan kom was daar oorgenoeg brood en vleis gewees en hulle verlang terug na die kospotte van die land waar hul vandaan kom.
God het met die leier gepraat en gesê dat daar elke oggend vir die volk brood sal wees op die aarde en saans vleis in die vorm van voëls.
Die eerste oggend het Jacobus die brood so gekyk wat op die grond lê en effens daaraan geproe. Dit was baie lekker maar tog vreemd. Miskien sal hy maar eers van sy kos nog eet wat in sy padkos sakkie is. Sjoe, die padkos smaak nou al aaklig, maar tog eet hy dit want hy ken dit. En hy moet erken die effense bekendheid van die ou kos uit die land waaruit hulle getrek het laat hom bietjie meer gerus voel hier in die vreemde. Sy liggaam is hier teenwoordig maar ’n deel van sy hart is nog in slawerny.
Deur die dag voel Jacobus nie baie lekker nie en sy maag is baie seer. Hy dink dit is maar seker van die lang trek deur die woestyn. Miskien sal hy vanaand beter voel.
Die aand terwyl die kwartels in die laer val maak hy so twee bymekaar maar op die ou einde los hy hulle weer want dis baie makliker om sommer van die padkos te eet.
Die aand eet hy maar weereens van die padkos, hy wurg dit maar af met klein slukkies water so nou en dan. Die kos, alhoewel sleg, is vir hom bekend en dit herinner hom aand die goeie ou tye wat hulle saans gehad het.
Daardie nag is Jacobus behoorlik siek en hy gaan na hul leier en vra of hy hom tog nie kan help nie, want hy voel of hy wil doodgaan.
Die leier vra vir Jacobus wat presies fout is en of hy van die brood en die vleis geëet het wat God uit die lug uit vir hulle geskenk het. Jacobus sê nee, ek verkies maar nog die padkos wat ek saamgebring het, want dit is vir my bekend en vertroos my in die onbekende omstandighede.
Hy sê toe aan Jacobus, dit is die fout, die kos is lankal nie meer goed nie en dit is wat hom so siek maak. Maar afgesien van die toestand van die kos is dit die feit dat hy nog met die een hand vashou aan die slawe diens en die ander aan God. Hy kan nie al twee dien nie, hy moet die een los en die ander dien anders gaan dit hom nog baie meer kos as net sy gesondheid.
Jacobus is terug na sy tentjie, hy het ’n geweldige stryd, hy weet nou hy moet die ou padkos weggooi en hom totaal verlaat op die nuwe kos wat God aan hulle skenk. Dis moeilik om die bekende vir die onbekende te verruil. Wat as dit dalk nie goed met hom akkordeer nie ? Maar hul leier het hom verseker dat die kos spesiaal is, dit proe vir elkeen soos wat hy graag wil hê dit moet proe en dit sal hulle volkome versadig sonder om enige een siek te maak.
Met ’n swaar gemoed het Jacobus die ou padkossie gaan begrawe buite die laer, met sy terugkeer het hy ’n gevoel van groot verligting ervaar.
Sy vertroue kan nou slegs wees in God wat vir hulle voorsien en nie in maaksels van mensehande nie veral nog as dit kom uit die land van hul gevangeskap.
Hy het nou met blymoedigheid die brood en die vleis geëet wat God elke oggend en aand aan hulle geskenk het en dis met dankbaarheid wat hy kon opsien na Vader vir sy voorsiening.
Hoe baie kere dra ons nie self aan so ’n gevaarlike padkos bondeltjie nie, wat uiters giftig vir ons is en net meer giftig word hoe langer ons dit dra: soos die wrok wat ek koester teen iemand anders, ek vergewe maar vergeet nie. My liefdeloosheid teenoor my mede broer en suster. Die sonde waaraan ek nog so vasklou want ek wil dit nie graag los nie.
Jy weet self wat is jou bondeltjie padkos wat jy dra ............. dink jy nie dit is tyd om die ou kos te begrawe en te deel in die heerlike wat vir jou bestem is nie ?
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment